2019 se top 15: hoogtepunte, laagtepunte, raakpunte en knelpunte

  • 2

"Living in South Africa should be put on your CV – it is a skill!" lees ek nou die dag hierdie meme raak. Inderdaad: Suid-Afrikaners is ’n spesiale spesie, en besonder resilient. Die narratief van 2019 word gekenmerk deur besondere hoogte- en laagtepunte wat vinnig op mekaar volg, veral na die einde van die jaar se kant toe.

Terwyl ek hier skryf, is beurtkrag tydelik opgeskort. Die riemtelegram het egter te vertelle dat Eskom ’n 17%-verhoging in elektrisiteitstariewe eis om te herstel van die R27 biljoen se verliese wat tydens beurtkrag gely is, en om die energieverskaffer lewensvatbaar te hou. So mens kan seker bespiegel dat die regering die verbruikers gyselaar hou met die versoek om verhoogde kragtariewe – eintlik ’n vorm van emosionele afpersing, reg? Daarbenewens het ek ’n probleem met die woord "beurtkrag". Dit het so gemoedelike ubuntu-klankie. Ons, as liefdevolle Suid-Afrikaners, deel ons krag met mekaar. Nee! Die woord is ’n semantiese wanvoorstelling. Loadshedding se vertaling, "ladingstorting" gaan ook nie werk nie; dit klink soos iets uit ’n pornografiese grufilm. Nee: miljoene mense swets en vloek as beurtkrag toeslaan. Want dis ons onvervreembare demokratiese reg om te moan en te bitch oor Eskom, net soos dit hulle onvervreembare demokratiese reg is om ’n klaaglike en korrupte mislukking te wees. Sela.

Tog, met die pasafgelope kroning van Mej Heelal, skyn daar ’n bietjie lig in die einde van die tonnel. 8 Desember het Zozibini Tunzi Suid-Afrika trots gemaak toe sy gekroon is met dié gesogte titel. Tydens die finale uitdunne, The Final Word, het van die deelnemers se opgesmuktheid weer eens opgeval. Mejuffrouens Meksiko en Puerto Rico het die hele tyd uitdagend, hande in die sye, gestaan; en Zozibini, ontspanne en natuurlik, arms langs haar sye. Skoonheidskoninginne word seker geleer om so, hande-op-die-heupe, te staan, maar eerlikwaar, dit lyk meer aggressief of aanvallend as iets anders. So ‘n Juffrou Rottemeier-houding. En hoe Puerto Rico deurgedring het tot die eindrondte, gaan mens se verstand te bowe. Sy tref jou by uitstek as ‘n sogenaamde “dom blonde” en haar geswymel oor meisies se fake lewens op die sosiale media was net té dik vir ’n doller. Sonder substansie; intellektueel-liggewig. Op die laaste vraag dan, wat meisies moet leer (binne die huidige tydsgewrig), het Puerto Rico dadelik weggetrek met die ultimate cliché, naamlik dat vroue hulself moet “embrace”. Sy het hierdie halfverteerde wysheid uit die popkultuur aan ons opgedis met ’n teatrale glimlag en bewende stem, terwyl sy met ’n onsigbare spieël iewers flankeer. ’n Groetekaart op steroids. Hou in gedagte: hierdie laaste vraag is kardinaal in die besluitneming rondom Mej Heelal. Mej Suid-Afrika het dit ge-ace met haar kragtige antwoord oor leierskap en dat meisies moet ruimte opneem binne ’n samelwing met die herdefiniëring van leierskap. Zozibini was ook die enigste een wat die aanbieder, Steve Harvey, op sy naam aangespreek het – wat boekdele spreek van goeie kommunikasie- en sosiale vaardighede, deel van die vereistes vir Mej Heelal as globale ambassadeur.

Dit het behoorlik pap gereën na die einde van die jaar toe. Nog vars in ons geheue is die Rugbywêreldbeker waartydens die Springbokke vir Engeland 32-12 geklop het. Die tragiese afsterwe van James Small en Chester Williams vroeër vanjaar het wonderbaarlik plek gemaak vir wendrieë van Mapimpi en Kolbe wat onderskeidelik in Williams (linkervleuel) en Small (regtervleuel) se posisies gespeel het. Amper soos reïnkarnasies van die gestorwe helde – en ek het opnuut begin wonder of daar enige waarheid in sinchronisiteit steek. Landswyd het Suid-Afrikaners die oorwinning gevier en die selferkende koningin van Twitter, Rachel Kolisi, was nou meer visible as óóít, haar onlangse eskapades op die sosiale media skoon vergete. Psssst, wat het regtig tussen Siya en Marike Botha gebeur? Genade, Marike moes bodyguards kry om haar op te pas nadat Rachel Kolisi haar na bewering gedreig het omdat sy kwansuis in haar slaai krap. ’n DM van haar agterstewe, nogal. Ek kan my net indink, so ’n sexy boepboud-silhoeëtfoto. Nee kyk, Rachel se optrede is was emosioneel, onvolwasse en uiters territoriaal. Op talle sosiale media-pics skep sy die indruk dat sy en Siya ’n groot, romantiese geheim deel, een waarvan die res van die wêreld uitgesluit is, en waarvoor almal haar moet beny. Arme Siya. Hy is een van daardie saggeaarde gentlemen wat op ’n dag net al hoe minder huis toe gaan kom. En so van die Bokke gepraat: laat ek bieg; ek het vandeesweek die nuwe Huisgenoot gekoop (ek doen dit amper nooit). Die rede? Faf, ons voorste vlagdraer en sy meisie, Minétjie, straal op die voorblad. En hulle trek verstommend baie op mekaar. Boet en Saartjie. Te sweet vir woorde. Ja, daardie rumour dat soulmates soms ook na mekaar lyk, is waar; wie is ons nou om met die volksbybel te stry?

US-taalbeleid en Gelyke Kanse: Konstitusionele Hof se volledige uitspraak

En terwyl die uitspraak van die Konstitusionele Hof op 10 Oktober rondom Afrikaans as onderrigtaal by US gereduseer word tot white noise, gee Jonathan Jansen opnuut momentum aan die taaldebat toe hy ’n winkelassistent afjak omdat sy Afrikaans met hom gepraat het. Dít álles in ’n boekwinkel in Stellenbosch, nogal. Naas die rekolonisering van US dobber die taalkwessie van die een na die volgende laagtepunt. Maar dit is Jansen se modus operandi: hy sit die aas uit, waarskynlik bewapen met ’n hipotese in die hand en sit dan terug, kyk hoe die scenario homself uitspeel. Hy's immers ’n akademikus. Afrikaans is in die spervuur en Jan Publiek se woedende reaksies staaf na alle waarskynlikheid bloot die prof se aannames oor Afrikaanse taalchauvinisme. Hy plan nie, hy plot. Die taalstryder, Frederik van Dyk is die jongman wat Jansen kort-kort ’n opstopper op LitNet gee – en hou vir Frederik dop; hy is per geleentheid Afrikaans se eie Cyrano de Bergerac genoem, en te oordeel aan Penseel, die US-studentebundel, is Frederik fluks besig om sy merk as digter te maak.

Jonathan Jansen en Protea Boekwinkel: Frederik van Dyk reageer

Asof die drukkoker se ringe nie alreeds begin wys nie, het ’n vingerswaaiende lekepastoor van KwaZulu-Natal in trane uitgebars toe hy die "demoniese" kunsuitstalling van Grantleigh High se dux-leerder besigtig het. Die prediker met sy two tone-hemp vol vetkolle het die volk behoorlik rooi laat sien met sy ongemagtigde Facebook-video van die uitstalling en sy ongefundeerde stellings oor die dýwel se betrokkenheid daarin. Vir weke aaneen het Christelike retoriek en verdoemende uitsprake op die arme kunstenaar neergereën, vergesel van die pastoor se volgelinge wat dreig om die skool af te brand. “There is no hate like Christian love”, lui die uitdruking mos ... Greta Thunberg het nie verniet gesê "I want you to panic" nie, want Generasie-Z is nou die ushers wat vir die ouer garde die pad moet aanwys. Die Grantleigh-leerder se uitstalling het egter die bull's eye getref en die korrupsie, greed en dubbele standaarde in kommersiële godsdiens uitgewys. En van die os op die jas: ek het my siening rondom Thunberg verander. Die meeste kritiek teen haar sentreer rondom haar vookoms, persoonlikheid en die atipiese sosiale interaksie van ’n Aspergersindroompersoon. Aan leunstoelliberalisme en die luukse van diskoersvoering is ons al lank gewoond. En vandag – die sogenaamde keyboard warriors. Toe ek vir die eerste maal na ’n toespraak van haar gekyk het, was my gedagte: o, die melodrama! Sy lyk en klink soos iets uit ’n Afrikaanse plattelandse toneelgroepie in die vyftigerjare, gedramatiseerde prosa en al. Ek was (op daardie stadium) toondoof vir haar boodskap. En ja; sy lyk nes Chucky as sy kwaad word: how DARE you? het ek my verkneukel. En toe begin ek werklik vólg wat sy doen; ons kan nie haar globale rol as klimaatsaktivis ontken nie; ook kan ons nie al die pryse, akkolades, toekennings en eregrade misken nie. Thunberg is aangewys as Time se Persoon van die Jaar (2019), die jongste nog wie dié eer nog te beurt geval het. Noem dit poppekasteater as jy wil, maar sy het ’n gesprek en bewusmaking begin wat bly eskaleer. Hoede af, Greta! Ná alles was dit ’n kind wat raakgesien het die keiser is kaal.

Deur die loop van 2019 het die NG-kerk weer ’n nuwe dimensie aan die woord "klug" gegee met hulle voortslepende, ambivalente double talk tydens die gay-debat. Vanjaar is gekenmerk deur ’n ongekende golf van weerstand teen die dubbele standaarde van die kerk en haar gevolg, soos ook die Grantleigh-voorval, reeds genoem, bewys. ’n Besliste katalisator in die debat tussen die behoudendes en twyfelaars is Jean Oosthuizen se boek, Die opkoms en ondergang van die NG-kerk wat dui op die toenemende irrelevansie van dié instelling. Wat my dan bring by ’n volgende hoogtepunt: die deelname van Boer Damian aan die realiteitsreeks, Boer soek ’n (vr)ou. In alle eerlikheid: Damian is, wat my betref, die hubaarste en coolste vangs van die oes – en die jongelinge op sy plaas gee spice aan die reeks, iets wat meermale by die ander plaasjapies en hulle gevolg ontbreek. Ek wonder altyd oor daai Toyota Fortuner (ironies, né) wat soos ’n lykswa voor die plaashuis stilhou en die pokergesig-drywer wat al die treurmares, trane en gekyf van die weggestuurdes moet aanhoor ... Program ná program kan mens glimlag oor die voorspelbare dialoog, dis iets in dier voege: "Annatjie, ek wil net vir jou se jy's ’n wonderlike mens en baie dankie dat ek jou kon leer ken, maar ongelukkig ..."

"Daar is definitief potensiaal ..."

"Ek het ’n goeie gevoel oor ..."

"Jannie maak nog nie oop teenoor my nie, ek kan hom nie lees nie ..."

"Daar's nog nie ’n vonk tussen my en Frikkie nie ..."

Boer soek 'n vrou: Leer ken die diepsinnige Boer Damian

’n Definitiewe hoogtepunt aan die musiekfront is die verskyning van Leonard Cohen se postume album, Thanks for the Dance op 22 November. Reeds in September het “The Goal” op YouTube die vraag en verwagting na dié Kanadese sanger en digter se nagelate werk laat ontstaan. Hierdie is een van Cohen se mees poëtiese albums nog – heel gepas met die swart omslag en goue letters wat aan ’n testament herinner; ’n sublieme addendum tot You want it Darker.

Iewers in Maart vanjaar ry ’n meisie met ’n fiets oor ’n oppervlak van ’n hektaar en sloeg teen ’n rugbypaal vas. Wat is die kans dat so iets kan gebeur? Die My fok Marelize-memes, grappies en foto's het oornag volksbesit geword. En Marelize het viral gegaan, onverdrote voortgewiel, wêreldwyd. T-hemde en koffiebekers met die meme is koorsig aanlyn bestel en die land het gretig bly wag op die nimlike ongeluksvoël se volgende avonture. Dit herinner nogal aan “Shit happens” uit Forrest Gump, of “You're terrible, Muriel” uit Muriel's Wedding. Die snaaksste deel van die video is seker die ma se wit sandale met die rooigeverfde toonnaels wat so verbete oor die gras bly stap ná die Groot Val. En dan natuurlik daardie voorstedelike klankie in Heidi se stem. Nou ja, dis die lot van ’n accidental icon, of oombliksikoon. Die Marelize-meme het koekversiersels geïnspireer, asook religieuse dagstukkies (ja, rêrig), salf vir spierpyne, gedigte, kuns en rap-songs. Uit gebroke tongvalle wêreldwyd het skares “my fok, Marelize!” gejuig, maar die gety draai, versigtig en onsigbaar en gaandeweg maak slapstick plek vir humor wat donkerder getint is. Ons vloek, en lag dan moedeloos. Die talle frustrasies het nie meer naam nie. "Satire is focused bitterness," herinner ek my aan Leo Rosten se seining, en: in Suid-Afrika sit galbraak en lag aan dieselle tafel. Suid-Afrikaners is terdeë bewus van humor as reddingsboei om te cope met moeilike omstandighede.

Die jaar het op ’n laagtepunt begin toe ’n betonloopbrug op 1 Februarie meegegee het en die lewens van vier leerders by Hoërskool Driehoek geëis het. Talle is ook beseer. Dalk was dit ’n prelude, ’n wankelrige begin wat ’n labiele jaar sou kenmerk. Die hoogte- en laagtepunte van 2019 het met sy ups en downs soos ’n bipolêre roller coaster bly stoomroller; Zille, die poppemeester, het Maimane onverwags laat bedank as DA-leier; Zuma het die volk frustreer met sy eindelose betoë oor sy onskuld; en o ja, voor ek vergeet: die Proteas het by die afgelope krieketwêreldbeker besluit om vroeër as normaalweg te choke en het daarna ons vermoedens reg bewys met ’n rekordnederlaag teen Indië; die Algemene Verkiesing van 8 Mei was ’n futlose non-event; Trump en sy tweeling, Boris Johnson, stuur ’n vlaag van neo-konserwatisme en hipokrasie deur die wêreld; en ons ekonomie skuur op sy basvel verby rommelstatus. Maar Suid-Afrikaners is tawwe bliksems, hulle druk terúg. Op 7 September is die gewilde #ImStaying-beweging as Facebook-inisiatief in die lewe geroep, een wat as sosiale drukgroep die ideale van ’n reënboognasie bevorder ongeag die kunsmatige grense van ras, geslag, ouderdom of herkoms. Die fokus is die deel van goeie nuus en die bevordering van nasiebou, soos ook die talle billboards langs die pad getuig. Suid-Afrikaners was uitgehonger vir ’n projek soos dié – volgens statistiek raak die blad se getalle binnekort aan ’n miljoen lede.

Halala Mzansi!

 

  • 2

Kommentaar

  • Baie goed geskryf! Dit het ons so raak beskryf! "Spot on"! Ernstig, fyn spot en humoristies! Dit baie geniet!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top