Die groot Afrikaanse blokraaiboek, saamgestel deur Gerda Engelbrecht: ’n resensie

  • 1

Titel: Die groot Afrikaanse blokraaiboek
Samesteller: Gerda Engelbrecht
Uitgewer: Jonathan Ball Publishers (Junie, 2024)
ISBN: 9781776194032

By die ontvangs van die boek, kry ek ’n bonus: cappuccino, tee, karringmelkbeskuit, ’n stel van ’n potlood, uitveër en potloodskerpmaker. Nou weet ek nie of dit net vir my as resensent ’n geskenk is en of dit by elke aankoop van die boek ingesluit is nie. Natuurlik het dit my dadelik positief ingestel om te lees, te dink, in te vul en my resensie te skryf.

Die uitgewer se lokvraag is: “Verkies jy blokraaie waar die leidrade binne of buite die raaisel staan, koderaaisels of Sudoku?”

Die Groot Afrikaanse Blokraaiboek bevat dit alles! Hierdie versameling bevat meer as 200 van die beste blokraaisels en ander speletjies wat in Media24 se gewilde tydskrifte soos Sarie, Weg, Tuis en Landbouweekblad verskyn het.”

En die belofte van die boek: “Dit beloof om jou ure lank te vermaak en uit te daag. Dit is boonop die perfekte geskenk vir enige blokraaiverslaafde.”

Vir my as blokraaiverslaafde en met ’n lang betrokkenheid in my reis met blokkiesraaisels was dit dadelik ’n uitnodiging om onmiddellik te begin invul – natuurlik sonder die antwoorde wat agterin die boek is. Ek moet eerlik wees dat ek tog soms kroek en daar loer. Dit laat my vermoed dat menige invuller van blokkiesraaisels hierdie selfde swakpunt het as ek.

As ek eerlik is, is die kroek-en-loer waarskynlik nie goed vir die diepdinkproses nie. Die raaisels op die slimfoon en rekenaar wat interaktief en aanlyn is, het ’n baie goeie oplossing hiervoor en daarvan hou ek. Dit gee leiding, maar maak nie die invuller lui nie.

Uiteraard is laasgenoemde nie moontlik in boeke nie. Tog kan dit wel op ’n CD of datastokkie in ’n koevert agterin die boek gelaai wees. (Hoewel dit dalk bietjie outyds is, want wie het nog CD-spelers?) Die meeste mense het tog wel rekenaars waarin datastokkies pas. Dan is die versoeking tog nie so groot om te kroek en te loer nie. Dit sal seker die prys van die boek meer maak. Die uitgewers sal met ’n QR-kode1 kan voorsiening maak vir ’n vernuwende aanpassing in die boek wanneer dit weer gepubliseer word.

Die verskillende soorte blokkiesraaisels wat in die boek is, is die volgende:

  • 25 x pyltjiesraaisels met die leidrade in blokkies;
  • 25 x blitsies met leidrade apart onder die blok;
  • 25 x flinkdink (ook met leidrade onder die blok);
  • 50 x koffietyd (ditto);
  • 25 x koderaaisels (sonder leidrade behalwe die kode in ’n blokkie);
  • 50 x woordsoekraaisels;
  • 40 x Sudoku (van maklik na moeilik).

Ek het een van elk van die genoemde blokkiesraaisels ingevul en watter heerlike ervaring. Party van die raaisels is moeilik omdat dit ’n hele idioom bevat (byvoorbeeld “in jou dop kruip”) en ek was nie daarop voorbereid nie. Wat natuurlik heerlik uitdagend was, was die koderaai, my gunsteling – regtig diep dink en al die breinselle gebruik. Oor die algemeen is my mening dat die leidrade uitdagend is en ja, ek moet bely dat ek dikwels geloer-en-gekroek het ... Maar dit was alles uiteindelik baie bevredigend en boeiend!

In Afrikaans is daar twee spanne gedugte opstellers van blokkiesraaisels, met mense soos Anina Roux (saam met Louise van Tonder, Albé Grobbelaar, Samantha McKendrick en Rick van Tonder) by Xword en Yvonne en Heidri van Eeden by Penpret. Dan is daar natuurlik die bekende Pansegrouw Makro Blokraaiselwoordeboek wat ’n metgesel in menige huisgesin is.

My eie ervaring die afgelope jaar wat my toegerus het om te kan kommentaar lewer en wenke gee, het my weer opnuut geleenthede gegee om te speel met aanlyn weergawes van blokkiesraaisels.2 Hierdie ervaring het my voorberei om aan te beveel dat ’n boek soos Die groot Afrikaanse blokraaiboek soortgelyke temas sou kon insluit om regtig betrokke by die gebruikers se lewens te wees.

In my pad met blokkiesraaisels het ek op ander blokkiesraaisels afgekom wat ek mis in hierdie boek, omdat dit welkome vernuwing sou kon wees. Ek dink aan die volgende:

  • spiraalblokkiesraaisels;
  • vormraaisels (’n variasie van woordsoekraaisels);
  • letterkeerblokkiesraaisels

Daar is ook ander nuwe soorte blokraaisels wat nog nie in Afrikaans ontgin is nie, byvoorbeeld kettingraaisels en byekorfraaisels.

Nog iets wat ek dink genoem sou kon word agter in die boek, is die bronne wat raaiselinvullers kan gebruik. Voorbeelde wat my gehelp het as skepper en as invuller was die Blokkiesraaisel Woordeboek van Pierre Marais op slimfone se toep-winkels, asook WAT Aanlyn en Pharos Aanlyn.

Die spiraalblokkiesraaisels wentel hoofsaaklik rondom palindrome en anagramme. Die Blokraaisel Rymwoordeboek wat gebaseer is op die HAT (uitgegee deur Pearson) het my gehelp om ’n woordelys saam te stel van 1362 woorde wat een of meer van hierdie woordvorme besit. Ek noem dit my WAP-woordelys (wenke vir anagramme en palindrome). (Hierdie boek het ’n CD met interaktiewe blokraaisels agterin.)

Dit is alles wel ekstra uitgawes, maar vir ernstige skeppers van blokkiesraaisels en blokraaiselverslaafdes is dit ’n plus. Nee, dalk selfs ’n móét.

Alles inaggenome, sal Die groot Afrikaanse blokraaiboek ’n welkome gas op enige huishouding se koffietafel kan wees en dit beloof om aangename ure van dink-en-invul te wees. Ek voorspel veel plesier met ’n warm kombers en koffie om die winter te oorleef.



Eindnotas

1 Uit Google:

2 As gesoute blokraaiskepper wat in die staat van inperking tydens Covid-19 verwoed 500 blokraaisels geskep het onder die bekwame en geduldige leiding van my mentor (Izak Furstenberg) vir Blokaspaai, wat ek eers as blokraai-invuller op my slimfoon ingevul het, kon ek nie anders nie as om te dink aan die program wat ons gebruik het vir die opstel van die raaisels vir slimfone.

Saam met Izak de Vries het ek gedurende 2022 weekliks twee raaisels op LitNet gepubliseer – een vir skole graad 8–10 en een vir gewone leefstyl. Ek het die skole-blokkiesraaisels gebaseer op skoolvakke en dan het ek ook saam met die betrokke skoolvak (byvoorbeeld Lewensoriëntering) ’n uitdeelstuk vanuit die KABV of ander dinge wat gebeur in die samelewing (byvoorbeeld menseregte), ingesluit waarop ek gemerk het watter woorde ek vir die betrokke raaisels gebruik het of sou kon insluit.

Ook het ek saam met Izak Furstenberg gedurende hierdie jaar onderskeidelik kwartaalliks en maandeliks blokkiesraaisels vir twee aanlyn tydskrifte gelewer, naamlik Joernaal en Wenke vir die vrou.

Vir hierdie twee aanlyn tydskrifte het ek goed gekonfyt geraak met interaktiewe aanlyn blokkiesraaisels.

Jammerlik genoeg was dit met al twee aanlyn tydskrifte nie moontlik om te bepaal hoeveel leser-invullers daar was nie. Dit is dus gestaak op grond van die bruikbaarheid wat ontbreek het.

Lees ook:

My reis met blokkiesraaisels

Pharos-blokraaiwoordeboeke: ’n onderhoud vir blokraaiselliefhebbers

XWord: ’n onderhoud, ’n blokkiesraaisel en ’n boekprys

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top