Estelle Kruger gesels met Rudi Venter oor ’n Skewe, skurwe sirkel

  • 0

Titel: ’n Skewe, skurwe sirkel
Skrywer: Rudi Venter
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781776172986

Dagsê, Rudi. Welkom by ons virtuele kletskamer hier by LitNet. Geluk met jou boek! Ek sien jy is reeds ’n befaamde skrywer. Vertel ons van die ander boeke op jou kerfstok.

Hallo Estelle. En dankie, ja. Maar dalkies is ek eintlik meer berug as befaamd, alhoewel die verlede en die hede wemel van berugtes wat ook befaamd is, nè! Nietemin, ’n Skewe, skurwe sirkel (2023) – pas uit die Naledi-uitgewershuis se stal – is my vierde jeugboek, en soos die vorige drie is dit gerig op lesers (seuns veral) van so ongeveer 16, maar ouer tienerlesers behoort dit ook te geniet. Selfs volwassenes.

Die ander drie, uitgegee deur H&R-uitgewers, is Terugkeer (2007), Die skat van Carlos da Costa (2010) en Die Boendoesbaai-ding (2017). Uittreksels uit laasgenoemde verskyn ook in eksamengidse vir hoërskoolleerders (2020 en 2021), uitgegee deur Best Books, NB-uitgewers. En Terugkeer was vir ’n klompie jare op die inkopielys van Namibië se Onderwysdepartement. Die nuutste, ’n Skewe, skurwe sirkel, is ’n voorgeskrewe jeugboek vir KSUT-onderwysstudente (derdejaars) op die Wellington-kampus.

Verder is ek ook ’n kortverhaalskrywer. Viskoppe was my debuutbundel doer in 1987 by Perskor. Dit het gevolg op kortverhale van my wat gesig gewys het in van die destydse literêre tydskrifte Standpunte, Tydskrif vir Letterkunde en Stet. Van my kortverhale is ook opgeneem in die bundels Taxi (1995) by Van Schaik, Bloudruk (1995) by JP van der Walt en Kaleidoskoop (2006) by Nasou Via Afrika.

Ek was ook die mede-outeur (saam met Louise Landsberg) van Spoke kan kitaar speel (2002), uitgegee deur Qualibooks. Taxi is voorgeskryf by die destydse Vista Universiteit en het later, lyk dit my, ook in die hoërskoolmark beland. Kaleidoskoop was ook in die hoërskoolmark.

Wat ek baie geniet het toe ek jou boek gelees het, is jou sin vir humor. Het jy dit met moedersmelk ingekry of aangeleer op vadersknie? Of gewoon geërf?

Gewoon geërf, sou ek reken. My ma veral kon humor in alles raaksien, in situasies en in dit wat mense kwytraak. En boonop lekker daaroor lag.

Humor is volgens my ’n kulturele uiting en ek dink beide lesers en ouers sal dit geniet. In die verhaal is sowel situasie-humor as verbale humor. Kan jy vir ons ’n paar daarvan noem waarvan jy bewus is? Kry jy al terugvoer hieroor? Vertel asseblief.

Situasie-humor in byvoorbeeld die toneel waar die speurder by Herklaas-hulle met sy motorfiets opdaag om die hond te identifiseer, hy van die fiets af val toe dit in die modderrif op die skouer van die pad vassteek, en dan opvlieg om sy snor te kam asof niks gebeur het nie. Só ’n toneel sal menige leser laat skaterlag.

En Herklaas se kennismaking met sy Engelslektor by Kareeburg Kollege se drinkgewoonte in die Engelsklas kan nie anders as om die leser te laat giggel nie. Voeg daarby Herklaas se verontwaardige opmerking dat die lektor liefs sy waterbeker by ’n ander kraan moet gaan volmaak, is verbale humor wat die leser sal prikkel om voort te lees en nie die boek neer te sit nie.

Tydens ’n boekgesprek met Amanda Swart van KSUT in die Breytenbach Sentrum op Wellington is hoofstuk 7 onder andere voorgelees deur Lieschen Venter (my dogter, dosent aan die US), en die gehoor (boekklublede en onderwysstudente van my) het heerlik gelag. Dis mos nou terugvoer wat daarop dui dat die humor in die boek trefseker is!

Ek dink dat jou verhaal ’n baie gebalanseerde uitbeelding van verskillende rasse en geslagte bied. Volgens my is daar nie enige stereotipes nie. Daar is dus ’n interkulturele versoenbaarheid wat ek waardeer. Is daar werklik sulke mense in jou omgewing? Of is dit net verbeelding?

Ek het vriende en goeie kennisse van verskillende rasse en geslagte in veral my kollegas gevind omdat ek soveel tyd saam hulle deurgebring het in die werksomgewing. In die jare wat ek skoolgehou het en in die jare wat ek gedoseer het, het ek vriendskapsbande gesmee wat ek steeds koester met mense van verskillende rasse en geslagte. En ek dink die gemene deler hiervoor is humor. Diegene wat ek bevriend het, het almal ’n lekker sin vir humor. Sulke mense prikkel my verbeelding, en uiteindelik spruit my storiekarakters uit my verbeelding.

Wat ek baie geniet het, is die komiese verhouding tussen Herklaas en sy sussie Letitia. Vertel gerus vir ons hoe hulle in jou storie beland het.

Ek het aanvanklik bedoel Letitia moet ’n mindere rol speel, maar hoe verder die storie gevorder het, hoe meer het ek besef dat ek Herklaas en Letitia se storie binne my bedoelde storie moet ontgin en ’n staanplek gee.

Uiteindelik het die storie dan ook so ontwikkel. Hulle verhaal het vorm gekry binne ’n speurverhaal, wat so tussen hakies oorspronklik bedoel was om ’n hillbilly-verhaal te wees met Herklaas as die hillbilly-hoofkarakter. Maar ’n roman laat haar mos nie voorskryf nie (ook nie ’n jeugroman nie) en ’n Skewe, skurwe sirkel het uiteindelik ’n speurverhaal geword. Terselfdertyd ’n middle-of-the-road-verhaal ook. Die komiese in Herklaas en Letitia se verhouding vorm dan ook deel van die komiese strekking oor die verhaal heen.

Ek sien ook raak dat jou boek toepaslik is vir tieners. Het jy voorheen vir hulle skoolgegee? (Besonderhede, asseblief?)

Nie net uitsluitlik vir tieners nie. Ek het al goeie en gewaardeerde terugvoer van volwassenes ook gekry. Ek was vir 11 jaar ’n onderwyser gewees. Eers by ’n laerskool vir ses jaar en toe by ’n hoërskool vir vyf jaar.

As hoërskoolonderwyser was ek by ’n skool vir buitengewone onderwys, ’n skool vir remediërende onderrig. Die leerders het verskeie soorte leerprobleme gehad. Dit was nogal ’n uitdaging om vir hulle skool te hou, want jy moes letterlik jou vakaanbiedinge gedifferensieerd voorberei om elke soort leerprobleem te kon akkommodeer. Klein klasgroepe, maar hope voorbereiding.

Maar daar het ek ontdek dat dit nie saak maak of ’n tiener ’n leerprobleem het nie. ’n Tiener bly ’n tiener. Met al sy of haar issues, streke, nukke en vloermoere. En hulle het mos maar soms ’n oormaat daarvan.

Hoe dink jy brei jou boek die lesers se verwagtingshorison uit? Met ander woorde, watter inligting verskaf jy in jou verhaal waarvan lesers dalk nie weet nie?

Ek dink die bewusmaking van andersoortige misdaad in die samelewing waarmee ons gekonfronteer word en nie altyd besef dis misdaad nie. Misdaad is meer as net die moord, roof, diefstal, plundering en korrupsie waarvan ons daagliks in die media kennis neem, en sommige van ons aan die bas voel.

Misdaad dra vele maskers. Soms kom dit ook onskuldig voor, maar dit is steeds misdaad. Selfs onetiese aktiwiteite kan misdadig wees, soos in die boek uitgewys word. En mense betrokke in sulke aktiwiteite is dikwels baie na aan ons, ’n seerpunt wat ook in die boek uitgewys word.

Iets wat ek geniet het, is hoe jou boek kan kommunikeer met jou lesers, veral dat die verhaal die leser se kreatiwiteit en verbeelding stimuleer. In watter opsig(te) sou jy sê is laasgenoemde deel van jou verhaal?

As die verhaal lesers se kreatiwiteit en verbeelding kan stimuleer, is die verhaal in vele opsigte geslaagd. En ek dink ’n Skewe, skurwe sirkel is juis ’n boek wat die leser intrek en begelei op ’n verbeeldingstog, sonder enige of met geringe intervensie van ’n onderwyser. Die humor is prikkelend en aansteeklik. Dit is nie bloot ’n storie wat gou-gou gelees wil word nie.

Alhoewel die tempo vinnig is, is daar soveel vashaakpunte waar die leser eers sal wil besin, oordink, verbeel en gesels. Die einde van die hoofstukke is súlke punte, want die slotsin van elk is soos ’n klimakspunt en derhalwe die einde van ’n kortverhaal.

As die leser snap dat elke hoofstuk soos ’n kortverhaal gelees kan word, en spontaan daarop wil uitbrei, dan was die trefpunt sekuur. Selfs as hulle die moontlikheid van ’n dramaverwerking daarin raaksien en spontaan daaroor begin gesels, is die trefpunt sekuur.

Potspel, rolbal en toutrek in die verhaal vermeld, en die aansnyvelde van wiskunde en fisika in elk hiervan, kan klas- en leesgroepgesprekke stimuleer. Dit kan ’n klas interessant en opwindend maak.

’n Besondere aspek van die verhaal is die twee kompetisies waaraan onderskeidelik die meisies en die seuns deelneem. Het jy ’n agtergrond in enige van hierdie sportsoorte? Is dit jaarlikse tradisies in landelike dorpe?

Ek het kennis geneem van veral toutrek toe ek nog in Somerset-Wes en later in die Strand gewoon het. By die Strand se sportgrond het ek dikwels toutrekspanne in aksie gesien wanneer ek daar verbygery het. Dit het jong toutrekkers, meisies en seuns, ingesluit. Toutrek het ’n beduidende sportsoort in Suid-Afrika geword. Ons seuns se nasionale toutrekspan is die hele eerstespan van die landbouskool op Riversdal, en die dogters se nasionale span – as ek reg onthou – is van ’n kollege op Worcester.

As tiener het ek op ’n dorpie, Elsburg, in die suur asem van die groot stad Germiston grootgeword. Hier het ek ’n vriend gehad wat my soms saamgesleep het na wedrenne vir stampkarre en dergelike kopseergoed in Boksburg aan die Oosrand. Terloops, die enigste rede hoekom ek saamgegaan het, was omdat my pel Toffies ’n baie skaflike suster gehad het wat ook saamgegaan het...

Nietemin, aan hierdie motorsportformate het tieners ook deelgeneem. Toe ek die boek geskryf het, het daardie gebeure in my gedagtes opgeskiet, en ek het besluit dat tieners mos ook aan iets soos tydrenne kan deelneem. Hierdie aktiwiteite is derhalwe nie beperk tot die platteland uitsluitlik nie.

Vir my was dit ’n verrassing om agter te kom wie die antagonis in die storie is. Jy het dit reggekry om dit goed te verdoesel. Tog kon ek by nadenke besef dat daar enkele leidrade is wat my gehelp het om die raaisel op te los. Hoe pas hierdie soort skrywe in jou denke? Is jy dus lief daarvoor om raaisels op te los, byvoorbeeld met bordspeletjies of Sudoku of iets dergeliks? Dalk het aktiwiteite in jou kinderjare ’n invloed op jou denke gehad?

Ek hou daarvan om te verras aan die einde, die leser te laat gis op die leestog soontoe. Sodoende verseker ek dat sy of hy sal aanhou lees en nie verveeld raak einde toe nie. As jy ’n jong leser gaan verveel, gaan jy daardie leser verloor. My benadering in hierdie verband sluit nou aan by hoe ek kortverhale skryf: Die wending, en soms dubbele wending, aan die einde. Dit is ’n kenmerk van al my jeugverhale.

Een van die raaisels vir my was wie die hoofkarakter sou wees – aan die begin was daar baie inligting oor spesifiek Herklaas én Stef en ek kon dit nie ontsyfer nie. Ek kon ook nie verstaan hoekom Herklaas heeltyd sy broek optrek en Stef altyd soek vir ’n vuurhoutjie om sy sigaret aan te steek nie. Nou wonder ek of jy vir die lesers hierdie inligting wil gee, of wil jy dit aan hulle verbeelding oorlaat?

Stef is in die openingshoofstuk omdat hy figureer as die Sherlock Holmes van die verhaal, en die verhaal is mos ’n speurverhaal. Stef is ’n arrogante, selfbehepte karakter wat dink dis cool om te rook en dat dit ’n statement maak. Maar sy rokery is pure vertoon, want hy is dikwels sonder die een of die ander; sonder ’n sigaret of sonder ’n aansteker.

Maar Herklaas is die hoofkarakter, want die grootste deel van die verhaal wentel om hom en sy ervaringe. Hy is nou wel nie die Sherlock Holmes nie, maar hy is die hooffiguur. Ek meld in hoofstuk twee dat hy eintlik onfiks en oorgewig is, alhoewel hy rugby speel. Sy voortdurende gekarring dus met sy broek is omdat hy dit nie behoorlik oor sy maag opgetrek kry nie.

Wat sou jy sê is die universele tema wat jou boek aanraak?

Die voortdurende misdaad, in watter kleed ook al, waarmee die gemeenskap geteister word.

Ek het gehou van die register wat jy in elke karakter se dialoë verbeeld het. Dit het vir my later gevoel of ek hulle regtig ken.

Ek gee altyd baie aandag aan dialoog. Wat my betref, is dit een van die belangrikste aspekte van skryf. Wanneer ek ’n karakter skep, verbeel ek my in daardie karakter se skoene in wat insluit hoe die karakter sal praat.

Wat doen jy in jou alledaagse lewe? Is dit waar jy mensekennis opdoen?

Ek was ’n kommunikasiedosent by KSUT se Fakulteit Besigheids- en Bestuurswetenskappe tot aan die einde van 2019. Toe terug met ’n kontrak in 2020 in KSUT se Onderwysfakulteit op Wellington. In die tyd van COVID-19 het die universiteit egter van my vergeet, maar sedert die begin van 2023 is ek weer terug as ’n tydelike dosent in dieselfde fakulteit. Ek doseer Language of Learning and Teaching vir eerste- tot derdejaars in die fakulteit se departement Senior Primêre Fase en Verdere Onderwys en Opleiding. Dit was ná 2020, toe die universiteit van my vergeet het, dat ek’n Skewe, skurwe sirkel geskryf het.

Skryfkundiges meen dat ’n mens baie moet lees as jy ’n skrywer wil wees. Wat lees jy graag?

Ek is leesverslaaf. Ek lees veral misdaadfiksie, maar as ek so ’n bietjie wegtree van die krimi-goed, besoek ek graag ou gunstelinge wat mensedrama betref.

Ek lees tans weer East of Eden van John Steinbeck, na my mening ’n skrywer op sy eie piek, hoog bo die res. Voor dit The old man and the sea van Ernest Hemingway. Boendoe van Chris Barnard. Dana Snyman se Uit die binneland. Wat kort tekste in Afrikaans betref, is Chris en Dana my gunstelinge.

My gunstelinge onder die speur- en misdaadskrywers is onder andere James Lee Burke, John Sandford, Michael Connelly, Ian Rankin, Benjamin Black, Stephen Booth en sommer ’n hele rits ander skrywers. Almal dekselse goeie skrywers; elk met ’n unieke skryfstyl.

Is daar ’n nuwe boek wat al vleis kry in jou gedagte? Of is ek nou besig om te vra dat jy die aap uit jou mou haal?

Ek loop lank reeds met ’n storie in my gedagtes rond, maar dis nie weer ’n jeugroman nie. Dis iets vir die volwassenemark. ’n Roman wat vaspen behoef. Binnekort sal my vingers doerie kant toe begin stap oor die sleutelbord heen.

Hoe lyk dit, is daar enige nuwe navorsing op jou horison?

Nie eintlik nuut nie. Ek het ’n hele entjie se poging oor leesklubs agtergelaat in 2020 met die doel om die D-studie later voort te sit. Maar so gebeur daar mos stories wat aanmeld as ek leeglê. Ek weet ek klink nou soos ’n ou wat gholf voorhou as verskoning hoekom die grasperk nie gesny word nie.

En ek weet ek het in Estelle se oor gefluister dat ek iets op die back burner het, maar ek het gedag Estelle het nie gehoor nie. Of het darem al vergeet daarvan. Of iets... Die Skotse skrywer Ian Rankin het sy D-studie opgeskort om eers die stories uit sy vingers uit te skud. Toe daarna sy studie voltooi.

Dankie, Rudi, dit was nou ’n heerlike gesprek. Ek wens jou die beste toe vir die volgende boek wat jy wil skryf.

En ek wag opgewonde vir daai LitNet-plasing. Dankie hiervoor, Estelle! Ek waardeer dit verskriklik baie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top