Vreugde en trots vul jou bors in My fair lady

  • 0

Almal ken die storie van Eliza Doolittle, die Cockney-blommemeisie wat danksy spraaklesse by ’n baie passievolle, bombastiese en egosentriese fonetikus ’n dame word. Sy kan dan skouers skuur met die Londense glitterati en wys wie sy eintlik is. Reg?

Dis waaroor die musiekblyspel My fair lady handel. As almal die storie ken, hoekom sal soveel mense dit dan nou weer gaan kyk tydens Suid-Afrikaanse speelvakke in Kaapstad, Johannesburg en Durban?

Die antwoord? Want dis een van die beste musiekblyspele wat jy in jou tuisdorp sal kan sien. En hierdie vertoning was van wêreldklasgehalte, met wêreldklaskunstenaars op én agter die verhoog. As jy die kans sou kry om dit sommer nog ’n keer te gaan kyk, doen dit, want die eerste keer hang jou mond meestal net oop oor die talent van die choreograwe, stelbouers, kostuumontwerpers en akteurs wat ’n wonderwêreld opgetower het.

My fair lady is ’n musiekblyspel deur Alan Jay Lerner wat die lirieke behartig het. Hy het ook ’n roman met dieselfde titel geskryf. Beide is gebaseer op George Bernard Shaw se toneelstuk Pygmalion (1913) en die filmweergawe daarvan in 1938.

Die musiek is deur Frederick Loewe.

Die Broadway-produksie in 1956 het ses Tony-toekennings ingepalm, waaronder een vir die beste musiekblyspel.

My fair lady het ook ’n rekord opgestel vir die langste speelvak van enige musiekblyspel op Broadway, met 2 717 vertonings. In Londen was dit ook ’n treffer. Rex Harrison en Julie Andrews het in albei produksies gespeel.

Die hoofkarakter is Eliza Doolittle, wat blomme op straat verkoop en dus van die hand na die mond lewe. Haar Cockney-aksent is bykans onverstaanbaar. Saam met ander mense uit die laer klas sit sy by dromme vol vuur en droom van ’n beter lewe om die winterkoue te verdryf.

Haar pad kruis heel onverwags met dié van die baie hoogmoedige professor Henry Higgins. ’n Medetaalkundige, kolonel Pickering, daag Higgins uit om van hierdie meisie ’n dame te maak, en Eliza word een van Higgins se studente. Sy trek in by sy huis en hy dril haar vir ure elke dag in ’n poging om haar uitspraak meer respektabel te maak.

Pickering is sagter as Higgins en kom gereeld vir Eliza op as Higgins na sy oordeel te ongenaakbaar word.

Higgins maak geen moordkuil van sy hart nie en verseker almal om hom dat vroue onverstaanbare wesens is en dat mans baie beter daaraan toe is wanneer daar nie vrouens in hul lewens is nie.

Eliza se spraak vorder bo verwagting goed. Nadat sy ook mooi klere kry, word sy ’n ware dame wat die koppe laat draai.

Higgins is egter minder beïndruk met haar nuwe status en praat sommer bo-oor haar – amper asof sy onsigbaar is en geen gevoelens het nie. Eliza voel vir die eerste maal minderwaardig – ten spyte van haar geartikuleerde Engels en versorgde voorkoms.

Gelukkig is daar tussen die bekende liedere “Get me to the church on time”, “Wouldn’t it be loverly”, “The rain in Spain”, “I could have danced all night”, “I’m just an ordinary man”, “On the street where you live” en “Show me” deur oorgenoeg tyd vir liefde en ’n gelukkige einde.

My fair lady het aanhou bekoor. Eers op die verhoog, en toe ook in die 1964-rolprentweergawe met Audrey Hepburn en Rex Harrison. Dit het die Oscar vir beste rolprent gewen.

Daardie fliek het ek as klein dogtertjie soveel keer plat op my maag op ons sitkamermat lê en kyk dat ek nie net al die woorde van elke liedjie geken het nie, maar ook die dialoog! Die sprokie van hierdie lelike eendjie wat in ’n pragtige swaan verander, was enige jong dogtertjie se droom.

So beland ek toe op ’n warm somersaand in die Kunstekaap-operahuis. Daar is nie ’n enkele sitplek oop nie. Die programme ritsel; die atmosfeer is amper tasbaar. Almal ken die storie; tog weet niemand wat om te verwag nie!

Voor jy jou kom kry, sing jy soms luidkeels saam, al dink jy dat jy net fluisterend saamsing in jou kop. Jy word met die spontane applous van die gehoor meegesleur. Vir drie kosbare ure is die gehoor één, almal oorweldig deur die vermaak.

Die orkes in die klein verligte kassie onder die verhoog is kort-kort vanuit my sitplek sigbaar, en dis duidelik dat die gehoor se entoesiasme ook hier in die vingers van musikante kom nesskop het.

Tydens die inperking, toe teaters gesluit het, was ek dikwels op moedverloor se vlakte. Ek het nie gedink ons sou ooit weer in uitverkoopte teaters kon sit en die room van ons Suid-Afrikaanse sterre in ongelooflike kostuums met verbysterend mooi stelle ervaar nie.

Gelukkig was ek verkeerd.

Die produksie was beter as waarvoor ek kon hoop. Dis ’n goeie storie, mooi musiek, en uitstaande akteurs, musikante en sangers. Die choreografie wil jou borskas laat oopbars van trots.

Laataand op die trappies van die teater, met ’n verligte Tafelberg na links, kon ek uitasem van vreugde en trots net die koel aandlug inadem en ’n skietgebedjie opstuur, ’n dankie dat ek dit (weer) kon ervaar.

Craig Urbani skitter as die mislike ou Higgins. Brittany Smith (wat met Leah Mari afwissel as Eliza) steel vroeg-vroeg jou hart. Graham Hopkins as Pickering bring ’n sagtheid en gerusstellende teenwoordigheid na die verhoog.

My ander gunsteling van dié vertoning is Mark Richardson wat die rol van Eliza se pa, Alfie Doolittle speel. Hy was uitstekend: tegelykertyd ’n maaifoedie én besorgde pa.

Loer hier vir ’n voorsmakie van wat agter die skerms gebeur:

My fair lady

  • Met: Brittany Smith, Leah Mari, Graham Hopkins, Craig Urbani, Mark Richardson, Sandi Dlangalala, Adrienne Pearce, Namhla Tshuka, Megan Spencer, Ryan Flynn en Gareth Meijsen.
  • Ensemble: Dylan Janse van Rensburg, Michiel Bester, Manyano Ngoma, Micah Stojakovic, Morgan Marshall, Gemma Bisseker, Kensiwe Tshabalala, Kirsten Pienaar, James van Helsdingden, Allen Chambers, Edrien Erasmus, Angelica Hattingh, Noa Duckitt, Dean de Klerk, Gabriella Knight, Sasha Duffy, Tjaart van der Walt, Milli Mangate, Lusi Sesanti, Danielle Speckman, Van Wyk Venter, Jason Atherton en Siphesihle Mdena.
  • Lirieke: Alan Jay Lerner
  • Musiek: Frederick Loewe
  • Regisseur: Steven Stead
  • Choreografie: Duane Alexander
  • Stelontwerp: Greg King
  • Musikale regie: Kevin Kraak

Die vertoning was tot 12 Januarie 2025 by die Kunstekaap-operahuis. Dit speel in The Teatro, Montecasino van 25 Januarie tot 2 Maart 2025, en dan in Durban by The Playhouse van 8 tot 16 Maart 2025.

Kaartjies deur Webtickets

  • Foto’s deur Nardus Engelbrecht
Lees ook:

Why My fair lady matters to LAMTA: an interview with Anton Luitingh and Duane Alexander

Gordyn lig oor enkele dae vir My fair lady: ’n onderhoud met Graham Hopkins

Die ware waarde van jou gekoopte kaartjie tydens ’n Kunstekaap-produksie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top