
Beeld 50: Om ’n groot storie hard te slaan
Samesteller: Erika de Beer
Uitgewer: Jonathan Ball
ISBN: 9781776193684
’n Goeie koerant is ’n nasie in gesprek met homself, het die dramaturg en essayis Arthur Miller gesê.
Blaai deur Beeld 50 en dis ongeveer die eerste gedagte wat by jou opkom.
En om dan, ná die deurblaai, te begin léés!
Dan begin dit kakofonies in jou kop gons van al die gesprekke.
En miskien sou ’n mens se emosies nie so fulminant (donderend, bliksemend, sê die Groot Woordeboek) gewees het as dit nie was dat Beeld 14 dae ná sy 50ste verjaardag deel van die Groot Wegraping sou wees nie. As dit gebeur het volgens daardie blaps (en dít is ’n understatement) van ’n hantering van so ’n belangrike kwessie, sou dié dag op 30 September gewees het.
Om toe tog ’n grasietyd te kry.
Vir hoe lank?
Dit sal ons onbenullige sterflike wesens nou nie weet voordat die Groot Woord (weer) daar uit die Groot Hoogtes gespreek word nie.
Maar terug na die onderwerp van ’n boek wat veel, veel meer as ’n nostalgiese reis die verlede in is. Immers: Dis ’n nasie in gesprek met homself. En die leser vra ietwat verdwaas: Het dit sowaar alles in die bestek van 50 jaar gebeur?
............
Maar terug na die onderwerp van ’n boek wat veel, veel meer as ’n nostalgiese reis die verlede in is. Immers: Dis ’n nasie in gesprek met homself. En die leser vra ietwat verdwaas: Het dit sowaar alles in die bestek van 50 jaar gebeur?
..............
Want dis ’n kaleidoskoop van klank en kleur en kwelvrae. En, wel, natuurlik ook vele amperse kataklismes.
Volgens HAT is ’n kaleidoskoop ’n “silindervormige kyker” waarin “gekleurde voorwerpies, veral stukkies glas, weerkaats word deur drie glasspieëls wat op hoeke van 60° teen mekaar staan en tallose fraai, stervormige figure vertoon wanneer die los voorwerpies by die geringste beweging telkens verskuif”.
Wel, hier is nie sprake van fraai voorwerpies nie. Hoewel, sommige kan dalk as fraai beskryf word. Veel eerder is dit ’n beeld van ’n bloederige geboorteproses van ’n land wat homself oor 50 jaar “herverbeel” het. (Om ’n onlangse werkwoord te gebruik – want, ja, akademikaans was ter sprake.)
Eerstens, geluk aan Erika de Beer en al haar medewerkers, veral daardie onvolprese en so formidabele Argivaris van die Noorde, Leonie Klootwyk. Lank mag sy lewe, want sowat van ’n institusionele geheue bestaan lankal nie meer by Media24 nie. En is ook met geen bedrag ter wêreld te koop nie. ’n Mens hoop die megamediabase besef die waarde van so ’n werknemer in ’n maatskappy waar die waarde van sy swoegende werkers in die soutmyne skynbaar nie juis na waarde geskat word nie.
...........
Beeld 50, op sy baadjie getakseer, is ’n lieflike koffietafelboek, keurig verpak en uitgegee.
Maar sy inhoud is waaroor dit gaan. En dit is, eenvoudig gestel, ’n tydsdokument van formaat.
............
Beeld 50, op sy baadjie getakseer, is ’n lieflike koffietafelboek, keurig verpak en uitgegee.
Maar sy inhoud is waaroor dit gaan. En dit is, eenvoudig gestel, ’n tydsdokument van formaat. Dis ’n Zeitzeugnis deur Zeitzeugen wat dáár was. Van waar die skote geklap het tot waar prinsesse sterf en die koninginne en konings van die sportveld gekroon word. Want hiér word die stories hard geslaan.
Terselfdertyd, soos jy deur die vyf dekades lees, vra jy jouself: Regtig? Het al daardie dinge regtig gebeur?
En hoe is daardie gróót stories nie hárd geslaan nie. Die Soweto-opstand van 1976 as voorbeeld. Jan Hamman se foto (bl 24) vertel dit eintlik alles: Twee jeugdiges, knielend met hul arms omhoog, vredestekens in die lug, met polisiemanne wat op hulle aanlê. Daardie foto het die kategorie Nuusfoto van die Jaar gewen (die feit is nie vermeld nie).
Onthou die raaiselagtige moorde op Robert en Jeanne Smit in 1977? Met die gespuitverfde RAU TEM teen die mure en yskas? Daar word vermoed hy sou met die hele vrot mandjie patats wat uiteindelik die Inligtingskandaal geword het, vorendag gekom het. Dus ’n inside job. Steeds onopgeklaar. Watter mense in watter hoë posisies het almal daarvan geweet en gekeer dat die waarheid uitkom?
Onthou die moord op Johan Heyns, oudmoderator van die NG Kerk? Met ’n enkele skoot uit ’n .303-geweer deur ’n oop venster terwyl hy met sy kleinkinders kaart gespeel het? Dit was 1994. Suid-Afrika se goue jaar, die jaar toe ons almal met soveel hoop in ons harte in lang toue gestaan het in die geliefde land se eerste demokratiese verkiesing. Daar word vermoed dat Heyns se standpunt teen apartheid, gegrond op die Afrikaner se heiligste skrif, die Bybel, waarskynlik die motief was. Ook ’n moord wat steeds onopgeklaar is. Weer: Watter mense in watter hoë posisies het almal daarvan geweet en het gekeer dat die waarheid uitkom?
En dan is daar die konglomerasies van regs, verder regs en verste regs onder wit Afrikaanses. Daar’s Andries Treurnicht, wat sy Konserwatiewe Party in die ongelukkige Skilpadsaal gestig het en toe, vanselfsprekend, in al wat spotprent was, sinoniem met die arme skilpad geword het. Skilpaaie verdien beter.
Onthou die Wenkommando? Die Wit Wolf? Die Boeremag? Moet tog nie vergeet nie: Die AWB en sy Eugène Terre’Blanche. Van wie ons vandag, helaas, die stukkende onderbroek onthou. Ook dat hy nie ’n wafferse ruiter was nie. En toe die onderhandelinge vir ’n nuwe Suid-Afrika in die World Trade Centre in Kempton Park aan die gang was, het hy en “’n see van AWB-vlae en ondersteuners” voor die gebou versamel. Constand Viljoen, toe van die Afrikaner Volksfront, het aan ’n Beeld-joernalis gesê: “Moenie bang wees nie, hulle het my die versekering gegee dat hulle nie moeilikheid gaan maak nie, net gaan betoog en raas.”
Maar hulle het ander planne gehad. “Gillend en juigend” het hulle op die gebou afgestorm. “’n Dawerende gejuig het opgeklink toe ’n pantsermotor met die swartgeklede leier, Eugène Terre’Blanche, aanhou ry totdat die dik glas in duisende stukke gespat het. ’n Reën van glassplinters het oor my en Viljoen neergesak,” het die joernalis geskryf. Die joernalis onthou: “Die generaal het net sy kop in sy hande laat sak en geprewel: ’O my g**, daar doen hulle dit toe wragtag.’”
En wie onthou hoe ’n koerant – in hierdie geval ’n hele koerantgroep, nie net Beeld nie – karaktermoord op ’n onskuldige kon pleeg?
Waaroor gaan dit? Hein Grosskopf, seun van Beeld se tweede redakteur, Johannes Grosskopf, is as “Afrikaner-terroris” gebrandmerk ná bomaanvalle in 1988, spesifiek een waarin 87 mense beseer is. Op die volgende dag se Beeld-voorblad word selfs die “vier gesigte” (oftewel “vermommings”) van die “Afrikaner-terroris” gewys. Nog ’n opskrif op die voorblad lui dat die “Bom-man” “’n seun uit Linden” is.
Daar is later voor die Waarheid-en-versoeningskommissie getuig dat hy nie vir dié spesifieke aanvalle verantwoordelik was nie, wel vir een waarin ’n 17-jarige meisie ’n oog verloor het. Daarvoor het hy amnestie gekry.
En natuurlik: PW en sy ewige wysvinger wat net sowel ’n middelvinger vir die media kon gewees het. In 1988 het hy die pers onder meer beskryf as “lunsrieme wat tekere gaan asof hulle op hitte is”. (Moeilike metafoor, daai.) In ’n hoofartikel is gereageer: “Dit kom daarop neer dat iemand wat so kan praat en ander swartsmeer, ’n baie goeie kennis moet hê van wat ’n lunsriem is.” Botha het nooit daarop gereageer nie. (’n Lunsriem is volgens die HAT ’n riem wat deur ’n gaatjie in ’n luns gesteek word om te keer dat dit uitval; ’n luns is ’n ysterpen wat deur ’n gat in die as van ’n wiel gesteek word om te keer dat die wiel uitval. Figuurlik gesproke is ’n lunsriem “’n vuil, smerige persoon”; regte lunsrieme het waarskynlik vuil en smerig van al die ghries en stof geword.)
Daar’s nog talle vinjette wat aangehaal kan word. Dis immers vyf dekades uit wat terselfdertyd ook een van ons eerste Afrikaanse “red tops” was. In hierdie geval het die inhoud van die “red top” – die naam wat die Britse skinderpers met hul rooi mashoofde verwerf het – gewissel tussen ernstig en ’n besliste “paper of record”, en, wel, “soms stout, maar nooit vervelig nie” – die woorde van een van Beeld se redakteurs.
Tragedies en triomfe – Beeld was daar, die ou klomp “lunsrieme” en al.
Gedenk ook die balanseertoertjie op daardie dun lyn van te ver voor loop sodat jy jou leser verloor, of op so ’n manier dat jy hulle met jou saamneem. Soos die hervormingsjoernalis, Beeld-redakteur, uitvoerende hoof van Naspers, en later nie-uitvoerende voorsitter van die direksie, Ton Vosloo, dit gestel het: “Jy moet jou lesers met jou saamvat, en ons het ons verligte lesers saamgevat.”
Beeld 50 is ’n blik op die ágterkant van daardie fassinerende tapisserie van die lewe wat ses dae van die week, blad vir blad, van die voorblad tot die sportblad, geweef is. Daar waar die knope, letterlik en figuurlik – gemaak word om uiteindelik die koerant van die dag te vorm. Vandag: Of dit knope is vir ’n gedrukte koerant of ’n digitale koerant.
...........
Beeld 50 is ’n blik op die ágterkant van daardie fassinerende tapisserie van die lewe wat ses dae van die week, blad vir blad, van die voorblad tot die sportblad, geweef is. Daar waar die knope, letterlik en figuurlik – gemaak word om uiteindelik die koerant van die dag te vorm. Vandag: Of dit knope is vir ’n gedrukte koerant of ’n digitale koerant.
............
Daar is die agter-die-skerms-verhale deur Zeitzeugen wat dit soms letterlik aan hul lyf gevoel het. Geskryf deur woordsmede wat hul vak ken. Die leemte is dat daar minder stories uit die eerste storm-en-drang-jare is. Maar ja, dis 50 jaar later. Daar is veel minder van daardie oudstryders oor.
Ook spotprente – daardie onmisbare element van ’n koerant wat ’n “paper of record” wil wees – het genoeg aandag in Beeld se gedenkblad gekry. Die mees aangrypende een is sonder twyfel Orin Scott s’n ná die moord op Chris Hani (bl 62): die punt van ’n wapen wat ’n gat in die hart van Suid-Afrika skiet, die bloed druppend uit die wond. Hani, met sy charisma, sjarme, intellek en leierskap, kon ’n volgende president gewees het. En wie weet hoe Suid-Afrika onder dié begaafde man sou geblom het? Al was hy ’n “Kommunis” – let op die aanhalingstekens. Miskien moet ’n mens maar net sê genadiglik het die ingryping van Mandela met sy TV-verskyning daardie tyd, toe nog nie eens president nie, ’n bloedbad voorkom. Maar die tragedie en die verlies bly.
Daar is ook ander bydraes, terugflitse, wat soos ’n angsaanval en posttraumatiese-stres-aanval gelyktydig jou hart vasgryp: Daardie ses meisies tussen 12 en 14 jaar oud wat in 1990 die slagoffers van Gert van Rooyen en Joey Haarhoff geword het, van wie tot vandag geen spoor gekry is nie. Ondanks die feit dat Van Rooyen se hele erf opgegrawe is. Én sy huis platgestoot is. Wat het van daardie kinders geword? Wat moes hul ouers oor al hierdie jare verduur, en verduur hulle steeds?
Steeds weet ons nie wanneer die Dag van die Groot Wegraping gaan gebeur nie. Die stilte wat daaroor heers, is onheilspellend. Ten minstens weet ons darem nou die joernaliste gaan nie hul werk verloor nie, maar wat van hul kamerade wat nie aan die skryfkant van ’n publikasie is nie?
En die argument gaan nie oor druk nie. Druk is dood, maar lank lewe die koerant. Ons klomp wat onsself joernaliste noem, het drukkersink én digitale ink in ons are. Ons lewe in ’n digitale, alles nóú tyd, alles, onmiddellik, onder die punte van ons vingers.
............
En die argument gaan nie oor druk nie. Druk is dood, maar lank lewe die koerant. Ons klomp wat onsself joernaliste noem, het drukkersink én digitale ink in ons are. Ons lewe in ’n digitale, alles nóú tyd, alles, onmiddellik, onder die punte van ons vingers.
............
Daarom dat erfenistitels soos Beeld, Rapport, Volksblad en City Press, en natuurlik ook Die Burger, as digitale handelsmerke moet bly voortbestaan en nie onder ’n generiese mashoof ingedruk moet word nie. Digitale argitektuur kan tog maklik vir elke titel sy eie identiteit skep om mee weg te trek op die landingsblad, nie weggesteek iewers ver ondertoe om by “jou” titel te kom nie. Ook ’n pleidooi aan die baas der base: Die pdf-weergawes, ook, ’seblief.
Kyk maar na die argitektuur van byvoorbeeld The Guardian in Brittanje. Dit is hoe ’n digitale koerant moet lyk. En met die slim internet gaan jou digitale voetspoor dadelik opgetel word om te weet of jy in die Noorde, of in die Wes-Kaap sit, en watter titel eerste vir jou moet dagsê. Vóórdat jy die netwerk van vermaak tref. (Of dit jou.) Sodat die titels se lesersgemeenskappe – dit waarsonder die titels nie oor soveel dekades kon bestaan het nie – onmiddellik sal weet dis “ons” blad, “ons” nuus, “ons” gemeenskappe.
Die vorige redakteur van The Guardian, Alan Rushbridger, het in sy Breaking news: The remaking of journalism and why it matters now geskryf hoe hulle hul lesers – wat ook van “our Guardian” praat – oor die digitale brug gelei het. Én hoe hulle gegroei het.
Hoekom dan “ons” blaaie (lees: “ons” handelsmerke”) opoffer vir ’n generiese netwerk? Net omdat megamediamagnate dit so wil hê?
Dis nie ’n troos dat “ons” blaaie ’n etiket (“tag”) bo-aan die landingsblad het nie. Dit lyk en voel nie soos “jou” koerant nie. Gee elke streek sy Beeld24, Volksblad24, Burger24, Rapport24. Ja, wel, onder die Netwerk24-sambreel. As volwaardige digitale koerante, soos die New York Times en The Guardian. Wat nie net die eerste “rough draft of history” verteenwoordig nie, maar in alle opsigte die “paper of record” – trots digitaal. Maar steeds Beeld, of Die Burger, of City Press.
Die Naspers-groep het ’n historiese skuld – of dit nou geweet wil word of nie – teenoor Media24. En dit is die laaste gedagte wat by ’n mens opkom as jy Dana Snyman se stuk waarmee die boek afsluit, oor die pad wat hy geloop het met sy koerant, gelees het.
Dis amper 200 bladsye wat die geboorte van ’n demokratiese Suid-Afrika met woord en beeld uit-Beeld. Dis danksy al daardie lesers wat so getrou aan hul handelsmerk was en is dat die Naspers-groep elke tegnologiegolf kon ry. Wat kan dit tog kos om ’n volwaardige produk vir elk van sy handelsmerke te skep as deel van die netwerk wat alles vir almal belowe?
- Lizette Rabe is professor emeritus aan die Universiteit Stellenbosch en ’n mediahistorikus, maar beskou haarself boweal as joernalis.
Lees ook:
Afrikaanse koerante het lank gelei en mislei, nou is dit tyd vir vorentoe kyk
Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Oor die toekoms van die geskrewe en gedrukte woord in Afrikaans

