
Bloedbroers: na die slagveld van Smokeshell en terug deur Deon Lamprecht (Jonathan Ball, 2024)
Titel: Bloedbroers: na die slagveld van Smokeshell en terug
Skrywer: Deon Lamprecht
Uitgewer: Jonathan Ball (2024)
ISBN: 9781928248170
“Hoeveel seuns wat ’n oog of ’n been of arm op die altaar van magspolitiek gestapel het, gaan in drie jaar deur die swaaideure van ’n militêre hospitaal?” vra die skrywer. En hy antwoord self: “Baie.”
Die gevoelvolle vertellings van ’n groepie oorlewendes van Operasie Smokeshell, die kodenaam van een van die doelwitte van Operasie Sceptic, is hier kundig saamgevoeg deur oudjoernalis Deon Lamprecht (hy was self ’n lid van 61 Meg, hoewel nie teenwoordig by Operasie Smokeshell nie) om hulle gesamentlike ervaring uit verskillende perspektiewe te vertel. Sodoende gee Lamprecht aan elkeen van die klein aantal oorlewendes ’n stem, en skep ’n meer volledige beeld van dié hel-in-die-bos bekend as Smokeshell – hoe sommiges wonderbaarlik oorleef en ander tragies gesterf het.
Gedeeltelik in hulle eie woorde word ooggetuieverslae dus deur Lamprecht verweef in hierdie laaste boek in sy “trilogie van veteraan-reisverhale”. In eenvoudige, logiese taal word uitgelê hoe die operasie beplan en uitgevoer is. Kaarte en foto’s dra by om ’n duidelike beeld van die geografie en die strategie te verskaf, en die nodige inligting oor toerusting, wapentuig en bevelstruktuur word uitvoerig verduidelik sonder om die momentum van dié pakkende verhaal te vertraag.
Lamprecht slaag daarin om beide menslike emosie én militêre funksionaliteit oortuigend weer te gee. Die spanning bou vroeg reeds op, soos wanneer die Rateldrywer Jan Hoevers vertel: “Daar was ook ’n paar ouens wat gesê het hulle is bang, want hulle weet hulle gaan nie terugkom nie. En hulle het ook nie.” Soos Robert de Vito. En daar was ook korporaal Paul Kruger, Springbok-gimkanaruiter, wat eerder na ’n toernooi in Oos-Londen wou gaan ... Gevalle kamerade wat deur ’n kwynende aantal veterane onthou word.
En tussen al die drama en bloedvergieting sal die sonderlinge verhaal van HP Ferreira die leser aangryp. Aspekte van Ferreira se angswekkende ervaring duik keer op keer in die boek op, en daar word ook in Bun Booyens se boek Troep, en die dinge wat hulle saamdra (Penguin Random House, Oktober 2024) van hom melding gemaak.
In Angola het Ferreira se hel maar net begin; die talle operasies wat hy moes ondergaan, en chroniese pyn, ook sielkundig, wat hy steeds met hom saamdra, laat die leser besef wat vermeldings van “die dinge wat hulle saamdra” werklik behels. Posttraumatiesestressindroom en variasies daarop was feitlik onbekend tydens en nog ’n ruk ná die Grensoorlog (26 Augustus 1966 tot 21 Maart 1990), en soos Hoevers dit uitgedruk het: “Hulle kon net sowel vir jou gesê het: Fokof nou!”
Daar was nie berading nie; inteendeel, oor “bosbefok” (“bossies”) of “bomskok” was nie juis gepraat nie. ’n Mens kan jou afvra: Was dit omdat hulle nie geweet het hoe om dit te hanteer nie, of is dit as ’n skande, ’n klad teen manlikheid, beskou? Waarskynlik beide. Om nie van militêre dissipline en beheer, of dan die skyn daarvan, te praat nie.
Die senior offisier Johann Dippenaar het die ervaring van die slag so uitgedruk: “Jy was daar, jy het daai skote hoor klap rondom jou, jy het ouens sien val om jou, en dan kom daai vrese ook weer terug. Hoe bang jy was ... Dis iets wat jy niemand kan vertel nie, want hoe vertel jy vir ’n ou jy was bang? [...] Jy kan dit nie oorvertel nie, maar jy beleef dit weer en jy voel dit in jou binneste. Hier het iets gebeur wat groter as jy en ek is.”
........
Tydens die kontak het dinge wild en woes gegaan. Jan Hoevers het sy herinnering so uitgedruk: “Ek het nooit geweet ek gaan so opgewonde raak om ’n ou te kan doodry nie. Dis net adrenalien.” En: “Ek het my eerste een geskiet ... sy hoed het afgevlieg en hy het teruggesteier, my geheue het ’n foto van sy gesig geneem ... ’n waansin het ons beetgepak.”
........
Tydens die kontak het dinge wild en woes gegaan. Jan Hoevers het sy herinnering so uitgedruk: “Ek het nooit geweet ek gaan so opgewonde raak om ’n ou te kan doodry nie. Dis net adrenalien.” En: “Ek het my eerste een geskiet ... sy hoed het afgevlieg en hy het teruggesteier, my geheue het ’n foto van sy gesig geneem ... ’n waansin het ons beetgepak.” Marco Coforio het verdwaas bly staan terwyl koeëls om hom gefluit het en gesê: “Fok, wat gaan aan, is dit regtig besig om te gebeur?” Lamprecht skryf oor Marco: “Die army maak van jou ’n man, moes hy gedurig hoor. Maar dit was waansin. Wanneer hulle op jou skiet verander alles.”
Nog een van die oorlewendes (12 van ’n peleton van 44 het dit nie oorleef nie) is Paul Louw, wat as 19-jarige luitenant die oorweldigende verantwoordelikheid van sy kamerade se welsyn moes aanvaar en moet dit steeds meer as 40 jaar ná die slag met hom saamdra. Lamprecht beskryf hoe Louw, wat van meet af vir die (hierdie) leser as ’n ware leier opval, empaties, dog dapper en professioneel, maar tóg nie in sy eie oë nie, gewroeg het. En hoe hy eventueel van die skuldgevoelens wat hy vergeefs probeer begrawe het, ontslae kon raak.
Die herinneringe van ander oorlewendes, soos Marco Caforio, wat byna, soos in die geval van Piet Joubert, vir dood agtergelaat is, en Gareth Rutherford, die medic wat skuldig gevoel het omdat die Honoris Crux aan hom toegeken is, en ander, is eenvoudig onvergeetlike leesstof. Rutherford vertel onder meer: “Andrew het my gesmeek om die drup in te kry. Ek het naald na naald ingedruk en hy’t gesê: Dit begin donker word.’ Hulle het almal gesê: Asseblief Gareth, ons wil nie doodgaan nie ...’ Maar tyd was nie aan ons kant nie.”
Hoewel die karakters in hierdie lewensdrama dieselfde lewensveranderende gebeure beleef het, het elkeen sy eie demone om te beveg, wat nogmaals toon hoe individue verskil en hoe hulle, deels weens persoonlike agtergronde en deels weens unieke emosionele samestellings, elkeen ’n eie manier wou vind om hulle wroegings te hanteer – van Jan Hoevers wat met almal daaroor gepraat het, tot Paul Louw wat soos die graf gewyg het. Totdat hulle weer eens bymekaar gekom het en mekaar gehelp het “op die sinkplaatpad van genesing”.
Lamprecht beskryf ook die meelewing van familielede, veral eggenotes, wat weens hulle mans se trauma hulle eie oorlog moes veg. Sommige het nie bly staan nie en huwelike het gesneuwel. Ander staan steeds by hulle mans en deel hulle pyn, hou hulle regop. Ook buitestanders het egter nie onaangeraak gebly nie, soos ’n boeretannie van die ou SWA wat “wil weet hoekom daar hierdie keer so min van ons is [...] Daai tannie kon net nie ophou huil nie.”
Bloedbroers is ’n klassieke oorlogsverhaal, want dis ’n hartverskeurende ontginning van die mens se diepste emosies: van vrees en die oorkoming daarvan, maar dit gaan verder, na verwonding en genesing ná al die ontploffings en lyke en wrakke. Dis nie net nóg ’n kroniekskrywing van die Bosoorlog, waarvan daar reeds ’n aantal is (hoewel elkeen sekerlik verdienstelik bydraend tot die kanon van Grenslit is), nie.
.......
Dit staan juis vir my uit omdat dit die kwessie van genesing, en nie net oorlewing in ’n gevegsituasie nie, aanpak. Die talle veterane van die Grens-/Bosoorlog kan werklik baat daarby vind om dit te lees.
.......
Dit staan juis vir my uit omdat dit die kwessie van genesing, en nie net oorlewing in ’n gevegsituasie nie, aanpak. Die talle veterane van die Grens-/Bosoorlog kan werklik baat daarby vind om dit te lees. Dalk kan sulke lesers maniere daarin vind om hulle eie demone te besweer, soos om so ver te kom om te praat en om byeenkomste van veterane by te woon.
Laagenoemde element van Bloedbroers, wat veral in deel twee (“Anderkant Smokeshell”) uiteengesit is, verwoord ’n aspek van die oorlog wat vir baie lesers meer openbared mag wees as selfs die spannende eerste deel (“Op pad na Smokeshell”). Deel drie, “Terug na die doelwit”, is ’n ontknoping, verhaalsgewys en ook vir die betrokkenes, die Bloedbroers.
Die empatie van die Bloedbroers, soos tydens hulle herbesoeke aan die slagveld in Angola, is kenmerkend en aangrypend. Range beteken nou niks meer nie; die band wat hulle ervaar, gesmee in moed en bloed, is onbreekbaar. Met die gereelde samekomste van veral oudlede van 61 Meg, is daar ontlading en aanvaarding. “Daar word gelag en soms loop die trane, maar dis oukei, want daar is geen oordeel hier nie.”
Ten slotte: Vir verdere leesstof oor 61 Meg se betrokkenheid in Angola kan Mobility conquers: the story of 61 Mechanised Batalion Group 1978–2005 deur Willem Steenkamp en Helmoed-Römer Heitman (in opdrag van 61 Meg se veteranevereniging) ook geraadpleeg word.
Lees ook:
Diensplig: Hoekom stotter ons pa’s so? deur Anelia Heese: ’n resensie