Charlenè Brouwer is eersdaags te sien in die hoofrol van die nuwe film Dis ek, Anna, gegrond op die gelyknamige boek (en die opvolg) deur Anchien Troskie. Sy beantwoord ’n paar vrae oor die film, toneelspel in die algemeen en die lewe.
Goeiedag, Charlenè. Hoe's dinge?
Dinge gaan baie goed, dankie vir die vraag. Mense moet meer vir ander vra "Hoe's dinge?" en wag vir die antwoord.
Sover ek verstaan is die voor-die-kameras-werk aan Dis ek, Anna afgehandel en is die film binnekort te sien. Dit was na verneem word ’n lang proses om tot op hierdie punt te kom – hoe het jy aanvanklik die rol van die ouer Anna losgeslaan en hoe het jy voorberei vir die rol, fisiek en geestelik?
Die eerste ding wat regisseur Sara Blecher my gevra het, is of ek ’n sielkundige sien. My antwoord was nee. "Then I suggest you start seeing one."
Ek het saam met die teks geleef nog voor dit geskryf was. Ek het saam met Niel [van Deventer, Charlenè se verloofde en vervaardiger van Dis ek, Anna] deur Anchien se storie gepraat, dae het maande geword en maande jare. Eers toe Tertius [Kapp] die teks klaar geskryf en ek dit eers gelees het, het ek die boeke gelees. Sara het my aangeraai om Anna se storie my journey te maak. Wat so moeilik was, was om genesing te vind in "Anna" in die begin. Ek was kwaad, rou en stukkend as karakter voor ek en Sara begin werk het en die dag wat ons die laaste toneel in Knysna geskiet het, kon ek nie meer huil nie. Ek as Charlenè het "genesing" in "Anna" gevind. In die feit dat elke mens se "journey" hulle eie is – en dat daar altyd hoop is. Daar is te veel slagoffers van mishandeling. Mishandeling kom in verskillende vorme voor: fisiek, emosioneel en seksueel. Daar is te veel kinders en vrouens en mans wat hulle stories met my gedeel het deur hierdie hele proses en ons moet iets doen en durf nie langer stil te bly nie.
’n Paar bekende akteurs, soos Marius Weyers en Morné Visser, het saam met jou aan die film gewerk. Hoe was die dinamiek op stel en in hoe ’n mate het die akteurs mekaar bygestaan, gegewe dat dit ’n besonder swaar storie is? Verskil die dinamiek onder akteurs en die gevoel op stel noemenswaardig tussen die skiet van só ’n intense drama en ’n ligter film, soos byvoorbeeld Vrou soek boer, waarin jy ook te sien was?
Ek is pynlik skaam. Ek hou gewoonlik van op my eie wees. Ek dink nie mense weet hoe skaam ek eintlik is nie. Ek is altyd beleefd en so, maar gewoonlik verkies ek my eie stilte en spasie (veral as ek nie mense ken nie). As ek egter mense eers ken en vriende is, is dit makliker. Anna was in ’n mate makliker vir my omdat ek die spasie gegee is om alleen te wees in my voorbereiding. Met iets ligter moet mens amper nog meer van jouself gee, omdat dit ’n komedie is. Moet my nie verkeerd verstaan nie – ek lewe vir albei genres.
Ek is mal daaroor om ’n karakter te speel wat nie ek is nie. Dit was aan die ander kant weer "moeilik" met Anna, omdat Sara so baie eerlikheid vereis van akteurs. Ek het op Dis ek, Anna ook die voorreg gehad om teenoor van die bestes te kon speel. Die beste nie net in talent nie, maar in hulle harte. Elke mens voor en agter die skerms was daar as mense wat iets vir die wêreld wil teruggee; wat ’n stukkie hoop wou oopkrap en uitdeel.
Die boeke Dis ek, Anna en Die staat teen Anna Bruwer was natuurlik topverkopers en het ’n groot impak op die plaaslike boektoneel gemaak (en ook oorsee). Het jy die boeke gelees voor jy die teks ontvang en die kameras begin rol het, of verkies jy om eerder met ’n skoon kop daarin te gaan? Met ander woorde, het jy druk ervaar om met jou spel en interpretasie so getrou moontlik aan die boeke te bly, of hoe het jy dit benader? Hoe dink jy moet aktrises en akteurs só ’n situasie in die algemeen benader?
Ek het aspris nie die boeke gelees voor die teks nie. Ek het wel die storie in my kop uitgespeel. Ek en Niel het vir jare oor "Anna" se storie gepraat en ek het die storie geken as "buitestander" voor ek die teks gelees het. Ek het die teks "afgebreek" volgens my emosionele verwysingsraamwerke en daarna die boeke gelees. Ek het weer die teks afgebreek volgens "Anna" se verwysingsraamwerke. Hierdie proses het ek oor en oor gedoen tot die laaste konsep van die teks. Ek en Sara het begin werk en die proses was so organies dat elke "performance" verskil het. Ek moet eerlik bieg dat ek druk gevoel het omdat ek nie Anchien en dit waarvoor ons die storie vertel het, wou faal nie. Ek het die druk gevoel, maar vroeg in produksie ’n ferm besluit geneem om nie onder die druk mee te gee nie.
Op grond van die vorige dink ek die beste ding wat ’n akteur vir hom-/haarself kan gee, is erkenning. Om nóóit in hom-/haarself te twyfel nie. Met acting is daar nie reg of verkeerd nie – daar is nederig eerlik wees en jou siel en hart soos verf op ’n skoon doek verf. Daar is niks verkeerd of reg daaraan nie. Voorbereiding is vir my soos oefening – geen Olimpiese atleet hardloop sonder oefening nie. Voorbereiding in jou siel, liggaam en kuns. Ek ken nie die antwoorde nie (ek is self ’n "struggling artist"), maar ek wens dat iemand vir my 19-jarige self gesê het: "Wees net eerlik. Wees goed en moenie dat iemand jou laat twyfel in jouself nie ... Nooit nie."
Die lys van werk wat jy al op films en TV-reekse gedoen het, sluit ook kontinuïteitsbestuurder en script supervisor in. Wat geniet jy omtrent dié agter-die-skerms-werk, en wat daarvan sal jy graag wil uitbrei? In hoe ’n mate probeer jy afstand doen van dié rolle wanneer jy alleenlik as aktrise by ’n projek betrokke is? Of dink jy dit is beter vir ’n aktrise of akteur om wel ’n oog te hou oor die hele organisme van ’n filmprojek en bystand te bied waar toepaslik?
Ek is nie altyd ’n aangename mens as kontinuïteitsbestuurder nie – ek is nogals pynlik perfeksionisties. Dis baie goed in daai aspek van die bedryf, maar nie as aktrise nie. En snaaks genoeg kan ek as ek speel nie een sekonde verstrengel raak in kontinuïteit nie – inteendeel, dit help my. Ek verstaan die prosesse van film – en ek dink die grootste "geskenk" wat ek ontvang het, was om die voorreg te gehad het om te leer deur te doen. Ek is gemaklik en my "skaam" kant kom tot rus omdat ek weet wat elke mens se doel en rol is op ’n filmstel. Ek verstaan elke departement se frustrasies en ek wat self ’n garderobe-assistent was, sal selde tot nooit my kostuum nie ophang nie – net uit respek, omdat elke mens se rol op stel ewe belangrik is. Respek en nederigheid is van die belangrikste kenmerke wat akteurs kan koester.
Jy het al sepiewerk, komediewerk, dramawerk en byna alle soorte werk gedoen. Wat geniet jy die meeste, en waarop sou jy jou graag grootliks in die toekoms wou toespits? Hoe belangrik is dit vir jou om divers te wees in hierdie opsig, en wat sou jou raad aan voornemende akteurs en aktrises wees wat dit betref?
Ek is passievol verlief op my werk as aktrise, maar vir ’n hele paar jaar dwaal my oog na regie. Ek wil graag myself toespits op tekste skryf en die regie daarvan behartig. Ek hou van stories vertel en sal seker vertel tot ek my laaste asem uitblaas.
Ek dink my grootste advies is om nie ’n gemaksone te verval nie. Daag jouself uit met rolle wat jou nie “pas” nie en oortuig mense dat jy dit kan vertolk. Dis waaroor acting gaan.
Die Afrikaanse film- en TV-bedryf is op ’n interessante plek op die oomblik – wat dink jy is die haakplekke wat nog ervaar word, en wat is die sterkpunte? Hoe sal jy die plaaslike bedryf – Afrikaans en al die ander plaaslike tale – se toneel wil sien groei of verander in die toekoms, en hoe kan dit bereik word?
Ek verkies om my nie te veel uit te laat oor die Afrikaanse "bedryf" nie. Afrikaans is nie ’n genre nie. Ek glo dat elke mens sy of haar passie en drome moet volg. Ek gun vir ons as "Afikaners" om ons stem in die wêreld te vind en op te hou vasklou aan verledes en uit te breek in die sterk nasie wat ons is. Ons is baie talentvol en ons taal is sterk gewortel in Afrika. Ons moet ophou verskonings maak vir sekere standaarde en begin oplossings vind in die aspekte (bv gehalte en kostes van produksies) wat ons as kunstenaars, filmmakers ens terughou. Om "veilig" te speel werk lank nie meer nie, en ook nie om ons gehore te onderskat nie. Daar is geen verskoning vir swak produksies meer nie – die standaard styg elke jaar en ek is net hoopvol dat ons Afrikaanse gehore sal ophou om swak produksies bloot te aanvaar want "daar is niks anders nie". Maar soos ek sê, ek hou nie daarvan om oor die bedryf in die algemeen te praat nie. Ek dink dis tyd dat vervaardigers en almal in ons industrie vir hulself praat as onafhanklike produksies en ek gun elkeen hulle droom en sal enigiemand aanmoedig en vir hulle "cheer".
Soos gemeld, het jy al ’n hele rits projekte agter die blad. Wat staan in hierdie stadium vir jou uit as hoogtepunte wanneer jy terugdink? Enige plek waar jy geskiet of gewerk het wat uitstaan, of staaltjies wat jy nie sommer sal vergeet nie? Enige gebeure wat jy dalk eerder sal wíl vergeet?
Ek weet nie eens waar om te begin om die vraag te beantwoord nie. As 19-jarige plattelandse meisie was ek eers in Italië oorrompel met die modelwêreld en daarna in Johannesburg. Ek dink nie my 20-jarige self sal saamstem nie, maar die ding waarvoor ek die dankbaarste is, is dat ek ongelooflik hard moes werk (steeds) om myself te kan onderhou in die bedryf. Ek is ook die heel dankbaarste vir my verloofde, Niel van Deventer, wat my rots is. Ek en hy is baie bevoorreg om nie net ons liefde vir film te deel nie, maar ons liefde vir mekaar. Een van my hoogtepunte was ’n kortfliek wat ek en hy saam gedoen het vir die Silwerskermfees, Anderkant gister. Hy het geskryf en vervaardig en ek het direct en dit was die meeste pret wat ek nog ooit op ’n stel gehad het.
Elke stel het sy oppe en affe – ek dink nie mense besef aldag hoeveel werk, tyd en geld gaan in ’n film nie. Ek moet ook eerlik bieg – om saam met Sara te kon werk was vir my ’n hoogtepunt. Ek is ook dankbaar vir die filmfamilie wat ons oor die jare opgebou het met mense wat ’n passie het vir films. Julle weet wie julle is.
Wat hou die nabye en verre toekoms in vir Charlenè Brouwer, in so verre jy dit kan beheer?
Ek is so opgewonde oor die nabye toekoms! Ek trou Augustus met die man wat alles saam met my deel.
Ons is bevoorreg om na ’n paar feeste te gaan met Dis ek, Anna, onder meer Durban se internasionale filmfees.
Die verre toekoms ... sjoe. Ek het lank terug geleer dat die mens sy toekoms kan beplan, maar God bepaal die rigting. Ek kan dus net hoop, in die woorde van Francois van Coke en Karen Zoid, dat myne "’n hond en ’n huisie" insluit. Verder werk ons aan die res.
Wat is die sin van die lewe?
Die sin van die lewe – genade! Ek dink om elke oomblik vir nou te leef. Om die skoonheid in klein dinge raak te sien. Om alles om jou in te neem – die natuur; ’n kind se lag; roomys; en sommer net alles. Ons gaan almal met die dood kennis maak – ons weet nie hoe en wanneer nie, en dit is die enigste konstante ding waarvan ons seker kan wees, maar ons kan intussen lewe. Soos Niel altyd sê: "Lewe die lewe terwyl jy lewe."




Kommentaar
Ons het van 'n klein dorpie Sannieshof waar Charlene groot geword het en op sosiale media haar dopgehou.Sy is besig om teen 'n tempo te groei in alles wat sy doen.Sy het die potensiaal om enige produksie aan te vat en haar eie te maak en daarmee te kompeteer met die heel beste in die bedryf.Sy gaan nog groot hoogtes bereik.
Wat 'n mooie meisie is sy tog nie!