Skrywersonderhoud: Anchien Troskie oor Somtotaal

  • 1

Anchien Troskie eerste boek in vyf jaar, Somtotaal, het pas verskyn en skram nie weg van rassediskrimansie, liefde oor die kleurgrens en die vernietigende mag van jaloesie nie. Dis haar vyfde boek. Maryke Roberts het met haar gesels.

Foto van Anchien Troskie: Rieghard van Rensburg

Somtotaal
Anchien Troskie
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798180856

Die boek in kort: Ester Labuschagne en Nonthando Majolo het saam op Dassiepoort in die Oos-Kaap grootgeword. Nonthando se ma, Nomsa, is soos ’n ma vir Ester ook. Hulle is boesemvriendinne – tot een daad van verraad. En nou, soveel jare later, met Nonthando se dogter Mila self ’n volwassene, kom haal die verlede vir Ester in. Sy neem weer ’n drastiese besluit, waarvan die gevolge wyd uitkring.

“Troskie het ’n fyn, fyn hand. Sy vertel ’n verhaal met groot vertedering, maar ook met humor. Somtotaal is voorwaar ’n hoogtepunt in haar skrywersloopbaan,” lui ’n beskrywing op die webwerf UPPER case.

Anchien is 31 jaar gelede met haar skoolliefde, Lafras, getroud. Hulle het twee kinders: ’n seun, Chris (30), en ’n dogter, Joice (29). Hulle het 15 jaar naby Oesterbaai in die Oos-Kaap gewoon en is nou die afgelope twee jaar op ’n plaas net buite Humansdorp. Albei kinders en hul gades en kleinkinders woon naby Oupa en Ouma.

Sy lag as sy sê die lang verloop sedert haar vorige boek, is omdat sy vermoed haar muse was besig met ’n sabbatsreis.

“Lafras het ook ’n posisie as melkerybestuurder by Grasslands Agri aanvaar, wat beteken dat ons na 15 jaar moes oppak en uitpak. Joice is verlede jaar getroud – ons het ’n jaar aan die troue beplan! So, behalwe vir die afwesige muse, het die lewe gebeur en was die tyd vir skryf baie beperk,” gesels sy.

Anchien se eerste boek, Dis ek, Anna, skryf sy onder die skuilnaam Elbie Lötter. Dis gebaseer op die ware verhaal van haar traumatiese kindertyd weens seksuele molestering deur haar stiefpa. Dis ek, Anna verower in 2005 die Nielsen Book Data Booksellers Choice-prys as die boek wat boekhandelaars die meeste geniet om te lees én te verkoop, en kom in dieselfde jaar ook in aanmerking vir die debuutprys van die Universiteit van Johannesburg. Die boek is ook in Engels vertaal.

Dit word ’n topverkoper en word ook later ’n teaterstuk (Antoinette Louw speel Anna).

In Die staat teen Anna Bruwer neem sy die fiktiewe storie van Anna verder. Anna word aangekla van die moord op haar stiefpa. Hierdie twee boeke word in 2015 in een band uitgegee onder die titel Dis ek, Anna: die volle verhaal en ook deur Tertius Kapp in een draaiboek verwerk vir die maak van die rolprent Dis ek, Anna, met Charlene Brouwer in die rol van Anna.

Die rolprent, onder regie van Sara Blecher, verower in 2015 drie toekennings by kykNET se Silwerskermfees as beste vollengte-rolprent, en vir beste regisseur en beste akteur. Dit word ook op verskeie internasionale rolprentfeeste vertoon. In 2016 word dit bekroon met ses Safta-toekennings, onder andere vir beste vollengte-rolprent, die eerste keer dat ’n Afrikaanse rolprent hierdie prestasie behaal.

Dis meer as ’n dekade gelede dat sy haar eerste boek onder ’n skuilnaam laat verskyn het. Mens wonder wat haar destyds oortuig het om haar eie, traumatiese verhaal te vertel.

“Eerlike antwoord? Ek weet nie. Dit was nie regtig ’n besluit nie, eerder ’n gegewe. Ek wou nog altyd skryf, en om my eie verhaal te vertel was die maklikste. En die moeilikste.”

Sy vertel sy het gedroom van voltyds skryf, maar nooit gedink dat die droom bewaarheid sou word nie. Sy skryf steeds eerstens vir haarself – oor dinge en mense wat haar snags laat wakker lê, “maar nie meer oor myself nie”.

Anchien erken dat die boek nie genesing gebring het nie. “Ek glo nie dat ’n boek genesing kan bring nie. Ek glo nie eens dat werklike genesing moontlik is nie. Dit is nie ’n jas wat jy bloot kan uittrek nie; dis in jou vel, deel van jou menswees. Maar gedeelde leed bring tog ’n mate van aanvaarding. Dalk lê genesing juis daarin? Later, nadat lesers op die boek begin reageer het, het ek eindelik verstaan dat ek nie alleen is nie. Dat ek nie stom is nie. Dat ek deel is van ’n sisterhood of survivors. En daarin lê aanvaarding. En dalk genesing?”

Sy vertel verder: “Daar is steeds mense wat my nie glo nie – dit breek my hart – maar ek weet dat ek die regte ding gedoen het om dit te vertel. Ek het na die verskyning van Dis ek, Anna briewe, e-posse en boodskappe van vroue in hulle 70’s en 80’s gekry wat nog nooit aan enigiemand kon vertel het deur watse hel hulle is nie. Maar nadat hulle die boek gelees het, kon hulle daardie seer sweer laat oopbars.

“Die bevrediging lê daarin – dat ek, saam met soveel ander stom Annas (en Janne), ons stemme gevind het en dat ons dit kan, mag en moet deel – nie noodwendig met die wêreld nie, net met iémand.

“Vir onsself, want stilte versterk net die houvas wat die gebeure en daai persoon op jou het.”

Is dit moontlik om te vergewe en te vergeet? Om aan te beweeg?

“Ek het so ’n paar jaar gelede ’n onderhoud gedoen waarin ek vertel het dat ek eindelik kon vergewe. Die meeste dae glo ek dit. Ander dae sukkel ek daarmee. Dit bly moeilik om iemand te vergewe wat jy nie in die oë kan kyk nie.

“Ek weet ook nie.

“Wat ek wel weet, is dat dit nodig is om te vergewe. Nie vir hom nie. Vir myself. Sodat jy uit die spreekwoordelike tronk kan ontsnap. Ek wil nie vir altyd en altyd ’n gevangene van my verlede wees nie.

“Om te vergeet is egter nie so maklik nie. Herinneringe is soms brutaal. ’n Reuk, iets wat ek lees of sien (hoe klein en onbenullig dit ook al mag wees) het die vermoë om my weer te laat onthou. En die aande. Ai, die aande wanneer dit voel asof al die demone van die verlede om jou kop kom draai.

“Om te kan vergeet sou wonderlik wees.”

Haar boeke grawe diep in menslike wroeging. Mens wonder of al haar karakters geskoei is op ware mense, of waar die diepte vandaan kom.

“Nee, ek sal myself nooit so aanmatig om my karakters op ware mense te skoei nie. Nie ten volle nie, in elk geval. Ek ‘steel’ hier en daar wel stukkies van die wonderlike mense wat ek ken of die eer het om te ontmoet.”

In Nooit is ’n lang, lang tyd breek sy weg van die outobiografiese styl en skryf oor drie vriendinne van die plattelandse dorpie Sandfontein wat hulle mans en kinders agterlaat en saam met vakansie gaan. Groot onthullings dreig om vriendskappe te verbrokkel. Sy skryf onder haar eie naam.

Sy vertel: “Met die verskyning van dié boek moes ek die besluit neem of ek onder die skuilnaam Elbie Lötter gaan bly skryf en of ek my eie naam gaan begin gebruik. Ek het die besluit met almal bespreek – man, kinders, sussie – en steeds nie sekerheid gehad nie. In daardie tyd word oor René Burger se ontvoering en verkragting berig. Ek was in awe oor haar dapperheid om haar naam bekend te maak en nie weg te skram daarvan nie. Sy is my hero en die rede hoekom ek die moed gehad het om my naam bekend te maak.”

Sy beskryf die aflegging van haar skuilnaam as “bevrydend!”. “En ook scary. Maar meestal bevrydend.”

In Die besoeker is Emmie Engelbrecht die jong sekretaresse by ’n privaatskool. Om haar skulde te betaal, raak sy betrokke by dwelmhandel. Wanneer sy wil uitklim, is die dwelmhandelaars onwillig om haar te laat gaan, want sy is die sleutel tot ’n winsgewende mark onder verveelde ryk jong kinders. Sy vlug en beland in ’n afgeleë huisie in die berge, waar haar beskermengel haar inwag, en deur sy bemiddeling word sy ’n tweede kans gegun.

Vermis op Allesverloren begin wanneer een van die dorp se bekendste en berugste inwoners, Erta van Tonder, vermis word. Erta is weens haar afkoms en vermoëns deur die gemeenskap as ’n heks gebrandmerk.

Dit bring ons by Somtotaal. Speel die omgewing waarin sy woon, ’n rol in haar skryfwerk?

“Ja. Nie noodwendig die omgewing self nie (alhoewel dit ook soms so is), maar die gevoel van isolasie. Om op ’n plaas te woon, beteken dat ek nie dag tot dag met ander persone kontak het nie en dit dwing my half om in myself te delf, en om my eie geselskap te geniet. Daarom, dink ek, is die meeste van my karakters aangewese op hulleself en ook in ware kontak met hulle emosies. Al is dit soms ’n verwronge soort van kontak. Die meeste van my karakters is alleen-mense. In Somtotaal speel die verhaal tog wel in dieselfde omgewing af as waar ek woon.”

Sy vertel dat hulle haar skoonma twee jaar gelede gehelp het om van ’n meenthuis in Bloemfontein na ’n aftree-oord in Jeffreysbaai te verhuis.

“In Bloemfontein moes ons letterlik haar hele lewe oppak. En sy het baie goed gehad! Sy moes noodgedwonge van heelwat ontslae raak. Dit was vir haar baie traumaties om te moes besluit wat sy wil hou en wat sy moes laat gaan.

“Met die uitpak het ek op ’n foto afgekom wat rondom 1948 geneem is, van my skoonma en haar swart maatjie wat op die gras lê en deur ’n boek blaai. Een van die foto’s waarvan sy glad nie afstand wou doen nie. Hoekom ek nooit die foto in Bloemfontein raakgesien het nie, weet ek nie. Maar toe ek daardie foto sien, het ek die storie van Ester en Nonthando gesien.”

Anchien vertel die vermoë om te kan vergewe, is die een ding aan die menslike karakter wat haar fassineer. “Dat ons soms op die ingewing van die oomblik iets sê of doen wat buite ons karakter is, en daardie aksie jare later nog by ons spook. Die beweegrede agter hierdie ‘verkeerde aksie en besluite’ bly vir my interessant.

“Wat is dit wat maak dat goeie mense soms slegte dinge doen? Veral aan ander mense. Veral aan hulle vriende. En hoekom probeer daardie persone hulself oortuig dat dit geregverdig was?

“En terug na vergifnis: Is dit regtig moontlik om ten volle te kan vergewe? Dit is die eienskap van die mens wat my die meeste fassineer. ’n Storie het altyd twee kante. Nie noodwendig twee regte kante nie. Dit fassineer my ook, die verskillende beweegredes van verskillende mense. Ek probeer in my stories daarby uitkom.”

As jy vra waaraan sy volgende werk, is dit net een groot glimlag wat jou begroet. Hierdie vrou gaan niks verklap nie ...

Nog vrae aan Anchien

Wie het jou al die beste raad gegee?

Ek gaan nie sê wie nie, eerder net wat die raad was: “As jy twyfel, moenie.” Ek volg dié raad nog daagliks. Dit los groot en klein probleme op.

Wat lê op jou bedkassie?

Die Bybel. ’n Toring-boeke.

Wat sal jou beste vriendin van jou sê?

O jinne, ek hoop dat sy sal sê dat my oor en skouer altyd beskikbaar is. En dat ek nie oordeel nie.

Ek vermoed sy sal ook noem dat ek te veel koffie drink en soms te veel praat.

Watter boek, film, raad het die grootste ingryping in jou lewe teweeggebring?

Ek kan nie dink dat daar slegs een boek of film is wat ’n ingryping in my lewe gehad het nie. Hoe meer ek lees, hoe meer wonder ek. Hoe meer ek wonder, hoe meer wil ek daardie gedagte(s) verken.

Som jouself in vyf woorde op.

Geseënd, dankbaar en gelukkig.

Hoe werk jou skryfproses?

Ek het ’n bedkassielaai vol storie-idees op papiertjies, gewoonlik laatnag neergepen wanneer die slaap ontwyk. Maar daardie idees bly gewoonlik maar net by idees – dalk omdat ek die volgende oggend glad nie die konteks van die paar sinne kan onthou nie! Die idee vir ’n storie meld homself soms op die mees onwaarskynlike plek en tyd aan. Soms is dit iets wat ek hoor. Soms iets wat ek ondervind. Of sien. En dan begin ek daaroor tob. ’n Foto van ongeveer 70 jaar gelede het Somtotaal geïnspireer.

Ek doen redelik baie navorsing, ja. Soos die storie vorder, word die navorsing gewoonlik meer. Met Somtotaal het ek met boervroue (veral dié wat hulle vormingsjare op ’n plaas deurgebring het) gesels – nie formele navorsing nie, sommer so oor ’n koppie koffie. Oor hulle grootwordjare op ’n plaas en oor die vriendskap wat hulle met die kinders van die werkers gehad het. Ek wou veral weet of hulle nog kontak het en indien nie (wat in al die gevalle so was), hoekom nie.

Wie lees eerste jou boeke en hoe baie steur jy jou aan hul opinie?

My uitgewer, Nèlleke de Jager. En ek steur my báie aan haar opinie! Ek kon nog nooit die moed bymekaar skraap om die rou manuskrip aan enigiemand anders te gee om eerste te lees nie, nie voor Nèlleke nie.

Jy het destyds jou studies gestaak om met Lafras te trou. Wat het jy in hom gevind wat jou daardie drastiese besluit laat neem het?

Ons was op Kersdag 2019 al 31 jaar getroud! Time flies when you’re having fun!

Sy deernis met mens en dier. Sy humorsin. Sy vermoë om altyd die goeie in mense en situasies te sien. Sy eerlikheid. Hy aanvaar my net soos ek is. Hy is lief vir my net soos ek is.

Is jy ’n tipiese plaasvrou wat konfyt kook, koekies bak en ’n spogtuin het?

Ek is baie lief vir handwerk. Hekel, brei, ’n bietjie naaldwerk. En ek hou van koekies bak! Maar konfyt kook en brood bak kan ek nie.

Ons is nou amper twee jaar in die nuwe (ou) huis op die nuwe plaas. Toe ons hier aangeland het, was hier geen tuin nie. Nie eens gras nie. Die gras is nou welig en groen, maar geen beddings met kleurvolle blomme of plante nie. Ek blameer ons twee honde. Hulle is nog klein, sny nog tande, en die bietjie wat ons wel geplant het, het die volgende dag op die gras gelê. Ons wag maar tot hulle meer verantwoordelik met plante kan omgaan.

Vertel meer van jul troeteldiere?

Ek is erg, erg, erg mal oor katte! My seun, Chris, en skoondogter, Roecelle, het twee jaar gelede vir my ’n rooi Persiese kat as Kersgeskenk gegee. My liewe Max.

Toe ons die dag ons meubels hier aflaai, het ’n rondloper haar verskyning gemaak, rondgekyk en besluit om te bly. Ons het haar Kleintje begin noem – sy was maar net ’n asempie groot, met ’n vreeslike boepens. Twee maande later het ons besef hoekom sy so ’n groot maag het. Sy het vier kleintjies gehad. Vir twee het ek goeie huise gevind; Hansie en Grietjie het gebly.

My dogter, Joice, en skoonseun, Fred, het vir Lafras ’n skaaphond as Vadersdaggeskenk gegee. Hy het hom terstond Dodge genoem. Die volgende maand het Lafras hier aangekom met Bentley. ’n Rescue-baba van twyfelagtige herkoms.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top