Wat Amerika oor George Floyd se dood by Suid-Afrika kan leer

  • 8

Soos ek, wil jy seker ook al teen hierdie tyd begin wegkyk van die televisieskerm of die kanaal verander wanneer jy ’n verwysing na die George Floyd-gebeure sien en hoor; jy wil dalk ook jou ore toedruk of die “mute”-knoppie op die televisie se afstandbeheer druk.

Maar die beeld is kragtiger as ’n magneet, die klank is angswekkend.

Wat aanhoudend by ’n mens bly spook, weergalm, is dríé woorde, drie eenvoudige woorde, waarmee Floyd – geboei, vasgepen op die grond – in oortreffende trap soebat, soos kleintyd toe ons mekaar met kussings speels versmoor het, maar hierdie is geen kinderspeletjie nie en George Floyd is ’n ongewapende volwasse man wat om hulp roep, wat om genade pleit by die polisieman, Derek Chauvin, met sy knie teen Floyd se nek, vuurwapen in die sy, en sy hand in sy broeksak. Die doelgerigtheid en die inspanning en die vasbeslotenheid waarmee die polisieman van Minneapolis in die deelstaat Minnesota in Amerika sy plig om misdaad te bekamp op hierdie oomblik uitvoer, maak hom doof vir die woorde wat die ganse wêreld wel kan hoor: “I can’t breathe!”

George Floyd-protes in Amerika in Mei 2020 (Foto: Wikimedia Commons)

Die voorval het op 25 Mei 2020 plaasgevind. Dit is vandag 3 Junie 2020. In die nege dae tussenin het die storie die internasionale nuusagenda oorheers – en Amerika laat ontplof. Proteste – en uiteindelik ook vandalisme – het van deelstaat tot deelstaat versprei; dit het die stilte verbreek wat deur inperkingsmaatreëls weens die globale COVID-19-pandemie meegebring is; en dit het ’n seisoen van solidariteit in Europa, Asië en Afrika laat aanbreek.

In Amsterdam is daar teen polisiebrutaliteit betoog; in Brittanje was die Formule 1-kampioen Lewis Hamilton “oorkom deur woede”; in Parys is die Franse regering aangemoedig om polisiegeweld ernstig op te neem; in Australië het die Floyd-ervaring die kollig opnuut geplaas op die geval David Dungay, ’n 26-jarige Aborigine-man wat in 2015 in ’n tronk dood is nadat hy deur vyf wagte “in bedwang gebring is”. Selfs die Chinese en Irannese regerings – beslis nie die voorbeeldigste regimes in terme van respek vir menseregte nie – het die Amerikaanse regering geroskam oor dié se reaksie teen die proteste. In Kanada moes premier Justin Trudeau vir 21 sekondes nadink toe ’n joernalis hom oor die gebeure in Amerika pols: “We all watch in horror and consternation what's going on in the United States,” het hy geantwoord – en terselfdertyd Kanada se eie rasuitdagings erken. “It is a time to learn what injustices continue despite progress over years and decades.”

Probeer gerus dié boodskap aan pres Donald Trump oordra. “We are putting everyone on warning,” het Trump, wat vir ’n wyle vir sy eie veiligheid in ’n ondergrondse skuiling versteek is, vroeër verklaar. Dit was toe hy aangekondig het dat hy “derduisende en swaar gewapende” soldate, militêre personeel en wetstoepassingsbeamptes teen die “betogings, plundery, vandalisme, aanvalle en kwaadwillige vernietiging van eiendom” gaan ontplooi.

Hierna is hy op TV gesien waar hy buite die Withuis saam met amptenare en veiligheidspersoneel ’n draai loop, reg oorkant die terrein waar protesgangers vroeër verwyder is. Die boek in sy hand waarmee hy die aandag van TV-kameras getrek het, was glo ’n Bybel, maar niks was op die omslag geskryf nie, slegs onleesbare woorde op die rugkant daarvan. “Is that your Bible?” wou ’n verslaggewer weet. “It’s a Bible,” het die President geantwoord.

Dit spreek boekdele oor sy geloofwaardigheid dat hy enigsins so ’n vraag gevra is. Maar dalk moes die vraag oor sy vertoonmakery eerder gewees het waarvoor hy hom na die Woord wend – en dit is te betwyfel of dit dieselfde rede was as die gebed van die Keniaanse opposisieleier, Raila Odinga, dat daar “geregtigheid en vryheid vir alle mense sal wees wat Amerika as hul tuiste beskou”. Indien dit ’n vingerwysery na Trump was, het Odinga se ander vier vingers huis toe gewys toe hy ook sê dat om weg te doen met die gebruik dat mense op grond van hul velkleur beoordeel word, “’n droom is wat ons in Afrika ook aan ons eie burgers verskuldig is”.

Hier aan die voetenent van die vasteland sou dié versugting beslis aanklank moes vind by Suid-Afrikaners ná onlangse voorvalle van hardhandige optrede deur polisie- en weermaglede wat na bewering tot die dood van Collins Khosa gelei het. Hoewel die Floyd-voorval (nog) nie plaaslik tot proteste aanleiding gegee het nie, het dit wel ’n debat laat ontstaan oor die (laer) vlak van ontstokenheid wat getoon is oor Khosa se dood teenoor Floyd s’n. Indien jou simpatie meer oorhel na laasgenoemde, het die radiopersoonlikheid Eusebius McKaiser getwiet, “moet jy reflekteer oor wat dit sê oor jou en oor ons – en tot hoe ’n mate ons (nie) swart Suid-Afrikaanse lewens waardeer (nie)”.

McKaiser se twiet maak egter nie melding van die rol in die verskillende reaksies wat die feit speel dat Floyd se dood op video vasgevang was en wyd versprei is, terwyl geen beeldmateriaal oor die gebeure in Khosa se huis bestaan nie. Die beelde en klanke van die Floyd-geval is daarom nou reeds ingeëts in die geheue van die wêreldpubliek, soos wat polisie- en weermagoptrede teen swart Suid-Afrikaners gedurende apartheid was. Plaaslik – anders as met die Floyd-situasie – was die fokus ook nie op die velkleur van die beweerde oortreders nie; en dáárin is nóg ’n belangrike onderskeid te tref: Die Khosa-voorval (hoewel ook onaanvaarbaar in die hoogste graad) het in die konteks van die COVID-19-inperking geskied, terwyl die Floyd-voorval beoordeel word in die breë konteks van rassediskriminasie en polisiëring in Amerika en die skeefgetrekte, geteikende wyse waarop daar teen swart mans opgetree word.

Kareem Abdul-Jabbar, wat weens sy aansien as basketbalster eenmaal as die “mees sigbare swart man in die land” bekend was, dui wel ’n raakpunt tussen die twee invalshoeke aan in ’n meningsartikel in die Los Angeles Times: “The black community is used to the institutional racism inherent in education, the justice system and jobs,” skryf hy. “But COVID-19 has been slamming the consequences of all that home as we die at a significantly higher rate than whites, are the first to lose our jobs, and watch helplessly as Republicans try to keep us from voting.”

En óók uit Abdul-Jabbar se artikel, asof deur ’n digter geskryf: “Racism in America is like dust in the air. It seems invisible – even if you're choking on it – until you let the sun in.”

Die dood van die 46-jarige George Floyd laat nou weer die son skyn op die werklikheid van en die stryd teen geïnstitusionaliseerde rassisme, wat al sedert die dae van slawerny, en toe swart mense in die openbaar gehang is (“lynchings”), gevoer word, en wat voortgesit is deur die menseregtebeweging van Martin Luther King jnr en verewig is in die skryfwerk van onder andere James Baldwin.

Baldwin kon nie dit wat hy wou hê sy vernaamste boek moes wees – oor die moord op King en twee ander swart Amerikaanse menseregteleiers, Medgar Evers en Malcolm X – voor sy eie dood in 1987 voltooi nie. Maar in 2017 het die filmmaker Raoul Peck die 30 bladsye Baldwin-aantekeninge vir die boek, wat hy Remember this house sou noem, in ’n dokumentêre rolprent omskep, getiteld I am not your Negro; die resultaat word beskou as ’n “radikale, kragtige en poëtiese werk” oor ras in Amerika – tóé en vandag.

En vandag blyk dit dat die Baldwin-skryfprojek in werklikheid nog nie afgehandel kán word nie, gegee die voortgesette polisiemoorde op bepaald swart mans in Amerika. In Policing the black man (Pantheon Books 2017) begin die samesteller, Angela J Davis, haar inleiding met name “uit ’n lang lys van ongewapende swart seuns en mans” wat in die onlangse verlede aan die hand van polisiebeamptes gesterf het: Michael Brown, Eric Garner, Tamir Rice, Walter Scott, Freddie Gray, Sam DuBose, Terence Crutcher. Ander meer onlangse gevalle sluit in Alton Sterling, Philando Castile en Stephon Clark. En dan was daar die bisarre voorval in September 2018 toe ’n (wit, vroulike) polisiebeampte, Amber Guyger, by ’n woonstel in dieselfde kompleks waar sy gewoon het, ingestap het en die swart man Botham Jean koelbloedig doodgeskiet het ... omdat sy glo gedog het dit is haar eie eenheid en dat Jean ’n inbreker was.

Wat tot hierdie soort denke aanleiding gee, word deur Bryan Stevenson, stigter en uitvoerende direkteur van die Equal Justice Initiative, in die Davis-boek verduidelik as “die las van skuldvermoede en gevaar” wat veral jong swart mans in Amerika met hulle saamdra. Dit kan net aangespreek word as Amerika die dag bereid is om wat betref sy geskiedenis van rassegeweld ’n proses van “waarheid en reparasie” te ondergaan – soos wat Duitsland, Rwanda en Suid-Afrika gedoen het, skryf Stevenson.

Maar solank as wat Amerika weier om hieraan gehoor te gee, sal George Floyd – nou die mees sigbare swart man in die wêreld – se versmorende pleitroep teenoor Derek Chauvin nog vir generasies lank bly weergalm: “Ek. Kry. Nie. Asem. Nie!”

Lees ook

2015 teenoor 2020: ’n Vriendeliker ideologiekritiek?

  • 8

Kommentaar

  • Arrie de Beer

    Heinrich, ja seker, maar behoede Amerika van die naïewe voorstelling daarvan wat bv op 4 Junie 2020 deur CNN se Amanpour daarvan aangebied is. 'n "Kumbajah"-weergawe met geen nuanses oor die ongelukkigheid onder swart mense en die rasgedrewe voorstellings van die TRC in 'n sektor van die Afrikaanse openbare lewe en media nie.

  • En so word die dood George Floyd, ’n man met ’n lywige misdaadgeskiedenis en wat ’n pakkie sigarette met ’n vervalste $20 gekoop het, deur die hardhandige en onvanpaste optrede van een polisieman ’n vonk in ’n rassekruitvat.

    Soos orals in die wêreld buit die misdadige element dit uit en gebruik die demokrate dit om presTrump by te kom om dat dit ’n uitlaatklep vir hul opgekropte emosies geword het na hul mislukte poging om hom uit die saal te lig.

    Suid-Afrika en Amerika kan nie vergelyk word nie, want state onder demokratiese goeweneurs lek nog hul wonde na hul mislukte impeachment poging en ’n mens kry die idee dat elke goeweneur ’n haan op sy eie mishoop is sover dit COVID-19 aangaan en hul eie mislukte pogings toeskryf aan die federale regering wat volgens hulle te min gedoen het.

    Daar is nie veel verskil tussen die dood van Floyd en Collins Khoza wat as gevolg van hardhandige optrede in sy eie erf deur lede van die Suid-Afrikaanse weermag en polisie oorlede is. Beide is dood deur optrede van magsbehepte mense.

    In Suid Afrika het die hof dit nodig geag om:
    Pretoria – In a step to improve the accountability of the police and the South African National Defence force while enforcing the COVID-19 lockdown, the ministers of defence and police must within five days develop and publish a code of conduct and operational procedures regulating the conduct of their members, including that of the metropolitan police departments.
    This code of conduct must be published in newspapers as well as on social media, the North Gauteng High Court in Pretoria ordered on Friday.”
    Intussen bevind die weermag hul lede onskuldig.
    In die opsig is Suid-Afrika Amerika voor. Die skrywer het dit goed geag om weereens in die geskiedenis rond te krap tot die dae van slawerny asof slawerny net vanaf een kant gekom het en dit sou dan hoofsaaklik wit koloniste gewees het.
    Nou lyk dit vir my of hy teregwysing van Amerika deur Sjina hoog aanslaan, maar dan vergeet dat daar bevind is:
    “Frank Dikötter, Chair Professor of Humanities at the University of Hong Kong, estimated that, at minimum, 45 million people died from starvation, overwork and state violence during the Great Leap Forward, claiming his findings to be based on access to recently opened local and provincial party archives.”
    Natuurlik maak die Sjinese regering soos gewoonlik die getal minder, net so’n 15 miljoen. Of dit nou 15 miljoen of 35 miljoen is kan dit kwalik as ’n “great leap forward” beskryf word, eerder ’n “geat leap backwards” en een van die grootste menslike tragedies.

    Hoe is dit dan dat instansies soos “anti slavery” bevind dat:
    “40 million people are estimated to be trapped in modern slavery worldwide:
    • 1 in 4 of them are children.
    • Almost three quarters (71%) are women and girls.
    • Over 10 000 were identified as potential victims by the authorities in the UK in 2019.”

    Die mense het nie ’n stem nie al lewe in ’n spreekwoordelike hel op aarde en gaan hul lyding bykans onopgemerk verby en word geen winkels wat hul goedere verkoop wêreldwyd geboikot of afgebrand nie en loop mense daagliks met klere rond wat hul oorsprong daar het.

  • Ek lees hierdie stuk, en toevallig het ek ’n video van ’n Amerikaanse swart vrou ontvang wat DIE WAARHEID oor hierdie hele bohaai bekend maak... Ek wens julle wil ophou om die DRAMA so aan te vuur oor iets wat eintlik niks is nie. Verkeerd is verkeerd, hetsy deur swart op wit, of wit op swart, maar niemand gaan so te kere wanneer ons wit boere so uitgemoor word deur swartes nie. Get a grip en hou julle kommentaar asb. vir julself! Wens ek kon die African American meisie se video wereldwyd aanstuur, maar eks ongelukkig nie internet wise genoeg nie.

  • Regerings en wereldleiers skram weg van die olifant op die tafel...ongebreidelde bevolkingsaanwas. Ons "lebensraum " word al hoe meer beperk in 'n verstedelikende wereld.

    Sosiale media en televisie maak van almal tropdiere wat enige " akteur/ mooi gesiggie of sportster" slaafs aanhang en naboots.

    Konflik tussen "heersers" en minderheidsgroepe sal soos die "spreekwoordelike armes" altyd met ons wees en is so oud soos die berge.

    Indien Respek nie as deel van kinders se opvoeding met "moedersmelk" aangeleer word nie sal die huidige tragedies ( ook rassespanning) hul bly afspeel in ons gemeenskappe.

    Niemand kan tog van politici verwag om hiermee die leiding te gee nie?

    Hulle bewys daagliks dat Suid-Afrikaners en Amerikaners nie of nooit weer "op prinse "moet vertrou nie.
    Hul verleentheid verveel die mens.

    Covid 9 bied die beste/enigste geleentheid om van hierdie gevaarlike narre ontslae te raak.

  • Perspektief is partykeer nodig in ‘n saak soos hierdie. Volgens die polisieverslae wil dit voorkom of George Floyd ‘n kriminele rekord so lank soos my arm het wat insluit dwelmsmokkelary en selfs poging tot moord op ‘n onskuldige verwagtende vrou. Daar was ook bewyse van dwelms in sy bloed teen die tyd van sy arrestasie. Hoeveel bydrae het die feit gehad tot sy dood.

    Aan die anderkant is daar nie een enkele bewys dat die polisieman die daad gepleeg het uit rassisme nie. Onnoselheid en geweldadigheid wel. As hy so rassisties was, sou hy seker nie met ‘n Viëtnamese vrou getrou het nie.

    Moet daar nie liewer dieper gekrap word oor die oorsake van die betogings nie en die agendas van die Trumphaters en Antifa wat hierdie ongelukkige gebeurtenis opblaas om punte aan te teken om onrus en ongelukkigheid te saai nie sodat daar nog meer verwarring in ons brose wêreld met al die onsekerheid van Covid19 kan kom nie.

  • Mr J Wesseloo

    You are one sided in your article by not giving the full story an thus the full truth. Let me know your email address and I will email the comments of a young black lady which give a far better reflection on who George Floyd really was. All of her comments are the truth and the whole truth. How can you and all the others make a hero of a criminal who has spent years and years in jail for major felonies committed one of which was against a pregnant woman. The comments do not mention the gang-rape committed by George Floyd and the rest of the gang. If you need this in Afrikaans let me know. Ek praat en skryf Afrikaans. Jesse Wesseloo

  • Mr J Wesseloo

    En hoekom nie 'n artikel oor die plaasmoorde wat in Suid-Afrika plaasvind? Meer as 2000 boere, hul vrouens en soms ook hulle kinders en plaaswerkers ia doodgeskiet, doodgekap.Soms is die vrouens se borste en die mans se pen ... Afgekap en in hulle monde gestamp. Kry 'n paar van hulle name en vanne en maak van hulle ook helde. Geen wonder dat Londen alreeds meer as 80 000 Afrikaanssprekendes het. Toronto het 40 000, Perth 60 000. Die aantal Afrikaners het gedurende die laaste decade teruggeloop na 2 500 000 miljoen. J Wesseloo
    J Wesseloo

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top