
Morné van Staden (foto: Pierre van Niekerk)
Morné van Staden, projekorganiseerder van die ATKV-Crescendo, praat met Naomi Meyer oor hierdie goue projek wat vanjaar sy 50ste verjaardag vier.
Morné, jy is die projekorganiseerder van die ATKV-Crescendo. Die projek vier vanjaar sy 50ste verjaardag. Baie geluk daarmee. Wat was jou eie vroegste herinneringe aan die ATKV-Crescendo?
Naomi, dankie vir die gelukwense, namens die hele Crescendo-familie.
My eerste herinneringe van Crescendo was dat ek as kind die TV-program beleef het. Ek onthou baie duidelik “Lui lui telefoon” van Karin, en Anneli se “Sewe sakke sout” en “Seemeeu”, en ander. Ek het grootgeword met hierdie mense se klanke in my ouerhuis, en die dag toe ek as projekorganiseerder aangestel is, kon ek dit nie glo nie – in my wildste drome het ek nooit kon dink dat my lewenspad my hierheen sou lei, waar ek die werk van legendes kon voortsit en beleef nie.
Wat is jou agtergrond en betrokkenheid by die Crescendo-projek? Wat behels en beteken dit om die projek te organiseer?
Ek het oorspronklik in 2008 by die ATKV begin werk as mediaverkopebestuurder vir Taalgenoot en die destydse kindertydskrif Hoezit!. Ek is aangestel deur Marlize Leyden, wat deesdae die publisiteitsagent vir Crescendo is. In 2013 is ek aangestel as organiseerder van Crescendo-Kreatief, en in 2014 het ek die implementering van die omkeerstrategie van Crescendo behartig, en is sedertdien daagliks bedrywig met die projek – dis my verantwoordelikheid dat die projek die ATKV se strategiese doelwitte en visie behaal en uitleef en om te verseker dat dit relevant bly, toeganklik is vir alle Suid-Afrikaners en ’n positiewe en veilige hawe is waar ons liedjieskrywers help om hul talente te slyp en hul loopbane te vorm.
Ek het die voorreg gehad om een van die vieringsgeleenthede van die 50ste verjaardag by te woon en was onder die indruk van hoe divers en inklusief die kompetisie is. Daar is ruimte vir alle Afrikaanssprekendes in die tent. (Ek was verstom om te sien Randall Wicomb het die kompetisie drie keer na mekaar gewen, en ook beïndruk om te sien watter ander bekende name deur die jare op die ATKV-Crescendo-wennerslys opduik. Ek was ook aangenaam verras met die vars nuwe stemme wat ek kon aanhoor en die gehoor se reaksie op die nuwelinge, wie se liedjies duidelik reeds geliefde treffers is!) Wat was jou gedagtes oor die Afrikaanse liedjiewêreld toe jy die musiek aangehoor het wat nou die aand vertolk is? Waar was die projek, watter pad het dit gestap en waar is ons, Afrikaanssprekendes, nou?
In 2014 het ons die projek verander – weg van ’n kompetisieformaat na ’n opleiding-en-ontwikkeling-formaat. Daar bestaan genoeg kompetisies, en ons kan ’n baie groter impak maak deur aan mense ’n platform te bied waar ons hulle opleiding kan bied om hulle talente te slyp, maar ook om opleiding te bied wat hulle sal bemagtig om ’n loopbaan uit hul talente te maak. Ons het natuurlik ook stappe gedoen om ’n groter diverse Afrikaanse liedjieskrywersmark in te sluit – ons wil alle Afrikaanse dialekte aanhoor in musiek, ons wil Afrikaans in soveel genres moontlik verteenwoordig, en ons wil deur hierdie opleiding en ontwikkeling van ’n diverse verskeidenheid Afrikaanse liedjieskrywers ’n konstante positiewe bydrae lewer tot die Afrikaanse musiekmark.
.........
[O]ns wil alle Afrikaanse dialekte aanhoor in musiek, ons wil Afrikaans in soveel genres moontlik verteenwoordig, en ons wil deur hierdie opleiding en ontwikkeling van ’n diverse verskeidenheid Afrikaanse liedjieskrywers ’n konstante positiewe bydrae lewer tot die Afrikaanse musiekmark.
............
Tydens die GOUD-produksie was ek werklik trots op die werk wat oor die laaste tien jaar deur die hele Crescendo-span verrig is om hierdie doelstellings en ideale te bereik, maar die kombinasie van die oud en nuut en hoe naatloos dit saamgewerk het om ’n produksie van hoë gehalte aan gaste te bied, was sprekend van die goue hart wat in hierdie projek bestaan, reeds sedert die begin in 1974.
Is daar enkele musiekhoogtepunte wat jy kan uitlig – vorige wenners of finaliste waarvan jy wil melding maak?
Ek kan nie uitsonderings maak nie – ek kan slegs hoop dat die nuwe sterre ook huishoudelike name sal wees soos die legendes wat ons ken, en dat hulle musiek ook oor 50 jaar as huldeblyke in produksies sal verskyn. Ek is opreg trots op elkeen van die nuwe generasie finaliste wat werklik hard werk om goeie musiek te skep en goeie optredes te bied, en natuurlik hard werk aan hul loopbane – ek is opreg dankbaar aan elke persoon wat voor my die pad gestap het, hetsy kunstenaars/legendes of projekbestuurders, wat soveel mooi werk verrig het en uiteindelik ’n platform geskep het van waar ek verder op kan voortbou. Ek is altyd beïndruk met hoe mooi mense uit Crescendo met ander mense omgaan – elke liewe persoon met wie ek al te doen gekry het, was net ’n absolute plesier om mee saam te werk of selfs net mee te gesels.
Die projek word deesdae met ’n ander naam aangebied, is ek reg? Vertel asseblief vir ons lesers hiervan?
Ek het dit geërf as Crescendo-Kreatief – met die verskyning van al die groot TV-sangkompetisies het die ATKV die Crescendo-projek en die Liedjieslypskoolprojek saamgesmelt en as Crescendo-Kreatief aangebied, wat basies vir ligteliedjieskrywers bedoel was. In 2014 was dit my missie om Crescendo weer terug te bring, en in 2016 het ons die naam weer teruggeneem na ATKV-Crescendo, in die formaat waarin dit tans aangebied word. Tans is daar ander handelsmerke wat uit Crescendo gebore is, soos Platformsessies, wat ’n reeks produksies is wat ons jaarliks aanbied om aan finaliste die geleentheid te bied om die verhoog met bekendes te deel en ook hul stories te vertel – so ook Sit dit aan ... die amptelike bekendstellingskonsert van die top finaliste in Oktober elke jaar; en dan GOUD, die einde-van-die-jaar-konserte wat altyd ’n groot feesviering is.
Waarom is ’n projek soos die ATKV-Crescendo iets wat mense nog steeds kan opgewonde maak en kan prikkel – en ook baie belangrik is?
Indien mense van goeie musiek hou, en die nuwe kunstenaars en hul musiek wil ondersteun, en indien mense die skep van nuwe oorspronklike goeie-gehalte- Afrikaanse musiek ondersteun of wil ondersteun, is Crescendo die plek om dit te doen, en natuurlik as jy ook belangstel om te hoor hoe klink Afrikaans in ander variëteite en genres. Dink aan ’n plek waar jy elke jaar verseker is daarvan om ’n hele rits nuwe kunstenaars te beleef, en magdomme nuwe, goeie, lekker Afrikaanse musiek, en jy kan dit op een van die digitale musiekplatforms stroom, of na ’n produksie toe kom, of selfs op YouTube kyk.
Crescendo is belangrik, want dis die platform wat reeds 50 jaar bestaan om Afrikaanse musiek en kunstenaars te ondersteun. Dit is al vir 50 jaar die een platform wat mense se drome bewaarheid en wat al vir 50 jaar jaarliks verseker dat nuwe musiek en nuwe talent in die mark verskyn.
Lees ook:
ATKV-Crescendo-feesviering: foto’s en video’s van dié goue geleentheid