
In die lig van die ingrypende verandering in die landskap van Media24 se koerante wat aangekondig is, raak die vreemde lotgevalle van die jubileumboek Naspers 100: Kroniek van ’n maatskappy, sy mense, sy land en sy wêreld opnuut relevant, selfs insiggewend.
Kroniek was bedoel as ’n amptelike geskiedenis van Naspers om sy 100ste verjaardag in 2015 te vier, maar is weens interne botsings toe nooit gepubliseer nie.
Nege jaar lank vergaar die historiese boek – breinkind van Ton Vosloo en pennevrug van Lizette Rabe – nou al stof. Dit is agter stewige slot en grendel, en die sleutel is in die hand van Koos Bekker, die man in Naspers se voorsitterstoel. Dit is Bekker wat teen Vosloo se grein in publikasie geveto het – en in sy weerstand volhard.
Vosloo, oudvoorsitter en dinamo agter die boek, en opvolger Bekker, wat onder sy voorganger se beskutting vir die maatskappy ongekende rykdomme ontsluit het, het jare as bondgenote in gelid saamgestap. Oor die boek bots die twee bulle egter kop teen kop.
So ongelukkig is Vosloo oor die boek se lot dat hy al die ongewone gedoen het om ’n openbare pleidooi om ’n hartsverandering tot sy protégé te rig. Dit was vrugteloos. Die status van Naspers 100: Kroniek van ’n maatskappy, sy mense, sy land en sy wêreld bly dus onveranderd; dit is ’n geslote boek en gaan klaarblyklik geslote bly solank dit Bekker behaag – of totdat iemand ’n plan prakseer om die huidige toerniketwurggreep te omseil.
Maar die troefkaart is in Bekker se hande. Kopiereg berus by Naspers – in ’n klousule, ironies genoeg, op inisiatief van Vosloo in die kontrak ingeskryf.
Oor die vreemde verloop van die sage rondom die niepublikasie van ’n troetelprojek op sy laaste skof skryf Vosloo self openhartig in sy memoires, Oor grense (Jonathan Ball, 2018). Die feesboekturksvy word onder meer ook insiggewend in Ebbe Dommisse se Fortuine. Die wel en wee van Afrikaner-magnate (Jonathan Ball, 2021) en TJ Strydom se Koos Bekker’s billions (Penguin Random House, 2022) aangesny. Hulle sien sake redelik eenders.
Naspers se geskiedenis oor 100 jaar se intieme saamleef met die Suid-Afrikaanse hartklop moet fassinerende inligting ontsluit. In dié stadium weet egter net Rabe, Vosloo en Bekker (en dalk ’n paar ander) wat in die feesboek staan. Nie een praat uit oor die inhoud nie.
Bekker maak egter geen geheim van sy mening nie: dat die boek se aanpak na sy mening te eng is. Aan Dommisse het hy dit so gestel: “Ek meen die gebeure word geskets bloot uit ’n Afrikaner-perspektief, terwyl daar later verskeie strome by die Naspers-rivier aangesluit het wat nie uit die Afrikaner-bron van 1915 ontspring het nie.”
Die woorde bevestig wat die kardinale geskilpunt klaarblyklik is: die boek se openhartige terugblik op die koppeling van die maatskappy se koerante met Afrikaner-nasionalisme van sy stigting af. Die Burger en Die Volksblad het albei ’n lang geskiedenis as amptelike mondstukke en bondgenote van die Nasionale Party. Die Beeld, Rapport en Beeld se bande was losser, maar was tog in mindere of meerdere mate in dieselfde dampkring.
Die eerste spitwerk vir die boek is vier jaar voor die eeufees in 2015 gedoen. Vosloo, toe uitvoerende voorsitter en ’n man met ’n hart vir dié soort sake, is in 2011 met ’n voorstel na die direksie dat Rabe, hoogleraar en hoof van die Departement Joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch (ook ’n oudredakteur van Sarie), die ambisieuse projek aanpak. Die direksie het ingestem. Vosloo se idee was ’n gesaghebbende historiese werk in Afrikaans en Engels.
Die deeglike Rabe het vier jaar lank per kontrak met Naspers die geskiedenis omvattend nagevors en te boek gestel. Vosloo, self ’n oudjoernalis wat meer as 40 jaar se geskiedenis persoonlik meegemaak het (en heelwat van die geskiedenis self geskep het), was haar klankbord. Geen ander span as Vosloo en Rabe kon daardie rolle beter vertolk het nie.
Bekker was aanvanklik nie ongeneë vir ’n jubileumboek nie. Maar in 2014, op ’n sabbatsjaar aan die vooraand van sy aanvaarding van die nie-uitvoerende voorsitterskap (sy tweede sabbatsjaar by Naspers), het bedenkinge klaarblyklik by hom posgevat. Drie afgesante – almal “inkommers” in die Bekker-era van ná 1998 – is na Vosloo gestuur om hom te probeer swaai om weg te stap van die boekidee: Cobus Stofberg, ’n studentemaat van Bekker, later ’n vertroueling en mededirekteur van Naspers, Steve Pacak, finansiële direkteur, en Julian Kisbey-Green, maatskappysekretaris.
Geeneen van die drie kon aanspraak maak op ’n diepgaande kennis van die “ou” Naspers nie. Soos te verwagte kon wees, kon hulle nie by die gedugte Vosloo hond haaraf maak nie.
Bekker het egter nie die stryd gewonne gegee nie. Toe hy in 2015 met ’n nuwe hoed en die nodige gesag die tuig weer opneem, het hy sy voet dadelik dwars gesit. Hy stuit publikasie, het hy Vosloo luiters ingelig. Een rede vir die drastiese stap was, volgens Vosloo, Naspers se duisende swart werknemers. As die maatskappy se verlede van Afrikaner-nasionalisme opnuut oopgekrap sou word, sou hulle dit na Bekker se oordeel negatief beleef.
Dit sou ook die aandag van die ANC-regering onvriendelik op die maatskappy kon vestig. Gereguleerde besighede, soos die MultiChoice-groep se geldkraan in sub-Sahara-Afrika, DStv, en digitale ondernemings, kon in die gedrang kom, het Bekker, aldus Vosloo, gevrees. Vosloo het vasgeskop. Bekker se standpunt is verkeerd en sy vrese oordrewe, het hy betoog. Naspers se herkoms is algemene kennis. Maar so ook die hervormings wat die maatskappy van 1984 af in eie geledere teweeg gebring het, asook sy “gewillige en hoopvolle inskakeling” by die nuwe, demokratiese Suid-Afrika. Niks kon Bekker egter oortuig nie, en Vosloo se hande was afgekap.
In Februarie 2016, ’n jaar ná die eeufees, het Vosloo Naspers ná ’n uitmuntende loopbaan as redakteur, besturende direkteur en uitvoerende voorsitter gegroet. Sy afskeid was ’n glansryke dinee in die koloniale Mount Nelson-hotel aan die voet van Tafelberg. Met die gaste se aankoms is deftige dasse, strikdasse en serpe met afbeeldings van spesiale koerantvoorblaaie aan hulle uitgedeel – ’n ironiese weerspieëling van juis daardie historiese bagasie wat Bekker so ongemaklik maak. Van die mans het, aandpak ofte nie, net daar hul formele dasse met die nuwes vervang. Of Bekker die voorbeeld gevolg het, het ek ongelukkig nie opgelet nie.
In sy gemoedelike afskeidstoespraak het Vosloo die slepende warm patat versigtig geopper. Sy beroep op sy opvolger om sy teenkanting te laat vaar, het geen kik uitgelok nie. Ná die toespraak het Vosloo na Bekker oorgestap en ’n geselsie aangeknoop. Het hy hom in die verleentheid gestel met die beroep om ’n groen lig? wou Vosloo hoflik weet. Nee, het die enigmatiese Bekker geantwoord – en net geglimlag.
“Ek respekteer sowel Ton as Lizette en werk al jare lekker met albei. Oor die boek wat Lizette as ’n ‘amptelike geskiedenis’ van die maatskappy wou publiseer, verskil ons egter beleefd,” het hy in 2019 aan Dommisse gesê. Hy noem dat Naspers besighede (groot en klein) in 120 lande het.
Kan die boek wel nog gepubliseer word? Bestaan so ’n kans? Strydom is in sy boek hieroor nie positief nie. Hy stapel trouens die getuienis op oor hoe die “ou” geskiedenis van die Nasionale Pers vir Bekker maar altyd ’n lastige albatros was wat hy graag in sakebelang volledig sou wou afwerp.
Selfs van die naam Nasionale Pers sou hy in sy geheel weggestap het as die vorige direksie nie ’n stokkie daarvoor gesteek het en die huidige kompromie, Naspers, nie bereik is nie, meen Strydom.
My sienswyse stem ooreen met Strydom s’n. ’n Mens kan wel tog wonder of die kruispad wat die koerantwese nou bereik het, Bekker nie dalk tot ander insigte oor die historiese waarde kan bring nie. Die tafel is immers gedek vir so ’n soort boek, nou amper meer as met die eeufees.
As hy daarmee gaan volhard dat die boek tot elke prys onder die hoed gehou gaan word, wil ’n mens die hoop uitspreek dat ’n slim gaping gevind word om die Rabe-boek – al is dit ten minste vir ’n beperkte gehoor – verby die enigmatiese Bekker te smokkel.
Naskrif
Die maatskappy – voorheen die Nasionale Pers Bpk – is in 1915 uit die nood van Afrikaners ná die verwoestende Anglo-Boereoorlog (1899 tot 1902) gebore. Aanvanklik was Die Burger, “kind van smart en hoop”, sy enigste koerant – soos hy nou weer gaan word as die andersoortige Son buite rekening gelaat word.
Later het Die Volksblad, Beeld, Rapport, City Press en andere, asook tydskrifte en boeke gevolg. Op 12 September 1994 is die maatskappy as die Nasionale Pers op die Johannesburgse Effektebeurs genoteer. In 1998 het die naam Naspers geword. In 2001 het Die Volksblad gewoon Volksblad geword.
In 2000 is al Naspers se koerante, tydskrifte en uitgewerye – as’t ware die ganse ou Nasionale Pers – onder een sambreel geplaas: die nuwe entiteit Media24 wat nou in die beoogde herstrukturering afgetakel word. ’n Naelstring is behou na Naspers, wat ’n globale reus met hope vertakkings geword het.
**
Nota: Hennie van Deventer was uitvoerende hoof: koerante van die Nasionale Pers van 1992 tot 1997. Voorheen was hy redakteur van Die Volksblad. Vir die artikel is sterk gesteun op ’n hoofstuk uit sy jongste boek, Elke dag ’n mooi meisie en ’n moord, Naledi, 2023.
Lees ook:
Voorlopervroue in die Afrikaanse joernalistiek: Een eeu, drie baanbrekers, drie generasies


Kommentaar
Ek wonder ook wat het van Media24 se jaarlikse WA Hofmeyr-, Recht Malan-, Elisabeth Eybers-, MER- en Herman Charles Bosman-pryse geword. Sover ek kan aflei is dit laas in 2020 toegeken. Dalk is ek verkeerd, maar ek sien nêrens die name van die wenners en beoordelaars van 2021 tot 2024 nie. Ek hoop iemand kan vir my lig werp op hierdie saak.