'n Onderhoud met Danie du Toit van Spoegwolf

  • 1
“Ek's mal oor ’n verhoog. Dis vir my rêrig 'n baie lekker ding. Dit was nog altyd my droom. En dis so cool om dit te kan doen.”

Danie du Toit (foto: verskaf)

En nou, nadat sy band, Spoegwolf, al vier vollengte-albums en ’n paar kortspelers uitgegee het, stel voorsanger en liedjieskrywer Danie du Toit ’n digbundel, Warmer voor die tuimeldroër, vry. Ek het met hom gaan gesels die middag voor die boek se bekendstelling by die Atterbury-teater in Pretoria.

Enigiemand wat al ’n Spoegwolf-optrede gesien het, weet dat Danie uiters gemaklik op die verhoog is, maar ek wonder of hy buite die kalklig ook so gemaklik is.

Danie sê hy het genoeg vriende gehad op skool, maar tog het hy dikwels eerder in die saal gaan sit as om net te sosialiseer. “Ek't moerse high anxiety. In pousetyd het ek gaan wegkruip in die skoolsaal, vir meeste van my skoolloopbaan.

“Daar is 'n groot vleuelklavier, en ek het daar klavier gespeel. So ek het vir vyf jaar lank elke dag eerste en tweede pouse alleen klavier gespeel in die saal.”

Dis dalk maklik om te raai dat hy grootgeword het in ’n huis met ’n klavier en kitare. En ten spyte daarvan dat niemand in sy familie note kan lees nie, kan “enige iemand enige instrument wat enige iemand aan kan dink, speel. Punt.”

“En as enige iemand anders dit kan speel, kan my oupa dit speel.”

Danie se verhouding met musiek laat mens ook outomaties wonder of dit dan vreemd was om ’n projek aan te pak waar woorde sonder melodieë voorgelê word.

“Dis ’n ongelooflike voorreg,” sê hy. “Op skool skryf jy ’n gedig en as jy lucky is dan lees jou pel dit. Dan voel jy nou moer cool as hy sê dis nice. Nou kan jy ’n kamer kry met 400 mense om te luister daarna; dis net ’n privilege.”

Hy vergelyk dit ook met verkope – lesse wat hy al onder meer in die restaurantbedryf geleer het as mede-eienaar van Drum in Stellenbosch – omdat die mees waardevolle deel van ’n verkoopsituasie potensiaal is.

“As jy as kind ’n potloodskets gemaak het, het dit vir jou baie cooler gelyk voor die tyd. En as jy dit dan inkleur, lyk dit nie meer so cool nie. Want toe dit net ’n potloodskets was, was daar potential.”

“Dis hoekom ek so mal  is oor gedigte, boeke, en stories. Want al daai goed wat jy gewoonlik moet invul vir iemand in ’n movie of ’n song, vul hulle self in.”

“Hoe minder jy neersit, hoe meer create mense self.”

Maar een metafoor is nie vir Danie genoeg nie – gedigte is ook mos soos close-up magic: “As jy iets laat wegraak uit ’n persoon se hand uit, en dit half in daai persoon se midde gebeur. Dieselfde met musiek – as dit bínne daai mens kan beweeg, is dit cooler.”

Maar hy meen die vergelyking tussen kunsvorme is op sy nouste met gedigte, waar die prentjie in die leser se kop geskep word en hy of sy self in die verbeeldingswêreld gaan leef.

Die ander wêrelde waarin Danie leef, is as nagraadse geskiedenisstudent, restaurantbestuurder, en musikant in Spoegwolf, maar hy laat hom nie daardeur definieer nie.

“My primêre job is ek is die oudste broer van drie broers en 'n suster, ek is die boyfriend van 'n great meisie, vriend van ’n paar mense. En om daai job te kan doen, doen ek klomp goeters.”

Spoegwolf is ook nog volstoom aan die gang. Hulle volgende album, See, het 14 Februarie uitgekom, maar daar is ’n onvermybare skakeling tussen band en boek.

Spoegwolf is my band, is my vriende, is my broers. En dit is 'n projek wat ek met hulle tot die einde van tyd gaan doen. En Spoegwolf songs is my contribution tot daai band. En baie van daai songs was eers gedigformaat, en ek het van hulle in die bundel gesit.

Die bundel se titel, Warmer voor die tuimeldroër, impliseer ’n gevoel van intimiteit en gemaklike warmte.

“Om eerlik te wees, ek het nog steeds nie by die betekenis uitgekom nie,” verduidelik Danie. “Die titel het eerste gekom, en ek't gehoop ek gaan uitfigure wat dit beteken. Hierdie bundel is amper 'n failed attempt. Ek hoop mense gaan warmer voel. Dit sal 'n baie nice ding wees om te hoor na die tyd. Dis nie iets wat ek verwag nie, maar dis iets wat ek hoop.”

Maar hoewel Danie homself nie as ’n digter sien nie (“Hierdie is nie gedigte nie; hierdie is ramblings ... Ons wag nog vir die volgende digter”), kan hy nie anders as om, op die middag voor sy bundelbekendstelling, nostalgies terug te dink aan daai pouses in die skoolsaal nie.

Netnou toe ek rehearse toe onthou ek daai weer. Toe onthou ek hoe ek daar gesit het. Al die goedjies wat ek daar geoefen het. En dis crazy dat ek dit nou actually kan doen, en mense kyk daarna. Dis mal; ek kan dit eintlik nie handle nie.

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Daleen Mulder

    Uitstekende onderhoud, Floris! Vloeibaar en open-ended, soos kunstenaars deesdae skep. On-ingekleur. Ek is dankbaar vir Danie en sy wolwe wat oor tydgrense heen vermaak.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top