’n Terugblik op 2024 vul my met groot bevrediging dat ons by Kunstekaap werklik bedoel wat ons sê: om te verseker die kunste floreer ten spyte van al die uitdagings. Ek dink aan die goeie resensies deur gerespekteerde teaterkritici en gehore van die hoogaangeskrewe musiekspel My fair lady deur Pieter Toerien Produksies in samewerking met Cape Town Opera, asook Cape Town City Ballet se The nutcracker. Ons het ’n propvol program vir die Somerseisoen gehad. Inheemse Xhosa-klanke is gehoor in Malta: The journey of the heart, Oosterse qawwali het weerklink in The Sufi caravan. Die vermaaklike Boogie nights het flink uitverkoop. Santa’s sleigh bell safari en die Zip Zap Circus se A piece of us het hope besoekers na ons teaters gebring. Ek is behoorlik oorweldig deur dankbaarheid, want ek is bewus van wat dit werklik verg om hierdie wêreldklasproduksies op ons wêreldklasverhoë op te voer.
Die getalle vir Desember 2024 tot en met 12 Januarie vanjaar toon tot ’n verbysterende 80 000 besoekers wat reeds vir ’n kaartjie betaal het om een of meer van hierdie wonderlike produksies by te woon. Kaartjies vir The nutcracker ballet is binne ’n week na die openingsaand uitverkoop. Dieselfde kan gesê word van My fair lady! Dit is duidelik: Kunsliefhebbers geniet die kunste en wil meer hê! Wat meer kan ons vra, sou ’n mens dink.
Die goeie resensies en skitterende bywoninggetalle is beslis musiek vir ons ore en ’n deeglike aanduiding dat ons die primêre doelwit van die uitvoerende kunste bereik het, naamlik om te vermaak en te inspireer deur middel van hoëklasvertonings, kostuums, beligting, klank, produksiestelle en rekwisiete op die verhoog. Tog is dit van uiterste belang om te weet dat daar selfs ’n groter waarde geput word uit ’n kaartjie wat gekoop word deur besoekers wat hierdie produksies bywoon: Dit skep werk. So onderhou ’n reeks rolspelers, wat aand na aand verseker dat jou ervaring by Kunstekaap van die hoogste gehalte is, hulself en hul gesinne.
Om plesier en vermaak aan uitgehongerde gehore te verskaf tydens elkeen van die vele produksies wat ons aanbied, behels ’n geïntegreerde stelsel van werknemers en spesialiste: uitvoerende skoonmaakdienste, spysenieringsdienste en kroegpersoneel, kontrakwerkers, sekuriteitswagte, toneelhelpers, stelbouers, kleders, pruikmakers, naaldwerksters, agtergrondspanne, klank- en beligtingstegnici, ondersteuningspanne, kostuumskeppers, projekbestuurders en voorgrondpersoneel; ook die kunstenaars, musikante, besluitnemers, bemarkers, publisiteitsbeamptes en die uitvoerende span. Sonder ondersteuning vir hierdie produksies sal baie van ons kontrakwerkers sonder werk sit. Die kunste is ’n enorme bedryf en ons goed geoliede masjien by Kunstekaap skep steeds werk vir honderde mense wat brood op die tafel moet sit om sodoende ’n volhoubare ekonomiese ekosisteem te onderhou, wat weer ’n reuse- ekonomiese inspuiting bied in Kaapstad en omstreke.
Die 80 000 mense, oud en jonk, wat ons drumpel sedert die begin van die feesseisoen oorgesteek het vir ’n skouspel van dans, musiek en avontuur, se kaartjie koop dus nie net vir hulself plesier gedurende die drie uur, of meer, per aand wat hulle by ons teaterruimtes deurbring nie. Hulle broodnodige bydrae speel ook ’n belangrike rol in die ekonomiese stelsel van die kunste, ’n rol wat ook staatmaak op die breë en volgehoue ondersteuning van die regering, die ekonomiese sektor en die publiek. Terwyl die meeste besighede en instansies gesluit was vir ’n welverdiende feesvakansie, het die kunste by Kunstekaap, saam met ander noodsaaklike dienste, die ekonomie aan die gang gehou. Ons het nog eens gehelp om brood op die tafel te sit en bygedra tot menswaardigheid, inklusiwiteit, werkskepping en werksbevrediging.
As ’n teatersentrum met wêreldwye erkenning vir uitsonderlike produksies beskou ons hierdie hoogs suksesvolle produksies dus nie as losstaande geleenthede nie. Nee, elkeen is ’n gebeurtenis wat interafhanklik met al bogenoemde spanne se samewerking weer vir almal tot voordeel strek.
Die aankoop van jou kaartjie vorm ’n integrale deel van die skep van meer werksgeleenthede in hierdie sektor, sowel as volgehoue tevredenheid en plesier vir elke kunsteliefhebber wat kaartjies koop. Dit is dus van kardinale belang dat jy familie en vriende nooi om die kunste in groot getalle te ondersteun deur ’n kaartjie te koop vir ons wye reeks fantastiese produksies wat vir 2025 aangebied word. Hierdie eenvoudige handeling, die koop van ’n kaartjie, het ’n groot impak en ’n belang wat jy moet onthou en koester: Jou rol moenie onderskat word nie. Jy dra by tot ’n veel groter prentjie ter ondersteuning van die kunste.
Produksies vir 2025 sluit onder meer in:
- Die Grammy-bekroonde musiekblyspel Dear Evan Hansen;
- die Kiks se Internasionale Tromfees;
- vir die kleintjies is daar die Emmy Award-bekroonde Bluey’s Big Play;
- die Grammy Award-gees duur voort met The voice & spirit of The Lion King – Lebo M live in concert;
- die Ndlovu Jeugkoor;
- die multimedia-musiekspel Vincent;
- en David Kramer se Orpheus McAdoo-opera.
En dan bied ons die gereelde gunstelinge. Om maar net ’n paar van die trekpleisters te noem:
- die Artscape Humanity Women’s Festival;
- die Youth Classical Concert;
- die Suidoosterfees;
- en Verdi se dramatiese opera, Aida.
As ’n regeringsinstelling is ons onderworpe aan streng ouditregulasies wat ons bestuurspan nie ligtelik opneem nie, aangesien ons, soos hierbo genoem, duisende werksgeleenthede skep vir kunstenaars en die ondersteunerspanne. Ons is dus geweldig trots op die skoon oudit vir die 2023/2024-boekjaar wat ons ontvang het van die ouditeur-generaal. Ons is verbind daartoe om hierdie standaard te bly handhaaf in die toekoms en getrou te bly aan ons land se grondwet, wat ons noop om nasie te bou, menseregte, inklusiwiteit, geregtigheid en gelykberegtiging te bevorder, sowel as toeganklikheid vir mense met verskillende gestremdhede in die hoofstroom te plaas deur ons wêreldklasklankstelsel vir gehoorgestremdes, wêreldklasmatstelsel vir siggestremdes en topklasproduksies op ons verhoë in samewerking met ons vertroude vennote.
Indien jy die afgelope feesseisoen ’n kaartjie of meer gekoop het en beplan om dit in die toekoms ook te doen, ontvang jy hiermee my hartlike dank, want ons het innige waardering vir jou baie belangrike bydrae tot die handhawing van gehaltevermaak, en meer nog, werkskepping.
Besoek gerus ons webtuiste www.artscape.co.za, sosiale media @artscapetheatre, of bel Artscape Dial-a-Seat by 021 421 76 95 as jy meer wil weet oor ons opkomende produksies.
- Fotokrediet: Jeremeo le Cordeur
Lees ook:
Kunstekaap maak teater toeganklik vir plattelandse gemeenskappe
Kommentaar
How wonderful to read this! Thank you for giving us this feedback! It now means so much more to buy a ticket!