Blykbaar is die eerste blokkiesraaisel deur Arthur Wynne op 21 Desember 1913 in die New York World in Amerika gepubliseer, maar hierdie nuwe verskynsel het waarskynlik via die Britte na Suid-Afrika gekom.
Kinderjare
My ma (gebore in 1918) het op ’n plaas grootgeword en het nie geweet van hierdie nuwe gier nie. My bloedpa was blind en ons sou dit ook nie by hom geleer het nie. As kind was daar nie koerante, boeke of tydskrifte in ons huis nie – ek was gevolglik nie blootgestel aan blokkiesraaisels tuis of selfs op skool in ’n armer voorstad van Johannesburg nie. Ek het wel tussen seuns grootgeword in boomhuise en kaskarre, op huise se dakke, van die mynhope afgegly met karton, in groot betonwaterpype gespeel en die dag afgesluit met verskeie straatspeletjies saans. Al hierdie ervarings het my geesdrif vir raaisels en avonture wakker gemaak en bewus gemaak daarvan dat ’n mens jou eie pret kan skep en jouself kan besig hou.
Tienerjare
Ons het Sondae in die kerk as jongelinge met vingertaal met mekaar gekommunikeer – dít nadat die dominee ons ernstig vermaan het omdat ons te hard gepraat het en ons selfs een keer beveel het om by ons ouers te gaan sit. Wat agterna tuis gebeur het agv hierdie verleentheid vir my stiefpa, kan ’n mens net raai … Behalwe vir die bitter les wat die gevolg was van laasgenoemde strafervaring, het ek wel deeglik agtergekom dat woorde uit letters bestaan. Vingertaal, tesame daarmee dat ek ’n regte boekwurm geword het wat in die biblioteek geboer het, het veroorsaak dat ek tot vandag toe nog ’n goeie (intuïtiewe) begrip en vaardigheid van korrekte spelling het, dít sonder dat ek ooit regtig enige spelreëls geleer het en later nogal gesukkel het om dit te onderrig toe ek ’n Afrikaans-onderrigonnie geword het!
Ouerskap
Toe ek ’n mamma van drie kinders was, het ek hard probeer om hulle betekenisvol besig te hou in die kerk – sjoe, twee maal op ’n Sondag! – en eers het ek vir hulle doolhowe geteken wat sou pas by die dominee se preek, dws as ek laasgenoemde betyds in die hande kon kry. ’n Voorbeeld sou wees waar Josef se broers hom gesoek het en by die Egiptiese paleis gevind het. Die volgende stap (toe hulle kon lees) was om ’n woordewar te ontwerp met woorde wat die dominee gebruik het en hulle dus op ’n manier deel van die preek gemaak het en stil gehou het in die kerk. Uiteindelik het ek blokraaie opgestel oor dieselfde soort konsepte. Ek het ’n vermoede ons het ook Hangman gespeel met die dominee se kernwoorde of name. Ja, dit het selfs vir my ook betekenisvol besig gehou in die kerk! Later het ek en my kinders agtergekom watter heerlike gesinspret dit is om legkaarte te bou en blokkiesraaisels in te vul tydens vakansietye.
Onderwys
Hierdie ontdekking het daartoe gelei dat ek as juffrou in ’n hoërskool ’n leerproses ontwerp het waar my leerders van Afrikaans eers ’n blokkiesraaisel moes invul wat ek ontwerp het met die woordeskat vir ’n storie of taalles, en dan kon diegene wat eerste klaar is dit merk met my memorandum en weer ander leerders se antwoorde merk. Dit was interessant om te sien hoe hierdie proses hulle gemotiveer het. Daarna het hulle nuwe uitdagings gekry oor die vakinhoud – weer invul, merk met my memorandum, en mekaar se goed merk. Dit was heerlike lesse en hulle het nie toe die klok lui gesoek na hulle kamme en spieëls om mooi te lyk terwyl hulle van klaskamers verwissel nie – inteendeel; hulle wou nie my klas verlaat nie.
Só het ek op ’n dag besef ek kan leerders ook besig hou tydens die eksamen toe ek moes toesig hou terwyl hulle niks skryf nie, ledig rondsit en baie lastig is terwyl ek die tyd wou gebruik om vraestelle te merk. Ek het weer die blokraaipret ingespan en het hulle uitgedaag om blokkiesraaisels vir mekaar op te stel oor die vak wat hulle kamstig voor sou moes leer tydens hierdie afperiode – wat geblyk het ’n goeie plan en studiemetode te wees. Ook het hulle begin om raaisels mbv ’n woordewar vir mekaar op te stel. Dit het beteken hulle moes mekaar se kennis oor die vak toets en terselfdertyd ook ’n memorandum hê. En dit het hulle besig gehou, en ek kon aangaan met my nasienwerk! Hulle wou nie hê die periode moes eindig nie.
Nog ’n ander ervaring wat ek gehad het terwyl ek skoolgehou het, was dat ons as onderwysers nie mog brei of hekel terwyl ons toesig hou wanneer daar eksamen geskryf word nie. Ek het ’n gaping gesien en op elke hoek van die lokaal ’n blokkiesraaisel vir myself neergesit wat ek uit die Huisgenoot- en ander blokraaibundels geskeur het (natuurlik sonder die antwoorde agterin). Dan het ek deur die klas beweeg – van die een hoek na die ander en tussendeur die leerders se banke het ek heeltyd probeer dink na watter woord die leidrade van elkeen van die vier raaisels my lei. Heerlike eksamen-toesighou-sessies vir my!
Middeljare
Daarna was daar ’n gaping in my geheue aangaande blokkiesraaisels terwyl ek as enkelouer die pot aan die kook moes hou en kinders grootmaak. Terwyl ek tersiêre onderrig by verskeie onderwyskolleges en die Universiteit Stellenbosch gegee het, het ek al my vrye tyd gebruik vir verdere studies – totdat ek hier in Sedgefield ingetrek het in Berg-n-See-aftree-oord, waar die dae soms lank kon wees, en as eenkantmens het ek nie eintlik daarin belanggestel om sosiaal te verkeer nie – veral omdat ek heelwat jonger as almal hier is en eintlik nog ’n redelik vol dagtaak as redakteur van LitNet Akademies (Opvoedkunde) het wat my stimuleer, sowel as my blokkiesraaiselstokperdjie, om só uit die kwaad te bly. 🙈🙊🙉
Blokaspaai
Ek kom toe eendag af op die Blokaspaai App en die res is geskiedenis. Ek kon bloot nie ophou invul nie! Op hierdie stadium was ek net bewus van die Blokkiesraaisel Woordeboek van Pierre Marais op slimfone se app-winkels – iets wat my baie gehelp het om hierdie blokraaie interaktief in te vul. Nadat ek al Blokaspaai se raaisels ingevul het, het ek op hulle webwerf vir hulle ’n briefie geskryf en gevra hoe ’n mens ’n medewerker kon word. Izak Furstenburg het my geantwoord, ’n aanbeveling gemaak van watter rekenaarprogram om aan te skaf en hy het my baie effektief aanlyn opgelei en sedertdien geduldig gementor. Van toe af het ek hierdie heerlike avontuur aangepak om blokraaie te skep vir my Blokbrein en kan steeds nie ophou nie. Eers het ek WAT Aanlyn aangekoop, en daarna met groot blydskap agtergekom dat ek gratis toegang tot Pharos Aanlyn het omdat ek ’n redakteur is by LitNet. Wat ’n skat van inligting!
Izak het ook op Facebook ’n bladsy, genaamd Blokkies, geskep en my op ’n dag verras daarmee dat een van my blokraaisels gelaai is as voorbeeld. ’n Paar maande gelede het hy my genooi om saam met hom namens Blokaspaai spiraalblokkiesraaisels vir ’n tydskrif te skep, wat hoofsaaklik rondom palindrome1 en anagramme2 wentel. Die Blokraaisel Rymwoordeboek wat gebaseer is op die HAT (uitgegee deur Pearson) het my gehelp om ’n woordelys saam te stel van 1 362 woorde wat een of meer van hierdie woordvorme besit. Ek noem dit my WAP-woordelys (Wenke vir Anagramme en Palindrome). Eersdaags verskyn hierdie tydskrif op die rakke en ek wens dit gebeur nie net een maal ’n kwartaal nie, want hierdie gogga het my nogal gebyt! Natuurlik sal ek sorg dat ’n kopie of twee hiervan gereeld in ons aftree-oord se biblioteek rondlê.
Terwyl ek besig was met die spiraalblokraaie het die volgende lawwe versie in my gedagtes opgekom:
Woelerige woorde
In spiraalblokraaie
stort palindrome trots
na benede
in Eden
met elke eb
wat kom.
Hulle slaan
bol.le.ma.kie.sie
vorentoe
agtertoe
en eis dat elke eik
in anagramme
een el lank is
tot stra.at.mo.le.ste
dit verander en
in ’n ets
omrol om
dankie te sê
vir die arts wat
dit behandel.
Dan neem die non
haar seis en maai
alles af …
Non.sies.
Navorsingsresultate
Van nuuskierigheid en my eie belangstelling in die brein en kreatiwiteit, het ek bietjie gaan loer op Google om uit te vind wat ek alles kon wys word oor die invloed van blokraaisels op die brein. Die navorser Keith Wesnes, wat ’n bekende professor in kognitiewe neurowetenskap aan die Universiteit van Exeter in Engeland is, het die impak van blokkiesraaisels op aandag-, redenasie- en geheuetoetse bestudeer.
Uit bogenoemde navorsingsresultate is dit vir my duidelik dat hierdie spesifieke soort samewerking om raaisels op te los goed was vir my verhouding met my kinders – dit het van ons spanlede gemaak en gehelp om ons naby aan mekaar te hou in moeilike tye. Dit beteken ook dat ek iewers ’n ekstra en onmeetbare bydrae gelewer het tot die leerlinge in my klasse se intellektuele ontwikkeling.
Verder gee dit my moed vir die later jare van my oudag, omdat dit volgens navorsing beslis demensie teenwerk en geheue verbeter. Nog ’n voordeel is dat blokkiesraaisels ander kognitiewe funksies soos intuïsie en kreatiwiteit bevorder, omdat die oplos (en skep) van raaisels beide hierdie breinvaardighede gebruik wanneer ’n mens gereeld moet raai en soek vir alternatiewe. Uiteindelik is nog goeie nuus ivm blokkiesraaisels die dopamien wat in my brein vrygestel word, wat so ’n intense gevoel van vervulling, tevredenheid en geluk veroorsaak – amper soos wat ’n mens voel as jy ’n groot projek voltooi het. Dit het my goeie rede gegee om nie meer skuldig te voel en te dink ek behoort te gaan gim, draf of enige ander fisiese oefening doen nie – ek kry die oemf in die blokkiesraaisels, beide as invuller en as ontwerper!
Toekoms
As ek ’n droom kon hê en realiseer, is dit om weekliks vir LitNet ’n blokkiesraaisel of twee in te stuur …
Eindnotas
1 ’n Palindroom (kreefvers) is ’n woord wat vorentoe of agtertoe gelees dieselfde woord bly, bv lepel. ’n Ander woord kan ook gevorm word, bv trots word stort.
2 ’n Anagram (letterkeer) is verandering(s) van ’n woord in ’n ander een (of meer) deur die omsetting van die letters, bv benede word eden+eb wanneer dit omgekeer word.
Kommentaar
Hallo Estelle het nou lekker gelees aan jou artikel oor blokraaie en is seker baie mense hou hulle besig met so n bietjie kopkrap. Baie geluk ook dat jy ook meewerk aan ’n blokraaiprogram. Ja, LitNet kan gerus ook gereeld ’n blokraai publiseer.
En hier sit ek op 'n snikhete Warm Wellington (die "W" is opsetlik) en lees oor blokkiesraaisels! Lekker, inspirerend en persoonlik. Dit herinner my aan my pa se sit in die oupastoel met woordeboeke en skerppotlode en uitveërs. Dit laat my ook soek na 'n skerp potlood (tevergeefs) en 'n ou of nuwe tydskrif. En aan die lewe wat die afgelope jaar vol leidrade met groot vraagtekens daarin geword het. Dis tyd dat ons weer fyn lees, fyn formuleer en letter vir letter kommunikeer. Dankie!
Oulik Estelle! Ek het ook 'n ding oor blokkiesraaisels en palindrome.
Fassinend!
Hierdie artikel het my groot genot verskaf! Wat nog groter genot kan verskaf, is die moontlikheid van ’n weeklikse blokkiesraaisel wat digitaal beskikbaar raak. Ek dink hier aan ’n bejaarde tante van my, wat smiddae gaan rus het met die dag se koerant en wel met die blokkiesraaisel. Nou is haar oë nie meer in staat om hierdie geliefde gewoonte voort te sit nie. Haar brein wel nog en digitaal kan dit vergroot word en hoef sy net die sleutelbord te gebruik om die blokraaisel te voltooi. Blokkiesraaisels hou die brein wakker, bevorder goeie taalgebruik en verskaf genot!
Ek het heerlik aan Estelle Kruger se artikel gelees. Blokkiesraaisels slyp inderdaard 'n mens se brein en is heerlike ontspanning.
LitNet kan gerus van Estelle se droom kennis neem en vir ons weekliks 'n blokkiesraaisel uit haar pen gee.
Onderwysers kan dit dan ook in die klas gebruik.
Die spiraalraaisel lyk veral na 'n lekker uitdaging.
Wonderlike idees, Estelle... My moeder is net so lief vir blokkiesraaisels. Ek druk al wat ek in die hande kan kry en maak dan ’n boek daarvan. Hou haar ure besig en haar brein flink. Sal toegang tot uitdrukbare blokkiesraaisels verskriklik waardeer (sy verkies nog om die papier in die hand te voel, alhoewel sy wel digitale blokkiesraaisels al ingevul en geniet het).
Stem saam, Fanie! Wonderlike idee van Estelle - heerlike leersame ontspanning ...
Wat 'n interssante en prikkende artikel. Ek was nooit juis 'n blokraaipersoon nie, vanweë tyd- en werksdruk. Toe tree ek af en ontmoet vir Estelle en haar entoesiasme is aansteeklik. Uit haar artikel kan ek sien hoe aktueel dit vandag kan wees. Kinders word tuis onderrig, bejaardes is alleen en eensaam maar tegnologie kan uitkoms bring. Blokkiesraaisels, soos Estelle dit gebruik het, kan 'n wonderlike hulpmiddel wees vir ouers en onderwysers wat vir ons kinders 'n liefde en vaardigheid vir lees moet kweek.
Vir ouer persone kan dit stimulerend wees en help om die brein aktief te hou.
Baie sterkte met jou visie vir die projek.
Dis my ma hierdie! Sy't vergeet om te sê hoe sy my langs haar laat sit het by die orrel in die kerk - en so het my passie vir musiek lekker vroeg onwikkel. Jy is 'n inspirasie vir jou jongste as dit kom by jou brein gesond hou op kreatiewe maniere. Lief vir jou Estelle!
Dankie Almal vir julle insiggewende kommentare
Dankie Marijke Poser vir die pragtige grafika
Dankie LitNet vir die geleentheid
Vir nog 'n totale slaaf, was dit nou 'n heerlike artikel ... dankie. Ek verkies tog papier omdat ek kan teruggaan vir 'n woord waaroor ek loop en dink. Is 'n koerantintekenaar omdat ek eers die twee blokke moet invul voor my dag begin.
Ek het jou artikel geniet.
Die oorsprong van jou liefde vir woorde en letters en hoe jy dit in al die fases van jou lewe gebruik het. Baie oulik!
Nou steek jy my dalk ook nog aan. Ek is baie lief vir Scrabble, veral met die kleinkinders.
Ek het jou artikel baie geniet want ons deel 'n passie. Ek het by Netwerk 24 aangesluit en kry my Huisgenoot, Sarie en TV plus digitaal, maar ek verkies om die blokkiesraaisels op papier te doen. Chanelle maak vir my afskrifte en dan kry ek sommer 'n klomp op n slag. Te lekker!
Wat 'n interessante en inspirerende artikel! Ek is ook baie lief vir blokkiesraaisels en sal beslis daarvan hou as daar gereeld 'n blokraaisel van jou op LitNet kon verskyn Estelle.
Dis voorwaar 'n onderhoudende en baie insiggewende artikel, Estelle. Op soek na iets wat in September 2017 op Litnet verskyn het, kom ek toe op jou Reis met Blokkiesraaisels af. Dis heerlik om so saam met jou te reis en te besef dat jy al 'n leeftyd betrokke is. Ek is bly dat my vriend, Blokaspaai se Izak Furstenberg jou kon help en hoop jy is gelukkiger met LitNet as wat meeste van ons opstellers nog was. Dit blyk dat jou kontak met LitNet baie goed is en daar is dus 'n beter kans vir jou as vir enige van ons.
Wat 'n kreatiewe idee. Die meeste mense geniet dit om met woorde te woeker. Hier is 'n gastehuis in Bloemfontein en die buitemuur is vol "blokkiesraaisel-woorde". Die manier waarop gaste woorde soek, lees en bespreek getuig van hoe gewild so 'n aktiwiteit altyd is - ongeag die ouderdom. Knap gedaan, Estelle.
Heerlik gelees, Estelle. En dankie ook aan al die heerlike kommentaarleweraars ... ek stem dat woorde ongelooflike terapie is, veel meer vervullend as brei of hekel vir onhandiges soos ek 🙂