Danie van Spoegwolf opgewonde oor debuutdigbundel

  • 6

’n Man van vele talente. Nie net is hy die voorsanger van die groep Spoegwolf nie, maar besit hy ook ’n restaurant in die prentjiemooi Stellenbosch saam met sy broer Moskou du Toit, en is hy besig met sy PhD in Geskiedenis. Nou kan Danie du Toit egter nog iets by die lysie voeg: gepubliseerde digter.

Danie se debuutdigbundel Warmer voor die tuimeldroër word by vanjaar se Toyota US Woordfees bekendgestel en hy vertel meer hieroor.

Danie, vertel asseblief meer oor jou digbundel. Wat kan aanhangers verwag?

Hey Marli! Dankie dat jy vra. Dis groen en ruik soos ’n Harry Potter-boek ruik net nadat jy hom oopgemaak het. Daar was baie woorde wat nou baie minder is. I guess that’s what poems are all about? Of seker nie. Ek weet daar is mense wat oor tiere skryf.

Waar kry jy inspirasie vir jou skryfwerk?

Tiere.

Vanwaar jou liefde vir skryf? Is dit iets wat jy al van kleintyd af doen?

Ek skryf al van graad 1 af. Ek het ’n klomp letters langs mekaar uitgeskryf en die onderwyseres het my daaroor uitgeskel (almal moes dieselfde ding doen, maar ek word uitgeskel). My ma het my getroos en gesê “the true artist protests”.

Ek het seker gedink dat al die uitskel oor my letters se onnetheid beteken dat dit ’n vorm van protes is?

Vanwaar die digbundel se interessante titel, Warmer voor die tuimeldroër?

As kind was dit die enigste warm plek in ons huis. Ek wou aan ’n titel dink wat my warm laat voel.

Wat het jou laat besluit om ’n digbundel te publiseer? Was dit nog altyd iets wat jy graag wou doen?

Ek wou nog altyd skryf vir ’n lewe. Dis mal dat dit nou my werklikheid is. Ek het hierdie droom gehad dat ek in ’n mooi baadjie gaan sit en koffie drink terwyl ek stories uitdink vir geld. Ek het daarvan gedroom dat ek dan in die aande kan kos maak saam met die persoon waarvoor ek die liefste is (Marguerite) en kan wyn drink en van daai stories vir my kinders vertel.

Dis te warm in Stellenbosch om daai baadjie te dra. Maar weet jy wat, Marli? Dis warmer voor die tuimeldroër.

Jy het besluit om die bundel self uit te gee – waarom?

Ek het ’n nuwe maatskappy gestig om klomp sulke dinge te doen. So ek beplan om klomp nuwe digters se werk ook uit te gee en ’n nuwe model te skep vir skrywers waar hulle net so veel geld maak soos die uitgewers. Die bose filosoof Donald Trump het omtrent twintig jaar terug gesê: Jy moet in elk geval dink, so hoekom dink jy nie groot nie? Ek dink hy is ’n wanker. Maar ek hou van daai ding wat hy gesê het.

Ons ken jou natuurlik as deel van die groep Spoegwolf. Watter verskil is daar tussen die skryf van lirieke en die skryf van gedigte?

Eerstens, weer eens jammer oor die Trump-quote. What was I thinking?

Daar is nie ’n groot verskil nie. Ek kry net nie die geleentheid om hierdie gedigte te skree nie.

Danie, behalwe vir Spoegwolf en jou digbundel het jy talle ander dinge wat ook jou aandag verg – jou studies en Drum-restaurant, om net ’n paar te noem. Is dit vir jou belangrik om besig te bly en jou aandag op verskillende dinge te fokus?

Hou gou aan – moet gou ’n belangrike oproep maak ...

Hoe balanseer jy alles wat jy aanpak?

... Sorry. Ek moet leer hoe om te multitask. Banke is boos.

Wat’s die vraag? Mult- 

Wat hou die toekoms vir jou in?

Dit was altyd world domination. En dit is tog die geval met die band. Hiermee – hiermee soek ek net ’n warm Sondag by die huis saam met die mense na aan my hart.

Lees ook

'n Onderhoud met Danie du Toit van Spoegwolf

  • 6

Kommentaar

    • Beste Corrie
      Ek hoop dit gaan goed.
      Die bundel word uitgegee deur Danie eie wynmaatskappy, The Astronomy Wine Company.
      Vriendelike groete

  • Goeiedag Corrie
    Ek sal graag Danie se bundel van warm voor die yskas wil bestel. Kan jy dalk vir my raad gee hoe ek te werk moet gaan? Is dit telefonies of per pos? Ag ek sal dit sò baie waardeer. My naam is Ronèl Hart en my e-posadres is [email protected]. Ek woon in Gauteng in die Oosrand. Nogmaals baie dankie. Groete

  • Ek soek dringend ’n kopie van digbundel maar kry nêrens plek om te koop nie nie eers op hul wine comp inligting nie. Help asseblief dis vir my dogter. As hy dit kan teken ook sal ek selfs meer betaal.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top