
’n Toneel uit The tempest (foto: Claude Barnardo)
The tempest. My vriende se gesigte toe ek vertel ons gaan Shakespeare kyk, spreek boekdele – seker meer as drie uur op ’n Sondagaand in ’n swaar toneelstuk! “Sjoe, julle is braaf!” En ’n paar jaar vantevore sou ek dalk saamgestem het, want een van ons vorige ervarings by Maynardville was presies só: lank en vaal. Die klank nie te waffers nie en die akteurs amper minder lus om daar te wees as ons.
En mens moet in die luim vir Shakespeare wees, anders kan dit lank en vaal word.
Maar toe sien ons eers A midsummer night’s dream by die Stellenbosch Woordfees by die Oude Libertas-amfiteater, waar Oliver Hauser vir die magiese beligting en Wessel Odendaal vir die musiek verantwoordelik was (net soos by The tempest) en toe Othello by dieselfde fees, ’n jaar later. Dié keer in ’n teater, maar steeds met ’n aantrekkingskrag wat 200 minute laat verbygly het.
In albei my laaste ervaringe is dit ’n vrouehand in die regisseurstoel en dis asof die inhoud ligter, meer toeganklik is.
Maar terug by die hede. Wat ons almal van The tempest weet, is dat dit Shakespeare se laaste toneelstuk was wat hy alleen geskryf het. Dit dateer uit 1610/1611 en speel af op ’n eiland in die Mediterreense See.
........
Jy dink jy ken die storie. Maar dan sit jy een Sondagaand onder die sterre en vlieswolkies van Maynardville-opelugteater in Wynberg en ’n hele ander storie ontvou, danksy die briljante brein van Sylvaine Strike in die regisseurstoel.
........
Vra jy vir www.shakespeare.org.uk vir ’n opsomming oor waaroor die toneelstuk in ’n neutedop gaan, is dit die antwoord:
Prospero gebruik towerkuns om ’n storm op te tower en die oorlewendes van ’n skeepswrak te pynig, waaronder die koning van Napels en Prospero se verraderlike broer, Antonio. Prospero se slaaf, Caliban, beplan om homself van sy heer te bevry, maar word gedwarsboom deur Prospero se geesdienaar, Ariel. Die koning se jong seun, Ferdinand, wat vermoedelik dood is, raak verlief op Prospero se dogter, Miranda. Hul feesvieringe word kortgeknip wanneer Prospero sy broer konfronteer en sy identiteit as die onregmatige hertog van Milaan openbaar. Die gesinne word herenig en alle konflik word opgelos. Prospero gun Ariel sy vryheid en maak gereed om die eiland te verlaat.
Maar hokaai nou. Dis nie so eenvoudig nie. Jy kon dalk die boek as voorgeskrewe werk op skool gehad het, of dalk al die toneelstuk êrens raakgeloop het. Jy dink jy ken die storie.
Maar dan sit jy een Sondagaand onder die sterre en vlieswolkies van Maynardville-opelugteater in Wynberg en ’n hele ander storie ontvou, danksy die briljante brein van Sylvaine Strike in die regisseurstoel. En saam met haar en haar trawante wat ’n paar bome in ’n park omtower tot ’n vernielde skeepswrak met ligte en musiek en magiese kostuums, is jy saam met daardie mense skipbreuk, maar gelukkig nie vir altyd verlore nie.
Daar is ’n paar ooreenkomste met die 2010-fliek waar die rolle ook effe verdraai is en die hoofrol nie meer deur Prospero gespeel word nie, maar deur Helen Mirren as Prospera. Dis ook in hierdie speelvak die geval.

’n Toneel uit The tempest (foto: Claude Barnardo)
........
Strike het ook besluit om Prospero na Prospera te verander en dié rol word deur Antoinette Kellermann vertolk. Strike het besluit dat ’n vrou die begrip van vergifnis as ’n vroulike eienskap vergestalt.
........
Strike het ook besluit om Prospero na Prospera te verander en dié rol word deur Antoinette Kellermann vertolk. Strike het besluit dat ’n vrou die begrip van vergifnis as ’n vroulike eienskap vergestalt.
En so tussen tonele waar die kostuums en klanke herinner aan Dune en Star Trek en Star Wars deur, ontvou ’n wonderwêreld waar alles op die ou einde uitwerk en liefde en vergifnis seëvier.
Met die eerste sowat 90 minute verby, het ek gedink bene rek sal nou goed wees, maar voor ek weer daaroor kon dink, maak die akteurs hul buiging en die gehoor klap dawerend hande. Ek kan nie glo hoe vinnig die tyd verbygevlieg het nie!
Geen drie uur van teater nie; geen vervelige of vaal teater hier te kry nie.
Die samesyn voor die vertoning onder die liggies in die bome is hopelik presies hoe Dulcie Howes, Cecilia Sonnenberg en René Ahrenson dit voorgestel het toe hulle in 1956 die eerste vertoning hier aangebied het. Oor iets te ete en te drinke word teatergangers vriende wat saam na die amfiteater stap vir ’n onvergeetlike ervaring.
Prospera se dogter, Miranda, word deur Jane de Wet vertolk en die slaaf, Caliban, deur Albert Pretorius. Die ondeunde Ariel word vertolk deur Daniel Lasker. Ander rolverdelings sluit in Jefferson Lan (Ferdinand), David Viviers (Antonio/Stephano), Brent Palmer (Alonso), Siya Mayola (Gonzalo/Boatswain), Tankiso Mamabolo (Sebastian/Trinculo) en die geeste Len-Barry Simons, Naoline Quinzin en Lungile Lallie.

’n Toneel uit The tempest (foto: Claude Barnardo)
Die kort persverklaring verklap dat die kreatiewe samewerking tussen Strike, stel- en kostuumontwerper, Niall Griffin, en komponis, Wessel Odendaal, meegebring het dat elke element van die produksie nuut bedink, kreatief herleef en op hierdie spesifieke werk gefokus is.
Elemente van die see het die kostuums geïnspireer en is geweef van materiaal wat skuim en glinster óf deur die son en seesproei verdroog word. Die musiek is geskep om voort te bou op die fisikaliteit van Strike se produksie en die rol van die elemente. Die toneelstuk word verryk deur die natuurlike omgewing van die lewende, asemrowende, magiese eiland.
Aanvanklik is daar voëlgekwetter in die bome; dan die laaste voëls wat laag oor die bome huis toe vlieg. Ná ’n wyle word alles stil en die fokus is heeltemal op die klein verhoog en die towerkrag wat dit uitstraal.
My gunsteling was Miranda (Jane de Wet) en Caliban (Albert Pretorius), maar laasgenoemde seëvier. Hy word ’n vreemde, vriendelike monstertjie wat jy wil huis toe neem en in jou sitkamerhoekie bewaar om af en toe mee te speel.
Briljante vertonings van elkeen maak van hierdie geleentheid ’n wonderlike, ligte aand uit.
The tempest
Met: Antoinette Kellermann, Albert Pretorius, Jane de Wet, Daniel Lasker, Jefferson Lan, David Viviers, Brent Palmer, Siya Mayola, Tankiso Mamabolo, Len-Barry Simons, Naoline Quinzin en Lungile Lallie.
Deur: William Shakespeare
Regie: Sylvaine Strike
Kostuums en stelontwerp: Niall Griffin
Beligting: Oliver Hauser
Musiek: Wessel Odendaal
Musiekontwerp: David Classen
Maynardville-opelugteater, Wynberg tot 8 Maart met een Sondagaand-vertoning van die Kaapstadse Filharmoniese Orkes op 9 Februarie (uitverkoop) en twee Sondae in die park met Sondheim op 16 en 23 Februarie.
Tydsduur: 100 minute, geen pouse.
Kaartjies kos van R220 tot R380 met afslag vir pensionarisse en studente en beskikbaar by https://maynardville.co.za of direk van https://www.quicket.co.za/organisers/56357-maynardville-open-air-festival/
Vir skoolbesprekings of meer inligting, kontak Boxoffice@maynardville.co.za of 069 792 6020 (10:00–16:00). Blokbesprekings vir skole is tussen R130–R175 per kaartjie.
Lees ook:
Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: Die stoele – ’n Instagram-resensie
KKNK 2024-teaterresensie: Die stoele ontleed die absurditeit van belangrikheid eerlik
Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: Othello – an Instagram review
Lara Foot’s Othello at the Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: Dhania Kara Schultz’s review