Bybelblokraaie 1 en 2, saamgestel deur Heidri Mittendorf: ’n resensie

  • 0

Titel: Bybelblokraaie 
Samesteller: Heidri Mittendorf
Uitgewer: Lux Verbi (2024)
ISBN: 9780796323323

Titel: Bybelblokraaie 2
Samesteller: Heidri Mittendorf
Uitgewer: Lux Verbi (2024)
ISBN: 9780796323606

Heidri Mittendorf is ’n bekende en ervare blokkiesraaiselkenner. Sy het haar in die onderwys bekwaam en haar later heeltyds begin toegespits op die opstel van blokraaie en woordspeletjies, wat sy steeds vir verskeie Afrikaanse publikasies doen. Daar het ook al verskeie blokraai- en speletjiesboeke onder haar naam asook onder haar pseudoniem, PENPRET, verskyn. Hierbenewens het sy ook haar liefde vir netbal uitgeleef as speler op nasionale vlak en rig tans skoolspanne deeltyds af. Sy is die dogter van die legendariese blokraaiopsteller Yvonne van Eeden.

Oor die boeke

Die boeke bied ’n versameling van blokkiesraaisels, woordsoeke en woordspeletjies.

Die belofte van die samesteller is dat hierdie blokraaie aan lesers die geleentheid bied om hulle in die lekkerte van ’n blokraai te verlustig en hulle Bybelkennis deur middel van woordspeletjies op die proef te stel. “Omdat die blokraaie op temas en teksgedeeltes uit die Bybel gegrond is, kan dit selfs as ’n informele aktiwiteit tydens Bybelstudie gebruik word, hetsy individueel of in ’n groep.”1

Die antwoorde verskyn agterin. Ek het my reeds in ’n vorige resensie oor blokraaie uitgespreek met betrekking tot antwoorde wat agterin is. My kritiek is dat dit invullers kan lui maak, omdat dit maklik is om te kroek en loer in plaas daarvan om self diep te dink en in die Bybel die antwoorde te vind.2 ’n Interaktiewe blokkiesraaisel kan hierdie probleem systap, omdat die invuller self soek vir die antwoord op die raaisel. Kyk gerus na hierdie voorbeeld:

https://crossword.info/sample/clue_square_demo

Ek het wel twee speletjies in die boeke gevind, naamlik die bekende Woordsoeke en dan ’n nuwe speletjie wat my behoorlik diep laat dink het – Kriskras (Bybelblokraaie 2). Dit het nie eers gehelp om te kroek en loer nie! Ek moes raai, toets of ek reg is en weer probeer. ’n Uitveër en potlood is dus ’n móét hier!

Volgens wat ek gevind het, was dit eintlik die enigste vernuwing wat hierdie boek (2) bied. Ek bespreek in my vorige genoemde resensie ook die moontlikheid van ander speletjies, soos spiraalblokraaisels, vormraaisels, letterkeerraaisels, teikenraai, en my gunsteling: koderaaisels.

Ander speletjies wat ek in Penpret gevind het, was kettingraaisels en byekorfraaisels. Omdat hulle in Penpret verskyn, behoort die opsteller tog toegang daartoe te hê.

’n Tekort wat ek in hierdie boeke gevind het, was dat daar nie by een van die boeke ’n inhoudsopgawe, inleiding of bladsynommers is nie.

Die inhoudsopgawe sou so kon lyk:

Boek 1

Blokraaie 1–70  (met bladsynommers)
Woordsoek 1–10 (met bladsynommers)
Antwoorde (met bladsynommers van elke soort raaisel)

Boek 2

Blokraaie 1–60 (met bladsynommers)
Kriskras 1–4 (met bladsynommers)
Bybelwoordsoek 1–6 (met bladsynommers)
Blokkiesraaisel 1–5 (met bladsynommers)
Antwoorde (met bladsynommers van elke soort raaisel)

Dit is tog essensieel in enige boek, veral hierdie boeke. Ek kan my indink dat dit moeilik sal wees om te gebruik in ’n Bybelstudiegroep, omdat ’n mens nie aan groepsdeelnemers kan wys waar jy iets vind nie! Ook sou dit help om nommers by elke raaisel te hê. Veral vir kroek en loer is dit noodsaaklik.

Nog ’n tekortkoming is ’n voorwoord in elkeen van die boeke. Dit is nie genoeg om in besprekings soos dié op Maroela wat ek aangehaal het, te verduidelik wat in die boeke is nie.

’n Verdere tekortkoming wat ek vind, is bronne waarin die deelnemers vir woorde kan soek, veral in die gewone blokraaie in beide boeke. Dit is nie genoeg om soms te verwys na ’n plek in die Bybel nie.

Ek verwys ook in my vorige genoemde resensie na bronne wat my gehelp het, naamlik die Blokraaisel Woordeboek van Pierre Marais en die aanlyn WAT en Pharos. En natuurlik die immer gebruikte bron van Pansegrouw. Veral die blokraaiselboek van Pierre Marais is teen ’n geringe bedrag by toepassingwinkels te koop en kan op slimfone gebruik word.

Uiteindelik is dit tog nuut dat hierdie boeke so ’n spesifieke tema het, wat bruikbaar kan wees in Bybelstudiegroepe.

Ek salueer die opsteller.

Nota

Izak Furstenburg (foto: verskaf)

Ek is dankbaar vir Izak Furstenburg se hulp met die opstel van hierdie resensie. Hy sal waarskynlik ook ’n mede-opsteller van my boek wees. Izak was my mentor toe ek van blokkiesraaisels geleer het. Dankie, Izak.

Eindnotas

1 Steyn, Gerda. 2025. Boekoorsig: Bybelblokraaie 2. Maroela Media, 21 Julie 2025 (31 Julie 2025 geraadpleeg).

2 Kruger, Estelle. 2024. Die groot Afrikaanse blokraaiboek, saamgestel deur Gerda Engelbrecht: ’n resensie.

Lees ook:

Die groot Afrikaanse blokraaiboek, saamgestel deur Gerda Engelbrecht: ’n resensie

Pharos-blokraaiwoordeboeke: ’n onderhoud vir blokraaiselliefhebbers

My reis met blokkiesraaisels

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top