
Bitter winter het vroeër vanjaar sy debuut in Johannesburg gehad en wyd en syd lof ontvang. Die teks is deur Paul Slabolepszy, wat onlangs die Naledi Lewensbydrae tot Teater-toekenning vir sy werk in teater ontvang het.
Paul is een van Suid-Afrika se mees gerespekteerde dramaturge. Hy is bekend vir sy karaktergedrewe stories wat spreek tot die menslike aard wat beide nasionaal en internasionaal aanklank vind. Hy sê Bitter winter is sy “liefdeslied” vir die teater. “My 'tweede huis' is ’n plek waar boeiende stories van die menslike ervaring gedeel word met gehore wat honger is vir verbintenis.
“In hierdie splinternuwe toneelstuk word twee akteurs – een aan die einde van ’n loopbaan wat hoofsaaklik op die klassieke verhoog deurgebring is en ’n ander wat pas sy toneelreis begin – uitgebeeld in die wonder en waansin van hierdie 'kammawêreld’,” vertel hy.

André Odendaal as Jean-Louis Lourens en Oarabile Ditsele as Prosper Mangane in Bitter winter (foto: Regardt Visser)
Die produksie spog met ’n sterk rolverdeling, met André Odendaal as Jean-Louis Lourens. Odendaal, wat ’n Naledi-toekenning vir beste akteur vir sy rol in DOP gewen het, is ook bekend vir sy TV-rolle in Binnelanders, Getroud met rugby en Dwaalster.
Oarabile Ditsele, te sien na ’n pas uitverkoopte speelvak van Rapela en Kill move paradise, sowel as die bekroonde produksie van Woza Albert by die Baxter-teater, is in die rol van Prosper Mangane, die hotshot-akteur wat deur mense op die hande gedra word.
Chantal Stanfield, veral bekend vir haar werk in 7de Laan, Getroud met rugby, en haar eenvrouvertoning Van koe’siestes tot Kneidlach, het onlangs as The widow in die uitverkoopte musiekblyspel Mamma mia! gespeel en speel in Bitter winter die rol van Felicia Willemse, die arme vrou wat die akteurs moet bestuur terwyl hulle op die Hollywood-regisseur sit en wag.

Chantal Stanfield speel in Bitter winter die rol van Felicia Willemse. (Foto: Regardt Visser)
Die bekroonde regisseur Lesedi Job, wat onder meer When swallows cry, Brutal legacy en Kill move paradise geregisseer het, werk saam met vervaardiger Weslee Lauder.
Dis hierdie aanhaling van die vervaardiger in die persverklaring wat my oog vang net voor die ligte doof: “Hierdie toneelstuk is geïnspireer deur ’n praatjie deur Lizz Meiring oor die Teater Bystandsfonds en sy rol om plaaslike teatermakers deur moeilike tye te ondersteun en hierdie produksie is veral betekenisvol. ’n Gedeelte van kaartjieverkope gaan om hierdie belangrike fonds te ondersteun.”
En net ’n paragraaf of wat verder: “Bitter winter is ’n moet-sien vir almal wat die krag van storievertelling en die magie van lewendige teater waardeer. Hierdie produksie bring hulde aan die veerkragtigheid, toewyding en passie van Suid-Afrikaanse kunstenaars, wat aanhou inspireer en vermaak.”
Die storielyn in ’n neutedop: Die sheriff in die Amerikaanse Western-rolprent Six guns at Sesriem is nie die rol waarna ’n klassiek opgeleide akteur in sy middel-’70's tipies sou streef nie, maar vir Jean-Louis Lourens (Odendaal) kan hierdie rol sy reddingsboei wees. Terwyl hy by ’n spannende oudisie wag vir die koms van die Amerikaanse rolprentregisseur, ontmoet hy vir Prosper Mangane (Ditsele). Prosper se jeugdige energie en avontuurlustige gees bied aan Jean-Louis ’n nuwe perspektief op hul gedeelde beroep – ’n loopbaan wat beide lonend en onvergewensgesind is.

André Odendaal as Jean-Louis Lourens en Oarabile Ditsele as Prosper Mangane in Bitter winter (foto: Regardt Visser)
Die oënskynlik ongeërgde rolverdelingregisseur, Felicia Willemse, hou die akteurs op hoogte van die naderende aankoms van die hotshot-regisseur, word Jean-Louis en Prosper alleen gelaat om oor hul reise tot op daardie oomblik te besin. Hul dialoog neem gehore deur die stryd en oorwinnings van akteurs, wat diep toegewyd bly aan hul kuns – ondanks die uitdagings wat hulle in die gesig staar.
Die aanvanklike agterdog en onverdraagsaamheid jeens mekaar maak op die ou einde plek vir deernis en begrip.
Die regisseur Lesedi Jobs het in die program verklaar: “Bitter winter is ’n toneelstuk wat handel oor die gedeelde menslike ervaring van ons stryd om relevansie en identiteit in ’n wêreld wat dikwels een identiteit bo ’n ander kan prioritiseer. Deur hierdie hartverwarmende huldeblyk aan die veerkragtigheid van kunstenaars, word ons daaraan herinner dat elke lewensfase waarde inhou en dat elke siel waardigheid verdien.”
Felicia merk op een plek teenoor Prosper op dat sy vermoed die verweerde hemp wat Jean-Louis aan het, al hemp is wat hy besit, en sy kry hom jammer. Sy praat van die weerloosheid van die ouer akteurs wat daar in die repetisiekamer kom sit en wag. Tog is haar en Prosper se aanvanklike hantering van Jean-Louis so kenmerkend van die jeug wat glo dis nou hul beurt om te skitter, ongeag die opofferings van dié wat hulle voorafgegaan het.
Jean-Louis (later J-Lo deur Prosper gedoop) sê dit word nooit makliker as jy ouer word nie, maar wanneer jy jonk is, dink jy nooit aan jou oudag nie. Jy leef voluit en besef eers wanneer dit te laat is dat jy na jouself moes omgesien het vir jou senior dae. “Jy suffer vir jou art en slyp jou vaardighede en kennis en ervaring.” Hy het sy loopbaan as klassieke-teater-akteur met oorgawe beoefen en is aanvanklik effe uit die veld geslaan met Prosper se arrogansie en minagting van hom as akteur én as ou man.
“Daar was ’n tyd toe mense regop gesit het as hulle my naam hoor,” verklaar hy. Toe Prosper Shakespeare as oud en dood verklaar, help Jean-Louis hom reg deur te sê Shakespeare se sêgoed is in alles vervleg, selfs in die teks van die fliek waarvoor hulle hier is.
Hy vertel van die klein kamertjie waarin hy woon; hoe hy op ’n staatspensioen en geldjies van die Teater Bystandsfonds oorleef. En vir ’n paar oomblikke wonder mens of hy as Jean-Louis of as André Odendaal praat.
Skuins voor die einde van die toneelstuk kom daar ’n gelatenheid oor Jean-Louis. Hy is verslae; geweeg en te lig gevind. Hy mymer oor die dae toe mense nog teater toe gekom het vir pitkos. Daardie dae is verby. Hy het sy verkoopsdatum bereik.
Hy verklaar: “Kuns is die kos wat die siel voed en ek het duisende oor die jare gevoed. Dis nou jou beurt.”
Daar is baie dikgehuilde oë buite die teater. Ook ’n somberheid. Die ouderdom kom vir ons almal. Die vermoë om relevant te bly, benodig te word, ’n vlam wat binne almal brand – of jy nou akteur of joernalis of fotograaf of onderwyser is. Met tegnologie wat al vinniger ontwikkel, word baie mense se werk deur robotte oorgeneem. Ons almal voel saam die verlies wat Jean-Louis so goed verwoord het.

André Odendaal as Jean-Louis Lourens en Oarabile Ditsele as Prosper Mangane in Bitter winter (foto: Regardt Visser)
Buite sit en wag Cintaine Schutte en haar man, Carel Nel, vir die akteurs om uit te kom. Hoe bedagsaam, dink ek. Hulle weet hoe dit voel as jy alles vir ’n gehoor gegee het en dan uitstap na ’n kaal voorportaal: almal reeds onderweg huis toe, en jy wat leeg en uitgeput agterbly.
Sy is duidelik aangedaan. Verganklikheid gaan deur niemand vrygespring word nie.
André kom eerste uit. Hy is kleiner as op die verhoog – of verbeel ek my? Cintaine omhels hom. Hy sê so half onder haar hare en omhelsing in: “Ja, en hier voel ek nog 20, maar is dit lankal nie meer nie.”
Ek voel nuwe trane in my oë opwel.
Twee dae voor ek dié vertoning gaan kyk, doen ek ’n boekbekendstelling saam met Rudie van Rensburg op Kleinmond. Die bekroonde akteur Pierre van Pletzen, wat onlangs te sien was as Hans van Kraaienburg (Rudie se komiese 95-jarige karakter wat in vyf boeke harte gesteel het) in die rolprentweergawe, Hans steek die Rubicon oor, wat verskeie pryse plaaslik en oorsee ingepalm het, doen ’n voorprogram. Hy vertel van sy avonture tydens die verfilming, en ook hoe hy die boeke nou voorlees vir Netwerk24 en hoe lekker die filmtoer na Rusland in Oktober was.

André Odendaal as Jean-Louis Lourens en Oarabile Ditsele as Prosper Mangane in Bitter winter (foto: Regardt Visser)
Maar sy vertellinge het ’n hartseer noot: Daar is nie werk vir akteurs nie; die werk wat wel opduik, is swakbetaald en word deur belanghebbendes met die linkerhand hanteer. Dis asof sy 53 jaar as teatermaker nie werklik saak maak nie.
Dus tref die woorde in Bitter winter my nog dieper.
Ek stem heelhartig saam met die uitlating van resensent Teresa Coetzee wat op LinkedIn geskryf het: “Hierdie produksie is rou, eg en diep Suid-Afrikaans. Dit lê die hartverskeurende werklikheid bloot van ware kunstenaars, wat sukkel om te oorleef in ’n wêreld waar passie dikwels nie genoeg is om die rekeninge te betaal nie – terwyl die jonger generasie onbewus bly. Die storie het my tot trane geroer, André Odendaal was eenvoudig briljant en dis ’n kragtige herinnering aan die opofferings wat vir kuns en teater gemaak word.
“As jy van outentieke, prikkelende storievertelling hou, gaan kyk hierna. Dit is briljant.”
Ek kan dit nie beter stel nie. Gaan kyk die vertoning én ondersteun die teater – dis honderde mense se brood en botter en hulle gee meer van hulself as wat mens besef.
Bitter winter
Met: André Odendaal, Oarabile Ditsele en Chantal Stanfield
Deur: Paul Slabolepszy
Vervaardig deur: Weslee Lauder
Regie: Lesedi Job
Beligtingontwerp: Oliver Hauser
Klankontwerp: Sne Dladla
Stel en kostuums: Frankie van Straten
The Golden Arrow Studio, Baxter-sentrum, Rondebosch
21 Mei tot 14 Junie 2025
Vertonings is Dinsdag tot Vrydag om 20h00 en Saterdag om 15h00 en 20h00.
Kaartjies van R180 tot R220 by Webtickets en uitgesoekte Pick n Pay-takke.
Die vertoning is 80 minute lank met geen pouse nie. Die taalgebruik is ongeveer 70% Engels, 20% Afrikaans en 10% Sotho. Geen o/10’s.
- Foto’s: Regardt Visser
Lees ook:
Carlo Daniels in eenmanstuk van Kafka, Die uitweg, by die Suidoosterfees te sien
Suidoosterfees 2025: Verwelkingslied – ’n onderhoud met Antoinette Kellermann

