Cape Town Ramadaan & Lifestyle Expo 2018: ’n onderhoud met Fatima Allie

  • 0

Van 4 tot 6 Mei 2018 vind die Cape Town Ramadaan & Lifestyle Expo 2018 by Kaapstad se Internasionale Konvensiesentrum (KIKS) plaas. Hier is meer inligting oor die ekspo. 

Menán van Heerden het met Fatima Allie gesels oor haar passie vir Afrikaans, asook die viering van erfenis, kultuur en Islam in die suidelike halfrond.

Fatima Allie (Foto: Izak de Vries)

Fatima, hierdie ekspo vier taal, kultuur, tradisies en geskiedenis. Vertel vir ons ’n bietjie meer oor jou passie vir Afrikaans en kultuur. 

Ek het laat in my lewe begin onthou wat Afrikaans vir my beteken. Niel le Roux (Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans, of SBA) het Afrikaans terug in my lewe gebring. Na my moeder se dood in 2014 het ek haar stem in my ore gehoor en dit was altyd in Afrikaans. My oumagrootjie, ouma, oupa, ma en pa het Afrikaans in ons huis gepraat. Ek besef toe dat Afrikaans eintlik my moedertaal is, en Engels maar net my eerste taal is. Ek verstaan op daardie oomblik hoekom my “default”-knoppie altyd Afrikaans was. My grootword was in Afrikaans. My speel was in Afrikaans. My kosmaak was in Afrikaans. My gelooftaal was Afrikaans. My lag en stories vertel was in Afrikaans. My herinneringe was in Afrikaans. Die studie van  wyle Achmat Davids oor ons voorvaders en die Arabiese Afrikaans wat hulle ontwikkel het, was ’n mylpaal vir ons gemeenskap. Die Kaapse Moslems se kultuur en Afrikaans is sterk aan mekaar gekoppel. Dit is ons erfenis en moet omhels en versorg word, vir toekomstige geslagte. Afrikaans is ons harttaal.

Histories is slawe en politieke bannelinge vanaf Indonesië na die Kaap gebring. Indonesië, wat ook in die suidelike halfrond geleë is, het die grootste Moslembevolking in die wêreld. Die ekspo belowe om die geskiedenis van Islam in die suidelike halfrond te vertel soos dit nog nooit ervaar is nie. Waarom is dit so belangrik om die geskiedenis van Islam in hierdie Halfrond te vertel? 

Geskiedenis vertel ’n storie van wat in die verlede gebeur het. Ons geskiedenis moet deur ons vertel en geskryf word. Ons het almal ’n gevoel om aan iets te behoort. Ons kan vorentoe beweeg wanneer ons weet waar ons vandaan kom. Daarom is hierdie mondelinge verhale van ons voorvaders so belangrik om te deel en te dokumenteer. Hierdie uitstalling is belangrik om vir die breër gemeenskap te wys waar ons vandaan kom, wat ons geskiedenis is, en hoe ons as ’n gemeenskap in die Kaapstadse prentjie pas. 

Die leefstylpaneel sluit ook ’n gesprek oor Afrikaans en die Kaapse Moslemgemeenskap in. Kaapse Moslems het ’n baie groot rol in Afrikaans se ontwikkelingsgeskiedenis gespeel. Watter rol speel Afrikaans in jou gemeenskap in 2018?  

Die hartseer werklikheid is dat Afrikaans ’n sterwende taal onder die jonger geslag binne die Kaapse Moslemgemeenskap is. Die beste manier om Afrikaans te behou, is om Afrikaans met ons kinders te praat. Hierdie ekspo neem ons terug om die herkoms van Afrikaans as deel van ons Kaapse Moslems se erfenis te waardeer. Dit sluit ook die Islamitiese kuns in.

Is daar aspekte van Kaapse Moslemkultuur en -tradisies wat dikwels misverstaan word? Hoe kan die ekspo help om enige misverstande hok te slaan?

Islam is ’n manier van lewe. Die begrip halaal word dikwels verkeerd verstaan en die ekspo sal hieraan lig gee. Vrae soos hoekom ons gedurende die maand van Ramadaan sonder kos en water bly, hoekom ons beskeie aantrek, sal beantwoord word. Ons bied ’n trouseremonie aan, waar twee mense op 6 Mei om 10-uur by die CTICC2 met mekaar gaan trou. Dit is iets wat nie misgeloop moet word nie. Hierdie ekspo gaan ons gemeenskap nader aan mekaar bring en alle vrae oor die Kaapse Moslems gaan beantwoord word.

Lees ook:

Die Bo-Kaap: Arabiese Afrikaans en die Kaapse Moslemgemeenskap

Afrikaans en die Bo-Kaap

Die ontstaan van die komieks

Kom ons lig die sluier: Afrikaanse Moesliemvroue se aktivisme en entrepreneurskap

Afrikaans: the language of dissent

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top