Anchien Troskie (1968–)

  • 0
Foto: Jonathan Ball

Sêgoed van Anchien Troskie

“Ek skryf vir niemand of niks nie behalwe my eie sanity! Lafras glo ek is rustiger sedert ek skryf, en hy en die kinders stel selfs voor dis tyd dat ma weer gaan sit en skryf.” (Rapport, 2 November 2008)

“Ek het ook altyd gesê ek gaan skryf en ook dat as ek begin skryf, ek nie gaan wroeg nie.” (By, 28 April 2012)

“Wanneer ek skryf, kry ek eers die idee van die verhaal. Daarna moet ek wag vir my karakters om in die verhaalkonteks vorm aan te neem. Ek moet hulle as ’t ware voor my kan sien.” (Beeld, 12 Augustus 2008)

Wat is haar grootste vrees? “Dat ek een van my gesin moet begrawe. En nie al die stories in my kop op papier sal kan sien nie. En slange!” (Volksblad, 28 Augustus 2010)

Wat maak haar gelukkig? “My gesin en ons familie. Om te kan lees en te kan skryf. ’n Beker goeie koffie in die oggend en ’n glas koue wyn in die aand. En alleentyd.” (Volksblad, 28 Augustus 2010)

Wat was die keerpunt in haar lewe? “Die grootste keerpunt was die oomblik toe ek besef dat ek nie verantwoordelik is vir die hele fiasko wat betref die situasie met my stiefpa nie.” (Volksblad, 28 Augustus 2010)

Wat beteken die twee boeke, Dis ek, Anna en Die staat teen Anna Bruwer, vir haar? “Vandat ek Dis ek, Anna geskryf het, voel ek waarlik skoon, die pyn dowwer. Ná Die staat teen Anna Bruwer nog meer so – omdat ek eindelik ook oor Anna ’n gerustheid het. As slagoffer van molestering en/of verkragting, voel dit soms asof dit al is wat jou definieer. Wat natuurlik glad nie waar is nie. Met die skryf van Dis ek, Anna het ek besef dat ek meer as net ’n slagoffer is. Ek is ’n survivor, met ’n stem. En dit is ook die boodskap wat ek wil uitdra: daar is lewe na molestering en/of verkragting.” (Sarie, 19 Junie 2012)

“Die vermoë om te kan vergewe is die een ding aan die menslike karakter wat my die meeste fassineer. Dat ons soms op die ingewing van die oomblik iets sê of doen wat buite ons karakter is, en daardie aksie jare later nog by ons spook. Die beweegrede agter hierdie ‘verkeerde aksie en besluite’ bly vir my interessant. Wat is dit wat maak dat goeie mense soms slegte dinge doen? Veral aan ander mense. Veral aan hulle vriende. En hoekom probeer daardie persone hulself oortuig dat dit geregverdig was? En terug na vergifnis: Is dit regtig moontlik om ten volle te kan vergewe? Dit is die eienskap van die mens wat my die meeste fassineer. ’n Storie het altyd twee kante. Nie noodwendig twee regte kante nie. Dit fassineer my ook, die verskillende beweegredes van verskillende mense. Ek probeer in my stories daarby uitkom.” (LitNet, 1 Junie 2020)

“Ék dink dit is belangrik dat vroue ’n stem het, en dat hulle besef dit is nooit te laat om te praat of vir hulp aan te klop nie.” (Maroela Media, 2 Julie 2023)

Gebore en getoë

Anchien Troskie is op 11 Julie 1968 in Virginia, ’n klein dorpie in die Goudvelde van die Vrystaat, gebore. Ná haar ouers geskei is, is sy en haar ma na Bloemfontein waar sy haar laerskooljare deurbring. Haar ma is weer getroud en Anchien het ’n halfsuster wat uit hierdie huwelik gebore is.

Sy matrikuleer in 1986 aan die Hoërskool Edenburg in die Vrystaat – “met Kringe in ’n bos langs my,” skryf sy in ’n biografiese skets op NB Uitgewers se webwerf.

“Op skool is gereeld ’n bohaai oor my opstelle gemaak, sodat ek myself in ’n stadium begin verbeel het dat ek ’n beroemde skrywer sal word.”

Verdere studie en werk

Ná skool is Anchien na die Universiteit van die Vrystaat waar sy haar vir ’n BA-graad in Kommunikasiekunde inskryf. Nadat sy haar tweede jaar voltooi het, skop sy egter op om met haar skoolliefde, Lafras, te gaan trou. Lafras se ouers het in die distrik geboer waar sy in die skool en koshuis was, vertel Anchien aan Elmari Rautenbach in By (28 April 2012): “Ons is op ’n Kersdag getroud.”

Sy en haar man, Lafras, gaan vestig hulle op Oesterbaai in die Oos-Kaap waar hy bestuurder van ’n melkplaas is en sy met die kantoorwerk help. Hulle het twee kinders, ’n seun, Chris, en ’n dogter, Joice. In 2018 trek hulle na ’n plaas net buite Humansdorp. Albei hulle kinders met hulle wederhelftes en hulle kleinkinders bly naby Lafras en Anchien.

En toe in 2004 tref Dis ek, Anna, onder die skuilnaam Elbie Lötter, die boekwinkels se rakke. En dit is onmiddellik ’n sukses. Daar is meer as 50 000 eksemplare van die Afrikaanse uitgawe verkoop – terwyl ’n boek in Suid-Afrika reeds na 10 000 verkope beskou kan word as ’n topverkopersukses. Die boek het 13 drukke beleef en is ook aangewys as topboek van die 100 beste boeke van die dekade, soos gekies deur die Wes-Kaapse biblioteke in 2011. Dit het ook in 2005 die Nielsen BookData Booksellers’ Choice Award ingepalm.

Die skuilnaam, Elbie Lötter, was ’n “konkoksie van my man en my ma se name”. Niemand het aan die begin geweet wie Elbie Lötter is nie, behalwe haar uitgewer, Nèlleke de Jager van Kwela, en haar man. Sy het vir Lafras vertel van haar ervaringe net voordat hulle verloof geraak het: “Ek was so bang hy sou my verwerp, maar natuurlik het hy nie.”

Die verhaal van Anna het niemand onaangeraak gelaat nie. Die storie van die meisietjie wat snags vir haar stiefpa, die ouderling, se voetstappe buite haar slaapkamerdeur wag, het almal aan die hart gegryp.

Aan die begin was sy tevrede om net te deel in die sukses van die boek, sê sy aan Rautenbach: “Ek sou byvoorbeeld in ’n geselskap wees en dan praat mense oor die boek. Ek het gehou daarvan. Maar soos die tyd verbygegaan het, het ek ongemaklik geraak met die skuilnaam. Aan die een kant wou ek vir ewig wegkruip. Aan die ander kant het ek gevoel doen ek dit, wen hy.”

Anchien het dadelik ná die verskyning van Dis ek, Anna aan haar kinders vertel wat gebeur het. “Hulle was toe so aan die einde van laerskool,” sê sy aan Elmari Rautenbach. “Hulle was soos tipiese grootmensies: My seun het sommer onmiddellik aggressief geword en my dogter het in trane uitgebars. Maar dit was goed en ons kon daardeur praat.”

Anchien vertel in 2008 aan Gerrit Brand (Beeld, 12 Augustus 2008) dat dit vir haar emosioneel baie moeilik was om Dis ek, Annate skryf: “Ek kon dit nie alleen doen nie; die Here het my gehelp.”

Sy worstel ook nog met die vraag of haar ma regtig niks geweet het van haar tweede man se molestering en die worsteling wat Anchien moes deurgemaak het nie, vertel sy aan Elretha Louw in Huisgenoot (17 Junie 2004).

Sy en haar ma het op ’n stadium in Anchien se lewe min kontak gehad. Sy het nie haar ma en stiefpa na haar troue genooi nie. Maar sy wens dat haar ma nog gelewe het sodat sy die boek kon lees.

Die lekkerste deel van die boek vir Anchien was die toneel waar Anna haar stiefpa vermoor: “Dit was terapeuties vir my. Ek voel dit was die regte einde. Nou kan ek sê dit is verby. Ek voel nie meer soos ’n moordenaar nie. Dit was deel van die gesondwordproses ...”

In Volksblad van 16 Augustus 2004 is Willemien Marais die resensent. Sy skryf dat die verhaal agterop ’n stuk karton geskryf kon gewees het, en die trefkrag sou dieselfde gewees het: “En trefkrag verwys hier na ’n vuishou op jou maag. Een wat jou wind uitslaan en jou oë laat traan.”

Lötter vertel in Dis ek, Anna die storie van haar kindermolestering wat nie net intens was nie, maar ook vir baie jare aangehou het. Deesdae is die onderwerp van kinderverkragting en -molestering iets wat ons feitlik daagliks van hoor, maar dis eers wanneer jy ’n “subjektiewe, eerstepersoonsweergawe van só ’n ervaring lees dat jy onder die indruk van die omvang hiervan kom. Die verwoesting, die onberekenbare, onherstelbare skade wat deur só ’n daad aangerig word.”

Marais sit haar bespreking voort: “Die verhaal en sommige van die beskrywings is uiters ontstellend. Meer nog as jy die boek toemaak en die onskuldige kind op die voorblad sien. Maar daar is meer aan Dis ek, Anna as net ’n jong meisie se hel: die goue draad van hoop en deursettingsvermoë loop selfs deur die donkerste bladsye.”

Dit is ’n storie wat vertel van dapperheid en oorwinning, asook een van hoe die mens se krag van binne kom om hierdie bose dinge te oorkom en om “haar lewe terug te vat”.

Dis ek, Anna is ’n teregwysing vir almal wat maar net die kop wegdraai, vir ouers wat te ongemaklik voel om met hulle kinders oor seks en die reg en verkeerd daarvan te praat. Dis ’n stopteken vir ’n samelewing wat afgestomp raak oor geweld teenoor kinders en vroue.

“Maar bo alles is dit ’n persoonlike oorwinning vir die skrywer en ’n monument vir al die mense wat hul ‘lewens teruggevat het’ ten spyte daarvan dat hulle as weerlose kinders aan suiwer boosheid blootgestel is.” (Volksblad, 16 Augustus 2004)

Johan Myburg skryf in Beeld (11 Oktober 2004) dat Dis ek, Anna eerstens ’n verhaal is, haar eie verhaal van haar stiefpa se seksuele mishandeling wat meesleep en boei: “Sy skryf oortuigend en met só ’n geloofwaardigheid dat die leser gaandeweg met ’n groeiende ongemak én argwaan sit. En tog is dit onmoontlik om die boek neer te sit – nie net vanweë nuuskierigheid nie – omdat die skrywer juis met haar eerlikheid haar verlede ‘uitskryf’ (soos sy in die nawoord aandui).

“Onopgesmuk kry die leser eerstehandse ervaring van die ontgogeling, vrees en wanhoop wat Anna deurmaak as haar ma se vriend (en later man) haar oor etlike jare in sy web gevange hou.

“Meer as net ’n (aangrypende) storie te vertel, slaag Lötter daarin om die leser deurgaans van die nodige konteks te voorsien – bra grafiese detail wat die kombers behoorlik skud. [...] Die gevangenheid van die situasie – dat sy met niemand kan praat oor wat besig is om te gebeur nie – is seker die onthutsendste aspek van die boek. Anna is ’n karakter in ’n verhaalgegewe. Maar Anna is ook elke swyende kind wat sê: Dis ek, Anna. Die wins, en ek bedoel dit in die sin van die verruiming wat Lötter teweegbring, is dat dit lesers bewus maak van die doodluiterse manifestering van kindermolestering én die moontlikheid om ’n stem te vind waarmee gepraat kan word. [...]

“Hoewel die spanningselement die verhaal grootliks dryf en soms dalk té bedag rig, is dit die troos van die lewe ná die molestering wat ’n mens bybly.”

Madeleine van Biljon het só geskryf: “Aandoenlik, skreiend, hartroerend, tranewekkend – al dié byvoeglike naamwoorde is van toepassing wanneer ’n mens hierdie boek lees. Maar daar is geen toereikende woord om die ervaring van dié vrou se jeugjare te omvat nie.” (Die Burger, 2 Augustus 2004)

En toe in 2008,1 nadat sy gelees het van Schalk Burger se suster René wat aan die koerante gesê het dat sy verkrag is, het Anchien besluit dat sy ook dit kan doen. En het sy aan die wêreld vertel wie sy werklik is.

In 2006 het Annelle Bester, ’n vierdejaar-dramastudent aan Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT), Dis ek, Anna tot draaiboek verwerk as deel van ’n klasopdrag. Bester is toe ook gevra om die verhoogstuk tot ’n stuk van 90 minute te verwerk sodat dit ingeskryf kon word vir die Sanlamprys vir Afrikaanse teater.

Die stuk is in 2008 tydens die Volksblad-kunstefees op die planke gebring en daarna was dit ook te sien in die Scaena-teater in Bloemfontein, die Rostrum-teater op TUT se kampus en tydens Aardklop en by die KKNK van 2009.

In 2015 was die filmweergawe van Dis ek, Anna te sien in bioskope in Suid-Afrika. Anchien vertel aan Marguerite van Wyk (Sarie, 3 Februarie 2015) dat sy baie opgewonde én dankbaar is oor die fliek. Sy het haar aanvanklik nie baie gesteur oor die gerugte dat Dis ek, Anna en Die staat teen Anna Bruwer saam verwerk gaan word tot ’n film nie, maar toe die vervaardiger, Neil van Deventer, en die toneelskrywer, Tertius Kapp, haar in 2014 kom besoek het, het sy begin besef dat dit wel kan gebeur. En sy was seker dat almal betrokke by die maak daarvan verantwoordelik met haar storie sou werk.

Anchien se volgende roman, en haar eerste onder haar eie naam, is in 2008 onder die titel Nooit is ’n lang, lang tyd gepubliseer. Dit handel oor drie vriendinne wat saam met vakansie gaan, sonder die kinders en hulle wederhelftes. Gerrit Brand skryf in Die Burger: “Soos in ’n road movie – die visuele is inderdaad ’n sterk komponent in die roman – bring die reis vergete en verrassende kante van elke karakter na vore.”

Anchien verduidelik aan Brand dat die idee vir die storie sy ontstaan gehad het toe sy en haar gesin van een dorp na ’n ander getrek het en sy na haar vriendinne begin verlang het: “Ek het weer besef hoe belangrik dit is om vriende naby jou te hê, ook in moeilike tye.”

Soos die drie vriendinne kuier, leer die leser die vriendinne beter ken – elkeen het hulle eie groot krisisse in hul lewens waarmee hulle worstel – dit wissel van aborsie tot godsdiens, buite-egtelike verhoudings, seks, seksualiteit, leuens en verraad.

Daar is nie baie biografiese gegewens in hierdie roman nie, maar, sê Anchien aan Karin Brynard (Rapport, 2 November 2008), daar is iets van haarself in al drie die hoofkarakters: “In Amelia my liefde vir handwerk (ek is net nie so kreatief nie!), in Daleen my gemaklike klerestyl en in Karien my bemoerdheid. [...] Die skryf van Nooit is ’n lang, lang tyd was ’n heeltemal ander skryfervaring as Dis ek, Anna. Ek moes my kop gebruik, nie net my hart nie. En dit is harde, harde werk, maar so lekker. Skryf is verslawend – ek wil nooit ophou nie. Ek het nog baie stories om te vertel.”

Nooit is ’n lang, lang tyd is vir Gerrit Brand ’n roman in die meer gangbare sin: “Dis gevoed deur die skrywer se ervarings, maar skep uiteindelik ’n fiktiewe verbeeldingswêreld.”

In Die Burger van 8 Desember 2008 skryf Ilza Roggeband dat Nooit is ’n lang, lang tyd ’n lekkerleesboek is: “Vroue sal met een of meer van die karakters kan identifiseer. Die boek lees maklik en die skrywer se gemaklike skryfstyl verdien lof.”

Anchien se derde roman, Die besoeker, is in 2010 uitgegee. In Die besoeker ontmoet die leser vir Emmie, ’n jong vrou wat sekretaresse by ’n privaatskool is. Sy het finansiële probleme en om dit te probeer oplos, raak sy betrokke by die verkoop van dwelms aan tieners. Sy belowe haarself dat dit net vir ’n rukkie sal wees, tot haar probleme opgelos is, maar dit is toe nie so maklik nie. Sy onttrek haar na die skoolhoof se huis in die berge, waar sy haar beskermengel – die “besoeker” – ontmoet.

Anchien dra Die besoeker aan die leser op: “En vir jou – as jy in engele glo.” Sy vertel aan Volksblad (28 Augustus 2010) dat sy wel in engele glo: “As Christen glo ek in God en Sy Woord en aan Sy engele. Net jammer ek het nog nooit een gesien nie ...”

Vir Anchien is navorsing een van die lekker dinge van haar skryfwerk: “Ek het as deel van my navorsing rehabilitasiesentrums besoek en met verslaafdes en gerehabiliteerde verslaafdes gepraat. Almal se stories stem min of meer ooreen. Hulle het almal gedink hulle sal net een keer dwelms gebruik, maar voordat hulle hul oë kon uitvee, was hulle hooked. Almal se stories begin onskuldig en eindig in hartseer. Verslaafdes weet hulle moet ophou, maar hulle kan nie. Ek dink nie ons kan daardie craving ooit verstaan nie.”

Nico Geldenhuys, ’n vryskutresensent van Johannesburg, skryf in Beeld (30 Augustus 2010) dat as die leser na die opdrag in die boek kyk, is Die besoeker nie ’n verhaal wat deur siniese mense gelees moet word nie.

Vir hom is Anchien Troskie ’n skrywer wat nie haar lesers verveel nie en terselfdertyd is haar boeke ook nie ligte leesstof nie; so daar is, wat tegniese aspekte behels, nie veel verkeerd met Die besoeker nie: “Die verhaal beweeg teen ’n flinke pas, terwyl die hede en verlede vernuftig saamgevoeg word. Dis ’n boeiende verhaal met heelwat verrassings onderweg na die slot. [...]

“Die morele dilemma waarmee Emmie worstel, is eg en tasbaar: Aan die een kant wéét sy dat sy besig is om tienerlewens te verwoes, terwyl sy aan die ander kant nie veel van ’n keuse het nie – as sy ophou dwelms verkoop, ontgeld haar familie dit. In dié opsig bied Die besoeker heelwat om oor na te dink.”

Maar vir Geldenhuys kom die karakter van Migael, die “besoeker”, nie heeltemal tot sy reg nie en daar is ’n dualisme in sy geaardheid wat nie verklaar kan word nie. Die besoeker se slot gaan ook lesers verdeel – “gelowige lesers sal die laaste hoofstuk aangrypend vind [...], maar dit doen egter (vir Geldenhuys) afbreuk aan die roman en die storie kon al by die vorige hoofstuk geëindig het. [...]

“Maar, soos jy aan die begin van die verhaal gewaarsku is, hierdie roman is eintlik bedoel vir mense wat in engele glo.”

In Volksblad van 6 November 2010 is Adéle Dempers egter van mening dat Troskie met Die besoeker verbeter het op Nooit is ’n lang, lang tyd: “Sy wys dat sy knap oor ’n verskeidenheid van onderwerpe kan skryf en dat sy haarself as ’n skrywer vestig. Die besoeker ontstel omdat dit wys hoe maklik dit is om by dwelms betrokke te raak en hoe moeilik dit is om daarvan los te kom. Dit wys hoe verkeerde besluite ’n lewe kan ruïneer, maar ook dat daar kanse is om oor te begin. Dit is ’n boek waaruit ouers en kinders baie oor dwelms kan leer, maar die verhaal word so vertel dat dit nie in morele lesse verval nie, en steeds ’n aangename leeservaring bied.”

In 2012, met Kwela se publikasie van Die staat teen Anna Bruwer, word Anna se hoofstuk en storie afgesluit. Ná die publikasie van Dis ek, Anna onder ’n skuilnaam, was Anchien se man die persoon wat aanhou sê het dat sy aan die res van die wêreld moet sê wie Anna werklik is. En, sê Anchien aan Elmari Rautenbach (By, 28 April 2012), dit was op die ou end nie so ’n groot ding nie: “Wat my wel geroer het, was die oorweldigende ondersteuning van my vriendinne in Ugie, die dorpie in die Noordooskaap aan die voet van die Drakensberge waar ons gewoon het toe ek die boek geskryf het, en die briefies – ai, veral van die mans. Dít het my hart gebreek. Of ou tannies wat skryf ek is nou 60, 70 en ek het nog nooit vir ’n siel gesê my pa / stiefpa / oom / oupa het my gemolesteer of verkrag nie ...

“Ek dink dis wat my kop aan die gang gesit het oor die opvolgstorie. Dit het so baie gebeur, en veral toe ek my ander twee romans bekend gestel het, dat mense na my kom en sê: ‘Ons weet nou wat met jóú gebeur het, maar wat van Anna?’”

In die voorwoord van Die staat teen Anna Bruwer skryf Anchien dat sy ’n woede in haar losgeskryf het met Dis ek, Anna: “Die verhaal eindig met bloed aan Anna se hande. En daarna voel ek skuldig. Want ek het nou die ‘normale’ lewe waarna ek as kind so gesmag het. Ek het ’n man wat nie net in my lyf belangstel nie; ek het twee pragtige kinders. Wat het die fiktiewe Anna?”

En dit het haar toe laat besluit om Anna se storie klaar te maak, met ’n “fiktiewe Anna en ’n fiktiewe storie”.

Elmari Rautenbach vra aan Anchien hoe sy gevoel het om uiteindelik die boek oor Anna toe te maak: “Wonderlik!” is haar reaksie. “Die navorsing was moeilik maar lekker. Die besoeke aan die selle op Upington, die howe, die gesprekke met lede van die polisie en ’n prokureur. Ek het nog nooit met mense gepraat terwyl ek skryf nie, maar dit was vir my goed. Ek kon my storie sien as een van soveel. Die wroeging oor haat teenoor vergifnis.

“Ek dink jy kan seker sê ek het uiteindelik closure oor Anna. Oor die onderwerp, dalk nie. Daar kan nooit genoeg boeke en flieks oor die onderwerp wees nie.”

Op LitNet is Dineke Volschenk die resensent van Die staat teen Anna Bruwer. Die storie begin waar Anna van Knysna na Bloemfontein ry om haar stiefpa te gaan konfronteer. Toe hy haar uittart, skiet sy hom dood en gaan gee haar oor aan die polisie. Dan volg die hofsaak van die staat teen Anna Bruwer.

Volschenk skryf: “Anna is verdwaal in ’n metaforiese donker woud van onuitspreekbare emosionele pyn. Sy moet haar eie skuldgevoelens oor haar suster se selfmoord, haar woede daaroor, en haar eie gebroke lewe konfronteer om gesuiwer te word en verlossing te vind. Haar begeleier op hierdie tog is haar prokureur, wat haar sorgsaam vergesel en met teerheid versorg. [...]

“Parallel met Anna se storie is die effe dun storie van superintendent Windhond Webber, die polisieman wat Anna se pad kruis wanneer hy die moord ondersoek. Hoewel sy naam hom karikatuuragtig laat klink, en uit wans met die aard van die roman, is hy ’n stewige karakter wat sy eie keuses maak oor reg en geregtigheid wanneer hy te make kry met die verkragting van ’n baba. Die verhaal is een wat Suid-Afrikaners al soveel keer gehoor het en een saak waaroor die meeste lesers waarskynlik sterk opinies sal hê, en vermoedelik sal heelwat mense simpatie hê met die keuses wat Windhond, sowel as Anna, maak. Die kwessie van wraak gee die leser baie om oor te dink. Dit konfronteer die leser en dwing jou om self standpunt in te neem, en dis moontlik om geheel en al anders te voel as wat Anna en Windhond daaroor voel en daarmee handel. Tog kan die wraakfantasieë wat hier uitspeel vir heelwat lesers ’n soort terapie wees en was dit waarskynlik narratiewe terapie vir die skrywer – haar persoonlike vagevuur. Die eerste roman is immers gebaseer op haar eie verhaal en die tweede roman, die vergelding, maak daardie storie klaar en stel haar in staat om haar regte naam op te eis.

“Troskie is ’n knap skrywer. Sy skep karakters wat oortuig en ’n storie wat ’n mens enduit boei, want dit is nie voorspelbaar nie. Die afskuwelikheid van die gegewe wat intiem aan haar bekend is, word nie uitgebuit vir sensasie nie. Ook nie wanneer Windhond Webber sy morele keuse oor die kinderverkragter moet maak nie. Hoewel dit die soort verhaal is wat wankel op die rand van melodrama, behou die skrywer beheer. Selfs die ‘gelukkige’ slot is nie steurend nie. Dit is juis mans wat aan Anna haar verlossing skenk en die helende salf is seks, en slegs só kan sy vorentoe beweeg. Anchien Troskie slaag daarin om ’n verhaal te vertel wat vir baie mense waardevol kan wees. Dit is nie die soort roman wat tot almal sal spreek nie, maar te oordeel aan hoeveel mense Dis ek, Anna gelees het, is daar heelwat mense wat ook hierdie roman sal geniet.”

Anchien se volgende roman, Vermis op Allesverloren, word in 2014 deur Kwela uitgegee. Die verhaal word gedeeltelik uit Erta van Tonder, kruievrou en plaaslike heks, se oogpunt vertel. Anchien vertel aan Deborah Steinmair (Volksblad, 6 November 2014) wat sy beoog het met die roman: “Ek wou hê die leser moet Erta nie net op grond van hoorsê en skinderstories leer ken nie. Dit is die karakter se verhaal, net soos sy dit aan my vertel het. Ek moes dit maar net skryf. Vir my is die buitestander se storie gewoonlik baie interessant. En kleurvol.”

Anchien Troskie is baie bekend met die lewe op ’n plattelandse dorp, want dit is waar sy grootgeword het en waar sy nog bly: “Allesverloren is egter nie ’n tipiese plattelandse dorp nie – die inwoners is darem net te ekstreem!

“Ek het ’n hartstog vir kruie. Lank gelede – in my prille jeug – het ek ’n fantastiese kruietuin gehad en gereeld met skemer vars kruie vir ete gaan pluk.”

Saam met Erta is die ander hoofkarakter, die privaatspeurder Barrie Barnard, wat Anchien moes skep om die dorp se stem te wees: “Dit gebeur min, die karakters kom meld hulle gewoonlik self aan. In die begin kon ek nie ’n duidelike beeld van hom vorm nie, maar met verloop van tyd het hy al hoe duideliker na vore getree. Dit was soms moeilik om hom te verstaan, ek en hy het by tye goed kop gestamp.”

Ilse Salzwedel resenseer Vermis op Allesverloren vir Volksblad (3 November 2014): “Toe die eksentrieke, bejaarde Erta van Tonder verdwyn, kry Melinda dadelik ’n private speurder om haar tante te soek. Janneman Verwey, die plaaslike polisieman, dink Melinda is gek, want Allesverloren is immers ’n piepklein gehuggie, en die ou vrou dwaal dalk – mal soos ’n haas – in die veld rond. Die mense het hoeka gesê Erta is ’n heks ... Maar Melinda vermoed gemene spel. Haar tante was immers nie juis gewild op Allesverloren nie, maar was sy ongewild genoeg dat iemand haar sou wou vermoor? En wie sou die skuldige wees? [...]

Vermis op Allesverloren is ’n misleidende boek. Aanvanklik dink die leser dis ’n doodgewone speurverhaal, maar mettertyd word jy op ’n klomp kronkelpaadjies die verlede in geneem. Die verrassing – en uiteindelik ook die ontknoping – lê juis op die kronkelpaadjies. [...]

“Met hierdie boek slaag Anchien Troskie myns insiens finaal daarin om die idee dat sy net outobiografies kan skryf, die nek in te slaan. Vermis op Allesverloren is ’n verhaal met vele lae, en Troskie wissel gemaklik tussen die twee vertellers, Erta en Barrie. Die feit dat ’n deel van die verhaal uit die verdwene Erta se perspektief vertel word, gee dit ’n spokerige gevoel wat die nuuskierigheid prikkel en jou dieper die boek in lok. Jy bly enduit geboei, en die ontknoping verras beslis. [...]

Vermis op Allesverloren is nie ’n komedie nie. Dit gaan immers oor ernstige kwessies soos ’n gemeenskap se veroordeling en vooroordeel. Maar daar is heelwat humor versteek tussen die blaaie, veral in die beskrywing van die dorpenaars en hul geite. Moenie hogere letterkunde verwag nie, maar geniet die boek vir wat dit is: ’n meesleurende, anderste ontspanningsroman.”

En vir Dineke Volschenk (Rapport, 2 November 2014) was dit ’n “heerlike, onderhoudende en bevredigende leeservaring wat Troskie vestig as een van die voorste kontemporêre skrywers in Afrikaans”.

Dit was ook gedurende 2014 dat Anchien voltyds begin skryf het, vertel sy aan Deborah Steinmair: “Daar is vir my niks lekkerder as skryf nie en ek wil niks anders doen nie. Ek het ’n ‘kantoor’ – kompleet met ’n witbord vir notas. Maar ek is baie ongedissiplineerd. Die huis, en man, hou my besig, dus skryf ek gewoonlik snags wanneer dit rustig is.

“Ek het ook ’n notaboek en pen op my bedkassie. Wanneer die karakters of storie my wakker hou, gryp ek my boek en pen. Maar wanneer die storie ernstig koers begin kry, skryf ek bedags ook.”

In 2020, amper ses jaar ná Vermis op Allesverloren, verskyn Anchien Troskie se volgende roman – Somtotaal. In kort vertel dit die storie van Ester en Nonthando wat van kleins af saam op ’n plaas in die Oos-Kaap grootword as boesemvriendinne. Niks kan tussen hulle kom nie, skryf Elna van der Merwe in Huisgenoot (12 Junie 2020), tot een wonderlike somervakansie toe die liefde toeslaan en een (of albei) verraad pleeg: “Nonthando se dogter, Milagro (Mila), word byna deur haat verteer, veral toe sy haar hart op die ‘verkeerde’ man verloor. Ester is egter die een wat die swaarste aan die verlede dra.”

Anchien vertel verder aan Van der Merwe waar die storie van hierdie drie vroue sy oorsprong gehad het: “Ons het so twee jaar gelede my skoonma gehelp om van ’n meenthuis in Bloemfontein, waar sy 24 jaar gewoon het, na ’n aftreeoord op Jeffreysbaai te verhuis. In Bloemfontein moes ons letterlik haar lewe oppak. Dit was vir haar traumaties om te besluit wat sy wou hou en waarvan sy kon afskeid neem.

“Met die uitpak hier het ek op ’n foto afgekom wat so in 1948 geneem is van haar en ’n swart maatjie wat op die gras lê en deur ’n boek blaai. Dit was een van die foto’s waarvan sy nie wou afstand doen nie en wat my toe geïnspireer het om die storie van Ester en Nonthando te skryf.”

Op LitNet skryf Elbie Adendorff só oor Somtotaal: “Ester en Milagro se verhale word afwisselend deur ’n derdepersoonsverteller in hierdie segmente vertel. In beide se vertelgeleenthede kom die leser agter wie die ander karakters in die roman is, maar veral wie hierdie twee karakters is. Uit die twee se vertellings leer ken die leser die geskiedenis van die Marees, die Labuschagne’s en die Majolas. Saam met hierdie vertellings kry die leser ook ’n blik op die geskiedenis van Suid-Afrika: van die apartheidsjare en rassediskriminasie ‘met die donkergroen bordjie waarop BLANKES staan met ’n pyltjie na links, en nog een met NIE-BLANKES en ’n pyltjie na regs’; ook van die nuwe Suid-Afrika: ‘Haar eie generasie is baie minder daarvan bewus. En die jongeres, die kinders, by hulle is daar bykans geen bewustheid nie. Bewustheid is ook nie die regte woord nie. Almal sien kleur raak, dis ’n gegewe, maar die meeste respekteer mekaar se verskille en behandel mekaar as gelykes.’

“’n Ander tema wat uiters sensitief hanteer word, is selfdood. Die rede hiervoor, die gesprekke wat Ester daarna met haarself en die (denkbeeldige) sielkundige voer, en veral Dewald en Elanie se reaksies daarop, word simpatiek maar ook baie realisties uitgebeeld. [...]

“Die leser hiervan kan Somtotaal gerus lees. Die verhaal van Ester se wroeging en Mila se haat is boeiend en die tipiese pragtige woordgebruik van Troskie dra by tot die treffende uitbeelding hiervan. Dit is ’n verhaal wat die leser tot die einde sal boei, want ’n mens wil weet wat die verraad is. En die bieg van Ester bring ook vir die leser verligting. Miskien kom die slotgedeelte te skielik en byna te gejaagd voor; asook die voorspelbare mooi en goeie einde, wat die minder geslaagde aspek van die roman is.

“Uiteindelik is Somtotaal die verhaal oor liefde: liefde tussen vriendinne, vakansieliefde, liefde tussen man en vrou, liefde tussen ’n ma en haar kinders, liefde vir jou instaan-ma wanneer jou ma sterf, liefde oor die kleurgrens. Die verhaal sê ten slotte vir die leser dat die liefde altyd oorwin.”

Juliana Coetzer sluit haar bespreking van Somtotaal af (Netwerk24, 17 Mei 2020): “Die roman is opgedeel in segmente met die titels ‘Vrees’, ‘Verlies’, ‘Verandering’, ‘Vernedering’, ‘Verdriet’, ‘Vrede’ en ‘Vreugde’ en eindig met die boodskap van vergifnis. Vandaar die titel: somtotaal (van ’n lewe). [...]

“Daar is ’n opregtheid wat deurskemer in Anchien Troskie se skryfwerk en ’n soort innigheid wat ek ook in die skryfwerk van Christine Barkhuizen le Roux aantref. Troskie skryf eerlik en op die man af. Sonder fieterjasies, maar met warmte.

“Verraad is nie ’n unieke onderwerp nie, so ook nie die uitwerking van apartheid nie, maar die kombinasie daarvan en mense wat as gevolg van hierdie geskiedenis aan mekaar verbind is deur onafgehandelde sake, sorg vir ’n unieke verhaal. Die spanningslyn vloei sterk en die uiteinde is onverwags en onvoorspelbaar. Almal weet wié dit gedoen het, maar wát bly tot die einde ’n raaisel.

“Die skrywer het haar reeds in die harte van die publiek gevestig. Met Somtotaal verseker sy dat dié plek veilig is.”

Anchien se volgende boek verskyn in 2023 by Human & Rousseau onder die mooi titel Die laaste kanariegeel notaboek. Phyllis Green (Sarie, 30 Mei 2023) wou by Anchien weet hoe die titel ontstaan het en of dit haar idee was. Sy antwoord dat haar “fantastiese” uitgewer Nèlleke de Jager op hierdie mooi titel besluit het.

In die verhaal trou ’n baie jong en naïewe Mia Steyn met die ouer en baie gewilde skrywer, Louis Feldtsmann. Haar broer en sy vrou het daarop aangedring dat sy haar geliefde plaas, Blesbokfontein, moet verruil vir Bloemfontein. Met hierdie huwelik word sy die kitsma van Louis se tweelingdogters, Anabel en Isabel, uit sy vorige huwelik. Mia se rooskleurige siening van haar man het nie baie lank gehou nie voordat haar oogklappe afgeval het.

Anchien vertel vir Green dat sy baie gesukkel het met die skryf van die verhouding tussen Mia en Louis: “Ek het ’n renons in die manlike karakter, Louis Feldtsmann, gehad vandat ek hom geskep het. Ek wou vir die tweeling en Remy so vinnig moontlik uit die situasie en uit die huis kry. Ek wou hulle na veiligheid bring. Maar om daar te kom, moes ek wys hoekom. Dit was moeilik. Moeilik.”

Die basis van die aangrypende verhaal is nie net fisieke geweld in verhoudings nie, maar ook emosionele geweld. Green skryf verder: “Wat het in Mia se verlede gebeur dat haar broer voel sy moet haar heil in Bloemfontein kom vind eerder as op die plaas? Soos die verhaal ontvou, kom komplekse en ontstellende gebeure (en geheime) aan die lig.”

Die roman is eintlik ’n verhaal binne-in ’n verhaal. Mia sterf aan ’n hartaanval tydens die Covid-19-pandemie en twee jaar later moet Anabel en Isabel, die tweeling, haar huis in Jeffreysbaai gaan opruim. Anabel ontdek haar ma se kanariegeel notaboek in die studeerkamer. Isabel is nog op pad van Amerika af. “Terwyl die susters dit vir mekaar voorlees, ontdek hulle die waarheid oor hulle ouers se huwelik, asook hulle eie traumatiese kinderjare.”

Anchien vertel aan Green oor die impetus agter die skryf van Die laaste kanariegeel notaboek. Dit het begin op die aand dat SA se president die inperkings vanweë Covid-19 aangekondig het. Sy het vir Lafras, haar man, gesê dat werk en skool vir so baie mense ’n uitkoms en ontsnapping is: “Hoe gemaak wanneer daardie ontsnappingsroete gesluit word? Dit was die sneller vir die boek. Omdat ons almal so Covid- en grendelvoos was/is, het ek besluit om die verhaal nie gedurende daardie tyd te laat afspeel nie, maar eerder in ’n tydperk toe vroue se monde gesnoer is. Die 60’s het my nog altyd gefassineer.”

Sy het Mia se karakter eerste gekies – juis omdat sy so weerloos en naïef was. Ook het haar vasberadenheid tot Anchien gespreek, asook haar innerlike krag wat later na vore kom. Anabel en Isabel se kinderlewe was altyd deel van die storie, maar skielik het hulle as volwassenes ook na vore getree.

Maar dit was aan Louis Feldtsmann wat sy baie moeilik geskryf het: “Aanvanklik wou ek ook sy kant vertel en so sy demone blootlê. Maar ek kon nie, al het ek baie navorsing daaroor gedoen. As skrywer probeer ek objektief bly, maar as vrou kry ek dit nie altyd reg nie. Daarom kon ek hom nie ’n stem gee nie. Ek bly van mening dat dit ’n keuse was wat net hy kon maak. En Louis Feldtsmann het verkeerd gekies.”

Oor die geheime, wat die onderliggende tema in die roman is, vertel Anchien aan Phyllis Green dat almal ’n geheim of twee bewaar: “Maar geheime kan soos ’n aansteeklike, terminale siekte wees. Indien die tweeling openlik met mekaar oor hulle kindertyd gepraat het; indien Mia en Remy openlik oor die gebeure in daardie huis gesels het – met, onder andere, die tweeling – sou hulle mekaar soveel hartseer kon spaar.”

Geheime kom ook ter sprake in Anchien se onderhoud met Christa Steyn-Bezuidenhout op Maroela Media. Steyn-Bezuidenhout skryf daaroor dat dit ook ’n verhaal is wat die geheime tussen ’n ma en dogters, asook die geheime tussen lewensmaats blootlê.

Mia is vir die skrywer die hoofstem in die verhaal, maar die tweeling se stemme is ook belangrik: “In hulle sien ons die uitwerking van daardie trauma wat hulle as kinders beleef het en nou in hulle sestigs saam met hulle dra.”

Green wou weet wat moet spesifiek vrouelesers uit Die laaste kanariegeel notaboek neem: “Jy dra geen skuld daaraan nie. Jy is nie alleen nie. Jy verdien beter. Kry hulp. Jy het ’n stem, maak gebruik daarvan.”

In die onderhoud met Maroela Media vertel Anchien dat sy spesifiek die 1960’s gekies het as agtergrond vir Die laaste kanariegeel notaboek, omdat dit die tyd was toe vroue vir hulleself begin opstaan het: “Voorheen was hulle monde maar grootliks gesnoer. Soveel te meer vir huiswerkers soos Puleng en Remy wat deel van huishoudings was, maar ook nie ’n stem gehad of hulp kon gaan soek het nie.”

Anchien praat in Die laaste kanariegeel notaboek oor die liefde deur middel van Mia: “Liefde is ’n wonderlike emosie, maar soms is liefde nie genoeg nie. Allereers moet die man met wie jy trou, vir jóú lief wees. Soms moet jy nie na jou hart luister nie, maar na jou kop.”

En vir Anchien bly liefde een van die mooiste menslike emosies: “Nie noodwendig daardie fisiese bewyse van liefde tussen geliefdes (hand-om-die-lyf, hand-aan-hand) nie, maar die emosionele bewyse. Die wedersydse respek, die manier waarop geliefdes met mekaar praat, die kyke en glimlagte wat hulle deel. Dis so mooi.”

Trisa Hugo bespreek Die laaste kanariegeel notaboek op Netwerk24 (25 Junie 2023): “Temas van emosionele geweld, geheime, jaloesie, vernedering, verdriet, boetedoening en vergifnis is nie nuut in Troskie se werk nie. Die laaste kanariegeel notaboekspreek al hierdie dinge aan, maar dit is geheime tussen naastes wat soos ’n koepel alles anders omvou.

“Hier is die geheime nie net tussen ma en dogters nie, maar ook tussen susters. Dit is ’n bekende feit dat daar ’n besondere sterk band tussen identiese tweelinge is. Hoe erg moet iets wees as een nie die ander met ’n geheim kan vertrou nie? Traumatiese gebeure wat diep onderdruk word, het ’n vonk nodig om te ontsluit, en Isabel bied vir Anabel daardie vonk.

“Patrone wat herhaal word in families is nie ongewoon nie, maar die uitkoms is nie altyd voorspelbaar nie. Die skrywer hanteer onverwagte kinkels meesterlik, selfs vir siniese lesers. Die vraag ontstaan tereg of die eienskap om genot daaruit te put om ander seer te maak, in die DNS vasgelê kan word.

“Die enigste aspek wat gehinder het: Kinders kom nie ongeskonde uit ’n huishouding waar emosionele en fisieke handeling ter sprake is nie. Daar was geen tekens van angs, spanning, bednatmaak, nagmerries of iets dergeliks wat tipies is van sulke kinders nie.

Die laaste kanariegeel notaboek is ’n verhoudingsroman met ernstige temas, maar sonder om swaarmoedig te wees, wat by ’n groot lesersmark aanklank sal vind. Die aanbieding van ’n tema wat nie meer nuut is nie, voel hier egter vars soos ’n reënbui, met ’n donderslag dan en wan.”

Op LitNet is Maryke Roberts die volgende mening oor Die laaste kanariegeel notaboek toegedaan: “Die een ding wat my sedert my heel eerste kennismaking met Anchien (wat toe nog onder die skuilnaam Elbie Lotter geskryf het) opgeval het, is haar vermoë as woordsmid. Nie net kan sy ’n storie vertel nie, haar frases en beskrywings is eg en eerlik en jy kan met die meeste daarvan identifiseer. Sy skryf oor dinge wat ons almal verstaan, en dan begin sy baie diep grawe in die dinge wat min mense verstaan.

“Anchien skram nie weg van moeilike onderwerpe nie. Haar eie lewe getuig van ’n diepgewortelde kern, en sy wéét hoe diep mishandeling op alle vlakke kan sny. Hoe jy daardie ervaringe in jou onderbewussyn kan bêre om jouself te probeer beskerm, maar hoe dinge van die verlede hulle nie vir altyd laat begrawe nie.”

Dan gaan Roberts voort om voorbeelde te gee van Troskie se vermoë om ’n verhaal goed te vertel en om juis met die woord te werk te gaan. Sy sluit haar bespreking af: “Die boek is ’n meesterlike verwewing van intrige, hartseer en donker, maar uiteindelik ook van heling en die lig. Ek is beslis ’n ryker mens ná die lees van hierdie boek.”

Op Netwerk24 (2 Mei 2023) gesels Anchien Troskie met Elretha Britz oor haar skryfwerk en boeke. Sy vertel aan Britz dat sy nie skryf om ’n goeie verkoper op die rak te hê nie – haar doel (en die lekkerste vir haar) is om haar karakters, haar storie, haar woorde in boekvorm te sien. “En indien dit so bestem is dat ek net honderd lesers bereik, dan is dit ook goed. Want vir ’n paar uur het ek daardie lesers na ’n ander wêreld verplaas, het ek hulle aan die dink en aan die raai gehou.”

Publikasies:

As Elbie Lötter:

Publikasie

Dis ek, Anna

Publikasiedatum

  • 2004
  • 2005
  • 2006
  • 2008 (15de druk)
  • 2024 (25ste druk)

ISBN

062404226X (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

  • 2005 Nielsen BookData Booksellers’ Choice Award
  • 2006 Sanlamprys vir Afrikaanse teater (beste speler aan Cherie van der Merwe)

Vertalings

2005 Engels; vertaal deur Marianne Thamm

Resensies en besprekings

 

As Anchien Troskie:

Publikasie

Nooit is ’n lang, lang tyd

Publikasiedatum

2008

ISBN

9780795702778 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Kwela

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Brand, Gerrit:
      • Al Troskie se drome word waar. Die Burger, 6 Augustus 2008; Volksblad, 7 Augustus 2008
      • Anchien, die skrywer van “Dis ek, Anna”. Beeld, 12 Augustus 2008
  • Nooit is ’n lang, lang tyd: [resensie]. Landbouweekblad, 10 Oktober 2008
  • [Resensie]. Beeld, 11 Augustus 2008
  • Roggeband, Ilza: Bemarkers fnuik dié lekker leeservaring. Die Burger, 8 Desember 2008; Kaapse Bibliotekaris, September/Oktober 2008
  • Swart, Martie: Nooit is ’n lang, lang tyd [resensie]. Taalgenoot, Oktober 2008

 

Publikasie

Die besoeker

Publikasiedatum

2010

ISBN

9780795702990

Uitgewer

Kaapstad: Kwela

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • As jy in engele glo. Volksblad, 28 Augustus 2010
  • Dempers, Adéle:
      • Haar 1ste boek breek kringloop [onderhoud]. Volksblad, 28 Augustus 2010
      • Troskie pak die netelige onderwerp netjies. Volksblad, 6 November 2010
  • Geldenhuys, Nico: Boek vir dié wat in engele glo, nie sinici. Beeld, 30 Augustus 2010
  • Rust, Riette: Roman oor dwelmhandel kon beter. LitNet, 9 November 2010

 

Publikasie

Die staat teen Anna Bruwer

Publikasiedatum

2012

ISBN

9780795704123 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Kwela

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Vermis op Allesverloren

Publikasiedatum

2014

ISBN

9780795706905 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Kwela

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Dis ek, Anna: die volle verhaal (kombinasie van Dis ek, Anna en Die staat teen Anna Bruwer

Publikasiedatum

2015

ISBN

9780795707506 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Kwela

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Somtotaal

Publikasiedatum

2020

ISBN

9780798180863 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Die laaste kanariegeel notaboek

Publikasiedatum

2023

ISBN

9780798183703 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Artikels oor Anchien Troskie

Anchien Troskie se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2026-05-12 gepubliseer.

Eindnota

1 In By van 28 April 2012 word gesê dat Anchien Troskie in 2010 besluit om haar regte naam bekend te maak, maar in Beeld van 13 Junie 2008 skryf Gerrit Brand dat Troskie besluit het om haar naam bekend te maak.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top