
Somtotaal
Anchien Troskie
NB-Uitgewers
ISBN: 9780798180856
Somtotaal, die nuutste roman van Anchien Troskie, het onlangs by Human & Rousseau verskyn.
Die roman vertel die verhaal van Ester en Nonthando wat saam op ’n plaas in die Oos-Kaap grootgeword het. Maar dit is ook die verhaal van Nomsa Majola, Nonthando se ma, en Milagro Majola, Nanthando se dogter. Dit is ’n verhaal van verraad, van geheime, van jaloesie, maar ook van boetedoening en vergifnis.
Die roman handel oor die temas van verraad en vergifnis. Ester en Nonthando is van kleins af boesemvriendinne op die Oos-Kaapse plaas waar hulle grootword – hulle is byna soos susters en Nomsa is Ester se "Mama". Niks kan tussen hulle kom nie – of so het hulle gedink totdat Ester aan die einde van haar matriekjaar Jeffreysbaai toe gaan vir die somervakansie en in die liefde vasgeloop het. ’n Tipiese vakansieromanse ontstaan tussen Ester en Mateo. Sy neem hom op Nuwejaarsdag plaas toe, maar iets vreesliks gebeur daardie dag. Dit is waar Mateo en Nonthando mekaar ontmoet en die verraad begin (of het dit al vroeër begin?). Dit is grotendeels Nonthando se dogter, Mila, wat die verraad en die haat die skerpste voel – veral wanneer sy verlief raak op Dewald, Ester se seun. Maar van almal is dit Ester wat die swaarste las aan die verlede dra, en uiteindelik raak die las vir haar te groot. Sy probeer ’n einde aan haar lewe en die verraad maak, maar moet nog daarmee saamleef totdat sy die waarheid teenoor Mila bieg om vergifnis te kry: "Ek is jammer. Ek weet jammer beteken niks. Maar dit is al wat ek het. Ek wens elke dag dat ek die horlosie kan terugdraai, dat ek jou ma se brief aan jou pa gepos het, dat ek syne aan haar gegee het. Dat ek haar lughawe toe geneem het. Maar ek kan nie. Ek het myself probeer oortuig dat dit tot Nonthando se beswil was om hier te bly. Dis waarmee ek my jare lank probeer verontskuldig het."
Troskie maak gebruik van twee vertellyne in die roman, al is die roman in sewe vertelsegmente verdeel, naamlik "Vrees", "Verlies", "Verandering", "Vernedering", "Verdriet", "Vrede" en "Vreugde". Daaruit kom die titel van die roman: die somtotaal van ’n lewe. Aan die einde van die roman het Ester "vrede gemaak met haar verlede, met haar verliese, met haar vrese, met haar vernederings". En Mila is "tuis in haar vel" en "Sy het die somtotaal van haar lewe leer verstaan: Vrees, verlies, verandering, vernedering, verdriet, vrede en vreugde."
Ester en Milagro se verhale word afwisselend deur ’n derdepersoonsverteller in hierdie segmente vertel. In beide se vertelgeleenthede kom die leser agter wie die ander karakters in die roman is, maar veral wie hierdie twee karakters is. Uit die twee se vertellings leer ken die leser die geskiedenis van die Marees, die Labuschagne’s en die Majolas. Saam met hierdie vertellings kry die leser ook ’n blik op die geskiedenis van Suid-Afrika: van die apartheidsjare en rassediskriminasie "met die donkergroen bordjie waarop BLANKES staan met ’n pyltjie na links, en nog een met NIE-BLANKES en ’n pyltjie na regs"; ook van die nuwe Suid-Afrika: "Haar eie generasie is baie minder daarvan bewus. En die jongeres, die kinders, by hulle is daar bykans geen bewustheid nie. Bewustheid is ook nie die regte woord nie. Almal sien kleur raak, dis ’n gegewe, maar die meeste respekteer mekaar se verskille en behandel mekaar as gelykes."
’n Ander tema wat uiters sensitief hanteer word, is selfdood. Die rede hiervoor, die gesprekke wat Ester daarna met haarself en die (denkbeeldige) sielkundige voer, en veral Dewald en Elanie se reaksies daarop, word simpatiek maar ook baie realisties uitgebeeld. Wanneer Dewald by haar wil weet hoekom sy dit gedoen het, hou Ester "haar blik op die motor in die hospitaal se parkeerarea. Sy wil nie die magtelose woede sien wat sy weet in sy blik en lyf is nie." Elanie sê: "Daar is min erger dinge as om ’n ouer aan die dood af te staan. Ek het reeds my pa verloor, ek kan Ma nie ook verloor nie." En Ester verwoord dit soos volg: "Sy verstaan dan self nie wat in haar kop aangaan nie. Nie daardie nag nie, nie in die dae vooraf nie, nie nou nie. Op ’n manier was dit ’n impulsiewe besluit. En ook nie."
Die leser hiervan kan Somtotaal gerus lees. Die verhaal van Ester se wroeging en Mila se haat is boeiend en die tipiese pragtige woordgebruik van Troskie dra by tot die treffende uitbeelding hiervan. Dit is ’n verhaal wat die leser tot die einde sal boei, want ‘n mens wil weet wat die verraad is. En die bieg van Ester bring ook vir die leser verligting. Miskien kom die slotgedeelte te skielik en byna te gejaagd voor; asook die voorspelbare mooi en goeie einde, wat die minder geslaagde aspek van die roman is.
Uiteindelik is Somtotaal die verhaal oor liefde: liefde tussen vriendinne, vakansieliefde, liefde tussen man en vrou, liefde tussen ’n ma en haar kinders, liefde vir jou instaan-ma wanneer jou ma sterf, liefde oor die kleurgrens. Die verhaal sê ten slotte vir die leser dat die liefde altyd oorwin.
Lees ook:

