Pharos-blokraaiwoordeboeke: ’n onderhoud vir blokraaiselliefhebbers

  • 4

Annemie Stoman, die hoof van Pharos Woordeboeke, praat met Naomi Meyer oor die Pharos-blokraaiwoordeboeke.

Annemie, dis moeilik om te verduidelik hoe genotvol dit is as jy die laaste twee of drie woorde kon inpas en siedaar, die blokraai is voltooi! (Onlangs was dit in my geval ’n kopkrap tussen aandster en môrester – leidraad: “Venus as planeet”.) Die vraag ontstaan nou: Is ’n blokraaiwoordeboek nie soos om toets te skryf met ’n memo langs jou nie?

Elke blokraaigeesdriftige sal vir jou kan vertel van frustrasie. (Kyk maar wat beteken dié woord alles!) Dit was die vernaamste rede vir die skryf van Blokraai-antwoorde. Die geheim is om eers jou kennis te toets en wanneer jy op die punt is waar jy hande in die lug gooi, die boek as hulpmiddel in te span. As die blokraaigogga eers gebyt het, sal jy vuisslaan om eerste die raaisel te voltooi!

Hoe dikwels word die kriptiese leidrade van Afrikaanse blokraaisels herhaal? Anders gestel: Hoe bepaal julle watter eienaardige of haas onbekende woorde die kriptiese leidrade sal oplos wat gereeld in blokraaisels voorkom?

Kriptiese leidrade is ’n heel ander storie – hier moet jy jou kop gebruik en kan die leidraad nie noodwendig net so in die boek opgesoek word nie. Met ’n kriptiese leidraad moet jy besluit of van die woorde in die vraag ’n anagram is vir jou antwoord en of dit ’n algemene-kennis-vraag is, bv in Saterdag se Beeld: "Wanneer hy in die bed is, beywer hy hom vlytig" (5 letters). Wat is die sleutelwoord – “beywer” of “vlytig”? Ek kies “beywer”. Volgende kyk jy na “wanneer” – dit dui op tyd. Wat doen mens in die bed? Jy lê. Dink nou weer oor die “wanneer” wat ‘n tyd verteenwoordig wat drie letters lank is. “Toe” pas perfek! Antwoord: toelê – ’n sinoniem vir “beywer”. Hier is ’n ander tipe leidraad: "Amandel omsluit ou staatsman (7) Anagram." Hier skuif jy die letters rond tot jy op die antwoord afkom. Antwoord: Mandela. Herhaling van kriptiese leidrade kom baie selde voor.

Vir ernstige blokraaiselliefhebbers met baie tyd in die Desembervakansie – waar kan hulle orals Afrikaanse blokraaisels vind om te voltooi? Kan mens geld daarmee verdien of iets wen?

Hou gerus tydskrifte soos Huisgenoot, Sarie en Landbouweekblad en koerante soos Beeld en Rapport dop vir blokraaie waar jy lekker pryse kan wen. Loer gerus ook op Netwerk24 vir aanlyn blokraaisels wat afgelaai kan word.

Kornalyn, bastonnade, raagbol, aprioristies, nerts, sideriet. Wat is die belang van ’n blokraaiwoord? Om vir pure genot (of om ‘n bietjie ten toon te stel hoe goed jou woordeskat is) hierdie woorde in sinne te kan gebruik? Vir pure pret en plesier? Om Afrikaans se woordeskat in stand te hou? 

Al die bogenoemde. Om blokraaie in te vul is pure plesier, dit brei jou woordeskat uit en dit hou die Afrikaanse woordeskat in stand. En wie van ons wat lief is vir taal, wil dan nie ’n goeie woordsmid wees nie!

’n Woordeboek word uitgegee om ’n sekere behoefte in die mark te vervul. Dink jy in hierdie moderne tyd is daar nog baie mense wat met blokraaisels spook? 

Ja, daar is steeds baie mense wat versot is op blokraaisels. Dit stimuleer die brein en beveg Alzheimer se siekte; dit brei jou taalkennis geweldig uit en is boonop lekker ontspannend. Dit neem ons ook weg van al die oorweldigende sosiale media!

Pharos is bekend vir sy woordeboeke in alle gedaantes. Almal wat met woorde werk, wil soms ’n woord naslaan, vir byvoorbeeld spelling of betekenis. Waarom ’n blokraaiwoordeboek – wat is anders daaraan? Kan gebruikers nie sommer ’n gewone verklarende woordeboek gebruik om ’n antwoord te kry nie?

Hoewel antwoorde vir blokraaie ook in gewone verklarende woordeboeke nageslaan kan word, is dié woordeboeke beperk. Baie antwoorde op leidrade kom nie in gewone woordeboeke voor nie omdat dit algemene kennis ook toets. Pharos se Pansegrouw-Superblokraaiwoordeboek bied ’n groot aantal sinonieme vir die woord of leidraad wat nageslaan word. Die gebruiker kan dus die woord wat in die blokraaisel gaan pas, uit ’n langer lys sinonieme as in ’n gewone verklarende woordeboek soek. ‘n Voorbeeld: As jy ’n sinoniem vir blink soek, kry jy 27 moontlikhede (enige woordsoort en enige betekenisveld) waaronder deursigtig, flonker, glimmend, glunder, vernuftig en weerkaats(end).

Wat maak Pharos se blokraaiwoordeboeke verder uniek? 

Pansegrouw-Superblokraaiwoordeboek is alfabeties georden soos ’n gewone woordeboek, maar daarby kan jy in hierdie woordeboek ook ’n hele leidraad alfabeties naslaan. Sou jy byvoorbeeld kyk onder "hy maak ’n ander na" en daaronder "hy maak pelse", kry jy die antwoord vinnig: bontwerker. Dalk wil jy weet wat die antwoord is vir die leidraad "dof slaan op ’n trom" – slaan dit na onder dof, en jy kry jou antwoord: roffel ; of “soort Afrikaanse skaap” lei jou na blinkhaar, Damara, Dorper, Nguni en Pedi.

Blokraai-antwoorde werk anders – dié unieke gids is in temas verdeel en gee baie spesifieke antwoorde op die leidrade wat in blokraaisels voorkom. Verskeie gewilde onderwerpe word gedek: Bybelkennis, geografie, kunste en vermaak, sport en politiek, natuur en dierelewe – alles waaraan jy kan dink wat in ’n blokraaisel gevra kan word. As jy byvoorbeeld wil weet wie Mej Heelal in 2016 was, watter bergreekse in Kanada voorkom, of wonder oor nuwe plekname in Suid-Afrika, is Blokraai-antwoorde werklikwaar die antwoord.

As ’n mens ’n kriptiese blokraaisel in die koerant voltooi, besef jy gou dit is glad nie so eenvoudig om ’n antwoord op ’n kriptiese leidraad te kry nie. Gaan Blokraai-antwoorde jou help? Hoe los ’n mens kriptiese leidrade op as jy nie altyd die leidraad verstaan nie?

Uiteraard verskil kriptiese blokraaisels van gewone blokraaie, want die leser moet ’n bietjie verder dink en woordspelings en verskuilde leidrade tegelykertyd probeer oplos. As jy eers die kloutjie by die oor het van watter woord jou sleutelleidraad is, kan jy die antwoord uitwerk. Blokraai-antwoorde se inhoudsopgawe gee leiding waar om te soek. Die geheim van ’n kriptiese leidraad is dat jy moet kan bepaal uit watter woord of woorde jy jou antwoord moet kry. Jy moet in jou algemene kennis delf en versteekte woordbetekenisse vind. My raad is, moenie te veel aandag gee aan wat jy met die eerste lees teëkom nie. Lees die leidraad van agter af as dit moet! ‘n Voorbeeld: As die leidraad lees “Dokter Minister” en jy lees “Minister Dokter”, sal jy kan aflei dat dit die "Minister van Gesondheid" is waarna verwys word. In die inhoudsopgawe kan jy kyk waar is die afdeling "Politiek", en onder daardie opskrif verder soek onder "SA Nasionale Regering (sedert 1989)" en dan "Ministers en portefeuljes". As jou leidraad is "Is dit mens, is dit bul?", en jy kan uit jou algemene kennis aflei dat dit na die mitologie verwys, kan jy onder die opskrif "Gode en godinne (mitologie)" die leidraad soek, en die antwoord kry by "halfmens-halfbul": Minotauros.

Wat dink jy is prettig van ’n blokraaisel? Wat onderskei dit van ander woordspeletjies? Kombineer dit woorde en wiskunde – en gelukskote?

Taal en wiskunde is albei "kodes" wat ontsluit moet word, en deur uitbreiding van jou taalkennis raak jou taalgebruik meer interessant en word jou algemene kennis getoets en verbreed. Beide taal en wiskunde stimuleer die linkerbrein, wat analitiese en logiese denkvaardighede verg. Daarmee saam moet jy ook skeppend dink om betekenisse te ontrafel, dus jy moet ook jou regterbrein inspan. Wanneer jy sekere letters van ’n woord begin invul, word elke antwoord al duideliker, en soms kan jy ontbrekende letters raai terwyl jy wonder of daar wel so ’n woord bestaan. Dit kan jy dan naslaan om jou raaiskoot te bevestig, en soms is dit inderdaad ’n gelukskoot! Soos jy jou brein slyp en brei, leer jy sommer om beter en beter te raai, want patrone in die taal begin vorm aanneem. Blokraaisels is absoluut ’n fees as jy jou eers begin ingrawe. Jy kan so verdiep raak in die leidrade en pogings om elkeen op te los dat die tyd verbyvlieg – dit is eintlik ’n heerlike verslawing. Jy het nie ’n hele span nodig om blokraaisels in te vul nie, maar as jy wil, kan dit dalk ’n gesinspoging raak!

Wat is van die interessantste blokraaiwoorde wat jy in die saamstel van Blokraai-antwoorde teëgekom het? En watter rare woorde kom in die Superblokraaiwoordeboek voor?

Dit was interessant om te sien dat daar so baie fobies en vrese is! As jy byvoorbeeld aan Gallofobie ly, moet jy Frankryk liefs vermy. Daar is mense met ’n vrees vir narre (koulrofobie), ʼn vrees om ’n voertuig te bestuur (amaksofobie) en ʼn vrees vir spieëls (spektrofobie)! In die Pansegrouw-Superblokraaiwoordeboek is daar talle interessante woorde wat ’n mens ook nie aldag hoor nie, byvoorbeeld goggojots vir ’n reënpadda, janboel vir ’n geskarrel en kleinkorrelmuskadel vir ’n Kaapse korint.

Is daar enige ander voorbeelde uit Blokraai-antwoorde wat jy graag met ons lesers wil deel? 

Blokraai-antwoorde bevat geweldig baie inligting oor mense oor wie geskryf word in die media: van sportsterre, skrywers, akteurs en sangers tot uitvinders en koninklikes. Het jy dalk die van nodig vir ’n modeontwerper met die naam Vanessa of die Idol-wenner met die naam Daniel? Wil jy weet wie die lede van die koninklike familie van Marokko of Noorweë is? Het jy die antwoord nodig vir ’n orkaan, sikloon of tifoon waarvan die tweede letter ’n o is? Kan jy nêrens die Afrikaanse spelling vir vulkane, watervalle of woestyne kry nie? Op soek na ’n lys van woorde wat eindig met -logie of -skoop? Die antwoord is alles onder jou vingerpunte in Blokraai-antwoorde!

Hierdie gids is binnekort op die winkelrakke – net reg vir Kersfees. Waar kan lesers dit koop of bestel en wat kos dit?

Bestel Blokraai-antwoorde vanaf November by jou naaste boekwinkel soos Bargain Books, CNA, PNA, Wordsworth of Protea Boekwinkels. Jy kan jou eksemplaar ook aanlyn bestel by aanlyn winkels soos Takealot, Loot.co.za, Exclusive Books of Graffiti Boeke. Die voorgestelde uitgewersprys is R295.

Baie lesers wil eerder elektroniese boeke gebruik – is Pharos se blokraaiwoordeboeke ook digitaal beskikbaar? 

Ja, ons is baie opgewonde om aan te kondig dat beide Pansegrouw-Superblokraaiwoordeboek en Blokraai-antwoorde reeds op PharosAanlyn beskikbaar is (www.PharosAanlyn.co.za) teen R200 per jaar. Tik net jou woord of leidraad, en siedaar, jou antwoord verskyn!

Wil jy dalk nog iets oor ander produkte van Pharos met ons lesers deel? 

Pharos publiseer verskeie algemene woordeboeke, skoolwoordeboeke, vakwoordeboeke en stylgidse. Ons produkte is gesaghebbend, gerekend en betroubaar, en word steeds gereeld bygewerk en hersien. Wees op die uitkyk vir die Tesourus van Afrikaans wat binnekort verskyn!

Lees ook:

Die aap is uit die mou: Pharos se skoolwoordeboeke sal iets vir elke kind beteken

Pharos Afrikaansgids deur Nicol Faasen: ’n resensie

"Reken op ons woord": ’n onderhoud oor Pharos-woordeboeke

  • 4

Kommentaar

  • Die Blokaspaai-woordraaisels op slimfone beskikbaar bied ook interessante moontlikhede, waar 'n mens interaktief gelei word na letters as jy vashaak.
    Daar is 'n verskeidenheid van blokraaie wat immer gewild is.

  • Estelle Kruger

    Ek is dankbaar vir my belangrikste bronne vir leidrade by Blokaspaai wat beide Pharos Aanlyn en WAT Aanlyn is.

  • Estelle Kruger

    Hallo Amanda.
    Dankie vir jou navraag. Hieronder is enkele woordeboeke wat aanlyn beskikbaar is:
    Digitale hulpbronne vir leidrade
    PharosAanlyn – dit sluit Pansegrouw se blokkiesraaiselwoordeboek in: https://www.pharosaanlyn.co.za/
    WAT-aanlyn: http://woordeboek.co.za/
    Blokkiesraaisel-woordeboek vir slimfone: https://apps.apple.com/za/app/blokkiesraaisel-woordeboek/id634531207
    Kyk gerus ook na hierdie skakel na LitNet-blokkiesraaisels:https://blogs.litnet.co.za/blokraaisels/
    Ek hoop dit help jou.
    Groete

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top