Kunstekaap maak teater toeganklik vir plattelandse gemeenskappe

  • 0

Operasterre Janel Speelman en Sipho Qabithole het ’n asemrowende duet gelewer. (Foto: Jeremeo le Cordeur)

Die intrinsieke rol van artistieke teaters is om ’n waardige ruimte te wees vir die uitdrukking van idees, gebeurtenisse, stories en herinneringe deur woorde, beweging, musiek, klank en visuele elemente. Daarbenewens kan teaters ’n beduidende rol speel in die samelewing, kultuur en die geestelike en estetiese opvoeding van die gehoor. ’n Teater wat haar sout werd is, bevorder boonop dialoog en sosiale verandering deur die samelewing uit te daag om selfondersoek te doen en oplossings vir maatskaplike probleme te help vind.

Foto 9: Afrikaapse rymkletser Jitsvinger het die tone laat krul. (Foto: Jeremeo le Cordeur)

By die Kunstekaap-teater bestaan ​​ons nie net ter wille van vermaak nie. As ’n regeringsagentskap is ons mandaat volgens die Grondwet om ’n instrument van toeganklikheid te wees vir persone wat met gestremdhede leef, van sosiale samehorigheid, die bemagtiging van vroue, kinders en die jeug, opvoeding, ontwikkeling, geleenthede, gelykheid en gelyke beregtiging deur middel van die kunste.

Dansers van die Kaapstadse Stadsballet dans met oorgawe by die Kunstekaap se uitreikkonsert in Mamre. (Foto: Jeremeo le Cordeur)

Die talle wêreldklasproduksies wat ons konsekwent oor baie dekades aangebied het en steeds kan aanbied in samewerking met ons gewaardeerde kunsgeselskappe wat ons binne ons mure huisves, soos die Kaapstadse Filharmoniese Orkes, met hul jeugorkes en ontwikkelingsprogram, die Kaapstadse Stadsballet, Jazzart, die Unmute-dansgeselskap is ’n ope geheim.

Jazzart-dansers in gelid. (Foto: Jeremeo le Cordeur)

Een van Kunstekaap se baie belangrike geheime wat dalk nie so bekend is nie, maar wat duisende kinders en jongmense se lewens van behoeftige gemeenskappe oor byna 20 jaar getransformeer het, is ons plattelandse uitreikprogram, wat ek meer as 20 jaar gelede as direkteur van gehoorontwikkeling gekonseptualiseer het. My ervaring as musiekonderwyser in townshipskole het my genoeg insig gegee om te besef dat die krag van die uitvoerende en visuele kunste jongmense en ouer mense se denke kan help ontwikkel en transformeer, asook hoop bring in die lewens van mense wat misdaad en teëspoed daagliks moet trotseer. Ek het dit dus my lewensmissie gemaak om soveel moontlik voorheen benadeelde gemeenskappe ’n geleentheid te probeer bied om ook minstens een keer in hul leeftyd ’n wêreldklasproduksie in ’n wêreldklasomgewing te ervaar, net soos hul meer bevoorregte eweknieë.

Michael September, voorsitter van Lief en Lied, sê: “Die gestremdes ís wat dit is.” (Foto: Jeremeo le Cordeur)

Dit neem net ’n vonk om ’n vuur aan te steek, lui die gesegde. Vandaar dat Kunstekaap in die afgelope 20 jaar die gewone begrip van ’n teater op sy kop gekeer het en die spreekwoordelike Moses geword het wat die berg na die mense neem wat moontlik nie op hul eie by die “berg” sou kon uitkom nie. Plattelandse dorpe wat ons bereik het en ’n impak op gehad het sedert die implementering van die uitreikprogram, is Wellington (2004), Saron (2005), Vredendal (2006), Bredasdorp (2008), George (2009), Ceres (2010), Caledon (2011), Vredenburg (2012), Robertson (2013), Heidelberg (2014), Worcester (2015), Cederberg (2016), Grabouw (2017), Vredenburg (2018) en Hawston (2019). Dít wil gedoen wees, moet ek onderstreep.

Marlene le Roux saam met bestuurslede van Lief en Leed. Van links is die sekretaris van Lief en Leed, Paul Arendse (serebraal gestremd) op sy e-fiets, Marlene le Roux (poliolyer), voorsitter Michael September (poliolyer) en tesourier Daneline Swarts (doof). “Ons is wie ons is,” sê Marlene. (Foto: Jeremeo le Cordeur)

Die Covid-19-pandemie het ’n stokkie daarvoor gesteek, wat ons verhinder het om “Moses” vir ’n paar jaar op die pad te hou. Tot verlede week, toe ons in samewerking met Lief en Leed, ’n 38-jarige NRO in Mamre vir mense met gestremdhede deur mense met gestremdhede, die Kunstekaap-trein weer laat rol het om “die mense te laat (in-) gaan” in die magiese wêreld van lewende teater. En wat ’n betowering was dit nie! Van die outentieke en passievolle toewyding van die Lief en Leed-span, die Mamre Laerskool en die Mamre-gemeenskap, tot die toegewyde tegniese span van Kunstekaap, die lojale en betroubare geassosieerde geselskappe en kunstenaars van Kunstekaap, soos Kaapstad Stadsballet, Jazzart, Unmute, die operasterre Janel Speelman en Sipho Qabithole onder Stefan Lombard as musikale regisseur, jazzsanger Ncedeka (ook bekend as N-The Queen), hip-hop-kunstenaar Jitsvinger (Quinton Goliath) en plaaslike kunstenaars soos die hoogs bekwame Smile Production Band, kontemporêre sangers Nikita Scott, Reagan Arendse, Avuyile Ludaka en rapper Nashiefa Dietrich, asook die TDC hip-hop-dansers.

Marlene le Roux voor die Mamre Primêre Skool wat laas Vrydag in ’n mini-Kunstekaap-teater omgetower is. (Foto verskaf)

Wat laat hierdie plattelandse uitreik uitstaan? Persone met gestremdhede wat die voorbeeld stel deur hulself te help en nie bakhand te wag vir aalmoese nie, deur hul gemeenskap en omgewing te dien, deur te droom oor en onvermoeid daaraan te werk om hul visie van ’n hulpbronsentrum vir almal te verwesenlik, deur Kunstekaap te ondersteun en ons uitreikprogram na Mamre te bring, en nie andersom nie. Kunstekaap het dienooreenkomstig gereageer en ’n skoolsaal in ’n behoeftige gemeenskap in ’n magiese “mini-Kunstekaap-teater” omskep om vir hulle wêreldklasuitvoerings te gee tesame met puik voerings deur kunstenaars uit die gemeenskap en persone met gestremdhede.

Die gehoor sit vasgenael! (Foto verskaf)

’n Belangrike faset van ons plattelandse uitreik is om altyd bewus te wees van die ekonomiese uitdagings van die meerderheid van die skoolkinders en dus om die konserte gratis vir hulle toeganklik te maak. Om die ontsag en verwondering op die gesigte van die paar honderd skoolkinders in Mamre te sien wat gratis na ’n wêreldklasproduksie in ’n magiese teater by hul plaaslike laerskool kom kyk het, is genoeg beloning vir ons by Kunstekaap om te weet: Dit is alles die moeite werd! Operasanger Janel Speelman het gesê: “Net om te sien hoe daardie gesiggies in verwondering terugstaar terwyl ek my delikate hoë note laat opklink, bring trane in my oë. Dit beteken so baie vir my!” Hierdie reaksie van ’n bekroonde operaster getuig van die wedersydse voordele om met die plattelandse uitreikprogram voort te gaan, omdat dit nie net die begunstigdes wat dit bywoon en geniet bevoordeel nie, maar ook die deelnemende kunstenaars. Hulle kry hierdeur ’n platform om terug te gee in ’n behoeftige gemeenskap op ’n wêreldklasverhoog waaraan hulle gewoond is, om sodoende te verseker hulle bly getrou aan die beginsels van hul genres en op so ’n manier respekteer hulle hul gehoor wat slegs die beste verdien.

Cassidy Bailey van die Unmute-dansgeselskap herdefinieer fisieke vermoë. (Foto: Jeremeo le Cordeur)

Die plattelandse uitreikprogram is ’n belangrike deel daarvan om die misterie te ontbloot van waaroor teater gaan, wat dit vir mense kan beteken, hoe dit skoonheid in mense se lewens bring en hoe dit help om verlore waardigheid te herbou en te herstel wat veroorsaak is deur die vorige ongeregtighede toe teater eenvoudig nie vir ons mense toeganklik was nie.

Kunstekaap se produksiespan wat hul towerstaf laat praat het vir die Kunstetreffers 2024-uitreikkonserte in Mamre. (Foto: Jeremeo le Cordeur)

Kom help ons om “Moses” op die pad te hou en “ons mense te laat ingaan” in die wonder van teater wat bemagtig, verryk, uitbrei, transformeer, herstel en herbou.

Marlene le Roux spreek die leerlinge toe. (Foto: Jeremeo le Cordeur)

(Die Moses-analogie kom uit die bekende geestelike lied “Go down, Moses”.)

Lees ook:

Persverklaring: Honderde skoolleerlinge ervaar Kunstekaap-teater op hul voorstoep

Press release: Lief en Leed patron – empowerment against all odds

Nothing about us without us

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top