Gordyn lig oor enkele dae vir My fair lady: ’n onderhoud met Graham Hopkins

  • 0

My fair lady word van 12 Desember 2024 tot 12 Januarie 2025 in die Kunstekaap Operahuis opgevoer.

.......
“Kuns is universeel en goeie kuns weerspieël die mensdom, onbeperk deur tyd en konteks. Ons moet ’n eng, hier-en-nou beoordeling van teater vermy.” – Graham Hopkins
.......

Die dae raak nou min voor die fluweelgordyn lig vir My fair lady wat van 12 Desember tot 12 Januarie in die Kunstekaap Operahuis opgevoer word voor dit na Johannesburg en Durban reis.

Sir Tim Rice, die bekroonde liriekskrywer, sê nie verniet nie: “My fair lady is ongetwyfeld een van die grootste musiekblyspele van alle tye.”

Dis ’n musiekblyspel met ’n boek en lirieke deur Alan Jay Lerner en musiek deur Frederick Loewe. Die verhaal, gebaseer op die 1938-rolprentverwerking van George Bernard Shaw se 1913-toneelstuk Pygmalion, handel oor Eliza Doolittle, ’n Cockney-blommeverkoper wat spraaklesse neem by professor Henry Higgins, ’n fonetikus, sodat sy as ’n dame kan slaag.

Higgins ontmoet ook vir kolonel Pickering, ook ’n taalkundige, en verseker hom dat hy sukses met Eliza sal behaal.

Ten spyte van sy siniese aard en probleme om vroue te verstaan, raak Higgins geheg aan Eliza.

Die musiekblyspel se 1956-Broadway-produksie was ’n groot sukses, en het ses Tony-toekennings gewen, insluitend vir beste musiekblyspel. Dit het ’n rekord opgestel vir die langste reeks van enige musiekblyspel op Broadway met altesaam 2 717 vertonings, en is gevolg deur ’n Londense trefferproduksie. Rex Harrison en Julie Andrews het in albei produksies gespeel.

Baie herlewings het gevolg, en die 1964-rolprentweergawe het die Oscar-toekenning vir beste rolprent gewen.

Nog meer indrukwekkend as die bekende liedjies “I could have danced all night”, “Get me to the church on time”, “Wouldn’t it be loverly”, “I’m just an ordinary man”, “On the street where you live”, “Show me”, “The rain in Spain” en “I’ve grown accustomed to her face” is die rolverdeling met onder meer Brittany Smith (The sound of music, The magic flute, Master class, Lucia di Lammermoor) en Leah Mari (The sound of music, Company) wat sal roteer as Eliza Doolittle, Graham Hopkins as kolonel Pickering, en Craig Urbani (The sound of music, The rocky horror show, Chicago) as Henry Higgins.

Ook op die verhoog is Mark Richardson as Doolittle, Sandi Dlangalala as Freddy Eynsford-Hill, Adrienne Pearce as mev Higgins, Namhla Tshuka as mev Eynsford-Hill, Megan Spencer as mev Pearce, Ryan Flynn as Harry en Gareth Meijsen as Jamie.

Die lieflike ensemble bestaan uit Dylan Janse van Rensburg, Michiel Bester, Manyano Ngoma, Micah Stojakovic, Morgan Marshall, Gemma Bisseker, Kensiwe Tshabalala, Kirsten Pienaar, James van Helsdingden, Allen Chambers, Edrien Erasmus, Angelica Hattingh, Noa Duckitt, Dean de Klerk, Gabriella Knight, Sasha Duffy, Tjaart van der Walt, Milli Mangate, Lusi Sesanti, Danielle Speckman, Van Wyk Venter, Jason Atherton en Siphesihle Mdena.

En met die formidabele Pieter Toerien en die Kaapstad Opera wat hande vat om dié produksie moontlik te maak, weet teatergangers hulle is ’n eersteklas ervaring gewaarborg. Voeg daarby Steven Stead as regisseur, choreografie deur Duane Alexander, stelontwerp deur Greg King, en musikale regie deur Kevin Kraak, en dis ’n wegholwenner.

In Julie vanjaar plaas die Kunstekaapteater ’n inskrywing: “My Fair Lady is die vertoning waaraan alle ander musiekblyspele gemeet word én Suid-Afrika gaan halsoorkop verlief raak op Eliza Doolittle.”

Graham Hopkins tydens ’n kleedrepetisie vir My fair lady (Foto: verskaf)

Graham is sekerlik een van Suid-Afrika se bekendste akteurs en word nie ingeperk deur teater óf televisie óf film nie. Sy ellelange CV het ’n ewewigtigte balans tussen al drie.

Wat egter op sy CV uitstaan, is sy spesiale talente: perdry, wapenhantering en verhoogvegkuns. En dan natuurlik dat hy tien verskillende aksente kan doen. En glo my, hy kán. Van die wapens en perdry het ek nie persoonlike ervaring nie ...

Hy was vlugtig ’n Engels- en wiskunde-onnie voor hy die swartbord en bordkryt vir die verhoog en teaterstof verruil het.

Dis op Theatre Lives wat ek raaklees: “Die karakter Henry Higgins was dalk ’n rol wat spesiaal vir hom geskryf is, maar dit kon ewenwel die rol van Macbeth gewees het; of dalk die rol waar hy krieket bespreek in ’n Paul Slabolepszy-sportstuk, Life's a pitch, of oor kuns praat in Art, waarvoor hy ’n toekenning vir beste akteur gewen het. In elke rol bring Graham waardigheid en sjarme na beide die verhoog en die skerm.”


Graham Hopkins gesels met Maryke Roberts oor sy rol as kolonel Pickering. 

Graham Hopkins (Foto: verskaf)

My fair lady is stokoud en boonop Brits – hoekom is dit nog relevant in 2024?

Soos met alle klassieke kuns en letterkunde, styg My fair lady bo sy tyd en sy geografiese omgewing uit. Ja, dit is oud en Brits, máár ... as ons inderdaad “relevansie” nodig het in selfs die ligste van ons teatervermaaklikhede (en ek is nie so seker dat “relevansie” wel ontbreek nie), is dit nie moeilik om die universaliteit van hierdie stuk se sosiale temas te herken nie: klasonderskeiding, bevoorregting, onderwys, taal, geslagsdiskriminasie en die verraderlike taak om die sosiale lekkertes van kulture anders as dié wat aan ons bekend is, te navigeer.

Moet ons nie eerder meer op sosiale kommentaar en die opbou van die land fokus in ons teaterproduksies nie?

Natuurlik het ons teater nodig wat ’n weerspieëling is van die sosiale weefsel van hierdie land, maar nie uitsluitlik nie. Ek lees graag Suid-Afrikaanse romans, maar ek beperk my beslis nie daartoe nie. Hoe vervelig sou dít nie wees nie. Net so met teater, kuns, musiek, dans, argitektuur, ens. Kuns is universeel en goeie kuns weerspieël die mensdom, onbeperk deur tyd en konteks. Ons moet ’n eng, hier-en-nou beoordeling van teater vermy. “Is dit relevant vir hier en nou?” Dis vir my ’n irrelevante vraag. “Is dit goed en lekker en spreek dit tot ons?” is ’n baie meer gepaste ding om te vra. Meer nog: “die opbou van die land” word die beste bereik deur ’n eng streeksfokus te vermy en ons aandeel in ’n wyer wêreld te erken. Ons hoef net te kyk na wat gebeur het met kuns in China onder Mao se kulturele revolusie om te weet dat ’n uitsluitlik inwaartse fokus teenproduktief kan wees.

Wat is die blyspel se groter boodskap aan gehore?

Dis ’n wonderlike storie, en soos met alle groot stories is die “boodskap” vanselfsprekend. Dit hoef nie uitgelê te word nie. Dit is snaaks, romanties, boeiend en gelukkig. Ontspan en geniet dit!

Is dit jou eerste musiekblyspel waarin jy optree, en indien nie, wat was voor dit en wat het jy daaraan geniet?

Ek het al voorheen in My fair lady opgetree, meer as 30 jaar gelede. Ek was Higgins by die Staatsteater, teenoor Kate Normington as Eliza. Ek geniet dit regtig om hierdie keer Pickering te speel en te kyk hoe Craig Urbani sy eie fyn en unieke voorstelling van die rol van Higgins gee. Ek het ook deur die VK getoer met ’n Britse produksie van Me and my girl. Ek het kaptein Andy in Showboat gespeel vir Kaapstad Opera, wat ook na die VK en Ierland getoer het. Ek het ook al in ’n menigte Janice Honeyman-pantomimes opgetree. Ek het hulle almal geniet.

Watter uitdaging stel ’n musiekblyspel aan jou as akteur en as mens wat jy dalk nie met ander genres ervaar nie?

Sing is nie my gemaksone nie. Ek is ’n akteur wat ’n bietjie sing, eerder as andersom. Ek leun swaar op die musikale regisseur om my te lei, en ek is in verwondering oor die musikale talent om my.

Waarna sien jy uit met My fair lady?

Dis ’n plesier om in op te tree. Ek sal van elke minuut daarvan hou, en ek weet dat die gehore ook sal.

Dink jy My fair lady is dié musiekblyspel van alle tye, en indien wel, hoekom?

Wel, dit is seker een van die grootstes. Die boek, deur Alan J Lerner, is gebaseer op George Bernard Shaw se Pygmalion en dus is die dialoog skerp, slim, geestig, geleerd en snaaks. Die liedjies is ook aangrypend en singbaar. Baby boomers soos ek het grootgeword met ons ma's wat die liedjies vir ons as kinders gesing het.

Hoekom dink jy is jy so geskik vir die rol van kolonel Pickering, en wat dink jy het hulle in die karakter gesoek?

Ek weet nie of ’n mens regtig besonder “geskik” is vir enige rol nie. ’n Mens moet bloot put uit wat jy weet en herken. Ek het ’n groot-oom gehad wat ’n Britse leërmajoor was, hoewel nie ’n Anglo-Indiër soos Pickering nie. Hy was eintlik Skots, maar hy het met dieselfde opgeblase selfbelang van daardie geslag weermagoffisiere gepraat. Ek onthou ook met liefde dat wyle Graham Armitage in die ’90's Pickering teenoor my gespeel het.

Wat is die lekkerste deel aan hierdie rol en wat het deurslag vir jou “ja” gegee?

Ek geniet dit om weer saam met regisseur Steven Stead te werk. Ek het laas saam met hom aan Jeeves & Wooster gewerk. PG Wodehouse is natuurlik ook “stokoud en boonop Brits”, maar universeel boeiend en baie snaaks. Puik storievertelling. Dit is wat ons doen. Ons vertel wonderlike stories van regoor die wêreld, insluitend plaaslikes.

Hoe verskil die gehore vir jou as akteur in Kaapstad versus Johannesburg versus Durban?

Ek het dit nog altyd geniet om vir Kaapstadse gehore te speel en het dit oor die jare male sonder tal gedoen.

Is jy self ’n musiekblyspelaanhanger?

Ek hou van ’n goeie musiekblyspel, maar is allesbehalwe ’n kenner.

Is daar iemand in die rolverdeling op die verhoog teenoor wie jy nog altyd wou speel, waarna jy uitsien?

Dit is altyd goed om deel te wees van ’n nuwe groep wat saam ’n nuwe produksie doen. Op sy beste is teater soos ’n spansport, met elke rol noodsaaklik vir die geheel.

En ook agter die skerms – is daar iemand met wie jy ’n eerste keer saamwerk waarna jy uitsien?

Meestal nuwe gesigte. Wonderlik om ’n nuwe generasie hoogs talentvolle mense te sien opkom.

Wat laat jou broek nog voor elke vertoning bewe?

Senuwees is soos brandstof. Ons het dit nodig. Wanneer ons ophou om ’n bietjie senuweeagtig te wees, moet ons heeltemal ophou om dit te doen.

Het jy enige rituele voor jy op die verhoog gaan om jou senuwees te laat kalmeer of jouself as ’t ware die beste toe te wens?

Geen spesifieke rituele nie, maar ek stap soms heen en weer ​​agter die verhoog as die senuweespanning hoog is.

  • Bespreek by Webtickets. Die vertoning reis na Johannesburg, na The Teatro, Montecasino, van 25 Januarie tot 2 Maart 2025 en dan na Durban na The Playhouse van 8 tot 16 Maart 2025.
Lees ook:

Kunstekaap maak teater toeganklik vir plattelandse gemeenskappe

The island returns to New Brighton

A streetcar named Desire: ’n teaterresensie

Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: ’n onderhoud met Carla Smith

Lara Foot’s Othello at the Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: Dhania Kara Schultz’s review

Hollywood at Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: Glitz, glam and razzle-dazzle – an Instagram review

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top