
Dansers van die Kaapstadse Stadsballet dans met oorgawe by die Kunstekaap se uitreikkonsert in Mamre. (Foto: Jeremeo le Cordeur)
Honderde skoolkinders in Mamre naby Atlantis het verlede week ’n besonderse geleentheid gekry om wêreldgehalte uitvoerings gratis by te woon in die Mamre Primêre Skoolsaal wat spesiaal in ’n mini-Kunstekaap-teater omskep is deur ’n professionele tegniese span van Kunstekaap. Opera en ballet het skouers geskuur met kletsrym en hip-hop in ’n onvergeetlike reeks konserte wat afgesluit is met ’n galakonsert getiteld Kunstetreffers 2024 op Vrydagaand 1 November. Stefan Lombard was die musiekregisseur en Marlene le Roux, Kunstekaap se uitvoerende hoof, die samesteller en regisseur van dié wêreldklasproduksie. Hierdie plattelandse uitreik in Mamre is moontlik gemaak deur ’n spesiale band tussen die Kunstekaap en die Lief en Leed-organisasie, wat 38 jaar gelede begin is deur mense met gestremdhede vir mense wat met gestremdheid saamleef. Kunstekaap het juis verlede week ’n wêreldklasstelsel vir gehoorgestremde persone bekendgestel, wat ’n oudiolus genoem word, of in Engels ’n loop system. Dit dien as bewys dat alle konsertgangers gelyke behandeling by dié sentrum ontvang.
Die tegniese span het hulself oortref met ’n magiese wonderteater, ligte en klank uit die boonste rakke wat die kinders behoorlik na hul asem laat snak het. Sowat 1 000 leerlinge van verskillende skole in Mamre is meegesleur danksy uitstekende uitvoerings deur professionele kunstenaars van die Kaapstadse Stadsballet, Jazzart en die Unmute-dansgeselskap, wat bestaan uit dansers met en sonder gestremdheid. Die bekroonde operaster Janel Speelman en tenoorsensasie Sipho Qabithole het die betowering die hoogte laat inskiet, terwyl die bekende Afrikaapse rymkletser Jitsvinger en jazzsanger Ncedeka (ook bekend as N-The Queen) die dak behoorlik laat lig het. Bekende plaaslike kunstenaars wat ook beïndruk het, is die hoogs bekwame Smile Production Band, kontemporêre sangers Nikita Scott, Reagan Arendse, Avuyile Ludaka, rymkletser Nashiefa Dietrich en die TDC hip-hop-dansgroep wat bestaan uit laer- en hoërskoolleerlinge van Mamre.
Vir die sopraan Janel Speelman was dit net roerend om die bewondering van die kinders te ervaar. “Ek was behoorlik aangedaan om te sien hoe die gesiggies in verwondering na my kyk terwyl ek gesing het,” het sy agterna gesê.
Michael September, voorsitter van Lief en Leed, is trots daarop dat hy en sy span met die leerlinge kon praat oor die uitdagings van gestremdheid en dat alle mense gelyk is en respek verdien. “Die gestremdes ís wat dit is,” het hy trots aan die volgepakte gehoor gesê na afloop van Kunstetreffers 2024.
Die adjunk-prinsipaal van Mamre Primêre Skool, Mario Sambaba, kon nie sy opgewondenheid oor hierdie uitsonderlike geleentheid bedwing nie. “Dit was ’n belewenis vir baie van ons leerlinge. Ek was baie beïndruk met die professionaliteit en gehalte van die produksie. Die bestuur van Lief en Leed verdien die grootste waardering vir die manier hoe hulle die hele vertoning vir ons hele gemeenskap moontlik gemaak het,” het hy gesê.
En een van dié skool se leerlinge het laat hoor: “Ek het die vertoning so baie geniet. Ek hoop ons kan meer sulke vertonings sien. Dit was awesome!”
Marlene le Roux is die beskermvrou van Lief en Leed.
Sy noem dat vanjaar se uitreik in Mamre in samewerking met Lief en Leed hul 16de in 20 jaar is. “Die Covid-19-pandemie het ’n stokkie daarvoor gesteek in 2020, maar ons is vanjaar terug met ’n bang in Mamre, danksy ons uitstekende tegniese span en ons uitvoerende kunsvennote soos Cape Town City Ballet, Jazzart, Unmute en die fantastiese kunstenaars wat altyd ons hande vat! En Kunstekaap vat hande met Lief en Leed as deel van ons aaneenlopende visie van implementering dat persone met gestremdhede te alle tye aan die voorpunt in die gemeenskap en in die samelewing moet wees met al die hulpbronne wat persone met gestremdhede benodig om volheid te leef. Dus is dit belangrik om ’n vennootskap met Lief en Leed te hê, met Michael September, Paul Arendse, Daneline Swarts aan die stuur. Hierdie uitreiking het gehandel oor meer as net die kunste; dit was die hartklop van ons land se Grondwet: gelyke regte met die beskikbaarstelling van die relevante hulpbronne vir ’n volledige mensbestaan vir almal. Artscape gebruik die kunste om die pilare van die Grondwet te implementeer,” sê sy.
Eregaste wat Vrydagaand se galakonsert bygewoon het, is die Wes-Kaapse LUR vir finansies, Deirdre Baartman, konsulêre attachés van Angola, Fernando Fernandes en Ngueza Serafim Alberto, asook vier argitekte wat Lief en Leed bystaan met die beplande hulpbronsentrum.
Die uitreikprogram is 20 jaar gelede deur Le Roux begin. Plattelandse dorpe wat voorheen met die uitreikprogram bereik is, is Wellington (2004), Saron (2005), Vredendal (2006), Bredasdorp (2008), George (2009), Ceres (2010), Caledon (2011), Vredenburg (2012), Robertson (2013), Heidelberg (2014), Worcester (2015), Cederberg (2016), Grabouw (2017), Vredenburg (2018), Hawston (2019).
Vir meer inligting oor Kunstekaap se programme vir skole, kontak gerus vir Simone Heradien, senior bestuurder vir kommunikasie en handelsmerkbestuur, by simoneh@artscape.co.za en besoek www.artscape.co.za.
Lees ook:
Kunstekaap maak teater toeganklik vir plattelandse gemeenskappe
Press release: Lief en Leed patron – empowerment against all odds