
Piet Grobler, Nicol Stassen en Catrina Wessels by die 2025 Bologna Kinderboekbeurs (foto: verskaf)
“Dit is suiwer geluk,” antwoord die legendariese uitgewer Christopher MacLehose op die vraag oor hoe ’n mens te werk gaan om ’n boek uit te gee wat ’n kontemporêre klassieke werk word. Dit word gesê tydens ’n paneelbespreking by die 2025 Bologna Kinderboekbeurs oor die kuns van boeke uitgee en die saamstel van ’n uitstekende publikasielys. MacLehose is bekend as ’n baanbrekersuitgewer van Amerikaanse en vertaalde fiksie in die Verenigde Koninkryk en het tydens sy roemryke loopbaan onder meer die megaverkoper – ’n mens wil amper sê uitgewersfenomeen – Stieg Larsson se Millennium-reeks aan die Engelstalige wêreld bekendgestel.
Die Bologna Kinderboekbeurs het vanjaar van 31 Maart tot 3 April in Bologna, Italië, plaasgevind. Dit het in die eerste plek ’n fokus op kinderboeke van oor die wêreld en die koop en verkoop van publikasieregte daarvoor, maar die beurs se strekwydte is uitgebrei na boeke vir die volwassenemark, asook na die vervaardiging van films, reekse en videospeletjies wat op boeke gebaseer is.
........
Behalwe gereëlde afsprake is die spontane ontmoetings pure wins by ’n boekebeurs. Die gesprekke met kollegas uit ander wêrelddele werp lig op die markomstandighede in die verskillende lande wat hier verteenwoordig is.
........
In kleurvolle en bedrywige sale is daar volop stalletjies vol boeke vir kinders, jong lesers en die grootmense wat die boeke vir hulle koop. Daar is ook tafels waar daar kopstukke oor boeke en boekregte gepraat word. Daar is uitstallings gewy aan geliefde kinderboekkarakters. Oral pryk dinamiese illustrasies van die wêreld se voorste illustreerders. Daar is ’n regtesentrum waarin literêre agente met uitgewers en ander rolspelers praat oor boeke wat hul mag interesseer. Laasgenoemde is waar ek my vir die grootste deel van die beurs bevind, maar ek maak ook tyd vir rondloop en dinge sien. Behalwe gereëlde afsprake is die spontane ontmoetings pure wins by ’n boekebeurs. Die gesprekke met kollegas uit ander wêrelddele werp lig op die markomstandighede in die verskillende lande wat hier verteenwoordig is.

By die 2025 Bologna Kinderboekbeurs (foto: verskaf)

By die 2025 Bologna Kinderboekbeurs (foto’s: verskaf)
Uitgewerskollegas uit Oekraïne vertel dat die Russiese inval die uitgewersbedryf aanvanklik op praktiese maniere geknou het, aangesien die land se drukkersfasiliteite deur die inval beskadig of vernietig is. Waar die drukkers eens meestal in die Kharkiv-omgewing geleë was, het dié gebied onder erge bombardement deurgeloop en het drukkers na die suide van die land geskuif en gaan hulle nou volstoom voort met die uitgee van boeke in die Oekraïense taal – waarvoor daar hernude, groot aanvraag en groei in die mark is.
In Griekeland is die uitgewers volop en die lesersmark klein, wat tot ’n uiters kompeterende mark lei. Die Griekse Uitgewersvereniging het byvoorbeeld oor die 200 lede – ’n hoë getal in ’n land met ’n bevolking van ongeveer 10 miljoen mense van wie slegs 120 000 meer as 10 boeke per jaar lees, vertel hulle. In vergelyking hiermee het die Suid-Afrikaanse Uitgewersvereniging 127 lede in ’n land met ’n veel groter bevolking, maar helaas ook nie ’n sterk leeskultuur nie.
’n Uitgewerskollega uit Spanje sê dit gaan goed in hulle mark. In Suid-Korea se boekemark gaan dit ook voorspoedig. Die Koreaanse prenteboeke is altyd baie gewild, maar daar is veral opmerklike groei in die mark vir boeke vir jong volwassenes.
........
Daar is ’n verblydende oopheid en belangstelling om meer oor Suid-Afrikaanse letterkunde te hoor.
........
Daar is ’n verblydende oopheid en belangstelling om meer oor Suid-Afrikaanse letterkunde te hoor. Die Albanese uitgewer Ombra GVG is besonder entoesiasties daaroor. Volgens die uitgewer Vasilika Tafa hoef Afrikaanse spanningsfiksie nie terug te staan vir die groot misdaadromans uit Brittanje en Amerika nie. Die Afrikaanse spanningsromans wat hulle reeds in vertaling uitgegee het, soos dié van Irma Venter en Martin Steyn, het ’n waarderende gehoor bereik.
’n Fokus van die Bologna Kinderboekbeurs is om gesprekke en geleenthede te bevorder vir die verwerkings van kinderboeke na televisie, film en videospeletjies. Boeke wat ’n ryk verbeelde wêreld skets, vol intrige is en ’n lojale aanhang het, is waardevol vir media en formate wat op die onderliggende werk kan steun.
Daarom het buitelandse uitgewers en ook vervaardigers van film, televisie en videospeletjies byvoorbeeld belang gestel om meer te hoor oor die wêreld van Jungu Josh, ’n avontuurreeks deur Constant van Graan wat in ’n magiese vallei in Oos-Afrika afspeel en waarin die hooffiguur Josh ’n uitsonderlike en boeiende reis moet onderneem op soek na sy ma en na die waarheid oor sy identiteit. Lesers van hierdie reeks word boonop verwys na ’n webwerf met karaktersketse, ’n totemdiertoets, ’n kaart van die vallei waar die reeks afspeel, en selfs ’n woordeboek van die Maganitaal wat hulle vertroud maak met die taal wat in hierdie fiktiewe wêreld gepraat word. Die eerste podsending oor die Jungu Josh-reeks is pas vrygestel. Dit word ’n totale interaktiewe ervaring.

Buitelandse uitgewers en ook vervaardigers van film, televisie en videospeletjies het belang gestel om meer te hoor oor die wêreld van Jungu Josh, ’n avontuurreeks deur Constant van Graan wat in ’n magiese vallei in Oos-Afrika afspeel. (Foto: verskaf)
In ’n wêreld van verkorte aandagspanne en strawwe mededinging van ander media, moet die boek deesdae sy plek kan vol staan en die leser op vele vlakke boei.
The Bookseller berig oor die leeskrisis wat die wêreld in die gesig staar en waarsku dat die uitgewersbedryf planne behoort te maak om hierdie uitdaging die hoof te bied. Al hoe minder mense lees vir plesier. In die lig hiervan meld die Hachette-kinderboekgroep in dieselfde artikel dat hulle vanjaar sterker fokus op titels wat minder op teks en meer op illustrasies steun. Die meer visuele aanslag vir beginnerlesers help dalk net dat die leesgogga tog byt.
.......
In ’n wêreld van verkorte aandagspanne en strawwe mededinging van ander media, moet die boek deesdae sy plek kan vol staan en die leser op vele vlakke boei.
.......
Imagnary House, ’n boetiekuitgewery van Kaapstad, bekoor met hulle prenteboeke tot so ’n mate dat hulle op die openingsaand van die beurs bekroon is met die gesogte BOP-prys vir die beste kinderboekuitgewer uit Afrika. Ek juig saam toe ek vir Alison Harris raakloop met die prys in haar hand. Hoewel Harris en haar man dié klein uitgewery tans nog deeltyds bestuur, het dit hulle nie gekeer om met die louere weg te stap by die prystoekenningsfunksie van die grootste kinderboekbeurs in die wêreld nie. Dit is ’n trotse oomblik vir hulle en vir die Suid-Afrikaanse uitgewersbedryf, waarin dié uitgewery ’n klein, maar dinamiese rolspeler is.
“While publishing is not an easy business, and rarely a commercially rewarding one, this award shows us once again that good stories can have an enormous impact, and that there are incredible humans in every country telling good stories,” sê hulle onder meer op Instagram.
En dit is inderdaad so, besef ’n mens opnuut in die gange van die Bologna Fiere tydens hierdie besonderse jaarlikse saamtrek.
Lees ook:
Die publikasie van Afrikaanse kinder- en jeugboeke in die 21ste eeu
Philip de Vos en Piet Grobler gesels oor Tokkelossiebossie en ander dol gedoentes
Afrikaanse jeugboeke vandag: ’n perspektief deur PRH/LAPA Uitgewers
Afrikaanse jeugboeke vandag: ’n perspektief deur NB-Uitgewers
SA Festival of Children’s Literature 2024: an interview with Darryl David
Press release: Open Book Festival and Book Lounge present Youth Fest 2025


Kommentaar
Dankie, ek moes eers gegoogle het!