Dear Evan Hansen: Ons almal het ’n bietjie Evan Hansen in ons

  • 0

Stuart Brown (Evan Hansen) in Dear Evan Hansen (photo: Daniel Rutland Manners)

........
Die kreatiewe span, rolverdeling en lewendige agtstukorkes wat tans by die Kunstekaap op die planke is, voor dit na Johannesburg reis, is trots Suid-Afrikaans en kombineer die beste plaaslike talent op die verhoog en agter die gordyn.
........

Die bekroonde musiekblyspel Dear Evan Hansen spog met ’n heel nuwe baadjie en bied iets heeltemal vars en anders as wat jy van ’n blyspel sal verwag. Dis ’n drama, maar met ’n goeie – en realistiese – einde.

Die musiekblyspel spog met musiek deur die Grammy-, Tony- en Academy Award-wenners Benj Pasek en Justin Paul (La La Land en The greatest showman) en het ses Tony-toekennings (insluitend beste musiekblyspel), ’n Grammy-toekenning vir beste musiekblyspel-album en ’n Olivier-toekenning vir beste musiekblyspel.

Dis vanjaar ’n dekade sedert dit die eerste maal by die Arena Stage in Washington DC op die planke gebring is. Dit het in Desember 2016 na die Music Boxteater op Broadway geskuif en vir ses jaar daar gespeel, ná twee maande by die Off Broadway Second Stageteater. Die karakter van Evan is ​​deur Ben Platt vertolk, wat die Tony-toekenning vir beste akteur gewen het vir sy vertolking en dit weer in 2021 vir die rolprentverwerking van die musiekblyspel ingepalm het.

Die blyspel word oral geloof vir sy emosionele diepte en insigte en daar is lekker ligte oomblikke met bekende liedjies, soos “Waving through a window” en “You will be found”. 

Die persverklaring lui: “Die vertoning is ’n diep persoonlike en eietydse beskouing van die lewe en die manier waarop ons in die 21ste eeu leef. Dit vind aanklank by gehore van alle ouderdomme, veral tieners en jong volwassenes. Dit word aangebied deur Showtime Management en How Now Brown Cow Productions.

Keely Crocker, Sharon Spiegel Wagner, Charlie Bougenon, Lucy Tops, Stuart Brown in Dear Evan Hansen (photo: Daniel Rutland Manners)

“Evan Hansen is ’n herkenbare, sosiaal ongemaklike hoërskoolleerling wat daagliks met angs leef en die universele begeerte het om in te pas, te hoort en vriende te maak. Wat as ’n misverstand begin, word ’n ongelooflike reis van selfontdekking, verbintenis en die krag van gemeenskap.

“Soos Evan se verhaal ontvou, leer hy waardevolle lesse oor opregtheid, moed en die waarde daarvan om getrou aan jouself te wees. Dit het gehore wêreldwyd geraak met sy onvergeetlike musiek en sy hoopvolle boodskap: Selfs in die mees uitdagende oomblikke is ons nooit werklik alleen nie.”

Daar is soveel gedagtes waarmee mens kan identifiseer, soos dat hy as skaam tiener geleer het “om klaar rem te trap, voor hy nog die sleutel in die aansluiter gedraai het” – daardie vrees om met ’n meisie of gewilde kind te praat, omdat die selfvertroue ontbreek.

Die vraag: “As jy in ’n woud uit ’n boom val, maak jy regtig ’n geluid?” is so sprekend van sy verhaal waarin hy die eerste helfte van die vertoning met gips om sy arm loop. Hy verklaar dat hy altyd aan die buitekring behoort en nooit deel van die binnekring sal word nie.

Stuart Brown and Ntshikeng Matooane in Dear Evan Hansen (photo: Daniel Rutland Manners)

Deur onverwagse gebeure is hy toe vinniger in die binnekring as waarvan hy ooit kon droom. “Niemand verdien om vergeet te word of om te verdwyn nie,” word die gerieflike mantel wat hom in die binnekring hou.

Hy speel ’n nuwe rol – een wat hoop gee vir ander – maar onder valse voorwendsels. Hy hoor die waarskuwings onderweg, maar vertolk hulle dikwels tot sy eie voordeel. Op een plek vertel Connor se pa hom dat jy ’n nuwe bofbalhandskoen met geduld en toewyding sag brei en dat dit die metafoor vir die lewe is. Evan se “geduld en toewyding” skep vir hom ’n sprokieswêreld waarin hy waarlik raakgesien word.

Maar natuurlik werk die lewe nie so nie: As jy in die kollig staan, word alles verlig en die “niemand verdien om vergeet te word nie” kry nuwe betekenis. Evan se lewe val weer uitmekaar toe die kollig ook die leuens verlig. En hy wonder hoe jy kan terugstap in die sonlig in.

Charlie Bouguenon, Stuart Brown, Sharon Spiegel Wagner, Keely Crocker in Dear Evan Hansen (photo: Daniel Rutland Manners)

Die kreatiewe span, rolverdeling en lewendige agtstukorkes wat tans by die Kunstekaap op die planke is, voor dit na Johannesburg reis, is trots Suid-Afrikaans en kombineer die beste plaaslike talent op die verhoog en agter die gordyn.

Fleur du Cap-teaterpryswenner Stuart Brown (We will rock you, MAMMA MIA!, Defending the gay man) speel die hoofrol van Evan.

........
“Dit was ’n wonderlike reis om hierdie nie-replika-weergawe van hierdie ongelooflike vertoning na Suid-Afrika te bring,” sê Hazel Feldman van Showtime Management.
........

In ander hoofrolle skitter gevestigde musiekteatersterre, waaronder Lucy Tops (The Rocky Horror Picture Show, Kinky boots) as Heidi Hansen; Sharon Spiegel Wagner (Hairspray, Grease) as Cynthia Murphy; en Charlie Bouguenon (Jersey Boys, Sweeney Todd) as Larry Murphy. Justin Swartz (West side story, Janice Honeyman se Jack and the beanstalk, The afterlife of the party) speel as Jared Kleinman saam met Ntshikeng Matooane (MAMMA MIA!) as Alana Beck.

Die sanger-liedjieskrywer Keely Crocker maak haar professionele debuut as Zoe Murphy en Michael Stray (Buddy: The Buddy Holly story, Dead at the box office, Abraham Lincoln) vertolk die rol van Connor Murphy.

Keely Crocker in Dear Evan Hansen (photo: Daniel Rutland Manners)

“Dit was ’n wonderlike reis om hierdie nie-replika-weergawe van hierdie ongelooflike vertoning na Suid-Afrika te bring,” sê Hazel Feldman van Showtime Management. “Die manier waarop ons briljante rolverdeling net by mekaar aanklank gevind het en al die elemente, van die ontwerp en beligting tot die klank en kostuums, bymekaargekom het, onderstreep die wêreldklasvertoning wat ons aanbied.”

Julie-Anne McDowell en Daniel Galloway van How Now Brown Cow Productions stem saam: “Die vertoning kombineer talent en tegnologie in hierdie unieke plaaslike produksie. Verwag die onverwagte! Ons glo Suid-Afrikaanse gehore sal met die karakters skakel en identifiseer met hierdie roerende, kragtige storie.”

Justin Swartz as Jared Kleinman in Dear Evan Hansen (photo: Daniel Rutland Manners)

Die stel is ’n interessante tegnologiese skepping met televisieskerms en blou ligte wat klein deeltjies van die verhoog verlig. Die skerms word ingespan om sosiale media te simuleer en die verhoog draai om verskillende stelle na vore te bring. Die persvrystelling het voorspel dat die blyspel nie net vir tieners en jong volwassenes is nie – hoe waar is dit nie.

Die verhaal bly universeel en tydloos: Almal wil iewers hoort; geliefd voel; glo hul opinie tel en dat hulle waardig is. Of dit nou in ’n werksopset is, in ’n aangetroude familie of selfs volwasse vriendekring.

En soos jy ouer word en die samelewing jou laat voel jy tel al minder, begin daardie bose kringloop wat jy jou hele lewe probeer ontvlug het, weer van voor af. Dan moet jy weer jou plek in die sonlig verdien.

Die ure in die teater was introspektief en uitstekende vermaak.

.......
Ek dink die stuk behoort deur een en almal gesien te word, veral dié wat op sosiale media leef en so graag uitsprake lewer van agter die veiligheid van ’n skerm.
.......

Ek kan nie nalaat om Stuart Brown, ’n produk van die Luitingh Alexander Musical Theatre Academy (LAMTA) in Kaapstad, wat reeds ’n Fleur du Cap-teatertoekenning op sy kerfstok het, uit te sonder nie.

Hy speel Evan Hansen asof hy regtig Evan is. Aanvanklik is hy ’n onseker, effe vreemde tiener wat wil-wil grens aan ’n tipe loner, maar soos die stuk ontwikkel, groei hy amper in die rol van ’n gewilder tiener in en dis asof hy sy plek in sy vel en in die samelewing vind. Sy kommentaar in die persvrystelling oor die vertoning: “Hierdie vertoning is ’n ongelooflike spesiale storie wat tot so baie van ons spreek, oor die impak van sosiale media, geestesgesondheid en wat dit beteken om werklik te hoort.”

Justin Swartz and Stuard Brown in Dear Evan Hansen (photo: Daniel Rutland Manners)

Want as jy uitstap, voel jy daardie stuk persoonlik aan jou lyf. Daardie nie-hoort wat so maklik sy kop uitsteek as jy op jou weerloosste voel.

Ek dink die stuk behoort deur een en almal gesien te word, veral dié wat op sosiale media leef en so graag uitsprake lewer van agter die veiligheid van ’n skerm. Baie van daardie opmerkings verwoes lewens en die skrywer is salig onbewus van die impak van daardie – dikwels baie oningeligte – uitlatings.

Dear Evan Hansen

Met: Stuart Brown, Lucy Tops, Justin Swartz, Ntshikeng Matooane, Keely Crocker, Michael Stray, Sharon Spiegel Wagner en Charlie Bouguenon.
Regie: Greg Karvellas 
Musikale regisseur: Kurt Haupt
Musikale toesighouer: Charl-Johan Lingenfelder 
Ontwerp (stel, beligting en kostuums): Niall Griffin
Klankontwerp: David Classen 
Choreografie: Louisa Talbot 
Tegniese regisseur: Alistair Kilbee

2 uur 20 minute

Kinders onder 12 met ouerbegeleiding, geen 0/4’s. Sterk volwasse temas en taal.

  • Kunstekaap Operahuis, Kaapstad

Tot 9 Maart 2025: Dinsdag, Woensdag, Donderdag en Vrydag om 20:00; Woensdag 26 Februarie en 5 Maart om 18:00. Naweke: Saterdag om 15:00 en 20:00; Sondag om 14:00 en 18:00.

  • Montecasino’s Teatro, Johannesburg

Van 15 Maart tot 13 April 2025: Dinsdag, Woensdag, Donderdag en Vrydag om 20:00; Woensdag 26 Maart, 2 April en 9 April om 18:00. Naweke: Saterdag om 15:00 en 20:00; Sondag om 14:00 en 18:00. Sondag 16 Maart om 17:00 en Vrydag 21 Maart (publieke vakansiedag) om 15:00.

Kaartjies van R200–R500 met Terrific Tuesdays-afslag beskikbaar.

Kaartjies deur showtime.co.zahownowbrowncow.co.za, ticketmaster.co.za.

Lees ook:

Press release: Fleur du Cap Theatre Awards winners celebrated at the Baxter

An unromantic comedy: a theatre review

The tempest: meesters in aksie onder die sterre

I can buy myself flowers: Die waarhede van vrouwees met komedie én deernis omarm

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top