Carlo Daniels in eenmanstuk van Kafka, Die uitweg, by die Suidoosterfees te sien

  • 0

Carlo Daniels speel die rol van ’n oujongkêrel in Die uitweg, ’n verwerking van Kafka se kortverhaal “Blumfeld, ’n ou jongkêrel”. Die stuk is eers deur Lize Mulder in Afrikaans en toe deur Shantel Moses in Afrikaaps vertaal. Matthew Kalil het dit vir die verhoog aangepas. Isabelle Grobler het die stelontwerp behartig.

Sjaka Septembir, die regisseur, sê:

Dis altyd vir my belangrik om die mense wat die produksie moontlik gemaak het, te bedank, so as daar ’n geleentheid is wil ek dankie sê vir die befondsing van: AK21, Suidoosterfees en die Johan Brink Trust (en die NAC vir die aanvanklike befondsing gedurende Covid).

Kafka se “Blumfeld, an elderly bachelor” is vermoedelik reeds in 1915 geskryf, maar het eers in 1936 in ’n bundel verskyn. Dis ’n onafgehandelde storie.

Die feesprogram beskryf dit soos volg:

’n Storie oor ’n pedantiese man wat orde probeer handhaaf in sy sosiale lewe en by die werk. Wanneer hy ná ’n moeilike dag by die huis kom, bons daar twee klein balletjies onverklaarbaar op en af in sy sitkamer. Dié ontwrigting van sy daaglikse roetine maak hom verleë voor sy bure, en gou moet hy ’n uitweg vind uit dié donker, snaakse situasie. Die storie is oorgeplaas na die Kaapse milieu en hiermee word die tydlose skoonheid van Kafka se woorde opnuut tot nuwe lewe geroep.

Ek wonder by hoeveel van dié storie Carlo ook kan aanklank vind, maar wag, eers ’n bietjie agtergrond oor die akteur.

Hy is in Mitchell’s Plain gebore en sy CV vertel dat hy disko-, moderne dans en swing kan doen, en ook tenoor en bariton kan sing. Dis te verstane met sy opleiding by die Magnet Theatre in fisiese teater onder leiding van Mark Fleishman en Jennie Reznek.

Op sy kort profiel op die Magnet Theatre se webwerf verklaar hy: “Ek is selfversekerd in my doelwitte, ek is mal oor skryf en kreatief wees. Ek glo drome kan bewaarheid word.”

En met soveel toekennings en benoemings is dit gewis waar.

Sy werksloopbaan is ryk en divers: van film en televisie, tot teater en advertensies. Hy is ewe vlytig in Afrikaans en Engels en sy toekennings en nominasies is baie indrukwekkend.

Van sy toekennings sluit in: beste akteur by die Suidoosterfees 2019; beste akteur by Zabalazafees 2018; beste ondersteunende akteur in ’n musiekblyspel vir Kat and the Kings (2013); Kanna- en Fiësta-toekennings vir sy ondersteunende rol in Ek, Anna van Wyk (2022); Fleur Du Cap Teater-toekennings vir beste nuwe regisseur vir sy eie produksie, No complaints – new day, new dawn; en beste prestasie van ’n ondersteunende akteur in The unlikely secret agent (2022).

No complaints – new day, new dawn het hy geskryf in reaksie op Samuel Beckett se Happy days, wat in 2022 by Theatre Arts opgevoer is.

Noemenswaardige nominasies is onder meer as Kanna vir beste akteur in 2019 en Fleur de Cap vir belowendste student in 2019.

Hy was onlangs te sien in die Kaapse Vlakte-neonoir-reeks Skemerdans in die rol van Herschelle, waarin ’n jazzklubeienaar vermoor word en ’n hewige magstryd ontwikkel.

Hy het ook al sy hand aan ’n teks gewaag: Hy skryf Onweer met Abigail Mei, is die regisseur en speel daarin in 2018 by die Baxter-teater en in 2019 by die Woordfees. Hy skryf en speel in die kort monoloog Weg (Away) in 2021, met Andrew Buckland in die regisseurstoel.

Carlo se voorsmakie van die professionele vermaakwêreld het al kleintyd begin, maar het ook saam met die suksesvolle Madame Zingara se toere met Clowns without Borders SA regtig begin posvat. Hy sê op professionele vlak was dit beslis met David Kramer se Some like it vrot op die Baxter se verhoog.

Ek het het ’n aantal vrae aan Carlo Daniels gevra.

Praat jy van meer Afrikaans as Afrikaaps of omgekeerd, en hoe moeilik was dit om die teks te bemeester?

Met hierdie teks het ek nou ’n balans gevind met die Afrikaans/Afrikaaps, wat dit so half een maak. Aan die begin was dit nogal ’n bietjie moeilik met sekere poëtiese dele en woorde wat ek nie gewoonlik gebruik nie, maar met werk begin mens dit te geniet, dit te proe en ook om prente te skep van die skrywer se intensies en dan ’n nuwe mens te begin skep deur die woorde, deur my in te leef in die teks

Vertel my van die belangrikheid van die musiek deur Gertjie Besselsen. Hoeveel dra dit by tot die stuk?

Gertjie en sy musiek is baie belangrik vir hierdie stuk, soos asem vir ’n liggaam. Hy is “live” en heeltemal betrokke in elke oomblik en omskep eintlik die “mood”, ritme en emosionele landskap van hierdie toneelstuk. So ons vat elke draai van die storie saam.

Die regisseur is Sjaka Septembir. Is dit die eerste maal dat jy saam met hom werk, en wat geniet jy aan sy benadering?

Ek, Sjaka en Gertjie kom nou al ’n lank pad saam, so ons weet al so half hoe almal werk, en so ons gooi net meestal – met “gooi” bedoel ek speel, probeer alles op die vloer, werk hard, lag ens. So dis altyd baie cool om saam met Sjaka te werk. Daar is tyd vir alles, en die beste van als is dis die tipe teater waarvan ons hou, en op daai vlak het ons baie gemeen.

By hoeveel van dié storie van die oujongkêrel vind jy aanklank? Is jy self enkellopend?

 Nee, ek is nie enkellopend nie (lol), maar hierdie storie is vir my ’n “human story”. Dit gaan oor in beheer wees van klein goedjies, oor die perfekte beeld te skep in die oog van die publiek en die kontras daarvan in jou private lewe. Dit gaan ook oor persoonlike en interne gevegte, onder andere. So ek vind baie aanklank by Booysen, die oujongkêrel.

Watter genot en uitdagings vind jy in Kafka se werk?

Kafka se werk vat ’n baie sterk verbeelding. Dis ook fisies. Ek weet Kafka is ’n skrywer, maar om sy werk op die teatervloer te sit, vat dit baie sterk transformasie en dit kan uitdagend wees vir die akteur en die hele kreatiewe span, maar dis ook die geskenk van sy werk.

Hoekom is hierdie stuk nou weer reg om afgestof te word, en hoe pas dit in die Suid-Afrikaanse konteks?

Die stuk is baie opwindend. Dit verdien sy plek op die verhoog; dit gryp die verbeelding aan, maar dit handel ook oor temas van armoede, klas en baie ander aspekte van die lewe binne in ’n sisteem.

Wat geniet jy aan die stuk?

Ek geniet dit baie om weer met hierdie span te werk en hoe ons ons doelwitte benader. Ek geniet ook baie die Kafka-storie en die karakter en alles wat gebeur in die verhaal – daar is baie pret en diepte.

Watter uitdagings het die stuk vir jou ingehou?

Die uitdagings is definitief dat ek die enigste akteur is en die stuk is baie fisies, maar dis die uitdagings wat die pret is van die hele “set-up”. So as ’n kreatiewe mens dink ek dat die set-up ons almal eintlik ’n uitdaging gee, soos ’n wiskundige ’n goeie som soek om uit te werk.

Waar kan lesers dit ná die Suidoosterfees sien?

Ons hoop om dit na Suidoosterfees by ander feeste te doen en ook dalk ’n volle “run” in een van die groot teaters, maar vir nou fokus ons op Suidoosterfees en sien uit daarna. Dis lekker as mense eers die werk sien, dan gebeur dinge makliker. So ek sal sê hierdie fase is nou baie exciting. Ons het die stuk in Covid-tye geskep en net een keer vir ’n klein gehoor gespeel, so dis Die uitweg se eerste keer om regtig sy lyf te strek.

Is jy in jou element in solostukke, of geniet jy groter ensembles meer?

Ek is in my element, alhoewel ek beide solowerk en groter ensembles geniet. Dis albei uitdagend, om verskeie redes, maar albei vat baie “skill” en dissipline.

Waar voel jy meer tuis: meer fisieke teater, meer komedie, meer donker drama?

Ek voel definitief meer tuis in fisieke teater – ek hou daarvan om met my volle lyf te werk in storievertelling, en glo ook dat mens baie sê sonder woorde. Fisieke teater is perfek vir my, maar ek geniet ook ’n goeie teks.

Het jy ’n gunsteling tussen die verhoog, die kassie of die groot skerm?

My gunsteling is definitief die verhoog, alhoewel die kassie ook uitdagend is – dis ’n ander stylspel. As ek moet kies, dan sonder twyfel die teater.

Waarvan droom jy vir die toekoms – wil jy meer skryf, dalk regie?

Ek wil graag teater maak. So om ’n volle en voltydse teatermaker te kan wees, so in ’n professionele “setting”, dit is die droom.

 Wat geniet jy aan die Suidoosterfees? Meer as ander feeste, en hoekom?

 Suidoosterfees het net regtig ’n lekker “vibe”. Ek is basies elke jaar daar – die program is vol baie goeie opsies, alles is baie naby aan mekaar, ek sien en “chill” altyd met vriende wat teater liefhet ... dis net lekker. Ook die kos – daar is altyd lekker goedjies.

Watter rol hoop jy kom oor jou pad en hoekom?

Watter rol? Mmm ... Ek dink enige rol wat vir my interessant is, uitdagend, goed geskryf, onder goeie regie. Ek hou van stories wat transformasie aanmoedig.

Waaraan werk jy vir die volgende paar maande en waarin kan lesers jou binnekort sien?

Ek sal oor die volgende paar maande ook optree by die Baxter-teater in La ronde, en in Feedback, geskryf en directed deur Andrew Buckland.

  • Die uitweg speel in die ATKV-Repteater op 1 Mei om 20:00, 2 Mei om 09:00 en 3 Mei om 14:30. Die vertoning duur 60 minute en kaartjies kos R150.

Foto’s: Verskaf

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top