Vir talle van ons wat in 2015 en 2016 op kampus was, roep die wêreldwye verontwaardiging en woede oor die polisiemoord op George Floyd in die VSA heftige herinneringe op. Een van die tekenendste ooreenkomste tussen nou en toe is die fundamentele kritiek wat die opstande in die VSA bied: Die oproer is nie bloot weens die ongeregverdigde doodmaak van ’n mens deur die polisie nie, maar eerder oor wat beskou word as sistemiese diskriminasie teen swart mense, wat straatlangs manifesteer in moorddadige en straffelose polisiegeweld teen mense van kleur.
Op Suid-Afrikaanse kampusse van 2015 en 2016 het bewegings soos Open Stellenbosch, asook die sogenaamde Valliste wat merendeels op Ikeys gevorm en opgetree het, ’n hele figuurlike “proteshandleiding” ontwikkel gebaseer op teorieë oor strukturele ongeregtighede, kolonialiteit, wit bevoorregting, ens. Hierdie terminologie, in soverre dit die voortgesette geïnstitusionaliseerde ongelykheid op rasse-, klasse- en gendergronde uiteensit, het stelselmatig vanaf kampusse tot in die hoofstroomdiskoers deurgesyfer. Vandag, tydens die Amerikaanse BlackLivesMatter-protesopstande, het hierdie terminologie na ’n blykbare pouse van amper vyf jaar na vore getree om die omstandighede van Floyd se dood te help verduidelik. In Suid-Afrika is dit volgens Eusebius McKaiser se onlangse waarnemings toepaslike raamwerke om die doodmaak van 11 swart en bruin mans deur lede van die polisie en weermag konteks te gee.
Die groot verskil wat my opval, is die verpakking en landing van hierdie ideologiekritieke terminologieë en teoretiese raamwerke in die algemene publiek.
Onkundige, jong studente soos die uwe in 2015 en ’16 is destyds gou-gou afgeskrik deur die indringende woede, die arrogante beterweterigheid en die gebruik van akademiese woorde om sekere studenteleiers se diepliggende rassehaat te verbloem. Nou, in 2020, is daardie elemente vir my opvallend minder. Het die ideologiekritieke sosiale bewegings “grootgeword”? Het die traumatiese gedeelde ervaring van COVID-19 mense van alle agtergronde dalk op ’n sekere vlak verenig, sodat solidariteit en bewusmaking belangriker geword het as vyandigheid en sondebokkery?
Of het die verspreiders en voorstanders van ideologiekritieke protes besef dat die vliegtuig bloot sagter geland en die kennisraamwerke beter verpak moet word?
Ek vermoed dis ’n mengsel van al drie.
Dalk is daar antwoorde in die onlangse geskiedenis. Na afloop van die 2015–16- FeesMustFall- en ander verbonde studentebewegings op die Suid-Afrikaanse kampusse het ek in September 2016 ’n aanvallende stuk geskryf om die weergawe van ideologiekritiek tydens die jaarlikse koshuisleierskapskonferensie op Maties aan te vat. Die stuk, getiteld “My ‘lived experience’: When indoctrination replaces education”, het wye reaksie by die Maties van daardie dae ontlok. Ek het ’n klassiek-liberale en libertynse aanslag in die stuk gehad om die teenstrydighede, die gewelddadigheid en die dogmatismes van studenteleiers en hul geliefde ideologiekritiek uit te wys.
Sedertdien het ek in 2017, in my finale jaar van my voorgraadse studie, die geleentheid gehad om ideologiekritiek. oftewel kritiese sosiale teorie. as vak in filosofie te bestudeer, onder die leiding van die befaamde HL du Toit. In my tweede semester het ek die verwante dissipline poststrukturalisme onder die uitstekende Minka Woermann studeer. Hierdie studies het my bekendgestel aan die tot nou toe volksvreemde terminologie van die ideologiekritiek en postmoderne filosofie. In die akademiese omgewing het die ontsettende (ja, “ont-settende”, omdat die doel van ideologiekritiek ’n drastiese ver-sitting van kultureel-verordende denkwyses beoog) krag en nut van ideologiekritiek vir my duidelik geword sonder dat ek my oorspronklike klassiek-liberale en sosiaal-libertynse instinkte totaal en al goedsmoeds laat vaar het.
Die ideologiekritiek as metodiek kom al van die vroegste filosofiese tye af en is nie noodwendig die alleenskepping van die neo-Marxiste nie: Poststrukturalisme maak hierdie somtotaalbenadering tot moderne ideologiekritiek duidelik. Die neo-Marxiste het kort na die Tweede Wêreldoorlog begin vra waarom Marx se politieke en ekonomiese voorspellings nie hul gang gegaan het nie, en begin ondersoek of menslike kultuur dalk eerder die draer van proletariaatsrevolusie kan wees.
Sedert die neo-Marxiste hulself daardie vraag afgevra het, het die musiek- en kulturele revolusie van die 1960’s gebeur en talle ander sosiale omwentelinge, onder andere die enorme impak van die digitale en informasie-era. Die ideologiekritiek is deur hierdie tye van hand tot hand aangegee en het vandag talle nuwe eienskappe. Om dit “kulturele Marxisme” te noem is eintlik nou al outyds en kyk die kern mis.
Wat oorbly is ’n nuttige en steeds evoluerende wyse om oor die strukturele gevolge van rasse-, klasse- en gendernorme van vervloë dae vir vandag se materiële patrone en politieke instellings te teoretiseer. Die ideologiekritiek is dus ’n baie breë veld, met talle onderwerpe, interpretasies en toepassings.
As ek vandag terugkyk na my bogenoemde artikel van 2016, kan ek heeltemal insien hoe twee denkwêrelde met mekaar gebots het. Die ideologiekritiek het vir studente uit minder bevoorregte en dikwels niewit Afrikaanse afkoms ’n verklarende model gegee om Maties te verstaan. Vir my, uit gegoede omstandighede, skoling en gemaklik binne die kokon waarin baie Afrikaners hul bevind, was daar geen rede om my tot die ideologiekritiek te wend nie. Ideologiekritiek bemoei sig met diegene wat die onderspit in ons demokrasie se instellings delf, of dit nou die oop ekonomie of oorgeërfde regte en voorregte is. Daarom het die aanslag lynreg met my visionêre persoonlike geloof in klassiek-liberale beginsels gebots. Vir daardie studenteleiers was die regstel van ongelykhede in ons demokratiese instellings hoofsaak; vir my, wat in ’n skyn van gelykheid grootgeword het, was die belangrikste om met my gelykes te kompeteer vir toegang tot geleenthede, en daarom die aandrang op formele gelykheid soos die klassiek-liberale skool voorhou.
Hoe praat hierdie uiteenlopende denkskole met mekaar? In die DA se onlangse Groot Paleisrevolusie was die gebreekte (of afwesige?) telegram tussen die liberale skool en die ideologiekritiek skreiend.
Die ingebore dilemma om aan die bevoorregtes hul eie bevoorregting en die ander nagevolge van strukturele ongelykhede te probeer verduidelik is waarskynlik vir talle aktiviste duidelik. In 2015 en ’16 het die ideologiekritiek sy eerste moment in die openbaar gehad in die demokratiese Suid-Afrika. Dit het ingeloop met melodrama en oopbarstende frustrasie. Daar was geweld, afskrikking, boendoehofagtige veroordeling en paniekerige universiteite. Met hierdie waarnemings deur die uwe in 2016 stem ek steeds saam; die vliegtuig is rof geland en het nie geskroom om ’n paar voordeure oop te skop nie.
Of dit moreel en strategies die beste metode was, het seker vir baie aktiviste ’n oop vraag geraak, veral toe paniekerige rektore die onlustepolisie inroep.
In 2020 is aktivisme anders. Ek sien diegene wat in 2015 onder die vurigste rooi revolusionêre getel het, telkens op sosiale media: Hulle is beslis rustiger en vriendeliker, maar nog net so ferm en ongenaakbaar oor hul aandrang dat die ideologiekritieke bevindings oor ons samelewing se gebreke korrek is. Die verskil is dat hulle nie meer aanneem almal verstaan die jargon nie. Hulle dwing ook nie meer mense se monde en ore oop nie. Die nuwe taktiek is redelik, sinvol en veelseggend. Dit soek sosiale kompakte, om ’n Ramaphosaïsme te leen. Ek sien gevolglik meer en meer mense wat besef dat die gruwelike dood van George Floyd, Collins Khoza en talle ander ’n patroonmatige simptoom is van die vooroordele wat diep in ons instellings ingebou is en vir ons almal belangrik is. Daarom help dit swart slagoffers van polisiegeweld absoluut niks as ons aanneem “Black Lives Matter” sluit die lewenswaarde van anderskleuriges uit nie. Al wat die ideologiekritiek agter daardie beweging vra, is dat ons saamstaan teen die gesagsfigure om vir almal ’n beter kans te help vaslê.
In soverre die ideologiekritiek en die klassiek-liberale skool hulself met die bevordering van vryheid, die afbreek van arbitrêr dominerende instellings en die verspreiding van billike geleenthede bemoei, is daar belangrike raakpunte tussen die twee skole.
Die kans vir samewerking ontstaan veral in die dae waarin regeringsgeweld in demokratiese state ons almal se vyand is. Dalk herstel ons die gebroke telegram en word die kompleksiteite van ons verskille ons grootste bate teen ongeregtigheid en oorheersing.
Lees ook
Wat Amerika oor George Floyd se dood by Suid-Afrika kan leer
#FeesMustFall: Danny Titus on burning libraries and human rights
Kommentaar
For the baby boomers: On September 11, Biko was found naked and shackled several miles away, in Pretoria, South Africa. He died the following day, on September 12, *1977, from a brain hemorrhage — later determined to be the result of injuries he had sustained while in police custody. *STB 1977