Aftrek, a(a)ntrek, optrek en uittrek van metafore in Kruiper-Crawler: ’n onderhoud met Shane van der Hoven

  • 0

Omslag: https://uhlangapress.co.za/blog/2025/9/30/announcing-kruiper-crawler-by-shane-van-der-hoven; outeursfoto is verskaf en erkenning word gegee aan Amandla Singqoto/ Edition Events / Legacy.

Kruiper-Crawler
Shane van der Hoven
uHlanga Press
ISBN: 9781049208190

Dianne du Toit Albertze voer ’n onderhoud met Shane van der Hoven oor Kruiper-Crawler (uHlanga)

Too nondescript to have a name
it spent its nights on nameless walls,
silent as cloud shadow save
for the clicking rosaries of its claws
“Alley-cat” deur Tatamkhulu Afrika 

Baie geluk met ’n baie unieke publikasie, Kruiper-Crawler, deels Afrikaans en Engels, wat onlangs by uHlanga gepubliseer is. Die versameling bied ’n vars perspektief op postkoloniale en post- beknopte geskrewe Afrikaans in digkuns. Hier is ’n digter ter sprake wat skroomloos hul eie taal afdruk en ander uitnooi om deel te hê aan hierdie vryskrif, een wat uitdaag en vermaak.

  1. Shane, voor ons letterkundig lostrek, kom ons begin eers met die familiariteite, soos die bedeesde Afrikanervroue wat ons is. Wat is jou verkose / chosen naam en watter voornaamwoorde / pronouns verkies jy?

Suster! Ons begin presies. (En dankie vir hierie tydplek deel.) Sommer Shane en ek’s oop tot alle pronouns.

  1. Vertel ons lesers wat jou nie ken nie, gee ons die tea, so in ’n neutedop oor waar jy vandaan kom en wat jy doen vir ’n lewe, buiten dig.

Ek is in Benoni gebore en innie Laeveld, Mbombela spesifiek, grootgemaak. Ek het my alles gegee om UCT toe te kan kom. Kaapstad het vir my baie belowe. (Klomp nuwe neutedoppe.) Ek is besig met my PhD en werk as vertaler / editor / lektor en rus in Observatory, saam my partner, Travis, en ons twee katte. Meisie, ek lees en skryf vir ’n lewe – lucky!

  1. Jy noem dat die Afrikaans kleef aan die Engels en die Engels wil weghol. En dat jy daar tussen die twee fok. As leser tel mens op dat jy soms konvensioneel en veilig met vertaling omgaan en ander kere weer eksperimenteel, en dan word die vertaling amper ’n heel ander gedig op sy eie. ’n Vervorming wat mens veral sien met die studie van fungi en virusse, wat hier tematies ook ter sprake is. Brei asseblief hieroor uit.

Ek’s lief vir eksperimentele vertaling – veral kweer- / dekoloniale / feministiese vertalingspraktyke! Kruiper-Crawler bied veral ’n kweer- en seksuele benadering tot vertaling en moedig (hopelik) só ’n leesproses aan. Virusse en kweerheid, virusse en taal, kweerheid en taal – rym ammel mos so skuins met mekaar.

  1. Die bundel bestaan uit drie afdelings, “Grondmonster / Soil sample”, “Laeveld / Lowveld” en “Observatory”. Hierdie opdeling is ’n fassinerende samestelling, aangesien dit gelees kan word, eers as ’n voorstelling van die ragfyn werk wat onder die mikroskoop kom, die highlights, leitmotiewe even dalk, voor die grondwording aan ons voorgestel word vanuit die familie tot die volwasse reise. Is dit hoe jy die struktuur beplan het; wat is dalk bietjie anders of is dit bloot ’n spontane siening?

Die mapping van baie van my gedigte is in hierie twee areas gepin, mar ek wou aanvanklik hierie trajek verdoesel / omkeer / disrupt. My uitgewer, Nick Mulgrew, het my aangeraai om ’n sterker liniêre vloei te vorm. Al sy raad, all tea, het die projek verskerp en verbeter. Ek is baie trots om by uHlanga te wees.

  1. Dit was vir my opvallend hoe daar in “bosluise / ticks” na die bio-pa as daddy verwys word, wat in LGBTQ+-gemeenskap ’n trope is, en wat jy eerder as vader in “vn en pissvid” skryf om juis dit uit te wys. Wat is die betekenis agter die ommeswaai?

Ek hou van al die terme – in verskillende kontekste voel verskillende weergawes meer / minner gepas. Ek love dat kweerkultuur mens aanmoedig om oor alternative ways of relating te dink. Families wat mekaar kies en buite die vier mure van hul eie huis strek, is ’n humanist triomf.

  1. Nes die werk van Johann de Lange (RIP) en Pieter Odendaal, handel jou werk oor die teenpole, maar ook samevloei van natuur en kweerheid, van die dierlikheid in ons en die menslikheid in diere. Is hierdie twee skrywers na wie se werk jy kyk vir antwoorde op die lewe, filosofies sowel as letterkundig, vir inspirasie of sin?

Ek kyk na hulle en al die anner mense wat dig – daa’s net ’n handjievol gepubliseerde kweer Afrikaanse digters. Daa’s ook net ’n handjievol gepubliseerde swart Afrikaanse digters. Soos vroeër getik-sê – ek’s blessed om te kan tyd maak vir lees. Kruiper-Crawler spot bietjies plek-plek oor anner gay digters, maar sou werklik nie bestaan sonner die uitdagende, stewigstānende, mond-oopmakende bundels voor dit nie.

  1. Gepraat van invloed, jy skryf in “’n Virus” oor Antjie Krog en Breyten Breytenbach wat elk weer in onderskeidelike ander gedigte, “Ma / knopiespinnekoppe” en “’n varkie”, voorkom. Vertel my van die invloed wat hul in jou werk en lewe het.

Icons. Hulle twee word eksplisiet genoem, mar ek is dronk vir Afrikaanse poësie en poetry ōrie algemeen. Nathan Trantraal en Ronelda S Kamfer gryp my net soveel ānie keel as AK en BB.

  1. Met die herskryf / oorskryf / terugskryf van “Ma” van Antjie Krog sê jy iets opvallends: “[H]ierie wêreld het nie meer tyd vir kaalvoetgedigte nie”. Vertel my wat jy hiermee bedoel?

Dārie gedig het hakskoene an.

  1. Hoe voel jy oor woorde soos faggot en moffie?

Herinskripsies van slurs gee my krag en connect my aan anner. Insults kan partykeer maklik tot komplimente invert. Binne daai woorde sien ek: -ggo- en -off-.

  1. Jy skryf op ’n insiggewende manier oor jou genderidentiteit, met frases soos “verkeerd manlike” en “buddy mamma engel vader”. Wat beteken dit vir jou om sin te maak van jou gender in digkuns? Kry jy die regte taal daarvoor of soek jy nog; is dit ’n proses wat konstant trans (-formeer) of voel jy al meer van ’n gemak met jou bewoording daarvan?

Die spreker in Kruiper-Crawler is kweer en transformeer. Om gendersisteme en -tradisies te kan aftrek, antrek, optrek, uittrek – gives life. Om dit in digkuns of enige anner kunsmedium of genre te kan beoefen is ’n eer. Verskillende tale bied verskillende beperkings en geleenthede, mar is innie mond van elke spreker buigbaar. Ek, persoonlik, is so bly ek kon al voel hoe ’n rok, ’n das, ’n unitard an my voel. Ek weet nou meer wat ek soek – en dis Paris Fashion Week!

........
Ek, persoonlik, is so bly ek kon al voel hoe ’n rok, ’n das, ’n unitard an my voel. Ek weet nou meer wat ek soek – en dis Paris Fashion Week!
........
  1. Wat my veral opval, is die ligte toonaard waarmee jy die love en selflove poems waarin jy kweerheid uitbeeld skryf. Tot die meer somber gedigte daaroor, soos “iemand wat op hul knieë hoort”. Brei uit.

Kweerheid is natuurlik baie dinge – en dan ook verskillende skakerings.

  1. In die bostaande gedig noem jy dat jy van kleins af gedigte uit die Bybel steel en dan het jy ook ’n aanhaling uit Levitikus in jou boek, maar nie die een wat ons dalk sou verwag nie, niks met anti-kweerheid te doen nie, maar eerder oor die onreinheid van kruipers. Vertel my meer hiervan; is dit waar jou inspirasie vir die titel vandaan gekom het en wat van hierdie aanhaling praat met jou?

Goed wat kruip en krioel, het oor en oor verskyn terwyl ek geskryf het. Verskeie Bybels was seker van die vroegste literatuur waaraan ek oor en oor aandag gegee het. Levitikus is soms so pynvol om te lees. Ek lees ou woede, ou vrese en ou voorskrifte wat nie vir my lekker sin maak of my hart voller maak nie. Kruiper-Crawler bied ’n metaforiese strekking en nuwe voorstelling van die bybelse kruiper.

  1. Daar kom verskeie diere en insekte in jou bundel voor, onder meer miere, slakke, rotte, slange, honde, katte, varke, erdwurms, bosluise en baardskeerders. Waarom het jy hierdie spesifieke diere gekies? Is daar dalk iets wat jy / ons met hulle gemeen het?

Ammel, of dalk ēder meeste mense en gediertes, kruip op een of anner stadium – selfs babavoëltjies! Ek het die gebied en konsep metafories ryk gevind.

  1. Shane, girl, jy ruk nogal die mat onder ’n paar familiêre figure uit – ek dink veral in “bosluise” en “’n skulp”. ’n Eienskap wat ons in die meer confessional / belydende digvorm sien. Liefde is tog so sentraal tot jou werk. Dit gloei deur jou empatiese portrette van persone en insekte, asook die liefde wat jy met minnaars deel en vir jou ma het.

Poësie, vir my, is gedeeltelik estetisering en retoriese organisering, maar kom ook gereeld met ’n outobiografiese druk en etiese verantwoordelikhede. Ek speel met die afstand en nabyheid tussen ek, die idee van ekkes ennie spreker/s. Ek is bly die skakerings kom deur, mar ek is ook okay as mense nie van die gediggies hou nie.

  1. Dan praat jy ook in “Fokken faggots” oor die digters:

wie op LitNet
comments roer
maar ommie braai
nie verder as Carte Blanche kan draf nie
veral die gay-es
met grade
wie SA democracy met ’n Uber-voucher wil vier 

Is deel van hierdie teenstrydighede iets wat jy in jouself ook mee worstel? Aangesien jy ook interessant genoeg in jou “Observatory”-afdeling ’n gedig het waar jy en die Uber driver met mekaar in die truspieël afreken en jy jou afvra, in jou eie melodramatiese Darwinisme: “[W]ie’s banger vir wie?”

Ek shade myself maklik! Ek mik op teenstrydighede, ironie en as ek lucky strike – selfs paradoks.

  1. Standaardafrikaans is ’n taalvariant wat hand aan hand gepaardgegaan het met die oprigting van apartheid. Politiese figure, soos Hendrik Verwoerd en DF Malan, het die spesifieke uitdrukking van Afrikaans gebruik as ’n witwas van ’n inheemse taal, sowel as ’n wapen om persone wat nie in die hoogdrawende aard daarvan gedeel het nie, summier uit te sluit. Dit is verfrissend en verblydend om meer wit skrywers te sien eksperimenteer met taal om by ’n meer oorspronklike en organiese wortel van die taal uit te kom. Vertel my van jou proses met die taalsamestelling.

Baie dankie. Ek probeer soveel moontlik skryf met my lyf. Hoe ek klink wanner ek op my gemaklikste met mense praat. Ons ammel klink mos mar tot verskillende mates bietjie-bietjie anners van mekaar – in my ervaring, varieer ons meer gereeld in leksikon, uitdrukkings, fonologie, flexibility, spelling.* Hoe ons onsself transcribe is oop: die linguistic repertoires en invloede is wyd. Dankie vir jóú werk, en virrie werk en stemme wat die uitgeslote, ingeslukte, onnergrondse, oppiegrondse Afrikaanse laat asemhaal.

  1. In Kruiper-Crawler lees mens van die mooiste Afrikaans wat juis so kweer moontlik is. En daarmee bedoel ek gemix en nie gefix, vry en veelvlakkig en skaamteloos met krioel en “praaat soos jou mondt”. Was dit juis vir jou belangrik om, eie aan Gert Vlok Nel met sy debuut, ’n praatklank neer te pen, of wou jy nader aan ’n gedeelde tong kom? Jy terg tog met ’n ander lyn, soos “vermom as inheems”. Vertel ons meer hiervan.

Gert Vlok Nel – nog ’n inspirasie! *Nou moet ek uitbrei oppie voorafgaande respons – my tong het nie uitie lug geval nie en is natuurlik gevorm deur al’ie tonge om my. Afrikaans, nes tale ōrie algemeen, is diglossic en heteroglossic: Binne gemeenskappe babbel ons anners in verskillende kontekste – tussen harde, formele gesprekke is daar ’n oorvloed van sag geselsies. Ek vra my af: Hoe klink ek as ek nie ōrie moontlike geweld van oppergesagte kommer nie? Ek dink die verteenwoordiging van verskeie idiolekte en sosiolekte is belangrik, insiggewend en mooi.

  1. Kim de l’Horizon skryf in Blood book die volgende:

It’s not about attributing blame, it’s about unravelling the threads that knot together those of us who suffer under masculinity, that have shackled onto each of us in a cocoon of silence, shame and hypocrisy.

Dit sluit vir my aan by die gevoelens wat jy oopskryf in reëls soos:

  • “jy begin my van god vertel... / wat ons straf met vigs en covid”
  • “(waarom die hoerige skirt shane?)”
  • “) my oorbelle swel
  • wil by die venster uit (“

Uit die gedig “Theseus’s Uber”

En:

sê uitasem ek’s ’n digter
sjoe spoeg die shell garage
se manager dis ’n mooi
kont

Uit die gedig “kokkerotkommer”

Vertel my hoe die skryf van mikro- en makro-aggressies teen jou as ’n nie-binêre / kweer persoon vir jou belangrik is. Dink jy dat om te skryf oor die realiteite van LGBTQ+-ervarings, die mooi en in dié geval ook die lelik, kan bydra tot bewusmaking, of sal jy sê dat dit eerder dien as heelmaking en terapie?

Ek dink dit is belangrik dat ons, vir onsself, onsself as vol kan lees. The good, the bad, the ugly, the beautiful. (Party goed natuurlik agter ’n paywall.) Terapie is krities-belangrik! My sielkundige word innie boek bedank.

  1. Een van Arca, die Venezuelan musikant, se bekendste sêgoed is: “We’re all mutations, and I think that each mutation should be celebrated.” In my opinie vat dit die boodskap van Kruiper-Crawler ’n Viering, ’n studie en ’n samesmelting van verskillende aspekte van die self en die ander om die tekortkoming en skoonheid in ons as mense vas te vang. Wou jy iets hier byvoeg?

Arca! – meisie, nou praat ons!

Lees ook:

Nathan Trantraal (1983–)

Johann de Lange (1959–2025)

Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: Ontaard nooi gehoor uit na ’n saamwees om die woord

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top