ATKV-Crescendo is reeds vyftig jaar lank ’n talentontwikkelingsprojek vir opkomende liedjieskrywers en het kunstenaars soos Anneli van Rooyen, Karin Hougaard, Jodi Jantjies en Selby Williams se loopbane afgeskop.
Hier is nog agtergrondinligting van ATKV-Crescendo.
Om die vyftigste verjaardag van die projek te vier, is ’n vieringsgeleentheid op Vrydagaand die 29ste November 2024 by die Daisy Jones Bar in Stellenbosch aangebied. Rouel Beukes was een van die kunstenaars wat daardie aand opgetree het.
Rouel Beukes was een van die wenners van 1974 se ATKV-Crescendo-liedjieskryfprojek. Hy het die prys met Eoudia de Kock gedeel.
Rouel beantwoord Naomi Meyer se vrae oor sy lewe as kunstenaar en die jare sedert 1974 se liedere – tot vandag. Bowenal praat Rouel oor hoe belangrik dit is om aangemoedig te word.
Rouel, ek hoor jy was een van die twee eerste wenners van die ATKV-Crescendo-musiekprojek. Neem my terug na 1974. Wat onthou jy van daardie Crescendo-geleentheid? Wat was die inspirasie vir die liedjie wat jy ingeskryf het?
Ek kan nie veel onthou van daardie aand nie. Dit was 50 jaar gelede en die geheue is nie meer so vars nie. Ek onthou wel die geweldig groot trofee wat ek gewen het en hoe trots ek daarop was. Het nou nog ’n foto van myself met die trofee en dit hang nog teen my muur. In 1974 was daar nie baie Afrikaanse musiek nie. Die liedjies wat op almal se lippe was, was maar meestal FAK-liedjies en die motivering van Crescendo daardie tyd was juis om kunstenaars aan te moedig om meer Afrikaans te skryf en te sing.
............
In 1974 was daar nie baie Afrikaanse musiek nie. Die liedjies wat op almal se lippe was, was maar meestal FAK-liedjies en die motivering van Crescendo daardie tyd was juis om kunstenaars aan te moedig om meer Afrikaans te skryf en te sing.
..............
Ek het nog nooit self ’n liedjie geskryf nie en was maar aangewese om iets te sing wat by my stem gepas het en wat die beoordelaars sou beïndruk. So ver ek onthou, moes ons meer as een liedjie sing en ek dink die Afrikaanse liedjie wat ek gesing het, was "Was ek ’n sanger" van Fagan. Wat ek wel onthou, was dat ek spesiale toestemming gekry het om “If I were a rich man” uit Fiddler on the roof te sing, aangesien ek ’n klassieke bas was en daar net nie ligte Afrikaanse musiek vir sangers met ’n klassieke stemme was nie. Veral nie vir basse nie.
Wie was jy destyds en het jy van 'n jong ouderdom af graag gesing of liedjies geskryf?
Ek was destyds ’n aspirantonderwyser (eerste jaar) en het nie daaraan gedink dat ek ooit sang my loopbaan sou maak nie. Ek was wel geseënd met ’n stem, en my sangonderwyseres (Sarie Lamprecht) het besluit om ’n paar van haar leerlinge in te skryf, van wie ek een was. Ek praat onder korreksie, maar ek wil my verstout om te se die ATKV het haar gevra om leerlinge in te skryf.
............
Ek het geen musiekkennis gehad nie, kon geen instrument bespeel nie en was aangewese op begeleiers en repetiteurs. Ek kon egter sing, van kleins af. Ek het my heel eerste hoofrol in ’n operette (Repelsteeltjie), dit onthou ek, in graad 1 vertolk. Ek spot altyd en sê ek het singende (skreeuende) in die wêreld gekom.
..............
Ek het geen musiekkennis gehad nie, kon geen instrument bespeel nie en was aangewese op begeleiers en repetiteurs. Ek kon egter sing, van kleins af. Ek het my heel eerste hoofrol in ’n operette (Repelsteeltjie), dit onthou ek, in graad 1 vertolk. Ek spot altyd en sê ek het singende (skreeuende) in die wêreld gekom.
Wat het die Crescendo-projek vir jou musiekloopbaan beteken?
Ek dink nie Crescendo het enigsins iets vir my loopbaan as operasanger as sodanig beteken nie. Wat dit wel vir my beteken het, is dat daar kennis van my geneem is en ek aangemoedig is om aan meer klassieke sangkompetisies deel te neem, wat ek toe gewen het. Dit het my in staat gestel om oorsee te gaan studeer, en dit het die basis gelê van my sukses as nasionale asook internasionale sanger.
..........
Wat dit wel vir my beteken het, is dat daar kennis van my geneem is en ek aangemoedig is om aan meer klassieke sangkompetisies deel te neem, wat ek toe gewen het. Dit het my in staat gestel om oorsee te gaan studeer, en dit het die basis gelê van my sukses as nasionale asook internasionale sanger.
.............
Deel van my destydse prys as wenner van Crescendo was ’n platekontrak, maar ek het dit nooit ontvang nie, aangesien die platemaatskappy nie hulle weg oopgesien het om my stem op te neem op plaat nie en hulle gevoel het daar was nie ’n mark in die ligtemusiekgenre nie. Ek het wel later jare die ligtemusiekmark betree, aangesien daar toe baie meer Afrikaanse musiek met ’n klassieke basis beskikbaar was, en het ek 5 CD's opgeneem. Dit is op al die internetplatforms beskikbaar.
Lees ook:
Persverklaring en uitnodiging: Skryf in vir die ATKV se Crescendo-mentorskapprogram
ATKV-Crescendo op 50: ’n onderhoud met die projekorganiseerder, Morné van Staden
ATKV-Crescendo-feesviering: foto’s en video’s van dié goue geleentheid