Roman oor dwelmhandel kon beter

  • 0

Die besoeker
Anchien Troskie
Uitgewer: Kwela Boeke
ISBN:9780795702990
Prys: R175


 

Ons het Anchen Troskie in 2005 leer ken toe sy met die opspraakwekkende Dis ek, Anna gedebuteer het. Dié roman oor kindermolestering is op die skrywer se lewe gebaseer, daarom dat sy die skuilnaam Elbie Lötter gebruik het. In 2008 verskyn haar chic-lit-roman Nooit is ’n lang, lang tyd, dié keer onder haar eie naam. Die karakters worstel elk met ’n geheim soos ontrouheid, homoseksualiteit of alkoholisme. In Troskie se jongste roman, Die besoeker, val die kollig op nóg ’n gewigtige tema: dwelmverslawing onder jongmense.

Emmie, ’n sekretaresse by ’n vooraanstaande privaatskool, wou nooit soos haar pa wees nie. Hy het homself ryk gesteel en is uiteindelik vir bedrog gevang. Maar Emmie, “die vaal enetjie wat soos ’n koek aantrek”, beland self in die skuld en die versoeking word te groot en te maklik om deur middel van dwelmverkope uit haar finansiële verknorsing te kom.

Die ryk leerders wie se ouers dikwels nie beskikbaar is nie, is maklike prooi. Soos Carl en Sean. En Annette, wat gaandeweg vasgevang word in die hartseer afwaartste spiraal van dwelmmisbruik.

Leuens raak deel van Emmie se lewe en sy kan nie loskom van slymerige dwelmbase soos Jake en Quintin nie. Die drie maande wat sy sou werk om haar skuld af te los, raak jare. Sy probeer deurentyd haar optrede regverdig: die leerders koop ten minste suiwerder dwelms by haar …

Wat hierdie roman anders maak, is dat Emmie haar verhaal aan haar beskermengel, Migael, die besoeker, vertel. Dít terwyl sy haar “siel aan Mammon verkoop het”. Aan die een kant is die vertel van die storie aan ’n engel ’n interessante andersheid. (Troskie waarsku vooraf dat die roman bedoel is vir diegene wat in engele glo.) Maar aan die ander kant vertél sy ongelukkig groot dele, eerder as om te wýs. Heelwat spanning gaan so verlore en veral aan die begin raak die leser verveeld.

Migael oortuig ook nie altyd as engel nie. Soms luister hy met begrip, ander kere is hy veroordelend. Hy word ook nie ’n volronde karakter nie. Sy voorkoms word in clichés weergegee. Hy is “lenig gebou” en “gespierd”.  Daar word tot vervelens toe gesê dat hy “mooi” is. Selfs “mooier as mooi”.

’n Karakter met ’n swart kant behoort ook so geskets te word dat sy darem die leser se empatie wen. Ek kon egter nie minder omgee oor Emmie nie.

Die interessantste dele van die roman kom uit die dwelmverslaafde leerder Annette se dagboek. Die roman kon veel interessanter gewees het as dit dalk uit Annette se perspektief vertel kon word. Want dié leerder glo, soos baie jongmense: “As jy wil inpas, as jy vandag aanvaar wil word, sê jy ja! Vir seks. Vir drugs. Vir sigarette. Vir drank. Anders is jy ’n uitgeworpene.”

Stof tot nadenke.

Die gedeeltes wat lesers sal bybly, is die hartverskeurende realiteit dat mens nie sommer kan loskom as jy eers by dwelmhandel betrokke is nie. As jy wil uitbreek, is niemand in jou gesin veilig nie. Selfs jou hond kan sterf. Ook aangrypend is die hoekoms agter mense se besluite om by dwelmverkope betrokke raak. Soos in Lucky se geval. Sy ma kry Alzheimer se siekte en moet in ’n duur tehuis opgeneem word. Lucky het nie die geld nie …

Die einde van die roman hou verrassing en ’n fantasie-element in. Jy sal dink dis óf ’n goeie ontknoping óf dalk ’n te maklike oplossing.

Die roman is deurspek van clichés. Soos “verbete” vasklou, Emmie wat “verbete” aan ’n knop in haar keel sluk, ’n maag wat “krampagtig saamtrek”, arms wat “krampagtig” om ’n lyf geslaan word, lippe wat “styf opmekaar pers”, meisies wat “soos nete klou” aan al wat man is, ’n glimlag wat “pluk-pluk” om ’n mond. Sommige beskrywings is darem ook net te dramaties. Soos: “Trane van verwyt tap uit my oë.”

Soms word beelde tot drie keer herhaal. Soos die stilte wat “dik hang”. Dis so onnodig, want ander beelde is so raak. Soos die beskrywing van die dwelmbaas Jake, wie se glimlag “nie tot by sy oë reik nie”.

Annette se oomblik van waarheid is érg, maar word net terloops genoem. Ook nie gewýs nie. Dit kon soveel meer aangrypend gewees het.    

Hier en daar word die roman te prekerig. Daar is tog ander maniere om boodskappe weer te gee as dat een karakter dit reguit vir ’n ander sê? Soos “jou verlede hoef nie die bloudruk van jou toekoms te wees nie. Alles wat sleg was – of is – kan beter gemaak word. Jý kan dit beter maak.”

Emmie verbeter wel haar lewe. Aan die begin kry sy ’n perverse genot daaruit om die leerders wat op ’n high is dop te hou. Later haat sy dit wat sy geword het en vra: “Hoe kan God vir my lief wees?” 

As jy wil lees hoe mense by ’n dwelmnetwerk ingesuig word of hoe dwelms gaandeweg ’n houvas op jong lewens kry, lees gerus Die besoeker. Maar as jy van goeie letterkunde hou, hou verby.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top