
Jakes Gerwel (foto: Jakes Gerwel Stigting) en Adam Small (foto: Naomi Bruwer)
- ’n Praatjie tydens die Adam Small-fees, Pniël, op Saterdag 21 Februarie 2026
Die digter-filosoof Adam Small het in 1972 in ’n onderhoud met Ronny Belcher vir die reeks gebundelde onderhoude Gesprekke met skrywers 2 gesê: “Vir die skrywer aan my kant van die kleurskeidslyn, wat nie anders kan as om Afrikaans te skryf nie, is ons letterkundige wêreld ’n beproewende omgewing [...].”
Wanneer Belcher hom vra: “Jy gaan darem volhard om in Afrikaans te skryf?” antwoord hy: “Dis my taal.”
Die letterkundige en universiteitsrektor Jakes Gerwel het in 2011 in opdragnotas vir ’n beplande boekprojek aan my geskryf: “Die Afrikaanssprekende leef- en denkwêreld is nie altyd geestelik die ruimste waarin jy jou kan bevind nie. Benepenheid, ’n op-sigself-ingekeerdheid, ’n neiging tot kleinlike eksklusiwiteit, en selfs blatante rassisme, vorm te dikwels skering en inslag van daardie wêreld.”
En verder: “Ek het in my latere skrywes die begrip ‘Afrikaanssprekendheid’ begin gebruik in ’n poging om die taal, die klinkende ding, te onderskei van die gedrag wat in hom (haar!) gepleeg word.”
***
Die oorsprong van hierdie praatjie is ’n onvoltooide manuskrip, getiteld “In begrypende vriendskap”, met die subtitel “Adam Small & Jakes Gerwel: gespreksgenote in en oor Afrikaans”. Die titel word oorgeneem uit Small se inskrywing voorin die eksemplaar van Gesprekke met skrywers wat hy Gerwel geskenk gegee het; die subtitel word ontleen aan Gerwel se verwysing na Small as ’n “gedurige gespreksgenoot in en oor Afrikaans”.
Die onvoltooide manuskrip is mettertyd ingespan as bron vir die teks van ’n dokumentêre radioprogram vir RSG, oorspronklik uitgesaai in 2022. Die heruitsending van die dokumentêr, vier jaar later, op 8 Januarie vanjaar, het gelei tot my versoek aan Darryl David dat ek graag hierdie praatjie by die fees wil lewer. Ek wou poog om die volgende vrae te beantwoord:
- Waar, o waar, is vandag se Adam?
- Waar is die nuwe Jakes?
- Waar is al hul Afrikaanse gespreksgenote heen?
Dit wil dan vir ’n mens voorkom – tensy ’n mens nie reg kyk of oplettend genoeg is nie; tensy ’n mens nie al jou varkies op ’n hok het nie – dat die bruin intellektuele stem in Afrikaans stil geword het. Of stil gemaak is. Of dalk net moeg geraak het van sukkel om gehoor te word.
Ek weet nie. Ek vat ’n kans. Ek roer die pot. Ek steek dalk ’n stok in die byenes.
Jy kan nooit te seker wees van jou saak nie, het Jakes gesê het Adam hom geleer. Die twyfel moet altyd in jou denke teenwoordig wees; ook voorlopigheid, tentatiwiteit en, soos Steward van Wyk ons in sy Small-huldeblyk vir LitNet herinner, het Gerwel nie aan “maklike, voor die hand liggende analises geglo nie”.
Die konteks was die ontleding van literêre tekste; die werk van akademici en navorsers. Maar dit beteken sekerlik nie dat die joernalis of rubriekskrywer of meningsvormer daarmee kan wegkom nie. Ons sal almal aan die inhoud van ons uitsprake gemeet word.
En wat sou my kwalifiseer om oor hulle te praat, hierdie digter-filosoof en hierdie letterkundige en universiteitsrektor, behalwe my jarelange bewondering vir hulle? Wat sou my in staat stel om my mond uit te spoel oor die spesiale verhouding tussen hulle – eers as dosent en student, toe as kollegas; later as huisvriende?
Die antwoord is eenvoudig dat ek geprikkel is deur hul wedersydse verwysings na mekaar en die waarde wat elkeen gemeen het die ander se lewe en werk na die tafel van bruin intellektuele bydraes in Afrikaans bring. Eintlik en uiteindelik – omdat ’n mens jou nie wil skuldig maak aan die “op-sigself-ingekeerdheid” of “neiging tot kleinlike eksklusiwiteit” waarna Gerwel verwys het nie – was hul bydraes betekenisvol en impakvol vir die breë Suid-Afrikaanse letterkundige en denkwêreld.
Miskien dan, op ’n persoonlike vlak, is my credentials of kwalifikasie vir hierdie praatjie die feit dat Small my naam ook ingesluit het in sy “Dankwoord” vir die Hertzog-prys in 2012 – saam met dié van onder andere Willem Fransman jnr en Van Wyk en Michael le Cordeur; en die LitNet-rubriekskrywer Jason Lloyd sal my nie vergewe as ek nie sy naam noem nie; en dan was daar die e-pos van Gerwel waarin hy na my verwys het as “een van die jonger Afrikaansskrywende public intellectuals wat ’n erns het oor die verwikkeldheid van mens-wees”.
So, kô lat ons praat.
***
Adam Small is op 21 Desember 1936 gebore, vanjaar 90 jaar gelede, maar sy lewe eindig op 79 jaar ná hy op 25 Junie 2016 tot sterwe kom. Jakes Gerwel se lewensloop begin op 18 Januarie 1946 en eindig op 28 November 2012 op 66 jaar.
Afgelei uit Small se “Vredesgebed vir Jakes Gerwel” in sy laaste gepubliseerde digbundel, Klawerjas, was hy oortuig dat Gerwel voor hom sou sterf. Eers net hierdie pleidooi vir begrip:
God gee dat vrede tussen ons bly,
en,
is my vrees vir jou ’n gevoel té kras,
bekommer jou tog nie:
dit sal alles wegwaai met ons as.
En dan die oproep dat Gerwel hom tog nooit moet vergeet nie:
Ek moet binnekort gaan,
maar bly dink
aan my
blý dink aan my.
Die noodlot het egter bepaal dat dit Small was wat genoop was om aan Gerwel te bly dink. “Jakes is heeltemal ‘te vroeg dood’ en Adam voel nou nog die gemis van ’n vriend en mede-denker,” skryf Rosalie Small in Ons kom van vêr, ’n versameling bydraes oor bruin Afrikaanssprekendes se rol in die ontwikkeling van Afrikaans. Die boek is saamgestel deur Wannie Carstens en Le Cordeur en is in 2016 uitgegee deur Naledi. Dit is aan Small opgedra en ’n mooi, historiese foto van hom, geneem op die Godverlate gronde van die ou Distrik Ses, word op die voorblad gebruik.
Ook Small en Gerwel het natuurlik op ’n persoonlike en professionele vlak “van vêr” gekom. “Small was my dosent, mentor, kollega, gespreksgenoot en vriend,” deel Gerwel sy gehoor mee by die Suidoosterfees in 2011. In Engels in 2015 in die Cape Times skryf Small, onder ’n opskrif wat Gerwel as ’n gedurige knop in sy keel voorstel: “Jakes was an exceptional mind.”
***
Nou tref dit ’n mens, Le Cordeur, dat Ons kom van vêr waarskynlik die belangrikste – indien nie mees breedvoerige – samekoms in die onlangse verlede vergestalt van ’n groep bruin stemme uit die Afrikaanssprekende leef- en denkwêreld. Die inhoudsopgawe lys bydraes uit uiteenlopende vakgebiede: ekonomie en bemagtiging; godsdiens en kerk; identiteit; die impak van apartheid; sport en kultuur; media; onderwys; politiek; en, vanselfsprekend, taal.
Beperkte tyd verhoed my om uitgebreid te praat oor die medewerkers, maar dit sluit die ikoniese, ontslape koerantman Conrad Sidego in en ook Henry Jeffreys, die eerste, enigste tot nou en straks die laaste bruin redakteur van Die Burger; onderwysman, John Diergaardt; en kultuurmens, Marlene le Roux.
Le Cordeur, wat by vanjaar se Adam Small-fees oor die Wimbledon-ikoon, David Samaai, praat, deel in Ons kom van vêr sy persoonlike ervaring as ’n studente-aktivis; baanbreker-burgemeesters “uncle” Herman Bailey en Basil Kivedo, altwee nou reeds oorlede, skryf oor die politiek; die ontslape teoloog Mary-Anne Plaatjies-Van Huffel oor Afrikaans as voertaal, kerktaal en strydtaal in die ou NG Sendingkerk en deesdae VGK van Suider-Afrika; en Willem Fransman jnr delf in die ervarings van swart Afrikaanse skrywerskap.
Wat opval, is die einde van Fransman se artikel. Ten spyte van aanduidings van beter verteenwoordiging en meer publikasiegeleenthede vir swart Afrikaanse skrywers sedert die laat negentiger-oorgangsjare in die land, skryf hy: “Maar die swart Afrikaanse skrywer se versweë stem is beslis een wat gehoor moet word. Of dit wel in die nabye toekoms gaan gebeur, sal net die tyd ons leer.”
Ons kom van vêr het ’n jaar ná die vierde Swart Afrikaanse Skrywersimposium verskyn. Die eerste een is in 1985 gehou; die tweede, in 1995, was die groot samekoms van wit en swart onder een Afrikaanse skrywersambreel. Naas gevestigde name soos Adam Small en Antjie Krog, was dit vernaamlik die byeenkoms waar ’n hele klomp sogenaamde (swart of bruin) “nuwe stemme” in Afrikaanse skryfwerk te voorskyn gekom het, soos Elsa Joubert dit in haar memoir Reisiger beskryf. Onder hulle tel Diana Ferrus, Kirby van der Merwe, Ingrid Geldenhuys en Willem Fransman self.
Om aan te sluit by Fransman se betoog, ’n kort vermelding uit (of terugblik na) “Die vooruitsig van oopheid”, Hein Willemse se inleiding tot die gedenkbundel van die derde simposium wat in 2005 gehou is. “Teen 1995, maar gewis teen 2005, het ons die verminderende invloed van Afrikanernasionalisme as politieke uitdrukking begin beleef, terwyl op Afrikaanse kultuurgebied daar ook toenemende aanpassings is.”
Maar, skryf Willemse daarby: “Dit beteken egter nie dat die spanninge tussen die dominante uitdrukking (die kanon, die hegemoniese) nie steeds in Afrikaans bestaan nie. Ten spyte van dié oorheersing het ons ’n punt bereik waar die Afrikaanse gemeenskap in die afsienbare toekoms drastiese veranderinge sal ondergaan.”
Dié veranderinge sou – in die skrywerskonteks in elk geval – ook ’n stelling insluit wat Willemse verlede jaar met die Vyfde Swart Afrikaanse Skrywersimposium gemaak het, naamlik: “Die mees opvallende omwenteling van eietydse swart Afrikaanse skryfwerk is dié oor taal en taalgebruik.”
Wanneer ’n mens Fransman in 2016 lees, klink dit egter nie of hy die “drastiese veranderinge” aanvoel nie. Gerwel haal in sy 2005-openingstoespraak die digter Valda Jansen aan wat vooraf ’n nuwe ingesteldheid bepleit het: “Dit is ook nou tyd dat vir skrywers om net skrywers te wees, sonder die bagasie van voorheen-benadeeld, sonder die vingerwysing na ons-manuskripte-word-nie-uitgegee-nie.”
Ons manuskripte word inderdaad uitgegee, as ’n mens in 2025 by SAS5 na Willemse geluister het: digbundels, memoires, jeugliteratuur; in Kaaps, Namakwalandse Afrikaans, Griekwa-Afrikaans, Oos-Kaapse en Overbergse Afrikaans. Hierin is “duidelike groei en ontwikkeling te bespeur,” glo hy, “en die belangrikste lote vir Afrikaans kom uit hierdie geledere”.
Rubriekbundels, wat deur Willemse in volgorde van publikasie genoem word, sluit in (wyle) Anastasia de Vries se Baie melk en twie sykers (2021), die uwe se Ons: standpunte van annerkant die treinspoor (2011), Nathan Trantraal se Wit issie ’n colour nie: angedrade stories (2018), Chase Rhys se Misfit (2022) en Bettina Wyngaard se Wat sê Bettina (2024). En dan sy veelseggende kommentaar daarop: “As openbare kommentators in die hoofstroom- Afrikaanse media belig dié skrywers in die algemeen ervarings wat ’n verruimend[e] blik op die bestaanswyses en beskouings van individue en groeperings aan die ander kant van die spreekwoordelike spoorlyn [bied].”
***
Om terug te kom by Small en Gerwel: In reaksie op Jansen se stelling, sê Gerwel in sy 2005-toespraak dit sal ons baat om te besin oor wat hy “non-racialism in Afrikaans ideally under black leadership” genoem het, overgesetsynde “nie-rassigheid in Afrikaans onder swart leierskap”. Dit sou seker bruin ook kon beteken, in ’n kulturele sin en nie ras- of etniese sin nie.
Dié voorgestelde leierskaprol moes verstaan word, maan Gerwel, “as iets wat weinig te doen het met posisies en entitlement, maar met sosiaal-morele leidinggewing, gegrond op ’n begrip van die krag en potensie van die nie-hegemoniese”. Gewis sal dit uitdagings in die gesig staar, te wete “die gevestigde en materiële mag van bestaande strukture, institusies en houdings”. Juis dáárin lê die morele uitdaging opgesluit. “En inklusiwiteit en die weiering om nors-histories gedrewe te wees,” bygesê, “is [’n] ewe groot deel van hierdie uitdaging.”
Gerwel se slotgedagte betrek sy mentor, vriend en “gedurige gespreksgenoot”: “Uit alles wat ek verstaan van die werk en lewe van, byvoorbeeld, Adam Small – ’n ikoon in die verwoordingstryd van die anti-hegemoniese in Afrikaans – glo ek dat hy hierdie benadering uitgeleef het en steeds sou ondersteun en onderskryf.”
***
Die vraag wat ek in die titel van my praatjie stel, kort steeds ’n antwoord: Wie is vandag Adam Small en Jakes Gerwel se gespreksgenote in en oor Afrikaans? Hiermee bedoel ek uiteraard gespreksgenote vanuit hulle soort kulturele of “sosiaal-morele” agtergrond.
’n Mens sou nie anders kon nie as om te begin by Hein Willemse, wat nie slegs as een van ons voorste letterkundiges nie, maar ook as sosio-politieke rubriekskrywer sy stem laat hoor. Ewe so die onderwyskundige Le Cordeur op sy vakgebied en wat betref Afrikaans in die algemeen; en sover dit die letterkunde betref, ongetwyfeld Steward van Wyk as ons nommer een-kundige oor Adam Small se werk.
En as jy wonder wie gaan in hulle voetspore volg in die letterkundeomgewing, sou jy die program van verlede Oktober se SAS5 kon nader trek en die name uithaal van onder andere Courtneigh Ess, wat ook by die ATR se toekenningsgeleentheid die gasspreker was; of Chànde van der Westhuizen, wat ’n voordrag gelewer het oor die digters Julian de Wette en Vernie February en wat dit beteken om ’n balling en swart Afrikaanse skrywer te wees; of D’Angelo Kemp en Nina-Rose Clarke wat bruin manlike subjektiwiteit in resente swart Afrikaanse skryfwerk onder die loep geneem het.
Willemse het self vroeër in my praatjie ’n groepie rubriekskrywers as “openbare kommentators” uitgesonder wat “ervarings” en “bestaanswyses” belig van “die ander kant van die spreekwoordelike spoorlyn”. Wie anders, naas Trantraal, Rhys en die twee Wyngaards in Willemse se skrywe kan vandag beskou word as “gedurige gespreksgenote” van dit waaroor Small en Gerwel geskryf en gepraat het, naamlik die belewenis van die Afrikaanse leef- en denkwêreld vanuit die ervaring van hulle “aan die anderkant van die spoorlyn”?
Die Oos-Kaapse boorling Jason Lloyd, nou in die Noord-Kaap gevestig, skryf op LitNet, het ek vroeër vermeld, soos ook Bettina Wyngaard. Johann Maarman het ’n vaste rubriek in Die Burger, waarin hy meermale oor partypolitieke kwessies ’n mening huldig. Debra Meyer het laas by die Afrikaans Amptelik 100-gedenklesing by die Taalmonument oor haar verhouding met Afrikaans gepraat. Francis Petersen se ontledings op Afrikaanse radio is altyd verfrissend anders as die dominante stemme op sodanige programme. Seymour Bothman bly ’n onderskatte kundige as onderwysman. Merlyn van der Rheede word ook te min as ’n taalbevorderaar by gesprekke betrek. Quinton Adams laat as opvoedkundige sielkundige sy stem hoor oor maatskaplike kwessies. Danie van Wyk van die DAK Netwerk lewer gereeld kommentaar oor kwessies wat met verhoudings tussen Afrikaanssprekende gemeenskappe verband hou.
Die teoloog Willa Boezak fokus op ons inheemse geskiedenis; sy broer, Allan Boesak, skyn om meer gereeld en meer gretig ingestel te wees op die ANC se flaters en wat hy beskou as persoonlike verraad teen hom (en ook die bruin mense, sou ek wou byvoeg). Maar hy het in November 2021 ’n ongelooflike, onvergeetlike toespraak by DAK se toekenningsgeleentheid gelewer oor die “chaos in ons bloed”. Eerder as om skaam daaroor te wees, moes dit omhels word, het Boesak gesê; die chaos en die kreolisering waardeur ons gevorm is tot wat ons vandag is.
Miskien is dit hierdie chaos wat die jonger, kreatiewe stemme onder ons inspireer. Geen “volksvergeetagtigheid uit skaamte gebore” by hulle te bespeur nie, as ek daardie aanhaling van die nou ontslape skrywer Zoë Wicomb uit Boesak se toespraak kan oorneem. Hulle is dramaturge en filmmakers soos Christo Davids; teatermakers soos Mercy Kannemeyer en Herschelle Benjamin; digters soos Lynthia Julius, Jolyn Phillips en Ronelda Kamfer; musikante soos Frazer Barry; en TV-regisseurs soos Theltom Masimila, wat deur storielyne, karakterskepping en die dialoog uit die mond van die karakters ’n gespreksgenoot is.
En die media, soos Small ook geglo het, bly ’n belangrike medium vir sosio-politieke kritiek. Of om mense se waardigheid te help herstel; hulle te laat voel dat hulle tel. Maar die media het ook mos maar hul eie reëls, meeste van die tyd ongeskrewe, oor wie spreekbeurte kry (en ek is dankbaar dat ek nie rede het om te kla nie). Wanneer ons menings en insigte egter nie gelees kan word in koerante of op aanlyn publikasies nie; gehoor word oor die radio of op televisie nie, dan stel dit ons voor twee keuses: Jy kan kla tot jy blou trek, of jy vra watse ander platforms bestaan of kan geskep word.
Toenemend vandag sien jy hoedat nuusentrepreneurs in plaaslike gemeenskappe hul eie aanlyn nuusblaaie begin – die meerderheid sommer op Facebook. Die verslaggewing is nie altyd op die standaard van behoorlike joernalistieke vereistes nie, maar dit gee blootstelling en dit gee stem aan andersins stemlose of gesiglose nuusmakers. Die gaping wat deur die sluiting van die ou Ekstra-koerante gelaat is, het Le Cordeur al meninge male betreur, is nooit weer gevul nie.
Ook hulle word dan gespreksgenote van Jakes Gerwel en Adam Small, hierdie nuusentrepreneurs; en as u my dit sal vergun, wil ek graag vermeld dat ekself in September die aanlyn platform Mondstuk Media in die lewe geroep het.
Dit gaan dan seker, alles in ag genome, nie te sleg met ons wat bruin of swart en Afrikaanssprekend is wat betref die openbare gesprek in ’n breë sin beskou nie. Of word ek beïnvloed of ’n rat voor die oë gedraai deur my eie bevoorregte posisie, soos om hier vanmiddag te kan staan?
Lees ook:
Adam Small en die jeug: "(Hulle) praat oor afstande, jare, drome en die dood heen."

