Thrill me: Slim manipulasiestuk smokkel met gehoor se koppe

  • 0

’n Toneel uit Thrill me – The Leopold & Loeb story (foto: Dean Roberts)

Ons was in 2015 in Chicago by ’n kongres, en een van die Amerikaners daar sê hulle hoop ons kom nie net na hul stad uit nuuskierigheid oor waar die “thrill killers” bykans ’n eeu tevore “gejag” het nie. Ons het natuurlik nie ’n idee gehad waarvan hy praat nie, tot hy verduidelik het van Nathan Leopold en Richard Loeb, wat bekend is as die “thrill killers” nadat hulle in 1924 ’n jong seuntjie vermoor het.

Ons kon nie toe voorsien dat ons nege jaar later hierdie moordmusiekspel in Kaapstad sou ervaar nie.

Die stuk het in 2003 sy première in Off-Broadway in New York gehad. Die skrywer, Stephen Dolginoff, het Leopold gespeel en Doug Kreeger was Loeb.

Maar terug na ’n bietjie agtergrond: Die skrywer het vir etlike jare met die idee vir ’n moordmusiekspel rondgeloop. Hy wou ’n werklike-lewe-misdaadmusiekspel skryf én ook ’n musiekspel oor ’n “intense, ongewone verhouding tussen twee mense”.

Hy het die storie van die jong moordenaars raakgelees en sy twee behoeftes in een vervat en Thrill me is gebore. Dis ’n verhaal van dominansie, manipulasie en seksuele plesier, met ’n baie donker kant.

Hy vertel dat Suid-Afrika die 26ste land is waar die stuk, wat al in 17 tale vertaal is, op die planke gebring word en dat dit die 251ste internasionale weergawe is. .

“In ander lande sit gehore in stilte, totaal vasgevang in die storie tot die finaal wanneer hulle uiteindelik ontplof. Daardie afblaas is gewoonlik baie hard!”

Regisseur Christopher Weare se meestershand het ’n asemlose gehoor ná 80 minute laat uitstap. Hy laat ’n meesleurende storie ontvou, oor die siek verhouding tussen twee mans wat aanvanklik opwinding soek in klein inbrake en ander misdade, maar toe tot die “misdaad van die eeu” oorgaan.

Hy vertel: “‘Verhoudings kan moord wees’ is nie net ’n bemarkingslyn vir die stuk nie, maar ook ’n sterk tema uit die musiekspel en vervat die mag en druk van verhoudings wat soms tot rampspoedige keuses kan lei.”

Die verhoog is kaal, buiten ’n verhewe platform, ’n swaar tralieagtige skerm en ’n swart vleuelklavier agter in die linkerkantse hoek. Swaar ligte weerskante skep die indruk dat niks hier ongesien gelaat sal word nie – die lig sal alles na vore bring.

Die klaviernote se herhalende, opruiende ritme dra baie effektief by tot jou hartklop wat later by jou keel wil uitspring.

Die naïewe Leopold met sy bril en drome en heldeverering vir Loeb is aanvanklik amper pateties in sy strewe om sy minnaar gelukkig te hou, ten spyte van verskeie afjakkings en vernederings. Die stuk word terugflitsend aangebied en soos wat dit in 1958 voor ’n paroolraad ontvou, kom die hele storie na vore.

Die eerste woorde wat ek buite die teater uiter in die groepie waar ons tot stilstand kom, is: “Wat het ons so pas beleef? Wat was dit?”

My versnellende hartklop het my later ongemaklik op my stoel laat rondskuif, want ek het gevoel dis net ek wat raaksien hoe die naïewe jong Leopold deur die veel sterker Loeb gemanipuleer word, selfs oorreed word om ondenkbare dade te verrig, en hoe dit op ’n ramp afstuur.

........
Moenie dat die woord “musiekspel” jou mislei nie. Hierdie is slim teater met ’n venynige byt, maar dis sekerlik een van die beste stukke wat jy in ’n lang tyd sal sien.
........

Maar die res van die groepie – ook nog besig om hul asems en hartklop onder beheer te kry – verseker my dis nie die geval nie. Jy wil die jong man ’n taai klap gee en skree dat hy sy oë moet oopmaak en sien wat aan’t gebeur is.

Die gewetenlose en amper koue beplanning van die ontvoering en moord van die jong Bobby Franks is bynar te veel om te verduur.

Die manier waarop die stuk afspeel, verklap vroeg dat hulle gevang is, maar die stuk is só goed geskryf en geregisseer dat jy nie die einde kan voorspel nie.

’n Toneel uit Thrill me – The Leopold & Loeb story (foto: Dean Roberts)

Ai, en dan, hoe lekker om te sien wanneer boontjie sy loontjie kry en die swakke die sterke word. Die oorwinning van ’n slagoffer oor sy mishandelaar. Maar nog beter wanneer slim sy baas vang en niemand op die ou einde wen nie. Een sterf in die tronk en die ander sit vir meer as drie dekades agter tralies en stap dan stoksielalleen terug in ’n baie anderse wêreld in. Niemand wen hier nie.

Vervaardiger Pieter Toerien het ’n fassinasie met die prokureur, Clarence Darrow, wat die twee mans verdedig het, en het geskimp dat daar dalk in die toekoms ’n produksie kan wees wat op Darrow die mens kan fokus. Darrow se hele verdedingstaktiek het die doodstraf gekritiseer en die mans het uiteindelik lewenslange tronkstraf plus 99 jaar vir hul gruweldaad gekry.

Moenie dat die woord “musiekspel” jou mislei nie. Hierdie is slim teater met ’n venynige byt, maar dis sekerlik een van die beste stukke wat jy in ’n lang tyd sal sien. Veral mense wat van waremisdaadreekse of dokkies hou, sal hierdie een geniet, en dis een musiekspel sonder gelukkige eindes en mooi liedjies en kostuums om te kom kyk.

Thrill me

  • Met: Gianluca Gironi en John Conrad
  • Deur: Stephen Dolginoff
  • Regie: Chris Weare
  • Musikale regie: Jaco Griessel
  • Theatre on the Bay, Kampsbaai tot 15 Maart voor dit na Pieter Toerien se Montecasino in Johannesburg verskuif van 21 Maart tot 13 April.
  • Tydsduur: 80 minute, geen pouse
  • Kaartjies van R150 tot R250 is beskikbaar by Webtickets.
  • Geen o/16’s.
Lees ook:

Dear Evan Hansen: Ons almal het ’n bietjie Evan Hansen in ons

Jane Mpholo-Mehlape’s Fragmented delivers a hauntingly beautiful performance at Pacofs

An unromantic comedy: a theatre review

The tempest: meesters in aksie onder die sterre

Vreugde en trots vul jou bors in My fair lady

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top