Warmer voor die tuimeldroër
Danie du Toit
Uitgewer: Reënwolf
ISBN: 9780620866408
Vanjaar is seker die beste en die slegste van tye om Daron Acemoglu en James Robinson se veelbesproke Why nations fail (2012) te lees.
Die beste, want dis ’n myself-op-die-bors-moerende kragtoer wat bevestig dat nóg afkoms nóg werksetiek nóg die dobbelspel van hulpbronverspreiding agter die sukses al dan nie van state lê: Dit is eerder die inklusiewe opstel van politieke en ekonomiese instellings (“institutions” is in hierdie konteks eintlik moeilik vertaalbaar) wat van die polis ’n skitterstaat maak, teenoor piesangrepublikanisme.
Die slegste, want ’n mens weet tot ’n mate reeds dié dinge en jy sien Acemoglu en Robinson se tesis om jou afspeel. Ons sien hoe ons president blykbaar toenemend opdraande speel teen ’n party/regering van parasiete. Ons sien in die nasionale bevelsraad die vorming van wat Mondli Makhanya ’n soft-core junta noem – dis ’n vampierstaat wat die armes droogsuig soos ’n perverse en omgedopte Robin Hood.
Nee donner, dis wanneer jy begin uitweg soek en skouerophalend terughunker na die wêreldjie tussen jou voorhek en agtertuin. Jy begin gesprekke wegstuur van korona, Trump, staatskuld, korrupsie, plaasmoorde en geweld teen vroue en kinders. Jy rol verby artikels oor die kompleksiteite van Black Lives Matter en jy voer eerder lang dialoë oor die stand van onkruid in die blomtuin as om makro-ekonomiese opfokkery te besweer.
Is daar fout daarmee om die tjokke-tjokke-tjok en warm straling van die tuimeldroër te gaan uitsoek? Het ons dit dalk lank nie gedoen nie, en onsself so bemoei met Groot Onderwerpe dat ons die nuanses van klein leef vergeet het? Het die strewe na maatskaplike geregtigheid en die gepaardgaande wegbreek vanaf harde, patriargale manwees ons op dieselfde variant van die toughness-kultuur gehou? Het die argetipiese “sterk, onafhanklike vrou” as voorspraakmaker van die derde feministiese golf dalk op soortgelyke wyse dikwels teen die prys van die naggeluide gekom; van die trippel-trippel van Bolandse reën in ’n blou keteltjie?
Dit was die tipe skuldgevoel wat in my opgewel het toe ek Danie du Toit se digbundel Warmer voor die tuimeldroër (2020) bespeur het. Ek het uit radeloosheid en ’n mate van eg-Suid-Afrikaanse eksistensiële angs vir Acemoglu en Robinson eenkant toe gegooi en gehoop ’n slukkie digwerk sal die sooibrand keer.
Die bundel het die unieke vermoë, om die digter se woorde in die gedig “Harry Potter” te parafraseer, ’n siel in ’n masjien te kan indink (15). Aan die een kant trek die bundel ons vir ’n slag weg van ons digitale skerms en die wêreld van gevaarlike identiteitsdiewe, virusse, clickbait, histeriese aanlyn kultuur en fopprofiele. Dit stoot jou dan in die rigting van die gewone dinge waaroor ons eintlik beheer het, en laat jou weer dink of jy werklik so magteloos voor die era van inligting staan. Is dit dalk belangriker om soms net in die oorblywende stiltes nie ’n hel om te gee oor dit wat verval en dit wat oornag die nuutste trend geword het nie? Dan word ek weer herinner:
ek dink aan jou op ’n toonbank
soos ek aartappels kook in ons kleinste pot
jy drink wyn met oorgawe; lag uit jou hart
ja, daai bronwel van Rock-and-Roll-shit
(“ek dink aan jou op ’n toonbank”, 33)
Eenvoud en woordekonomie, in hierdie dae waar ons Afrikaanse digters soveel meer kreatiewe tyd moes belê om oor die maatskaplike en die maatskappy te kreun. Soveel moes gevegte veg en krities besin tussen digreëls soos om straathoeke; die stryde stry wat ander mense al ’n wyle terug ter wille van hul nageslag moes afhandel, maar meesal nie het nie. In daardie opsig is Danie die Digter se werk die lemoene wat soet gehap word met halftyd. Die werk is ’n intrekker-werk: Dit sleur jou mee, nie omdat die waarnemings so diep in die samelewing se materiaal insny of holderstebolder neologismes is nie, maar omdat die beskrywings so ontsettend bekend op menigte ore sal val. Dit trek jou in soos ’n gasvrye woonstelletjie; daar is vooruitsigte van ’n laaste skeutjie gedeelde wyn en ’n rakkie met Breytenbach en Rabie en Boerneef en Jonker.
Dit is moeilik om Danie die Digter heeltemal van Danie die Rocker geskei te kry. Dit is byvoorbeeld ’n aardige déjà vu om die grootse Spoegwolf-strydkrete so tussendeur die intrekkende verse raak te lees. Ek dink oor die Troebadoer van Stellenbosch en sy band: ’n samespanning van kreatiewe, go-getter en moderne jong Afrikanermans en hul rock wat my aan die melankoliese wolwehuil na die maan herinner, so verskillend van die eenvoud-sensitiewe Digter Danie, in my geestesoog sittende voor ’n Bolandse kaggel.
gaan woon ons in ’n boomhuis alleen
en as dit reën, sal ek op die dak gaan staan
en elke druppel vang vir jou
in ’n blou keteltjie – vrou, weet jy nie
ons moet deur hierdie kom
selfs met ’n hartseer glimlag
(“syn”, 54)
Dit is juis Danie se vakmanskap as liriekskrywer, en boonop voorsanger, wat waarskynlik hierdie raar digterlike vermoë gee om so geweldig woordekonomies te skryf. Dit pas ook net so mooi aan by sy sensitiwiteit vir eenvoud, wat my herinner aan die fynbesnaarde Afrikaanse skrywer Karel Schoeman, ’n man wat ook uit die klein die grootse kon distilleer. Kyk byvoorbeeld na die mensebeskrywings:
vanoggend, op pad na jou
het ek ’n middeljarige sjef gesien
hy was mank
met ’n gesig oortrek met kinderlikheid
en pyn
maar hy het na my gekyk soos ’n seuntjie
na sy eerste drie
(“van die veld af”, 45)
En opmerklik anders as talle ander digters in hierdie tyd en ruimte op Stellenbosch, en blykbaar ook die breër Afrikaner-Afrikaanse jong skryfkultuur, vervang Danie die immergewilde “ek-alleen”-dinamika in sy verse met ’n misterieuse en alomteenwoordige “ek-jou”. Hierdie “jou”, vir sommige Spoegwolf-groupies ’n bron van witwarm spekulasie, neem dikwels die vorm van ’n anonieme (dalk selfs fiktiewe) liefdesbelangstelling aan. Danie het dit werklik reggekry om die immervriendelike, verliefde argetipe van die fynbesnaarde en brose troebadoer ’n plek te gee binne Afrikaanse manlikheid, ook soos vergestalt in die digkuns. Die wolwehuil hiervan hoor ons in “bittermaan” (28):
en dis veilig onder jou plafon
met jou vreemde klanke
en jou vreemde son
ek is broos soos die waarheid vir ’n leuen
sê my waar is jou verliefde heen
In “seer” (62) dien die misterieuse “jou” weer as sneller vir die oopmaak van dit wat ons Afrikaanse mans geleer word om diep weg te bêre, totdat, soos in Fokofpolisiekar se lirieke uit “Wat is hierdie liedjie se naam?”: “Grootseun huil net in die reën / pa se meisiekind moet onderdanig wees / aan ’n man wat sy gevoelens opkrop / tot sy vuiste deur die kamerdeur ontplof”:
al hierdie mense sê ek is dood
en al is dit so
voel ek jou binne my
jy’t die venster gebreek
jy’t jou flits ingesteek
Dit is tyd dat ons weer innig en broos word in Afrikaans, of ons nou swaardswaaiende vegters vir ’n beter samelewing is, en of ons nou oppervlakkig tevrede en gemaak sterk staan met aangeplakte glimlagte en faux-idilliese lewens op sosiale media.
Dis regtig oukei om warm te word voor die tuimeldroër of tuis te voel by ons eenvoudigste en diepste wortels. Dis oukei om ure lank met jou grootouers te gesels en jou selfoon se battery te laat leegloop. Dis heeltemal oukei om jou vir dae lank nie aan Instagram te steur nie. Dit is heeltemal gesond om nie van alles foto’s te neem nie. Dit is in die besonder oukei om halsoorkop verlief te raak en gaande te wees oor jou tuintjie, jou binneruimtes van hart en huis.
Jy hoef nie weg te kyk as jou geliefdes langs jou huil nie, en niemand kan jou gulhartige hiëna-lag as onstigtelik afmaak nie.
En as hulle dit doen, wie gee ’n hel om? Die tye daar buite is moeilik genoeg; jy hoef dit nie by die agterdeur te laat insluip om by die voorhek te gaan waghond wees nie.
Lees ook:
Kommentaar
Vergun my net hierdie een keer kommentaar, Kind - die resensie is sielsversagtend mooi geskryf. Met die innigheid en eerlikheid waarmee jy my soveel dikwels laat lees sonder om asem te haal. Danie het hierdie lieflike lofsang losgedig. Verdienstelik inderdaad.
Maritza. Danie gebruik die "tjokke tjokke tjok"-woorde in sy boek. Ons soek na 'n baie ou gedig oor Klos die Kleios en die "tjokke tjokke tjok" kom ook uit die gedig. Ons soek die gedig en wil weet wie dit geskryf het? Wie kan ons help? Nêrens op die internet nie! Groete, Leonie