Die laaste kanariegeel notaboek deur Anchien Troskie: ’n resensie

  • 0

Die laaste kanariegeel notaboek deur Anchien Troskie (Human & Rousseau, 2023)

Die laaste kanariegeel notaboek
Anchien Troskie
Uitgewer: Human & Rousseau (2023)
ISBN: 9780798183703
Epub ISBN: 9780798183710

Mishandeling hoef nie die einde te wees nie

Tweelingsusters moet hul ma se huis en besittings gaan uitsorteer. Een kom van ’n suksesvolle loopbaan en penthouse in New York, die ander een van ’n meer ontnugterde lewe en plaaslike plek – een van beurtkrag en verval en afstomping. Van gevoelens wat doodgaan, van vervreemding.

Die susters begin die take van sorteer, melankolie en afskeid neem, maar niks kan hulle voorberei op die onthullings in ’n notaboek – hul ma se laaste manuskrip dalk? – en die verreikende gevolge wat dit op hul eie (baie hegte) verhouding het nie. Ook nie op die ingrypende rol wat dit in hul eie lewens gespeel het voor dié kosbare twee weke in Jeffreysbaai in hul sestigerjare – ’n tyd wat hulle gelukkig en gekoester behoort te wees – nie.

Die boek se agterblad verklaar: “Dis 1963. Mia Steyn is nog bloedjonk wanneer haar broer haar een laatmiddag by ’n losieshuis in Bloemfontein aflaai. Dis toe sy ’n stowwerige boekwinkel instap dat Mia besef dis waar sy wil werk. Kort voor lank vind sy haar voete, én verloor sy haar hart.

... Niks is ooit soos dit lyk op die oppervlak nie, besef ’n mens weer met die lees van hierdie aangrypende storie binne ’n storie.”

Die een ding wat my sedert my heel eerste kennismaking met Anchien (wat toe nog onder die skuilnaam Elbie Lotter geskryf het) opgeval het, is haar vermoë as woordsmid. Nie net kan sy ’n storie vertel nie, haar frases en beskrywings is eg en eerlik en jy kan met die meeste daarvan identifiseer. Sy skryf oor dinge wat ons almal verstaan, en dan begin sy baie diep grawe in die dinge wat min mense verstaan.

Anchien skram nie weg van moeilike onderwerpe nie. Haar eie lewe getuig van ’n diepgewortelde ken, en sy wéét hoe diep mishandeling op alle vlakke kan sny. Hoe jy daardie ervaringe in jou onderbewussyn kan bêre om jouself te probeer beskerm, maar hoe dinge van die verlede hulle nie vir altyd laat begrawe nie.

Soos Willemien Marais destyds in Volksblad geskryf het oor Dis ek, Anna – die boek oor Anchien se eie lewe van hel as seksueel mishandelde kind: “Dis ’n stopteken vir ’n samelewing wat afgestomp raak oor geweld teenoor kinders en vroue.”

........
Anchien skram nie weg van moeilike onderwerpe nie. Haar eie lewe getuig van ’n diepgewortelde ken, en sy wéét hoe diep mishandeling op alle vlakke kan sny. Hoe jy daardie ervaringe in jou onderbewussyn kan bêre om jouself te probeer beskerm, maar hoe dinge van die verlede hulle nie vir altyd laat begrawe nie.
........

Die beskrywings in Anchien se nuutste roman is amper tasbaar. Ek haal ’n paar van haar beskrywings aan wat my genoop het om tydelike oortjies in my boek se blaaie te vou: “Hy stap uit. Sy woorde bly hang soos die rook van ’n gesnuite kers in die lug. Verdwyn dan langsaan.” As die tweeling skool toe gaan, beskryf sy dit as volg: “Januarie 1965, die maand wat na potlood en uitveër ruik.”

Sy los oral klein krummeltjies om jou na die gemmerbroodhuis diep in die donker woud te lok. “Daar is so baie wat sy nie van haar ma weet nie. So baie vrae wat onbeantwoord gaan bly.” Of in ’n donker vertrek in, met of sonder beurtkrag, raai sy. Haar ma het dit ook so verkies.

Maar ook meer oor die karakters wat hierdie verhaal lyf gee, soos die beskrywings van een van die tweelingsusters, Anabel: “Sy haal die verslonste, uitgerekte sweetpak wat sy op die ingewing van die oomblik ingepak het, uit haar koffer. Haar gemakpakkie vir wanneer haar gemoed vol en haar siel leeg is. Maak weer haar hare vas.” Of “Beurtkrag maak dat haar lewe gaan stilstaan, veral in die winter. Daar is skielik net niks om te doen nie, en sy en die huis is ewe kragloos.” Of “Daar is soveel ooreenkomste tussen haar lewe en haar ma s’n waarvan sy nie eers bewus was nie. Hulle het albei begin met beroepe wat vir hulle niks beteken nie.” Of “Jy ken net die deel van my wat ek jou toelaat om te ken.”

En van die suksesvolle suster, Isabel, wat ook haar eie geheime dra: “Ek moes jou maak onthou het. Sodat jy weet watse soort nalatenskap Pa vir ons gelos het. Geweld. Nyd. As ek jou vertel het, kon jy lankal werk gemaak het daarvan ...”

Of van die hoofkarakter, hul ma, wie se notaboek soveel geheime oopvlek: “Maar sy het ’n wapen teen sy woedes en stiltes ontdek. Sy kruip weg in stories. Stories met gelukkige eindes, of sy dit nou lees en of sy dit self skep. Dit is haar wapen, en dit is ’n magtige wapen.” Of “Mia onthou die woorde helder en duidelik. Die woorde, die polsende rooi ligte, die sirene – dis al wat sy onthou. Die res sou later drupsgewys terugkom, sodat sy die hele tablo weer voor haar sien afspeel. Wit uniforms en sagte hande wat op seer plekke druk.”

Die boek is ’n meesterlike verwewing van intrige, hartseer en donker, maar uiteindelik ook van heling en die lig. Ek is beslis ’n ryker mens ná die lees van hierdie boek.

Lees ook:

Skrywersonderhoud: Anchien Troskie oor Somtotaal

Dolos deur Jaco Wolmarans: ’n resensie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top