Agterstories: Ou nuus kry nuwe baadjie

  • 0
  • Agterstories is Johan Fourie se maandelikse rubriek oor die ekonomie van die alledaagse. 

Toe ek en die ekonoom Johannes Norling onlangs ’n artikel oor die Spaanse griep in die VSA skryf, was hy doer oor die waters in die VSA, en ek hier in Stellenbosch. Ons het die werk netjies verdeel: Johannes het die opname en kwantifisering hanteer; ek moes die koerante lees. Dít het behels dat ek deur dosyne Amerikaanse streekskoerante moes werk om vas te stel hoe mense se besteding destyds verander het tydens die pandemie en die daaropvolgende kwarantyntydperk. ’n Generasie gelede sou dit onmoontlik gewees het om my deel van die projek hier vanaf die suidpunt van Afrika uit te voer. Ek sou ’n lang navorsingsreis na Amerika moes onderneem met hope mikrofilm en ’n ruim navorsingstoelaag. In plaas van so ’n omslommernis, kon ek die navorsing met ’n skootrekenaar en ’n ordentlike internetverbinding in die gemak van my eie kantoor doen.

Die groot verskil is nie net dat geskiedkundige koerante nou aanlyn beskikbaar is nie; dit is dat hulle in gestruktureerde datastelle omskep is wat sosiale wetenskaplikes werklik kan ontleed.

Hierdie vooruitgang is egter meer as net ’n gerieflikheid. Die groot verskil is nie net dat geskiedkundige koerante nou aanlyn beskikbaar is nie; dit is dat hulle in gestruktureerde datastelle omskep is wat sosiale wetenskaplikes werklik kan ontleed. ’n Skandering van ’n eeu-oue bladsy is een ding. As ’n rekenaar egter presies weet waar die opskrif eindig en die berig begin, en kan onderskei tussen ’n redaksionele stuk en ’n advertensie, en selfs watter brokkie teks net ’n foto-byskrif is – dán speel ons in ’n ander liga. In die VSA neem projekte soos American Stories miljoene bladsye uit die Library of Congress en leer algoritmes om presies dít te doen. Hulle sny ’n koerantblad op in betekenisvolle blokke, laat die teksherkenning weer op die hoogste kwaliteit dit deurwerk en bou daaruit ’n datastel van berigte, opskrifte en advertensies, elkeen kompleet met ’n plek en ’n datum. ’n Susterprojek, Newswire, rekonstrueer die sogenaamde wire stories waarop plaaslike koerante destyds gesteun het, die nuusberigte wat per telegram deur nuusagentskappe versprei en in streekskoerante herdruk is. In albei gevalle word ’n warboel ou nuus omskep in ’n ekonoom se droom – data.

’n Skandering van ’n eeu-oue bladsy is een ding. As ’n rekenaar egter presies weet waar die opskrif eindig en die berig begin, en kan onderskei tussen ’n redaksionele stuk en ’n advertensie, en selfs watter brokkie teks net ’n foto-byskrif is – dán speel ons in ’n ander liga.

Sodra koerante data word, kan mens bekende vrae skielik met veel fyner instrumente beantwoord. Tydens die 1918-grieppandemie het plaaslike koerante byvoorbeeld aangeteken wanneer burgemeesters openbare byeenkomste verbied het, wanneer kerke en teaters toegemaak het en wanneer dit verplig was om maskers te dra. Hierdie klein brokkies in honderde dorpe kan nou gesoek, gedateer en gekoppel word aan sterftesyfers. In plaas daarvan om net ’n storie te vertel oor watter stede versigtig was en watter oorhaastig, kan ons vandag die werklike effekte van elke beleid beraam. Dieselfde logika help ons om te volg hoe gereeld sekere kwessies in plaaslike nuus opduik: Hoe het berigte oor rasse-onluste oor streke heen versprei? Wanneer het die gesprek oor werkloosheid skielik toegeneem? Hoe vinnig het stories oor nuwe tegnologie, soos die telefoon, die motor, of die rekenaar, van die kusstreke na die binneland beweeg?

Advertensies is ’n besonder ryk databron. Ekonomiese historici gebruik dit al lank om pryse te rekonstrueer in plekke en tye waar geen amptelike statistiek bestaan nie. Eiendomsadvertensies wys wat erf- en huispryse in Chicago of Manhattan was. Werkaanbiedinge verklap watter vaardighede in aanvraag was, watter beroepe reeds aan die uitsterf was en hoe lone en salarisse oor tyd verander het, met verskille tussen mans en vrouens. In beginsel kan mens selfs inflasie uit kruideniersware-advertensies probeer aflei deur die prys van brood of suiker oor dekades heen te volg. Daar is natuurlik slaggate – geadverteerde pryse is nie altyd transaksiepryse nie. Die punt bly egter dat waar vroeëre generasies toegang tot ’n handjievol datapunte gehad het, het ons vandag toegang tot duisende.

Met groter ambisies en beter tegnologie kan ons maklik van kwantitatiewe waarnemings na die bestudering van identiteit beweeg. ... Dis hierdie soort fyn, skuiwende betekenis wat ’n skerpsinnige historikus dalk sou opmerk in ’n paar toesprake, maar nou kan ons dit oor dekades heen meet en bestudeer. 

Met groter ambisies en beter tegnologie kan ons maklik van kwantitatiewe waarnemings na die bestudering van identiteit beweeg. Politieke wetenskaplikes Fabio Ellger, Caterina Chiopris en Daniel Ziblatt het byvoorbeeld ’n datastel gebou van Duitse parlementêre toesprake om na te volg hoe politici in die negentiende eeu die woorde das Volk gebruik het. Hulle kyk watter byvoeglike naamwoorde die naaste aan die volk staan en watter groepe ingesluit of uitgesluit word. Oor tyd verskuif die betekenis. Soms dui dit op alle burgers, soms net op etniese Duitsers, soms net op ’n party se ondersteuners. Dis hierdie soort fyn, skuiwende betekenis wat ’n skerpsinnige historikus dalk sou opmerk in ’n paar toesprake, maar nou kan ons dit oor dekades heen meet en bestudeer. Die vraag “Wie is die volk?” bly filosofies, ja, maar dit kry nou ook ’n empiriese kant.

Dieselfde logika begin ons begrip van ons land se eie geskiedenis verander. Jonathan Schoots wys hoe laat-negentiende-eeuse isiXhosa-koerante, soos Isigidimi samaXhosa en Imvo Zabantsundu, broeiplekke vir Afrika-nasionalisme geword het. Hierdie koerante – saamgestel deur Xhosasprekende, sendingopgeleide intellektueles, gedruk onder koloniale toesig en oor ’n wye gebied versprei – het tegelyk ’n verskeidenheid groepe verteenwoordig. Aan koloniale amptenare straal hulle besadigdheid en beskawing uit; met Xhosasprekende lesers deel hulle begrippe, soos regte en rasse-solidariteit; en aan landelike gemeenskappe resoneer hulle met tradisionele waardes en begrippe soos familie en stam. Die woorde isizwe (nasie, volk) en uhlanga (ras, stam) dra al hierdie lae. Deur op te spoor waar en hoe die terme voorkom, kan Jonathan wys hoe ’n Afrika-nasionalistiese projek uit plaaslike drade geweef is.

Met digitale weergawes van koerante in Engels, Nederlands/Afrikaans en isiXhosa, én parlementêre debatte, kan ons hierdie hipoteses nou toets. Mens kan tel wanneer terme soos ons volk, isizwe, native race of Afrikaner nation saam voorkom in die pers en vra of die hoër frekwensie van die terme saamval met nuwe politieke regte. Wat vroeër ’n slim spekulasie was, kan nou, versigtig geformuleer, ’n vraag wees wat aan die data gerig word.

Tydens teetyd by ’n Leap-konferensie in Stellenbosch het ek, Jonathan en Caterina begin wonder hoe ver ’n mens hierdie idees kan neem. Een interessante argument is dat nasionalistiese taal in Suid-Afrika eers werklik momentum kry wanneer een of ander vorm van demokrasie denkbaar raak: Afrikaner-nasionalisme neem toe ná verteenwoordigende regering in die 1850’s en 1860’s; swart nasionalisme in die Kaap groei ná verteenwoordigende regering en die insluiting van Afrika-gebiede in die 1870’s en 1880’s. Met digitale weergawes van koerante in Engels, Nederlands/Afrikaans en isiXhosa, én parlementêre debatte, kan ons hierdie hipoteses nou toets. Mens kan tel wanneer terme soos ons volk, isizwe, native race of Afrikaner nation saam voorkom in die pers en vra of die hoër frekwensie van die terme saamval met nuwe politieke regte. Wat vroeër ’n slim spekulasie was, kan nou, versigtig geformuleer, ’n vraag wees wat aan die data gerig word.

In werk binne my navorsingseenheid help koerante om ’n meer ongemaklike onderwerp te belig, naamlik korrupsie, of ten minste die fyn lyn tussen openbare plig en private winsbejag. Vir sy PhD het die sakehistorikus Munashe Chideya na private gesamentlike-aandelemaatskappye in die Kaapkolonie omstreeks 1900 gekyk. Deur maatskappyrekords met staatsdiensregisters en parlementêre lyste te vergelyk, wys hy dat minstens 22 politici en sewe staatsamptenare in agt private eiendomsmaatskappye belê het tussen 1897 en 1902. Hulle dra by tot bykans ’n kwart van dié ondernemings se kapitaal. En hierdie maatskappye het nie net stil-stil grond gekoop en gewag dat die waarde toeneem nie. Hulle het wetgewing nodig gehad om die groei aan te dryf, soos spoorweë, haweregte, waterkonsessies. Die wetsontwerpe is ingedien én verdedig deur dieselfde mans wat direk sou baat by die styging in eiendomspryse.

Vir die nuwe werk waarmee ek, Munashe en Ed Kerby besig is, is koerante onontbeerlik. Maatskappyprospektusse en glansryke advertensie-artikels het die bladsye van koerante soos die Cape Times gevul met beloftes van fortuine wat in nuwe voorstede soos Milnerton of vakansie-oorde by Saldanhabaai gemaak kon word. In die einste koerante is daar ook berig oor die parlementêre debatte, kommentaar is gepubliseer en redaksionele rubrieke geskryf. Kritici beskuldig hul kollegas van selfverryking, terwyl verdedigers dit as optrede in die openbare belang voorhou. Sonder hierdie koerantberigte sou dit onmoontlik wees om die patrone raak te sien, maar danksy hulle kan ons die verweefde belange van openbare gesag en private spekulasie volg. Dit begin ’n mens nogal ongemaklik baie herinner aan ’n vroeë weergawe van wat ons vandag staatskaping noem.

Sodra hierdie tekste op groot skaal gedigitaliseer word, help hulle ekonome om pryse en markskokke te rekonstrueer, of sosioloë om identiteite en ingesteldhede te volg en politieke wetenskaplikes om konsepte soos taal, instellings en gedrag aan mekaar te koppel.

Die punt is dat geskiedkundige koerante nie net bronne vir kleurvolle staaltjies is nie. Dit is spieëls waarin samelewings hulleself bekyk, waarin daar geredeneer word oor wie “ons” is en waar mense mekaar probeer oortuig wat volgende behoort te gebeur. Sodra hierdie tekste op groot skaal gedigitaliseer word, help hulle ekonome om pryse en markskokke te rekonstrueer, of sosioloë om identiteite en ingesteldhede te volg en politieke wetenskaplikes om konsepte soos taal, instellings en gedrag aan mekaar te koppel. Koerantberigte help ons om sin te maak nie net van wat mense gedoen het nie, maar wat hulle geglo het hulle doen.

Die doel is nie net om die verlede te bewaar nie, maar om dit bruikbaar te maak.

En dit bring ons terug na hedendaagse Suid-Afrika. Op ’n warm Maandagaand, laat-November in Stellenbosch, is ’n nuwe digitale museum vir Afrikaanse kultuurerfenis bekendgestel. Die Nuuseum, ’n samesmelting van nuus en museum, wil Afrikaanse koerante, tydskrifte, foto’s, films, radio- en televisiemateriaal in een deursoekbare argief opteken. Sowat een en ’n half miljoen bladsye is reeds gedigitaliseer, en daar word daagliks nog bygevoeg. Die doel is nie net om die verlede te bewaar nie, maar om dit bruikbaar te maak. Hulle wil hê ’n student, of sy nou in Upington of Utrecht sit, moet net met haar skootrekenaar ’n eeu se openbare debat in Afrikaans in ’n oogwink kan oproep, van kerkblaaie tot politieke manifeste.

Verbeel jou net ’n mens kan sien hoe woorde soos volk, apartheid, goud en Eskom voorkom in Afrikaanse koerante van 1915 tot 2015. Of om die ontwikkeling van debatte oor ras, taal, arbeid en grond te volg ...

By die bekendstelling het ek aangevoer dat dit net so belangrik vir die sosiale wetenskappe in Suid-Afrika kan wees as wat die groot Amerikaanse koerantdatastelle vir hulle is. Verbeel jou net ’n mens kan sien hoe woorde soos volk, apartheid, goud en Eskom voorkom in Afrikaanse koerante van 1915 tot 2015. Of om die ontwikkeling van debatte oor ras, taal, arbeid en grond te volg – nie deur ’n handvol kanonieke tekste nie, maar deur die hele, kleurvolle spektrum van plaaslike koerante, kerk- en party-nuusbriewe. Met die regte instrumente kan Nuuseum die data voorsien aan honderde proefskrifte en tientalle boeke.

Hierdie droom sal egter net realiseer as die argief wérklik breed en verteenwoordigend is. Nuuseum kan slegs koerante en hul berigte insluit waarvoor daar toestemming verkry is. As mediamaatskappye hul historiese versamelings agter streng virtuele mure bewaar, sal ons die digitale geheue van Afrikaans skeeftrek na dié koerante wat wél saamwerk. Hele tradisies, streke of gemeenskappe kan eenvoudig uit die soekbare rekord gehou word.

Die kombinasie van ruim argiewe en kragtige nuwe tegnologieë beteken dat ons nou groot idees oor identiteit, nasionalisme en korrupsie kan toets, eerder as om spekulatiewe stories oor te vertel.

Vir navorsers sou dit ’n ernstige beperking wees. Dit hou selfs erger gevolge in vir ’n taalgemeenskap wat steeds stry oor aan wie Afrikaans behoort. Die kombinasie van ruim argiewe en kragtige nuwe tegnologieë beteken dat ons nou groot idees oor identiteit, nasionalisme en korrupsie kan toets, eerder as om spekulatiewe stories oor te vertel. Maar dit kan ons net doen as ons die hele taal- en medialandskap sien. Dit is nie nou die tyd om digitaal laer te trek rondom private versamelings nie. Dit is die tyd om die hekke oop te maak en toekomstige geslagte toe te laat om te lees, te tel, te dink en te redeneer deur die vele stemme wat ons gevorm het. Ou nuus kry mos net ’n nuwe baadjie as ons almal dit kan dra.

Lees en kyk ook:

Nuwe digitale argief maak kultuurerfenis toeganklik vir almal

Die impak van grootdata op tradisionele argiewe: ’n oorsig van uitdagings en geleenthede

Stephanus Muller praat met Lizabé Lambrechts, uitvoerende bestuurder van Nuuseum

Argiewe: Bêre of brand in die digitale era?

SteedsDink met LitNet Akademies: Lizabé Lambrechts

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top