Etienne van Heerden (1954–)

  • 0

Sêgoed van Etienne van Heerden

“Om ’n roman te skryf, is die alleenheid van ’n langafstandatleet. Ek het nie probleme met die dissipline nie, maar dis baie eensaam, en ek is lief vir mense, ek hou van saam met mense werk. Dis hoekom ek projekte het soos LitNet en die kabaretwerk.” (Rapport, 27 Augustus 2000)

“Ek is nie deel van enige juigkommando nie. Ek glo aan projekte en verkies om op ’n positiewe en verbeeldingryke manier by te dra, eerder as om op en af te spring.” (De Kat)

“As mense my vra waaroor ek skryf, sê ek dit gaan oor die lewe, en dan vra hulle hoe lank het ek geskryf aan ’n boek en dan is die antwoord: ‘My lewe lank’.” (De Kat)

“En dis bourgeois om te verwag dat ’n skrywer se werk ’n stygende lyn van gehalte moet wees. Ek stem veel eerder met John Steinbeck saam wat sê ’n skrywer se oeuvre is soos ’n bergreeks. Daar is pieke, maar daar is ook klein heuweltjies.”

“Reklame het my geleer om gedissiplineerd te skryf, gereeld en hard te skryf, soos ’n atleet wat hard hardloop. Ek het daar geleer wat commitment beteken, om nie bang te wees om aan te hou slyp nie, and to murder your darlings.”

“Ek moet die deksel op die pot hou, hoe stywer, hoe beter, want dan kook hy, tot die deksel begin bewe – en dan moet ek tyd vat vir skryf. Dis hoe ek werk, dis nie advies wat ek vir almal sal gee nie, maar dis hoe ek werk.” (Rapport, 27 Augustus 2000)

“Die roman boei my eindeloos. Wat my bly lok, is die volmaakte roman wat ek nog altyd wil skrywe. Van probeerslag na probeerslag trek ek op na die heilige graal – daardie een, volkome inpalming van die genre. Gaan ek Everest se kruin bereik? Natuurlik nie. Die roman is ’n geheimsinnige, ontglippende kunsvorm. Dis ’n gedaante wat jou ontgaan. Dis gedoem tot onvolmaaktheid.” (Volksblad, 6 Mei 2008)

“My oeuvre is ’n stelling van my persoonlikheid. Elke boek is ’n meubelstuk wat ek in die kamer van my gees neersit. Vorige boeke staan ook as meubels daar rond. Die nuwe ene moet ’n gesprek aanknoop met die ouer stukke. Hy laat my my ouer meubels só en só. Als lyk anders wanneer jy hom indra. Elke nuwe boek wil staanplek hê en deel wees. As jy die kamer instap, moet dinge saamhang. Ek is ’n binneversierder wat bly torring aan sy binnekamer.” (Volksblad, 6 Mei 2008)

“’n Boek is nie ’n presiese prestasie of hoogtepunt nie, dis iets wat aangaan. Miskien is die kunstenaarskap by ’n gegewe boek ’n entjie verder gedruk as by ’n ander boek. Miskien sal ’n volgende boek ’n kleiner omvang hê, maar vir die skrywer net so belangrik wees. Opperman het gesê jy is die liefste vir jou gebreklike kalwers.” (Rapport, 27 Augustus 2000)

Waar hou sy talente op? “Almal het dinge wat hulle kan doen. En nie. Jis, jy sê mense sê my nuwe boek (Salviati) is goed. Maar binnekort gaan ek oorsee, en dan lê Calvino en die ander grotes se boeke daar in die winkels rond, en dan weet jy, jy krap-krap maar net. So, illusie kan daar nie wees nie. Ons is ’n klein literatuur, in ’n klein verwysingswêreld.” (Rapport, 27 Augustus 2000)

“Ons leef egter in so ’n opwindende tyd met soveel moontlikhede en soveel kreatiewe energie, dat dit verbasend is dat mense dikwels nie vorentoe gaan nie. Daar’s mos g’n taalgroep met soveel vrywillige energie as Afrikaanse mense, wit én bruin, nie. Dis seker hierdie wroeg-geen wat hom dryf, wat ’n soort angstigheid en ’n ontuisheid wek, want dit skep ’n helse lot energie.” (Rapport, 27 Augustus 2000)

“Vir my is dit [die skryfproses] soos fietsry deur dik woestynsand, oor die duine. Ek moet sweet om ’n storie te maak wat as storie meesleur, soos ek met In stede van die liefde probeer doen het. En nee, ek’t nie skryfrituele nie, behalwe om vir myself te fluister: ’niks moet, alles kan’. Dan is dit soos die liefde, jy moet maar net begin.” (Rapport, 19 Maart 2006)

Dis nie net die Karoo wat hom inspireer nie: “Die hele lewe is ’n vervlegting van storielyne. ’n Tapisserie van die mees onwaarskynlike gebeure. Dis ter hand. Elke mens se gemoedslewe is ’n opspraakwekkende dramawekkende drama.” (Rapport, 19 Maart 2006)

“As ek ’n boek skryf, is daar ’n absolute verliefdheid, ’n verslingering daarmee, en as dit verskyn, is ek absoluut verlief op die fisieke objek. Dan eensklaps is dit verby, en is ek in daardie fase van post-natale oewerloosheid. Ek dink wat skryf vir my doen, is om dispariteite saam te trek. Soos ’n tregter. Ek gebruik kreatiwiteit om myself vas te hou, en ek móét ’n volgende boek begin, because I’m at odds with myself.” (Beeld, 7 Desember 2008)

“Nee, ek ‘kry’ nie ’n muse nie. Ek kry wel invalle en idees en veels te veel vals wegspringstrepe. Dan is dit maar weer hakskene inslaan, opnuut, vir ’n volgende wegspring; totdat die roman sy stem vind.” (Beeld, 16 November 2005)

“Kyk, jy skryf vanuit, jy skryf nie oor nie. Ek sien nie my werk as ’n afgebakende oeuvre waarin jy loop en dan soos Van Wyk Louw kommentaar lewer ‘rondom eie werk’ nie. Ek sien dit as iets waarin jy absoluut vasgevang is. Jy praat uit die familie uit, soort van. En ek dink ons almal in Suid-Afrika is nou daar waar ons wil uitpraat.” (Beeld, 7 Desember 2008)

Etienne van Heerden het in 2010 met Breyten Breytenbach saamgestem dat dit Afrikaans se verlies aan hoër funksies is wat die grootste kommer wek. “Ek glo taal is ’n viool. En dit help nie jy speel net straatdeuntjies op ’n viool nie. Jy moet ook komplekse simfonieë kan uitvoer met jou viool. Dit is nie genoeg om te sê dat Afrikaans op kunstefeeste en rockkonserte en in sitkamers tuis gaan oorleef nie. Afrikaans as taal van hoër funksies (onder meer as regstaal, mediese taal en filosofiese taal) moet nou dringend groter beskerming geniet. Ek dink dus die sterfte lê op die hoër vlak, eerder as straatvlak.” (Die Burger, 27 Maart 2013)

In 2012 by ontvangs van eredoktorsgraad van die UV: “Mens moenie dink waaroor mense wil hê jy moet skryf nie. Elke mens is ’n museum van gevoelens, ervarings, ’n soort drama. Ons koppe raas mos maar almal, ons is immers mense!” (Volksblad, 16 Junie 2012)

“Die poësie moet ek eerder oorlaat aan die stipkykers. Dit lyk my die digter moet met ’n vergrootglas kan kruip, op sy elmboë en knieë. Oor die teerstraat deur die spitsverkeer, oor die Boeing se aanloopbaan, oor die voorstedelike kelim, oor die kroeg se vloer terwyl almal staan en nie sien wat hy sien nie. Dit lyk my taal suis in die digter se ore soos bloed. Digters is genieë.” (Rapport, 31 Augustus 2012)

Raak vertaling ooit iets waarvan hy bewus word in die skryfproses? “Dis iets wat jy absoluut bewustelik moet beveg. As ek nou bekommerd was oor of hierdie boek gaan travel, het ek Zan nie geskep nie, het ek ’n soort neutrale, joernalistieke Afrikaans in haar mond gesit. Dit was amper vir my ’n toets … miskien teen die eise van markkragte.” (Beeld, 16 Februarie 2011)

Etienne meen sy generasie was gelukkig omdat hulle téén iets spesifiek kon skryf. “Die nuwe generasie skryf teen Exclusive Books se rakke, dit is meer bemarkingsgeoriënteerd. Hoe moet jy jouself posisioneer as skrywer? Hoe gaan jy aandag kry? Ons groot ding was: hoe gaan jy die kwaadgeit op die regte manier uit jou lyf skryf? Hoe gaan jy jouself frack ten beste?” (Beeld, 1 September 2012)

Oor Klimtol en sy ander boeke: “Die boek is vir my ’n prostese, byna soos Ludo se yoyo. Dis vasgegroei aan my hand. Ek dink werklik dit word deel van my lyf. Ek word in my boeke beliggaam. My boeke skryf vir my.” (Rapport, 11 Oktober 2013)

"In my geval is die landskap altyd een van die hoofkarakters in my boeke. My onderbene is ingemessel in Afrika en dit blyk uit my skryfwerk." (De Kat, Julie/Augustus 2017)

Daar is geen teken dat Etienne van Heerden gaan briek aandraai nie: "Ek wou toe [met my hartomleiding op 47] nie kop gee met lewenslus en werkenergie nie. Maar dalk het dit ’n soort verdieping gebring. Met elke boek probeer ek maar deur die vuurhoepel spring sonder om neer te slaat." (De Kat, Julie/Augustus 2017)

Gaan die roman nog ’n voertuig kan bly van die verbeelding? Gaan dit nie ’n stadige ou kar word nie? “Sosiale media is een groot brander van ‘ek sê’ en verontwaardiging oor verbeelde foute wat ander maak; verbeelde gebreke en die deugtwiets wat vlieg en dis natuurlik maklik, maar moeiliker weer eens om by wyse van die verbeelding te argumenteer, dís stadiger as die maklike aangryp van verklarings. Dis nou maar die tyd waarin ons is. Dit gaan fassinerend wees om te kyk hoe dinge gaan ontwikkel, en wat gaan gebeur met die mens se manier van dink ... Ons generasie kan al voel hoe, as jy ’n roman lees byvoorbeeld, die lees op ’n sekere manier in die rede geval word deur jou telefoon wat nie verder as ’n meter van jou af lê nie.” (Die Burger, 23 Junie 2017)

Aan Naomi Bruwer nadat Klimtol benoem is vir die eerste kykNET-Rapport Boekprys in 2015: "Om saam met die gesoute Eben Venter en die kwiksilwer Dominique Botha genomineer te word, is ’n groot voorreg. Al het ek al heelwat romans geskryf, is mens met elke nuwe roman ’n beginner. Jy bollemakiesie soos ’n lummel of tango soos ’n rofstoeier. Daar is geen resep vir romanskryf nie. Jy is elke keer ’n beginner en leerjonge. Jy moet met elke boek daardie spesifieke boek se resep vind. Jy moet eintlik die romangenre vanuit die oogpunt van die storie wat jy wil vertel, herskep. Al lyk dit nie of jy dit uiteindelik reggekry nie, is dit hoe jy voel; ek ten minste! Daarom is so ’n nominasie nie iets wat volg op ander nominasies wat jy vir vorige boeke ontvang het nie. Jy het opnuut die dankbaarheid van die debutant wanneer jou boek die kortlys haal." (LitNet)

Die lekkerste aspek vir hom van die skryfproses en die grootste frustrasie daarvan? "Ek hou daarvan wanneer my karakters my verras. Die interessantste deel van romanskryf is om nie van meet af aan te weet hoe jou roman se slot gaan lyk nie. Dis opwindend om jou karakters te volg en te kyk waarheen hulle jou neem. Hul onvoorspelbaarheid en jou nuuskierigheid oor wie hulle is, en veral wat hulle gaan aanvang wanneer hulle mekaar teëkom – dis die opwinding van romanskryf en dis ’n vorm van reis.

"Wat my die meeste frustreer, is die balans tussen my ander verpligtinge aan die een kant (hoofsaaklik universiteitswerk en LitNet) en my skryfwerk aan die ander kant – om te pendel tussen die twee ruimtes. Skryf is vuur en algebra. Dis veral tydens die fase van vuur (wanneer jy nog uit die guts uit skrywe) dat dit moeilik is; tydens die algebrafase (wanneer jy meer berekend meet en pas en skaaf en sny) is dit makliker om take met skep te balanseer. Maar ek probeer strategieë uitgewerk om die situasie ten beste te hanteer. Ek hou van als waarmee ek besig is, aan die UK leer ek steeds baie, en LitNet is ’n uitdaging en passie; my skryfwerk is asemhaal en lewe." (LitNet in 2015)

Gebore en getoë

Etienne Roché van Heerden is op 3 Desember 1954 in Johannesburg in die Florence Nightingale-kliniek in Hillbrow gebore (waarheen sy ma om gesondheidsredes vir die bevalling gestuur is). Sy pa was ’n Afrikaanse boer en sy ma ’n Engelse wiskunde-onderwyseres. Hy word groot op die plase Doornbosch (waarvan die berg Toorberg deel vorm), in die bergwêreld tussen Graaff-Reinet en Murraysburg, en Gerriehoek-Beulahlands in die Visriviervallei in die Cradock-distrik. Sy pa en dié se broer het in vennootskap as merinotelers op die familieboerderye geboer. Sy ma het, as Engelssprekende, ’n gemakliker en makliker, sowel as meer liberale, Suid-Afrikaanse houding verteenwoordig.

Die familieplaas Doornbosch is die oudste plaas van ’n direkte patriargale familielyn van die Oos-Kaap. Burchill was ’n reisiger wat in sy dagboek geskryf het van ’n besoek wat hy aan die voorvaders van die Van Heerdens op Doornbosch gebring het. Etienne vertel aan Danila Liebenberg (Volksblad, 6 Mei 2008): “My pa se mense is diep gewortel in landskap, geskiedenis en bloed. Ek voel bevoorreg om uit daardie geslag van mense te kom. My ander seëning was die Engelse familie van my ma met sy eksentrieke vroue en mense uit die Wes-Kaap. Ligter, minder betrokke by kwessies en vryer. Ek kon twee benaderings tot ons land en sy probleme belewe. Ek kon verskriklik wroeg en terselfdertyd ook vry voel.”

Hy bring die meeste van sy kinderjare deur op Gerriehoek-Beulahlands, reg onder die berg waar Olive Schreiner se graf is. Van kleins af is hy gefassineer deur die vrou wat boeke geskryf het, en het ure lank in die dorpsbiblioteek in die Olive Schreiner-kamer deurgebring.

Etienne se ma het baie saam met hom geteken. Op ’n stadium het hy ’n groot boek met kleurskilderye van Van Gogh daarin by haar gekry. Omdat hy op ’n plaas grootgeword het, kon hy die kreatiwiteit laat hoogty vier. As hy iets wou hê, soos ’n stuk sinkplaat, was sy pa se woorde altyd dat hy dit kon kry, maar hy moes iets daarmee doen wat die moeite werd was. En dan kon hy sy skeppingsdrang uitleef. Dié tipe van grootword het Etienne se lewe ook later beïnvloed.

Etienne vertel aan Hanlie Retief in Rapport van 27 Augustus 2000: “Die lewe bestaan uit keuses maak. Vir my was daar die keuse om te gaan boer, in die patriargale ry van Van Heerden-boere in die Oos-Kaapse Karoo. Die keuse wat ek nié gehad het nie, was plaasseun-wees. Genadiglik so, want vir ’n skrywer is sy kinderjare sy bankbalans, die plek waar hy idees uit put. Die bruin mense op die plaas het die stories in my wakker gemaak. Robert Steyn was so iemand, hy’t vir my pa gewerk. Elke aand as hy kom skoene skoonmaak in die kombuis, het hy jakkals-en-wolfstories vertel. Dis ’n mitologiese landskap vir ’n kind. In die Karoo het elke hek mos ’n naam, elke draai in die pad. Die Karoo se gestrooptheid dwing jou om betekenis op te lê, om die oopheid, die barheid, te vul. Daardie mitologie, dink ek, het in my agtergebly.”

Etienne word Afrikaans grootgemaak, maar Dinsdae was die dag vir Engels praat en strokiesprente (comics) uit Engeland.

Hy het reeds as twaalfjarige seun onder die magiese invloed van die Karoo geleef, dié Karoo wat soos ’n silwer draad deur die meeste van sy boeke loop. “Ek het op ’n hoogtetjie gestaan op ons plaas en ’n epifanie beleef,” vertel hy aan Linette Retief (Rapport, 19 Maart 2006). “Die ruimte om my het oopgeskiet asof daar opeens ’n vierde dimensie was. My gees het ontplof die wydtes in.”

Hy is “obsessief” oor landskap. “As kind het ek daar (op die plaas in die Cradock-distrik) geloop tussen die rondawels, waarin ons toe lusern gebêre en kalwers aangehou het, en stories gehoor van wat daar gebeur het. Dit was vir my as kind ’n fassinerende ruimte.”

Etienne was redelik jonk toe hy begin skryf. Dit was om sin te maak van dit wat hy verloor het en dit te verwerk. In sy boeke word die Karoo uitgebeeld as ’n “geslote, mitologiese wêreld”, vertel hy aan Willemien Brümmer (Beeld, 7 Desember 2008). Sy pa was redelik jonk toe hy ná ’n hartaanval oorlede is. Etienne was maar 14. En dit was dalk die een enkele rede hoekom hy begin skryf het, vertel hy aan Brümmer. Sy wêreld soos hy dit geken het, was nie meer daar nie: die boerderyvennootskap is ontbind en hulle het na Stellenbosch verhuis, waar die landskap hemelsbreed van die Oos-Kaapse Karoo verskil het. Hier ontmoet Etienne vir Kaia, ’n mooi Duitse meisie in Bloemhof, die buurskool van Paul Roos-Gimnasium, waar Etienne op skool was.

Aan Elsa Krüger (Beeld, 15 Junie 1991) vertel hy: “Ek skryf al vandat ek sestien is. Die vreeslikste goed. Toe ek in standerd agt in Paul Roos kom, beland ek langs André Letoit (Koos Kombuis). Ons het groot vriende geword en saam begin skryf. Ons het mekaar baie aangemoedig. Ons het gedink ons skryf te wonderlik, ons het gedink ons is Van Wyk Louws – Breytenbach kan gaan slaap en Bob Dylan moet oppas! Ons sou digters word …”

Etienne matrikuleer in 1972 en voltooi sy diensplig in die vloot. As gevolg van blindheid in sy een oog is hy nie see toe nie, maar word ’n hondehanteerder by die Klawer-basis in die berge agter Simonstad.

Verdere studie en werk

Etienne sit sy studie voort aan die Universiteit Stellenbosch, waar hy aanvanklik in die regte studeer. In 1977 is hy hoofredakteur van Die Matie, die universiteitskoerant. Hy stig ook en dien as redakteur van die klein letterkundige tydskrif Graffier, en stig sy eie alternatiewe uitgewery, Skoppensboer.

Hy besluit egter gou dat die regsberoep nie ’n rigting is wat hy wil volg nie en staak sy studie tydelik om ’n kopieskrywer te word. Hy keer dan egter terug universiteit toe en behaal sy BA (Regte) en LLB, waarna hy as prokureur tot die balie toegelaat word. Hy voltooi sy BA Honneurs in Afrikaans en Nederlands met lof. Vir sy magisterstudie aan die Universiteit van die Witwatersrand ondersoek hy die voorkoms van raspejoratiewe in Afrikaanse prosatekste. Hy slaag ook dié graad met lof. Sy PhD doen hy deur die Universiteit van Rhodes oor engagement en die postmodernisme.

Tydens sy jare by ’n prokureursfirma doseer hy deeltyds regspraktyk aan die Skiereilandse Technikon se Sakeskool. Hy werk ook as assistentadjunkbalju van die hooggeregshof vir die Bellville-landdroshofdistrik en tree veral in strafsake op.

Hierdie kennis van die regsberoep het hom goed te staan gekom met die skryf van sy roman Toorberg. Hy vertel aan Danila Liebenberg (Volksblad, 6 Mei 2008) dat hy in die regsberoep geweldig baie insig in mense gekry het en dat dit ’n intense en belangrike leerskool was. “Ek was ’n kadet van die lewe. Ek was nie soseer in die jurisprudensie geïnteresseerd of in die bewysmateriaal nie. In plaas van om te vra ‘In watter hand het hy die mes vasgehou’ wou ek eerder vra: ‘En hoe’t jy gevoel toe die mes by die vlees insak?’ Dit was dus die oog van die romanskrywer, die duiwelsadvokaat, waarmee ek gekyk het, en nie die oog van die staatsaanklaer of advokaat vir die verdediging nie.”

Hy besluit egter om nie met sy regsloopbaan voort te gaan nie en sluit by ’n reklamemaatskappy in Kaapstad aan, waar hy aandeelhouer en direkteur: kliëntedienste is en benewens kliëntskakelwerk ook kopieskryfwerk doen.
Etienne is later met sy skoolkys, Kaia, getroud. Sy is ’n mediese dokter en hulle het twee dogters, Imke en Menán. Hulle woon in Stellenbosch, in dieselfde huis waarheen hy saam met die gesin getrek het na sy pa se afsterwe in 1969.

Na twee jaar in die reklamebedryf aanvaar Etienne ’n lektoraat aan die Universiteit van Zoeloeland naby Empangeni in (KwaZulu-) Natal. Hulle is Zoeloeland toe met ’n baba, ’n labrador en ’n klein Mazdatjie. “Ek het Toorberg daar geskryf en my MA en Liegfabriek en Die laaste kreef. Dit was ’n geweldige vrugbare twee en ’n half jaar gewees. Dit was vir ons ’n wonderlike tyd, geïsoleerd, met ’n loslaat van kreatiewe energie.”

In 1987 word Etienne deur André P Brink aangestel as dosent in Afrikaanse en Nederlandse letterkunde en literatuurteorie aan die Universiteit van Rhodes, en word in 1991 medeprofessor in Afrikaans. Reeds in 1980, met die ontvangs van die Perskorprys vir Jeuglektuur vir Matoli, lewer hy ’n pleidooi dat ’n kursus aan ’n universiteit ingestel word waar skeppende skryfwerk universitêre sanksie kry. “Vir die student met skeppende skryftalent is daar geen skool nie. Hy dwaal maar tussen die ander dissiplines rond, maar in wat vir hom dringend is, daarin kan hy geen predikaat verwerf nie.” Hierdie ideaal is in 1990 verwesenlik toe hy in Grahamstad met die kursus Kreatiewe Skryfwerk begin het. Hy is ook die inisieerder van en energie agter die M-Net Beurs vir Kreatiewe Skryfwerk.

Na tien jaar in Grahamstad verhuis die gesin in 1996 na Stellenbosch nadat Etienne ’n pos aanvaar in die Universiteit van Kaapstad se Departement Afrikaans en Nederlands. Ook aan dié universiteit word die kursus vir kreatiewe skryfwerk ingestel en kan ’n skrywer ’n MA in skeppende skryfwerk doen deur ’n manuskrip te skep onder leiding van een van die universiteit se vele skrywers. Etienne begin die eerste Afrikaanse skryfwerkstudente begelei, terwyl JM Coetzee die Engelse studente hanteer. So het Rachelle Greeff, Tom Dreyer, Sonja Loots, Toast Coetzer, Willemien Brümmer en vele ander studente onder leiding van Etienne gepubliseer. Hy begin ook Engelse MA-studente begelei en bied meestersklasse in Engelse fiksieskryf aan. In slegs een jaar, 2006, is vyf Afrikaanse en Engelse manuskripte wat onder Etienne se promotorskap in hierdie program ontwikkel is, vir publikasie aanvaar.

In 1999 volg Etienne vir Roy Pheiffer in die Hofmeyr-leerstoel vir Afrikaans en Neerlandistiek aan die universiteit op.

In 1978 debuteer Etienne met die jeugverhaal Matoli wat aan hom die eerste van ’n menigte literêre pryse besorg, naamlik die Perskorprys vir Jeuglektuur in 1980. In 1981 word die bundel Brekfis met vier uitgegee waarin gedigte van Etienne saam met dié van André le Roux du Toit (Koos Kombuis), Daniel Hugo en Peter Snyders by Uitgewery Skoppensboer verskyn. Hierdie bundel word in 2005 deur Human & Rousseau heruitgegee.

In 1981 word sy digbundel Obiter dictum deur Perskor uitgegee, en in 1983 verskyn sy eerste bundel kortverhale, My Kubaan, wat deel uitmaak van die grensliteratuur wat in die tagtigerjare gepubliseer is. My Kubaan word in 1984 met die Eugène Marais-prys bekroon.

Etienne se eerste roman, Om te awol, verskyn in 1984, maar dit is met die publikasie van sy volgende roman, Toorberg, dat Etienne wel deeglik op die Afrikaanse literêre toneel verskyn. Die verhaal handel oor ’n besoek van ’n magistraat Van der Ligt aan die plaas Toorberg, die stamplaas van die Moolmans, waar hy die dood van ’n seuntjie wat in ’n boorgat geval het, moet ondersoek. Toorberg word bekroon met die CNA-prys (1986), die ATKV-Prosaprys (1987), die WA Hofmeyr-prys (1987) en die Hertzogprys (1989). Dit word in Engels, Frans, Deens, Nederlands, Fins, Duits, Sweeds en Noorweegs vertaal.

Gunther Pakendorf skryf in sy resensie (Die Burger, 4 Desember 1986) dat met die magiese realisme wat in hierdie roman na vore tree, Etienne in ’n totaal nuwe rigting beweeg het wat ook sy verhaalkuns na ’n nuwe vlak neem. “En as die invloed van García Marquez hier onmiskenbaar is, dan spreek dit soveel meer vir Van Heerden dat hy Marquez nie epigonaal naboots nie, maar sekere aspekte – die landelike realisme, die genealogiese patroon, die ineenstrengeling van name en geslagte, die vanselfsprekendheid van die ongewone en die magiese – kreatief verwerk en op die Suid-Afrikaanse ‘werklikheid’ toepas. Toorberg is ’n ambisieuse roman en dit strek tot die skrywer se krediet dat hy die veelvoud intriges, karakters en motiewe met groot dissipline tot die einde deurvoer.”

Pakendorf sê dat die belangrikste van Toorberg is dat Van Heerden daarin geslaag het om tradisionele grense van die werklikheid wat ons elke dag belewe, in twyfel trek en dat dit selfs opgegee word sodat “dit wat apart ‘behoort’ te wees, ‘ineenvloei’, soos die magistraat opmerk”.

Afrikaanse mitologie loop sterk deur die roman, soos om die woestyn te tem en die baklei teen gediertes, Boesmans en die Xhosa-impi’s. Die dooies staan weer op en loop tussen die lewendes, soos ons dit kry in spookstories of Bybelse legendes. Eienaardige geboortes duik op; daar is misterieuse verdwynings en waterdwalers, towenaars, bygelowe, gerugte en stories. Pakendorf sluit af: “Dit is kenmerkend vir Etienne van Heerden se intellektuele en artistieke integriteit dat hy nêrens gebruik maak van pretensieuse of te opsigtelike simboliek nie en dit is ’n mate van sy ontwikkeling as skrywer dat hy die teenstrydighede tematiseer, maar nie op ’n simplistiese of tendensieuse wyse wil ‘oplos’ nie. Toorberg is ’n indrukwekkende roman en sonder twyfel ’n belangrike bydrae tot die Afrikaanse prosa.”

In 1987 met die ontvangs van die ATKV-prys vir Prosa vir Toorberg sê Etienne in sy toespraak (Die Burger, 25 Mei 1987): “Maar afgesien van ’n genadetjie soos dié, is die besig wees met die woord seker een van die mins geseënde loopbane om te volg in die Suid-Afrika van vandag. In die groot stilte wat die staat tans aan ons opdwing, lyk dit asof die politieke vaders die oop gesprek – die baljaar van taal – wil vereng tot ’n partypolitieke buroseminaar waar die enigste tong dié van die staat is. ’n Magdom regulasies, gegiet in die standaard-formules van taal as geweld, Afrikááns-as-geweld, sny die tong uit sy kies. Vir my as skrywer, wat taal wil volg in al sy heerlike moontlikhede, is enige beperking op taal onaanvaarbaar.”

Na ’n kort tydperk as assessorlid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns bedank Etienne net na die 1987-jaarvergadering toe die Akademie in die middel van die noodtoestand erelidmaatskap aan PW Botha toeken.

Toe die Hertzogprys vir 1989 vir Toorberg aan Etienne toegeken word, het hy gehuiwer voordat hy dit aanvaar het. Hy het gevoel dat die Akademie hulle met die optrede van die regering van daardie jare vereenselwig het toe hulle erelidmaatskap aan PW Botha toegeken het. “Ek was vieserig daaroor en het uit protes bedank. Nou was die hele vraag vir my – en dis waaroor ek moes besluit: of ek ’n prys kan aanvaar van die liggaam waaruit ek bedank het. Ek moes eenvoudig vrede in my hart kry dat ek wel die Hertzogprys kan aanvaar. Wat my laat besluit het om dit wel te doen, is die lang lys van vorige wenners, want ek glo ’n prys kry sy statuur veral van vorige aanvaarders van daardie prys – al is die liggaam wat dit toeken, nie vry te spreek van kultuur-politiek nie en al was daar omstredenheid juis rondom die Hertzogprys” (Die Burger, 25 April 1989). Op 34-jarige ouderdom het dit Etienne op daardie stadium een van die jongste wenners van die Hertzogprys gemaak.

Tydens die bekroningsplegtigheid in Bloemfontein het Etienne gesê dat in soverre die Hertzogprys hom “staan maak in ’n linie van groot kunstenaars” waarin hy hom ontuis voel, hy dankbaar is vir die prys. Hy kan egter nie dankie sê as dit op die handhawing van ’n “eksklusiewe kulturele dampkring [...], in soverre die Akademie die organisasie is wat ’n establishment verteenwoordig”, gemik is nie, omdat hy hom met die beste wil in die wêreld nie daarmee kan vereenselwig nie. “Die Afrikaanse skrywer loer na sy een flank. Hy sien die goedgunstiglike glimlag van die literêre prystoekenners, die Mammon-grein van die voorskryfkomitee, die helder ateljees van die groot uitgewers, die blinkoog-kamera van Potpourri. Hy loer na sy ander flank. Hy sien die sogenaamde kultuurlessenaars van die UDF. Hy sien plakkate waarop hy lees dat sy werk diensbaar moet word vir die ‘struggle’ – die stryd van die demokratiese magte wat daar buite die saal voortmarsjeer. Die Afrikaanse skrywer is terselfdertyd vasgevang in die persepsie-sisteem van die literêre instellings. Die sprong na alternatiewe kanale is moeilik. Ter wille van sy daaglikse brood moet die skrywer sy arbeid gee aan instansies waarin hy nie tuis hoort nie” (Tydskrif vir Letterkunde, November 1989),

In 1988 verskyn Liegfabriek, ’n bundel kort prosa waarin, volgens Gunther Pakendorf (Die Burger, 12 Januarie 1989), Etienne se veelsydigheid baie duidelik gesien kan word. Die tien stukke in die bundel is nogal verskillend wat inhoud, tema en behandeling betref: “Die titel van die bundel is ietwat onvanpas, aangesien die produksie van illusies en bedrog binne die kommersiële opset van die kapitalisme slegs in die titelverhaal aangespreek word. ’n Mens kan wel beweer dat die botsing van werklikheid en illusie ’n belangrike tema in die meeste verhale is, maar dié begrip is nie spesifiek genoeg om die wese van die bundel saam te vat nie. Na my mening lê die gemene deler van al die stukke eerder in die poging van ’n moderne Afrikaner om die komplekse Suid-Afrikaanse realiteit in oënskou te neem. Van Heerden gebruik telkens ’n tegniek van kontras waardeur disparate elemente met mekaar gekonfronteer word. […] In ‘Gemeenplase’ sê die skrywer: ‘Ons het almal, op ons manier, ’n plaas verloor. ’n Lewenswyse, ’n soort besit.’ As beskrywende, en deels satiriese, kommentator van die oorgang wat deur dié verlies veroorsaak is, het Etienne van Heerden reeds ’n plek vir homself oopgeskryf, soos Liegfabriek weer bevestig” – aldus Pakendorf.

Liegfabriek word in 1988 met die CNA-prys bekroon en in 1989 met die ATKV-Prosaprys vir gewilde prosa. Laasgenoemde bekroning het die literêre wêreld aan die praat gesit, aangesien die kortverhale volgens baie nie as “gewilde prosa” beskou kon word nie. JC Kannemeyer se kommentaar was dat Liegfabriek ’n “behoorlike bundel kortverhale is wat deur die toekenning van die prys inhoudloos gemaak is. Dit is g’n gewilde literêre werk nie.” Gerrit Olivier het gesê dat Etienne se werk beslis nie as gewilde prosa beskou kan word nie. “Daar is ’n fyn literêre tegniek en ’n kompleksiteit aan sy werk wat beslis nie in dié kategorie tuis hoort nie.” Charles Malan het egter gesê dat dit ’n baie belangrike bekroning is en dat hy baie bly is daaroor. “Hoewel dit nie in die geykte kategorie ‘gewild’ val nie. Die verskil tussen hoë en gewilde prosa is besig om te verdwyn. Dit is baie bevredigend omdat daar ’n mate van snobisme aan hoë letterkunde kleef” (Die Burger, 25 Mei 1989).

In 1991 verskyn Casspirs en campari’s: ’n historiese entertainment en word dit met 1992 se Rapportprys bekroon. Elsa Krüger (Beeld, 15 Junie 1991) vra in watter mate hierdie roman outobiografies is, aangesien die verhaal hom afspeel in Kaapstad, die reklamebedryf, Zoeloeland en die Oos-Kaap. Etienne antwoord: “Die breë bewegings in die boek is Kaapstad en Natal, en in dié opsig volg dit ’n sekere patroon in my eie lewe. Dan natuurlik ook die regswêreld en die reklamewêreld as voedingsbron, al die kotiljonse dáár, en dan so ietsie van Oos-Kaapland ook. Baie daarvan is outobiografies, maar ek sê altyd as jy oor ’n bankroof wil skryf, is dit nie nodig dat jy ’n bank beroof nie, maar dit gaan ook nie help as jy jou hele lewe net in kafees gaan sit nie. Outobiografies is die boek egter beslis nie. […] Ek wou ’n boek skryf wat baie dokumentêr realisties is, en mense herinner aan ’n tyd wat hulle geken het. Dit is baie bewustelik gedoen.”

Die roman is gebou om Suid-Afrika in die 1980’s toe Suid-Afrika die “muishond van die wêreld” was. Die land is aan die brand en die Casspirs trek op na die townships, terwyl campari’s op funksies van die media gedrink word en die Staatspresident se beeld na buite opgeknap moet word deur ’n reklamefirma van die Kaap. Johann Botha skryf (Die Burger, 11 Junie 1991): “Kyk ook na die hantering van hierdie tema: sterk storie, volop aksie, aangebied met die gladde arrogansie van ’n vakman. Die boek lees merendeels, sy lengte ten spyt, met ’n meesleurende vaart. Deel van die plesier wat ’n mens aan dié boek het, is trouens om te sien hoe Van Heerden as uitgeslape bemarker die gaping vat wat hy gewaar het. Met ’n handgreep van Greene noem hy sy roman ‘’n historiese entertainment’, en hy gaan koeltjies voort om te doen wat hy beloof het: vergas jou op die fiasko van tagtig.” Ander aspekte van die roman is die skrywer se vanselfsprekende taalvaardigheid; “die byderwetse, knetterende dialoog; die opbou van die roman uit kortverhaal-, soms essay-agtige episodes, sonder dat dit die epiese gang van die verhaal belemmer; die gemaklike hantering van tyd. Maar genoeg gesê: dié roman is ’n leesavontuur; om die beurt astrant, moedswillig, snydend, snaaks – en in laaste instansie ’n durende ervaring. Soos alle werklike vertelkuns bly dit by jou spook.”

Casspirs en campari’s se ontvangs in Nederland was besonder goed en positief. Marjoleine de Vos skryf in die NRC Handelsblad (datum onbekend) dat die rol van die roman, die taal van die roman, die skryfhouding en die rol van die skrywer aan die orde kom in die roman. Dit gebeur alles vanselfsprekend en sonder duurdoenery. “Van Heerden het ook ’n standpunt wat hy nie wil verdoesel nie, maar hy is leniger en wispelturiger, en sy romans is deurvleg met teenstemme. Die gedurfdheid van die skrywer en sy benutting van die werklikheid is opvallend. En hierby is hy volkome oortuigend.”

Van Heerden se reputasie as skrywer word internasionaal bekend – in 1990 is hy een van slegs 30 skrywers wêreldwyd wat deur die Amerikaanse regering genooi word om die land te besoek as deel van die internasionale skryfprogram wat deur die Institute of International Education en die Universiteit van Iowa gekoördineer is. Later jare dien Etienne in die internasionale adviesraad van die Universiteit van Iowa se International Writing Program, wat jaarliks tientalle skrywers van oor die hele wêreld na Iowa bring.

In Junie 1990 lewer Etienne op uitnodiging van die Instituut Algemene Literatuurwetenskap van die Universiteit van Nijmegen ’n voordrag getitel "Op weg naar Afrika: Afrikaanse literatuur as Afrikaliteratuur."

In 1992 word die titelverhaal van Mad dog and other stories in ’n internasionale versameling van hondestories gepubliseer saam met stories deur Thomas Mann, Roald Dahl en Gabriel Garçia Marquez.

Ook op eie bodem word Etienne vereer toe hy in 1993 deur Sarie aangewys word as een van Suid-Afrika se top-10 manne.

In 1995 word hy verkies tot lid van die Nederlandse Maatschappij der Nederlandse Letterkunde wat in Leiden gebaseer is. In 1997 onderneem hy saam met EKM Dido, Wilma Stockenström, Marlene van Niekerk, Marita van der Vyver en Peter Snyders ’n literêre rondreis in Nederland en Vlaandere wat deur die Nederlandse Taalunie gereël is, en in 2000 is hy vir drie maande gasskrywer aan die Universiteit van Leiden. In 2003 word hy saam met K Sello Duiker en Achmat Dangor genooi om die Winternachtenliteratuurfeest in Den Haag by te woon.

Etienne se volgende roman, Die stoetmeester, word in 1993 gepubliseer en word in 1994 met die ATKV-Prosaprys bekroon. Die Engelse vertaling, Leap year, deur Malcolm Hacksley, word in 1998 benoem vir die Dublin Internasionale Letterkundeprys.

Olie word op die katedraalplein in Port Cecil in die Oos-Kaap ontdek. Terwyl die wit-middelklas-inwoners van die dorp die kans wil aangryp om ryk te word, wil die swart inwoners, wat in 1993 nog in swart woongebiede gebly het, dit sien as ’n kans om die olie hulle besit te maak deur te bewys dat die katedraalplein hulle tradisionele grond was en deur die Britse kolonialiste van hulle afgeneem is. Dit is die hooftema van Die stoetmeester.

Vir Izak de Vries (op LitNet) is Caper timidus, oftewel die floubok, een van Etienne se meesterstukke. As die bok baie groot skrik, kap hy om. Wanneer ’n roofdier dus die kudde stoetdiere aanval, word die omgekapte floubok opgeëet en die res ontsnap. Die baas van die kudde floubokke is Seamus Butler, maar hy kan dit nie oor sy hart kry om sy floubokke vir ’n wins te verkoop nie en dink baie sterk daaraan om, soos sy pa, selfmoord te pleeg. Cawood, Seamus se seun, het nie ’n gedagte van selfmoord in sy kop nie. Maar dan, ná die olie ontdek is, wil Seamus ’n gedeelte van die plaas wat Cawood toekom, verkoop. En dis wanneer Cawood dreig om nie net selfmoord te pleeg nie, maar alles met hom saam te vat.

Cawood se ma, Sarah Butler, dra die begeerte na vry kleinkinders in haar rond, maar Cawood is liewer vir die seuns as vir die meisies. Teenoor hierdie klomp blankes wat enige oomblik kan ingee, staan die sterk vroue wat in die township woon. Die verteller van die storie is Siener Wehmeyer, ’n prokureur vir die armes, wat al dood is en dus ’n tweeledige rol in die roman speel: dié van ’n karakter en dié van ’n verteller wat alles weet.

In ’n resensie van die 2008-uitgawe skryf Izak de Vries op LitNet dat Die stoetmeester na 15 jaar nog steeds aktueel is en hy voel dat die boek wat sowel voorkoms as inhoud betref, die sprong na die 21ste eeu suksesvol gemaak het.

Joan Hambidge (Die Burger, 12 Oktober 1993) meen dat Van Heerden met Die stoetmeester ’n grootse roman geskryf het: “Modern in sy vertelaanbod, waar ’n ‘dooie’ skrywende verteller waarneem én vertel, buite menslike vermoëns om. […] Die basiese eienskap van die Groot Roman is hier aanwesig: Die vermoë om ’n storie te kan vertel. Met die vaardigheid van ’n Patrick White konstrueer Etienne van Heerden sóveel temas wat (onder meer) die politiek hier-en-nou betrek. Maar dit is meer as ’n geëngageerde roman, omdat die patrone ágter ’n gemeenskap se doen en late aan die kaak gestel word. […] Dit is ’n roman wat getuig van deeglike navorsing én van gedetailleerde beskrywings.”

Volgens Bertie du Plessis (Beeld, 8 November 1993) beweeg die verhaal tussen satire en dodelike erns, maar daar is ’n ligte aanslag wat nie dui op ligsinnigheid nie, maar op empatie. Du Plessis wil sien dat die boek wyd gekoop en gelees sal word. “Wat Stoetmeester so besonder maak, is Etienne van Heerden se vermoë om moeiteloos diepsinnig te skryf, sodat sy boek ’n skerpsinnige waarneming en interpretasie word, nie net van die tyd waarin ons leef nie, maar ook van ons verlede en ons toekoms.”

In 1997 is Etienne weer die wenner van die ATKV-Prosaprys met sy roman Kikoejoe wat in 1996 verskyn het. Hy beken teenoor Herman Wasserman (Die Burger, 13 November 1996) dat Kikoejoe ’n hotelroman sowel as ’n ’n familieroman is. “Dit gaan oor dinge wat roer in families, ’n soort generasieroman wat kyk na die invloed van ouers se lewens op kinders. Omdat daar teruggekyk word deur die oë van ’n kind, is dit ook ’n inisiasieroman oor ’n seun wat geïnisieer word in die erotiek. Ek dink dis my mees erotiese roman, eintlik ’n baie donker roman oor die boosheid in al sy vorme. Dis waarna die titel verwys, die kikoejoeranke van die boosheid wat deur ons almal se lewens rank. Dit gaan oor die boosheid van die verlede ook, en in daardie sin is dit historiografiese metafiksie, omdat ’n bewustelike verteller daardie ranke gaan lostorring.”

Vir Gunther Pakendorf (Die Burger, 12 Maart 1997) is die scenario van ’n klomp uiteenlopende karakters wat in 1960 gedurende ’n somervakansie op ’n vakansieplaas in die Karoo kuier, ’n blink gedagte. “So maak die leser dan kennis met die kastige Veteraan met die lekhart, die ‘mannetjiesagtige’ tant Geert uit die buiteland, ’n sielkundige wat met LSD eksperimenteer (en dit nogal op Pa), ’n wedergebore prediker, die cowboy-sanger Charles Jacobie, oom Boeta wat hoog op in die regering is. Boonop ly Pa aan depressies. Ma hunker terug na haar toneeldae en Fabian, hulle tienerjarige seun, die ek-verteller van die roman, is blind op een oog. Dan is daar natuurlik nog Reuben, die hoofkelner, met sy leeshonger en stil opstandigheid. En snags sluip die Dier, die aapmens wat die werkmense ‘Kikoejoe’ noem, op die werf rond. Elke karakter is eiesoortig en elkeen het sy eie verhaal. Die hitte van die Karoosomer, die pragtige Visriviervallei, die luilekker vakansieluim, die politieke onsekerheid – dit dra alles tot die atmosfeer by, en Van Heerden slaag weer meesterlik daarin om dié stemming op te roep.”

Maar Pakendorf het sekere voorbehoude oor Kikoejoe. Hy meen dat die besonderhede wat verskaf word, te divers is en dat daar nie iets is wat die roman aanmekaarbind nie.

Die suksesvolle spanning wat deur die skrywer in Kikoejoe gegenereer word, word, volgens Willem Burger (Beeld, 9 Desember 1996), bereik deur die feit dat daar ’n gedurige verwysing is na dinge wat óf klaar gebeur het óf nog moet gebeur. “Ten spyte van die dreigende onheil en die droewige eensaamheid van al die karakters is daar ook heelwat humor en spot. Ongelukkig voel dit soms asof die komiese insidente bloot ter wille van effek bygevoeg is, terwyl ander gedeeltes die leser met die gevoel laat dat dit ingesluit is om die roman meer lyf te gee. Tematies, sowel as wat die verbeeldingryke, magiese tonele betref, het Kikoejoe nie dieselfde trefkrag as Toorberg nie, maar die Dier is heelwat meer oortuigend as die floubokke in Die stoetmeester.”

Etienne is een van die veelsydigste skrywers in Afrikaans. Hy kan hom nie beperk tot net een genre nie. Die roman, die kortverhaal, poësie, asook die kabaret het al uit sy pen gevloei en in almal behaal hy sukses.

Onder ekstreme provokasie en Ekskuus vir die wals is twee van Etienne se ongepubliseerde kabarettekste uit die jare tagtig. In 1998 word Lied van die Boeings gepubliseer. Dit was ’n opdragwerk vir die KKNK van 1998. Dit was nie vir hom moeilik om die teks volgens opdrag te skryf nie, want dit gee hom dissipline en ’n struktuur waarbinne hy werk, vertel hy aan Stephanie Nieuwoudt (Die Burger, 27 Maart 1998). “Kabaret is ’n heerlike medium om kommentaar te lewer op aktuele sake. Dis ’n toevlug vir ’n swak digter. Dis my manier om rympies te maak.”

Stephanie Nieuwoudt wil by hom weet hoe hy seker maak dat die kabaret wat kommentaar lewer wat tydsgebonde is, relevant sal bly: “Die teks is ’n amalgaam van dinge wat altyd daar sal wees, en dinge wat sal verdwyn. ’n Mens kry ’n balans tussen dit wat gaan duur en die pamfletagtige protes. Met die lied oor Zuma het ek probeer om ’n metafoor in te bou oor die krankheid van die land, die hospitale, die mense. Zuma gaan verdwyn, maar die krankheid is iets wat gaan voortbestaan.”

In hierdie kabaret leer ken ons vir Burgerman Hans wat die verteenwoordiger is van die wit man, ’n spesie wat in daardie dae van regstellende aksie nie seker van sy toekoms kon wees nie. Vir Hans voel dit of alles en almal in die gemeenskap hom van sy manlikheid wil ontneem, want hy voel glad nie meer tuis in hierdie nuwe Suid-Afrika nie. Die kabaret se titel sluit hierby aan, en in die nota aan die regisseur bestempel Van Heerden die Boeing as “simbool van reis en ontvlugting”, asook “aanwesig as ’n moontlikheid, maar ook as aanklag”.

Marius Crous skryf (Die Burger, 8 Julie 1998) dat daar in Lied van die Boeings ’n skerp blik gegee word op die man se rol in die gemeenskap en Van Heerden gebruik direkte en sterk lirieke om karakters, soos die kindermolesteerder, te beskryf. “Hy neem die leser/toeskouer op ’n reis deur die wel en wee van die man; in dié geval vanaf sy verwekking op die krieketblad, die jare in die weermag, die liefde vir sport, sy huwelik, sy loopbaan en sy probleme alles gesien teen die agtergrond van die omvormde Suid-Afrika. Alhoewel die tema swaarwigtig is, word dit tog op vermaaklike wyse voorgedra en by die KKNK het die mense veral heerlik saamgeklap op ’nkosazana Zuma Zuma Zei'. […] Die ware katarsis van Van Heerden se kabaret is daarin geleë dat ’n mens ten spyte van die goedige gespot, onteenseglik gedwing word om te moet nadink oor die alledaagse problematiek van die land. […] Met hierdie teks lewer Van Heerden ’n welkome toevoeging tot die Afrikaanse kabarettradisie.”

In Januarie 1999 begin Etienne die literêre aanlyn joernaal LitNet, met homself as uitvoerende redakteur. Hy het ’n droom gehad om ’n virtuele tydskrif te begin waar skrywers geleentheid kon kry om hulle verhale, gedagtes, rubrieke, artikels of sommer net skryfsels te publiseer. Verder moes hierdie webwerf interaktief wees sodat mense kommentaar sou kon lewer op ander se skryfwerk en dat debatte gevoer sou word en dit ’n platform vir mense se opinies sou wees.

Etienne vertel aan Francois Smith dat hy ’n plek wou skep waarin die Suid-Afrikaanse letterkundes mekaar kon leer ken en waar niemand, ook nie die skrywers van die “wit establishment”, op die kantlyn hoef te staan nie. Daar moes plek wees vir almal.

Etienne het LitNet manalleen begin vanuit sy studeerkamer in sy huis op Stellenbosch en vandag is LitNet die bekendste en sterkste virtuele Afrikaanse meningsgemeenskap, met 153 000 unieke besoekers in Mei 2017. Vir Etienne is LitNet soos ’n groot winkelsentrum wat uit ’n hele aantal verdiepings bestaan vir flieks, boeke, musiek en ander alledaagshede. Daar is ook die konferensiekamer op die derde verdieping waar die geselskap meer intellektueel word, maar LitNet is ook daar vir die man op die straat.

Hy vertel aan Terésa Coetzee (Rapport, 24 September 2006) dat Afrikaanssprekendes nog altyd daarvan gehou het om te stry, om te redeneer. “Om ons stem dik te maak. Ek dink dis juis een van die redes waarom LitNet so goed werk.” LitNet brei later uit met LitNet Akademies, ’n geakkrediteerde aanlyn joernaal wat Afrikaanse navorsing in die geesteswetenskappe bevorder (en mettertyd ook in die opvoedkunde, wiskunde en natuurwetenskappe, regte en godsdienswetenskappe. Die jongste toevoeging is die vakrigting ekonomie).

Hiervoor, en vir sy skeppende skryfwerk en sy aanmoediging van kreatiwiteit in Afrikaans, ontvang Etienne tydens die KKNK van 2000 Insig se Afrikaans Onbeperk-toekenning.

In baie van sy boeke, soos ToorbergDie stoetmeesterKikoejoe en Die swye van Mario Salviati, staan die landskap sentraal. Die Karoo is die groot protagonis in sy werk en dit is as gevolg van waar hy grootgeword het.

Van Heerden se romans en kortverhale is in Hebreeus, Engels, Nederlands, Frans, Duits, Russies, Grieks, Deens, Noorweegs, Sweeds en Fins vertaal en hy het reeds al wat literêre prys is in Suid-Afrika verower. Die Nederlandse vertaling deur Riet de Jong-Goossens van Casspirs en campari’s is in 1995 aangewys as een van die beste 100 boeke daardie jaar in Nederland. Die kortverhaal "Die gas in rondawel Wilhelmina" het in ’n uitsonderlike vorm verskyn: ’n boekie van 64 bladsye met die Afrikaanse teks en die Nederlandse vertaling deur Robert Dorsman wat saam gepubliseer is. Die verhaal is op versoek van die anti-apartheidsorganisasie Kairos deur Etienne beskikbaar gestel en uitgegee ter viering van Kairos se 25ste bestaansjaar. Uit hierdie kortverhaal het die roman Kikoejoe gegroei.

In 2000 verskyn Die swye van Mario Salviati. Van Heerden vertel aan Hanlie Retief (Rapport, 27 Augustus 2000) dat hy halfpad was met ’n ander boek, “’n donker boek, ’n ontstellende boek, toe ek daar die idee kry vir ’n Italiaanse roman. Dit was 7 Augustus 1998. Die volgende dag het ek aan hom begin skryf. Dit was soos ’n stroom koel water. Ek het gedink net jou eerste boek is so ’n sorgelose ekstase, soos ’n eerste liefde, maar nou was dit weer só. Die ekstase is ’n produk van die geweldige strukturerende invloed van die onbewuste. En van besig wees.”

Mario Salviati was vir Etienne ’n “begenadigende ding”, omdat hy in sy veertigs was, en omdat dit “so ’n goeie ontvangs gekry het van ’n meestal wrede literêre wêreld. Ek het nog nooit ’n boek gehad waarop mense so warm en menslik gereageer het nie. ’n Skrywer waardeer dit meer as resensies, want jy ken resensente, jy weet wie kan nie wag om die mes weer dieper in te draai nie.”

Oor die skryf van die verhaal praat hy as volg met Hanlie Retief: “Die eerste skryf van die verhaal het maklik gekom, maar toe word dit geweldig moeilik, geweldig kompleks. Ek het al vertel van die gevlegte leërgordel wat ’n Italiaanse krygsgevangene vir my pa gegee het. Die boek volg die struktuur van die riempies, en dit was moeilik om dit uiteindelik geknoop te kry.”

Etienne het nogal baie in sy lewe op kleiner, meer geïsoleerde plekke soos Grahamstad gewoon. Daar is die mense meer ingestel op mekaar en afhanklik van mekaar en só kom eksentrisiteite in mense skerper na vore wat energiek en sjarmant is, vertel hy aan Roline Norval (Die Burger, 28 Augustus 2000). Daar is net so ’n samelewing in Mario Salviati, met eksentrieke en kleurvolle mense op Tallejare wat eenkant is en gesitueer is in ’n klipperige en dorre landskap wat “so effens op hittegolwe dryf. ’n Moordenaarskaroo met ’n volstruispaleis wat hom nie op ’n landkaart wil laat plaas nie. Dit sal die geheimsinnigheid daaruit neem.”

Hy vertel verder aan Norval dat kunstenaarskap en die verhouding met strukture die heel belangrikste tema in die boek is. Daar is ’n uiteenlopende klomp kunstenaars in Mario Salviati wat almal op die een manier kuns se verhouding tot mag uitbeeld. Toorberg is die een boek van Etienne waarmee Salviati die meeste ooreenkom en ook hier raak die skeidslyne tussen vandag en gister en tussen storie en werklikheid baie vaag en loop dit uit op ’n magiese werklikheid. “Dit is ’n fyn lyn wat jy loop. ’n Skrywer is maar een boek aan die skryf.”

Die swye van Mario Salviati se vertaalregte is in Brittanje, Amerika, Frankryk, Rusland, Nederland, Duitsland en Griekeland verkoop. Die resensies van die Engelse vertaling, The long silence of Mario Salviati, was deur die bank gunstig. “Dit is baie lekker om te weet mense léés jou boek,” vertel Etienne aan Waldimar Pelser (Die Burger, 20 Julie 2002). "Veral die Griekse vertaling gee my nogal ’n kick, net soos dit fantasties was om kortverhale van my in Hebreeus te sien. ’n Mens sit vas in jou klein literêre wêreld in jou eie land, en dan kry jy blootstelling in ’n reusemark soos Amerika. By die Edinburgh-kunstefees waar ek in Augustus uit Salviati voorlees, word ek as ’n ’new voice in fiction’ aangekondig. Dit is nogal versoberend.”

Helize van Vuuren (Die Burger, 27 September 2000) beskryf Mario Salviati as ’n “baldadige, karnavaleske roman wat bolstaan van uitspattige karakters, bonatuurlike gebeure waarin ’n skytende engel figureer en dooies tussen lewendes verkeer. As besonder verbeeldingryke vergestalting van die Suid-Afrikaanse volstruisbedryf, as baldadige, karnavaleske roman met memorabele karakters, én as toeligting op die aard van kunstenaarskap is [dit] ’n waardige toevoegsel tot Van Heerden se oeuvre.”

Die swye van Mario Salviati is in 2001 met die WA Hofmeyr-prys en die M-Net Boekprys bekroon. Etienne het die pryse as ’n geweldig groot eer beskou.

Vanaf 1997 tot 2001 skryf Etienne rubrieke onder die titel "Kommapunt” vir die dagblaaie Die Burger en Beeld. Hierdie “kitsessays" word in 2004 gebundel onder die titel Die stilte ná die boek. Oor hierdie versameling skryf Louise Viljoen (Die Burger, 31 Mei 2004) dat Etienne een van die mense is wat kán kommentaar lewer op baie fasette van die skryfproses en hy slaag in party van die essays daarin om moeilike literêre begrippe só oor te dra dat dit ook vir die man op straat verstaanbaar is. “Die seleksie en rangskikking van die essays is van so ’n aard dat daar ’n interessante samehang en progressie na vore kom. Die essays is ook getuie van Van Heerden se besondere stilistiese talent, veral sy verleidelike vermoë om bepaalde kwessies in beelde saam te vat. Sy taalbeheer en beeldvernuf is trouens so virtuoos dat dit by tye amper weghardloop met hom; tog teuel hy – soos wat die vorm van die essay dit vereis – die verleidelike opstapeling van beelde altyd betyds in. Uiteindelik tref hierdie keur egter ’n uitstekende balans tussen daardie eienskappe wat ’n mens graag in ’n essay wil sien: daar is naamlik genoeg aan inhoud, styl én gevoel om enige leser tevrede te stel.”

Na ’n stilte van bykans vyf jaar verskyn In stede van die liefde in 2005 en word dit in 2006 bekroon met die WA Hofmeyr-prys en die ATKV-Prosaprys. Oor die stilte van vyf jaar laat Etienne hom as volg uit teenoor Annelize Dorfling (Beeld, 16 November 2005): “’n Skrywer is nie stil en kry skielik stem as ’n boek verskyn nie. Duisende tonge raas in jou ore, altyd maar. Die verskyning van ’n boek beteken net dat jy een stel stemme laat gaan; afskryf van jou. En dis ’n angstige verlies.”

Vir Louise Viljoen (Rapport, 20 November 2005) is daar ook in In stede van die liefde ’n verskeidenheid van verhaallyne wat Etienne moet manipuleer en sy skryf dat hy “teen ’n wye doek skilder. In een van die verhaallyne is Christian Lemmer die middelpunt. Hy staan aan die hoof van ’n internetmaatskappy wat in Johannesburg gesetel is en wat ook in die besigheid van Afrika-kuns staan. Hy en sy vrou, Christine, en hulle seun, Siebert, bly op Stellenbosch. Hy lei egter ’n dubbele lewe: hy het ook ’n woonstel in Seepunt en waar hy dwelms gebruik. Wanneer Christian deur bendegeweld geraak word, tel die verhaal spoed op en moet hy noodgedwonge homself herontwerp.

“Naas die Lemmers se verhaal is daar dié van Matjiesfontein, ’n dorpse mikrokosmos van die Suid-Afrikaanse samelewing en geskiedenis. Sentraal in die lewe van talle inwoners van hierdie hoteldorpie in die Karoo staan die renduiwe waarmee hulle deelneem aan wedvlugte soos die Suiderkruis-derby. Op ’n deurreis van Johannesburg na Stellenbosch los Siebert sy viool in Matjiesfontein. Omdat die eienaar van die ‘wees viool’ nie gevind kan word nie, word dit gegee aan die musikale Saartjie Windvogel (wat terstond Snaartjie word). Sy begin vioollesse neem by Hildegard Heuer, ’n vrou van Duitse afkoms wat op ’n plaas naby Matjiesfontein bly. Saartjie se vermoë om die renduiwe van haar pa, Piet Windvogel, met haar vioolspel te inspireer tot wonderlike prestasies, lei uiteindelik daartoe dat hy hom in misdaad begewe en dat Saartjie spoorloos verdwyn. Die saak word ondersoek deur sersant Jollies van Touwsrivier en die verhaal ontvou uiteindelik op onverwagse maniere wat die storielyn teruglei na Christian en sy gesin.”

Viljoen meen dat Etienne in In stede van die liefde die prentjie van die Suid-Afrikaanse gemeenskap wat gebuk gaan onder die letsels van die verlede, geskilder het. “Omdat daar so ’n sterk aksent is op die komplekse werking van die geheue, laat die verteller hom nie verlei tot soet nostalgie en die verheerliking van die vergange verlede nie. Sy liriese beskrywings van die Karoo-landskap word byvoorbeeld getemper met verwysings na die grimmige geskiedenisse wat daaroor beweeg het; en die koesterende beskrywings van Stellenbosch word versny met ’n genadelose onthulling van die valshede en die pretensies van die dorp wat Christian by geleentheid Pleasantville noem. Van Heerden skryf ’n uitsonderlik soepel en beweeglike Afrikaans. […] Dit is ’n oorrompelende roman: dit is tegelykertyd kragtig en teer, energiek en gedemp, sinies en melancholies in sy uitbeelding van Christian se groot liefde vir sy vrou te midde van ’n rasende wêreld. Dit is ongetwyfeld ’n hoogtepunt onder die Afrikaanse werk wat vanjaar gepubliseer is.”

Willie Burger (Beeld, 28 November 2005) beskou In stede van die liefde as beide ’n liefdesverhaal wat jou hartsnare roer én ’n speurverhaal. Vir hom is die skrywer ’n uitstekende verteller en die meester van die “enkel-kwinkslag” wat die somberte in die verhaal gereeld afwissel met ’n fyn humorsin. Hy weet ook hoe om die twee verhaallyne op ’n briljante manier te hanteer en al die beste kenmerke van al sy werke word in hierdie een roman saamgesit. “Die geforseerdheid wat soms in sy vorige romans gehaper het, ontbreek grootliks in die roman.”

Etienne Britz (Die Burger, 24 Oktober 2005) noem dit ’n meesleurende kragtoer wat magistraal oprys uit die skrywer se Afrikaans.

Annelize Dorfling (Beeld, 16 November 2005) wou by Etienne weet watter deel van sy grootwordjare vir hom vormend was – dié in die Karoo of dié in Stellenbosch. Sy antwoord: “Daar is natuurlik knooppunte met my lewe in my boeke. Maar wanneer karakters jou storie binnestap en net so werklik word as die regte mense waarmee jy elke dag te make het, en wanneer daardie karakters hul eie loop begin kry binne die storie, hardloop jou verhaal ver verby die persoonlike en spekskiet jy hom tot hy eie bestaansreg en eie waarheid het. Die Karoo en die Boland was vormend – maar op verskillende maniere. In die Karoo het ek van stilte en weemoed geleer. In Stellenbosch het ek as standerd agt-seun met ’n teaterkaartjie van die filosoof Johan Degenaar die eerste keer in ’n teater gesit. Onthou, dit was lank voor televisie. In ’n sin is Snaartjie Windvogel (in In stede van die liefde) ook hieruit gebore: die karigheid wat wemel van plaaslike mites – en dan skielik: die viool.”

Asbesmiddag word in 2007 deur Tafelberg gepubliseer. En weer word ’n roman van Van Heerden bekroon – hierdie keer met die M-Net-toekennning vir die beste oorspronklike roman in Afrikaans in 2008.

Etienne Britz (Die Burger, 26 November 2007) skryf as volg oor die roman: “In hierdie roman is ‘die skrywer’ die protagonis en ly hy aan ’n Oedipuskompleks. In die roman betree hy die huis van die antagonis, wie se karakter op die beroemde sakemagnaat Anton Rupert gebaseer is. Die skrywer word uitgebeeld as ’n kritiese waarnemer en ’n fantas wat in ’n stryd met homself en sy omgewing gewikkel is. Vanuit ’n Freudiaanse perspektief is hy ’n seun-figuur met ’n moederverlange en ’n kompleks oor sy mislukte vader, wat as kind in die Karoo die bloedbroer was van die latere magnaat. Die ou heer met hoop vir Afrika, ook bekend as 'die Doktor', verpersoonlik die toppunt van patriargale mag, rykdom, idealisme en persoonlike verfyning uit die geledere van die ou Boere-adel. Met sy kankerwekkende asbesmyne het die magnaat egter sy empire gebou ‘op die beskadigde longe van vele dooie en sterwende mans’. Dit gee die skrywer die kans om die mislukkings van sy biologiese vader te wreek met ’n roman oor hierdie simboliese supervader van Stellenbosch, ‘’n man wat saam met konings kuier’, maar nou die einde van sy kragte bereik het.”

Ook in Asbesmiddag verskaf Van Heerden vreugde aan sy leser, veral in daardie beskrywende dele waarin sy sekure waarneming en fyn humorsin na vore kom. “Die skrywer se biologiese vader het selfmoord gepleeg deur in ’n warmlug-ballon van die plaas op te styg en te sweef oor die Karoo-landskap, op weg na die sewe seë. Die skrywer-as-waarnemer gaan op ’n soortgelyke vlug oor die kontemporêre Kaapse landskap, met iets van dieselfde vernietigingsdrang in soverre hy ‘die Doktor’ aanpak. Die ballon-beeld gee iets weer van die skrywer se vryheid van fantasie. Van Heerden put self ryklik uit sy groot verbeeldingskrag. Hy het ’n aanvoeling vir die karnavalagtige en tragi-komiese aspekte van die lewe wat Asbesmiddag baie genietlik maak.”

Selfs voor die roman gepubliseer is, het dit al opslae in die pers gemaak omdat die uitgewers regsadvies ingewin het aangesien die karakter van die Doktor ooreenkomste met ’n befaamde Afrikaanse sakeman sou toon. Etienne het self versoek dat die regsmening ingewin word “oor die moontlikhede dat ’n leser (van die roman) sekere van die karakters sou kan verwar met bekende Kaapse figure en dat hulle en hul familie se regte moontlik op dié wyse geskend kon word” (Volksblad, 28 Augustus 2007).

Dat Etienne van Heerden goed kan skryf, is nie altemit nie, is Gunther Pakendorf (Rapport, 30 November 2007) se mening. “Verfrissend suiwer Afrikaans, dikwels met ’n poëtiese aanslag sonder pretensies van mooiskrywery. ’n Oog vir detail, ’n gevoel vir die geladenheid van ’n toneel, waar ’n ander, dieper betekenis agter die woorde sigbaar raak. Soos in Van Heerden se vorige romans is Asbesmiddag vol klein juwele veral waar dit gaan oor die beskrywing van die landskap, en in die eerste instansie die Karoo. Hy is ’n meester van die vinjet, die kamee, die flitslig in die donker.”

Pakendorf meen egter die skrywer van Asbesmiddag kan, net soos sy hoofkarakter, nie mooi tot verhaal kom nie. “Daar is briljante vinjette en kort sketse, daar is ’n magdom gedagtes rondom die wese van die skryfkuns, deurspek met geleerde verwysings en aanhalings van skrywers en denkers, maar êrens voel die leser (of hierdie leser dan) dat die verhaal self tussen al die bespiegelings verlore geraak het. […] Asbesmiddag kan ook as politieke kommentaar oor die Afrikaanse letterkunde en die onsekere plek van die skrywer in die nuwe politieke landskap gelees word en daar is beslis flitse van humor en ironie. […] Maar die monomaniese selfbeheptheid van die hoofkarakter word myns insiens nie deur ’n breër visie deurbreek wat so ’n benadering oortuigend sou maak nie.”

Met 30 nagte in Amsterdam, wat in 2008 verskyn, palm Van Heerden al die belangrikste literêre pryse in Afrikaans vir 2009 in – die WA Hofmeyr-prys, die M-Net-toekenning vir die beste oorspronklike werk in Afrikaans en die UJ-prys vir die beste skeppende werk in Afrikaans. Dit word ook in 2010 bekroon met die Hertzogprys vir Prosa.

Vir Desmond Painter (Die Burger, 17 November 2008) is 30 nagte een van Etienne van Heerden se romans wat hom nog die meeste tevrede gestel het. “Dit is literêr gesproke ’n bedrewe werk en boonop ’n verleidelike, voortstuwende storie. Vir lesers wat minder genoeë geneem het met die metafiksionele spel van Asbesmiddag, is die goeie nuus dat Van Heerden hier weer as storieverteller uitmunt. En wat ’n storie vertel hy nie!”

Een van die hoofkarakters in 30 nagte is Henk de Melker, wat as ’n assistent by ’n museum in ’n klein Oos-Kaapse dorpie werk. Een van sy take daar is om dun monografieë oor minder bekende figure in die Suid-Afrikaanse geskiedenis te skryf. Henk ontdek dat sy eksentrieke Tante Zan, van wie niemand in baie jare gehoor het nie, haar laaste jare in Amsterdam deurgebring het. Ook hoor hy dat hy haar enigste erfgenaam is. Hy besluit om na Amsterdam te gaan. Tante Zan se boedel bepaal egter dat Henk hom permanent in haar woonstel in Amsterdam moet gaan vestig. Henk sien dit toe as ’n geleentheid om terselfdertyd navorsing te gaan doen oor Cornelius van Gogh, broer van Vincent en Theo. Cornelius het in Suid-Afrika gewoon en is ook hier oorlede.

Vir Painter (Die Burger, 17 November 2008) is die hoogtepunt van 30 nagte Tante Zan se “uitbundige, honende, dikwels vuige, relase” wat vanuit die gesigspunt van die eerste persoon geskryf is. Hy beskou dit ook as een van die hoogtepunte in al Van Heerden se werke. “Van Heerden se uitbeelding van die Karoowêreld is, soos altyd, deurleef. Hierteenoor doen sy uitbeelding van die stadslewe van Amsterdam, veral wat dinge betref soos busking, soms ietwat gestudeer aan. Dit is egter mindere kritiek, want ’n mens is die skrywer dankbaar vir die oopskryf van nuwe ervaringswêrelde en identiteite in Afrikaans. […] 30 nagte in Amsterdam is ’n gekonsentreerde, energieke roman deur ’n belangrike Suid-Afrikaanse skrywer. Dit sal literêre besinning oor Van Heerden se werk voed, maar ook die leser op soek na ’n goeie storie tevrede stel.”

Etienne vertel aan Willemien Brümmer (Beeld, 7 Desember 2008): “In Zoeloeland het ons altyd gesê dis so geil jy kan ’n besemstok plant, en as jy omdraai het hy blare. Dis omtrent wat met 30 nagte in Amsterdam gebeur het. Ek het daai tuinhark van Asbesmiddag neergesit waarmee ek die akker van die akademie gehark het, en toe ek omdraai, was hy ’n rubberboom. […] Ná my anti-roman, Asbesmiddag, wou ek wys hoe kan ’n romanskrywer laat wáái. Ek wou so ’n bietjie vlerke aan die voete kry en vir die tegnieke van romanskryf stoom insit.” En binne ses maande was 30 nagte in Amsterdam klaar geskryf.

Oor Tante Zan, wat André le Roux beskryf as een van die heerlikste karakters wat die Afrikaanse letterkunde ingewaai het, sê Etienne aan Brümmer: “Ek sê dikwels karakters stap by my in. Dan is dit gewoonlik ’n meer visuele indruk, ’n lyf wat inkom, en die beskrywing van die karakter groei daaruit. Maar Tante Zan het as taal, as sintaksis, ingekom by my. Daai verwronge, omgekeerde woordorde, en in haar woorde die hele sediment van idiome en ou mites en mallighede. Sy’s knettergek, nè. Sy’t so ingeknetter gekom by my ore en haar stem het my absoluut verslaaf.”

Hy vervolg aan Brümmer: “Dié geknetter het letterlik begin toe ek in Junie 2007 in my vriend Coen Stork se mooi huiskamer digby die Magere Brug in Amsterdam gestaan het en ’n soort sinestetiese ervaring gehad het. Ek het gedink, hel, ek wou nog altyd gewerk het met die spanning tussen Europa en Afrika, en skielik was daar hierdie twee figure: Henk en Tante Zan. Dit was interessant, want ek was besig met die bladsyproewe van Asbesmiddag, met al sy opsetlike tegnieke van onderbreking, en ook die hoofkarakter wat in baie opsigte frustrerend was omdat hy so ingehoue en neuroties was. Dit was ’n bietjie soos ’n akkedis wat sy vel los en hy gaan aan. Miskien het ek sommer my stert afgeskud, ek weet nie, maar toe kom hierdie ding, en ek dink dit was my eie kunstenaarskap wat amper op ’n hardnekkige wyse geprotesteer het teen Asbesmiddag.”

Etienne het begin aantekeninge maak en toe hy en Kaia na twee maande terug is na Nederland, het hy met ’n spoed begin skryf. Ook in die woonstel op die Spui waar Henk gewerk het aan Cornelius van Gogh. Ook Etienne was eintlik in die skrywerswoonstel om navorsing oor hierdie Van Gogh te doen, skryf Brümmer. “Ek wíl nog ’n boek oor hom skryf. Die boek se titel sal wees Die onmerkwaardige broer.”

Etienne se eie ryker persoonlike mitologie word met elke boek wat hy skryf, uitgebou. En wanneer hy skryf, is dit nie net aan daardie spesifieke boek wat hy werk nie, maar aan al sy boeke. Aan Brümmer: “Elkeen van my boeke herskryf ook al die vorige boeke. En dit relativeer ook die vraag na wat waar is. Die tante, byvoorbeeld, het nou al soveel gedaantes gehad in verskillende boeke. En die ou Engelsman in 30 nagte is byvoorbeeld die veteraan in Kikoejoe. Dit is egter vir my belangrik as ek bou aan ’n oeuvre om nie versigtige bousteentjies daar te sit wat op die ou end alles sin maak nie, maar om opposisies en spanning en teenstrydighede en paradokse te skep. Veral om heeltyd in te skryf téén.”

Met sy aanvaardingstoespraak by die ontvangs van die UJ-prys laat Etienne hom as volg uit oor Afrikaans as wetenskaptaal: “Maar dis nie genoeg vir ’n taal om net straattaal te wees nie. Taal is ’n viool, soos die ou vuisvoos karakter in my roman Asbesmiddag op ’n keer dink, en ’n viool kan nie net gebruik word om te fiddle nie. Die viool moet ook sy plek kan volstaan in die komplekse ruimte van ’n simfonie-orkes. Ek is geen taalbul nie en had ’n Engelse moeder. Afrikaans is dus nie my moederstaal nie, maar is wel my moedertaal – maar ek is bekommerd oor die hoëre funksies van Afrikaans. […] Maar hierdie jongmense, en ons sien dit aan ons universiteite, se vermoë om akademies na te dink in Afrikaans, is besig om jaarliks te versleg. Hoofsaaklik omdat die teoretiese leeswerk in die vakgebiede waarin hulle hulle bekwaam, slegs in Engels is. Ek het geen stryd teen akademiese leesstof in Engels nie. […] Maar: Ons as die oorgangsgenerasie wat Afrikaans uit die ou na ’n ander Suid-Afrika moet neem, moet hier in die interregnum bewustelik werk daaraan om Afrikaans te behou en te vestig as taal van kennis – as taal waarin die paradokse van die postmodernisme, die tegnologie van die maatskappyereg, die towertaal van die wiskunde en die formules van die ingenieurswese uitgedruk word." (LitNet, 14 Oktober 2009)

30 nagte in Amsterdam is in 2011 deur Michiel Heyns in Engels vertaal en deur Penguin uitgegee. Dit is ook in Nederlands en Letties vertaal.

Etienne was ’n bietjie senuagtig oor die uitreiking van die Engelse vertaling, het hy aan Willem de Vries (Beeld, 16 Februarie 2011) genoem. “Ek is nie senuagtig oor die vertaling of die vertaler nie. Michiel Heyns is ’n uitstekende vertaler. En die digter Isobel Dixon is ons albei se agent (in Brittanje). Sy het grootgeword in Graaff-Reinet in Somersetstraat, dieselfde straat as die huis, en haar ma bly nog so ’n blok weg van die huis waar ek as kind gewoon het en wat my ouma se huis was, en wat ek fabulerend gebruik – let op my formulering – as ruimte in die roman. Isobel het ook ’n groot bydrae gelewer tot die versorging van die vertaling.

“Michiel het werklik uitstekende werk gedoen. Maar waaroor ek senuagtig is, is daardie hele kompos van Afrikaanse lewensdinge, jy weet: daardie kompos wat die teks is, Afrikaanse le­wens­er­va­rin­ge, ervaringswêreld … Of die Afrikaansheid beweeg na Engelsheid. En dit is iets wat veral te make het met wat elke leser as geheue ronddra, met memory and forgetting; so ’n mens is maar altyd senuagtig as jou boek in ’n ander taal uitgegee word. Die ontvangs van die­self­de boek in verskillende lande … dis geweldig verskillend.”

Dit gee iets te kenne van die begrip van Suid-Afrika in ander lande. “Hul begrip van die land, hul verwagtingshorison, wat hulle wil lees; dit gaan oor ideologiese bagasie, állerlei dinge. Dit gaan miskien oor ’n wêreld wat net te vreemd is. En net te eie is aan iets anders. Miskien nie eksoties genoeg is nie. Die eksotika is ’n groot draer van andersheid, maar die Karoo is nou nie so eksoties as wat Indië is nie.”

Etienne het Heyns se vertaling as uitstekend beskou, “veral dié dele wat ek noem Zan-speak (die taalgebruik van een van die karakters). Daardie soort verwronge sintaksis – turbotaal – dis ’n soort geheue in die taal. En dit dra aan daardie kompos … Dis ’n kulturele alfabet. En vir Michiel om dít te geneem het en met one big heave oor te dra na die Engelse wêreld toe; dit is natuurlik nie maklik nie.

“Michiel het in ’n Afrikaanse huis grootgeword. Dit was vir my belangrik om ’n vertaler te hê wat baie goed vertroud is met die Afrikaanse wêreld. Want eers dán kan jy korrek en behoorlik worstel met hoe die boek na ’n Engelse wêreld moet uitgaan.”

Op ’n vraag of hy die vertaling van sy werk as ’n nuutmaking, ’n herverbeelding van die taal beskou, antwoord Etienne: “In die geval van Michiel: herverbeelding, absoluut. Een van die punte wat hy geopper het, was in die roman self. Daar het jy die karakter Henk, en Henk se moeder in die boek was ook Engels. So Henk het ’n Engelse verwysingsveld. Gedeeltelik. Dit regverdig dan die idee dat jy in jou soektog na ekwivalensie – want dis tog wat vertaling is – ’n Engelse verwysingswêreld ook aktiveer. Maar jy moet herverbeel om daardie ideaal te kan bereik in die teikentaal. Om dit te doen moes hy groot spronge gee.”

In 2001 het Etienne ’n viervoudige hartvatomleidingsoperasie ondergaan. Daarna het sy mees kreatiewe periode gevolg en binne agt jaar het hy vier romans geskryf. So ’n operasie het vir seker ’n invloed op ’n mens in die opsig dat jy die lewe anders benader, sê hy. Aan Danila Liebenberg (Volksblad, 6 Mei 2008) verduidelik hy: “Geen lewe word ongeskonde gelei nie. Niemand word sonder letsel begrawe nie. Die blindheid in een oog en die hartvatomleidings is kleiner terugslae in vergelyking met ander dinge waardeur ek moes beur. Maar ek glo ’n mens buk in teen die wind. The dogs may bark but the caravan moves on. En as ek om my kyk na mense van my ouderdom, dan het relatief min ongeskonde deurgekom. Is die lewe nie maar bedoel om ’n soort loutering te wees nie? Solank jy kan vashou aan die avontuur van groei. Solank jy bybly. Solank jy elke oggend opstaan en die son en die vlaktes of berge of gewoel van die stad merkwaardig vind. Elke dag het ’n laggende rooi tong, nes ’n geel Labrador. God slaap nie.”

In 2012 ken die Universiteit van die Vrystaat (UV) ’n eredoktorsgraad in die letterkunde aan Etienne toe. Ná die ontvangs van die graad sê hy dat hy dié eerbewys namens alle skeppende mense te midde van die oorgangsfase in Suid-Afrika aanvaar. Dit was ook vir Etienne ’n groot eer om die graad van Jonathan Jansen, rektor aan die UV, te ontvang, aangesien Jansen aktief vir transformasie en die vryheid van skeppende mense stoei, vertel hy aan Jana van der Merwe (Volksblad, 16 Junie 2012).

In September 2013 lewer Etienne ’n lesing getiteld “The politics of memory, a personal narrative’ by die UV. Hierdie lesing was deel van die projek “Contemporary German and Afrikaner Cultural Responses to Issues of Trauma, Reconciliation and Reparation” wat deur die Britse Akademie geborg word.

In 2013 word Etienne se Haai Karoo, ’n bundel kortverhale saamgestel uit verhale in My Kubaan (1983) en Liegfabriek (1988) en die novelle Die gas in die rondawel Wilhelmina (1995), uitgegee en by die Olive Schreiner-skrywersfees op Cradock in 2012 bekendgestel.

Met Haai Karoo wen Etienne die Nadine Gordimer-kortverhaalprys, wat deel is van die Suid-Afrikaanse letterkundetoekennings (Sala) wat in November 2013 toegeken sou word.

In die kortverhale in Haai Karoo staan die Karoo weer sentraal, soos ook in sy vroeëre verhale. Die landscape of the mind is vir my daardie boeiende, leë plek wat ek steeds bly bevolk met romankarakters,” vertel hy aan Jason Lloyd in Rapport (31 Augustus 2012).

Oor die publikasie van Haai Karoo vertel Etienne: “In hierdie dae lees mens baie gesellige en toeristiese stukke oor die Karoo en ek dag toe dat mens miskien ’n boek op die mark moet bring wat ook die harde realiteite van die lewe daar bekyk; wat die mes dus ’n bietjie draai. Die verhale was versprei in bundels en toe meen ons – ek en Tafelberg – dit is ’n goeie idee om hulle saam te gooi. Ek is nie ’n streekskrywer nie en het in my prosa al New York, Berlyn, Lahti, Amsterdam en so meer verken, maar die Karoo bly maar die hartland.

“Die Karoo is ook nou in die nuus oor hidrobreking en die SKA-teleskoop. Ons kom nou met ’n Karoofokus met LitNet Akademies en nooi geestes-, natuur- en regswetenskaplikes om artikels voor te lê wat ’n aspek van die Karoo problematiseer – van waterreg tot die geskiedenis van die karretjiemense tot die SKA-teleskoop. “Ek is ook betrokke by die jaarlikse Schreiner Karoo-skrywersfees in Cradock; ’n manier om terug te gee aan die landskap wat my skryfwerk so gevoed het” (aan Jason Lloyd).

Klimtol (2013) is voorafgegaan deur die kort novelle Gifkaroo. Daarin word vrae gestel oor die probleem van breking in die Karoo. Daar word ook vrae gestel oor die karakter van die protes en hoe die mens wat protesteer, daar uitsien. Die verhaal bied dus baie meer as net die verontwaardiging wat met breking gepaardgaan, sê Etienne.

Hy het die Afrikaanse teks gratis beskikbaar gestel en Isobel Dixon, Etienne se Londense literêre agent en ook ’n digter, het dit gratis in Engels vertaal. Sy het in Graaff-Reinet grootgeword. Die boekie is in een band as Gifkaroo en op die keersy Poison Karoo uitgegee. Die bekende fotograaf Obie Oberholzer het ’n gratis foto verskaf. Die boekie word uitgegee as die eerste publikasie van Houtstraat Uitgewers. Slegs 100 genommerde eksemplare is gedruk en dit is aan 100 kernmense, onder meer die base van oliereuse, gepos.

Oor die kortverhaal sê Etienne aan Jason Lloyd: “Daar is natuurlik die aanklag dat romanskrywers net ’n eerste hoofstuk skryf en dan begin tik. Dan sê ek weer vir die kortverhaalskrywer in my: Jy het nou eintlik daar net die eerste hoofstuk geskep. Dis hoekom my kortverhale dikwels ontaard in romans, net omdat daar nog ’n ‘en toe’ flikker, daar by die slot van die verhaal.”

Lloyd wou weet wat gelei het tot die kortverhaal “Die biskop en die bul” en hoe betekenisvol die verhaal is as mens die verlede teenoor die hede en toekoms stel. Etienne antwoord: “Toe ek ’n seuntjie was, het ons eendag ons jersey-stoetbul, ou Ferdinand die Roker, agterop ons vragmotor vervoer. Net verby die Cradock-stasie het hy sy rieme losgeruk, die agterste reling van die trok weggeskop en hy is die swart woonbuurt – toe die ‘lokasie’ genoem – in. Hy was kwaai. Deure het toegeklap vir ’n vale.

“Jare later was daar die groot Cradock Vier-begrafnis op Cradock, in die benouende tye. Die aktiviste is ter ruste gelê deur derduisende mense met ’n groot veiligheidsmag-teenwoordigheid. Dit was ’n uiters plofbare dag. Ek het toe maar Ferdinand uit die 1960’s gaan haal en hom daar by die begrafnis in die 1980’s laat instorm, en hy word gekonfronteer deur ’n priester in ’n pers gewaad. Dra die priester die regte uniform? Kan hy die bul stuit?”

In sy resensie op LitNet skryf Chris van der Merwe: “Die titel van die bloemlesing is Haai Karoo; die haai hier is natuurlik nie die teenoorgestelde van Engels low nie, maar het die betekenis van ‘dor’, ‘kaal’ en ‘verlate’. Die Karoo-motief is deurlopend in al die verhale. Die haai van die titel is nogal ironies, met die huidige vooruitsig van breking in die Karoo. In dié lig gesien, is die bundel ’n huldeblyk aan die Karoo met sy uitgestrekte verlatenheid, wat op soveel mense, ook skrywers, ’n diepgaande invloed uitgeoefen het. Die Karoo-motief sluit aan by die tema van verbondenheid aan die Afrikaanse plaas en die Afrikaanse platteland.”

Die beste verhaal in die bundel is vir Van der Merwe “Die biskop en die bul”, waarna reeds hier bo verwys is en wat geplaas is teen die agtergrond van rasse-onrus en die begrafnis van ’n aantal mense wat as gevolg van apartheid gesterf het. Ander karakters is die boer Tokkie, wat met ’n baie duur stoetbul op pad is huis toe, en die reeds genoemde swart biskop wat poog om die onrus te ontlont. Op die ou end beland die boer, die bul en die biskop midde-in die rebelse skare. Van der Merwe beskou Haai Karoo as ’n bundel met baie mooi verhale waarin die Karoo, wat miskien in die afsienbare toekoms nie meer die Karoo van ouds gaan wees, paslik gehuldig word.

In 2013 verskyn Klimtol. Annemarié van Niekerk (Rapport, 4 Oktober 2013) noem dit ’n “ryk, pragtige, maar ook onthutsende roman oor spel en oorlewing, oor skuld en boete (individueel en gemeenskaplik), oor medepligtigheid en medemenslikheid, oor ons mooi en hartseer land, oor liefde en ultimate survival”.

Die boek handel oor die klimtolkampioen Ludo Loeloeraai wat in die 1960’s in die Karoo beroemd word met klimtolkonserte. Speel is Etienne van Heerden se ding, skryf Van Niekerk, maar spel is hier nie net spel nie – dit oorstyg die ligsinnigheid of trivialiteit. Sy wou weet wat Etienne se fassinasie met spel is. “Kyk, die Springbokke werk nie [as hulle rugby speel] nie. Hulle speel. Tog is dit doodernstige sake. Jare se toewyding en oefening. Ons praat van die struktuur van die spel. Geld en mag. Kompromie. Vir Ludo Loeloeraai is die klimtol werk. Wanneer hy gooi, gaan hy ’n ruimte binne waarin hy homself verloor. Die roman ondersoek daardie plek.” 

Etienne se hartland was ook in sy vorige werk ’n karakter, en in Klimtol is dit weer die geval, maar hier tree die Weskus op die voorgrond. Etienne verduidelik aan Van Niekerk: “Die Weskus is vir my Karoo-by-die-see. Die Weskus is ’n provinsie van die Republiek van die Karoo, dink ek, met sy stof en sout, die leegtes van vlaktes en die leegtes van water. Wat maak ’n skrywer hiervan? Waarvoor moet jy katvoet wees? Waar die Karoo gemistifiseer of selfs verromantiseer kan word, bied die Weskus ander gevare vir die skrywer. Ek wou wat die Weskus-landskap betref, wegskryf van die Weskus as woonplek van grapjasse. Sogenaamde ‘weskushumor’ word in die roman geproblematiseer. Ek wou ook van Weskus-taal en ‘die visserslewe’ met sy romantiek van omgedopte skuite op die strand wegskryf – [...] ek wou die folkloristiese vermy en skryf oor ernstige mense wat ernstige dinge beleef.”

Diegene wat In stede van die liefde gelees het, sal ook weer vir Snaartjie Windvogel herken. Maar in Klimtol gooi die lewe haar op ander paaie. Snaartjie se aanhangers, en daar is baie van hulle, sal ook verheug wees dat sy weer op die toneel is. Maar, wou Van Niekerk weet, gaan dit meer om haar as die simbool van oorlewing?

“Baie lesers het my ná In stede van die liefde gevra: Wat het geword van Snaartjie? Wel, eerstens moet ek vir lesers sê: Klimtol staan op sy eie bene, en dis nie nodig om eers In stede van die liefde te lees voor jy Klimtol lees nie. Maar dit was vir my vrek interessant om ná die skryf van Klimtol weer met In stede van die liefde te werk toe ek onlangs die Engelse vertaling daarvan in die vorm van In Love’s Place deurgewerk het. Dit was regtig interessant om In Love’s Place te herlees deur die lens van Klimtol. Dan word In stede van die liefde nogals ’n ander roman! Wat net vir my bevestig dat ’n skrywer telkens met die skryf van ’n nuwe teks sy ander, vorige tekste herskryf. Ek het in baie van my vorige boeke al ’n ‘derde ruimte’ ondersoek – met ZanSpeak (Susan de Melker se taal) in 30 Nagte in Amsterdam, asook Tante Zan se siekte, ‘die agtste kleur’, haar vermommings en leefwyse. Dalk is Klimtol my mees indringende ondersoek na ThirdSpace. In my kop is dit ’n breë en dalk ’n ietwat slordige begrip en ek weet nie of ander mense daarby aanklank sal vind nie, maar vir my skep die magiese realisme as vertelmodus byvoorbeeld ’n derde ruimte – tussen die magie en realiteit. Dis wat Toorberg, Die swye van Mario Salviati en Die stoetmeester ondersoek. Die floubokspesie Caper intimidus in Die stoetmeester se habitat is byvoorbeeld die derde ruimte. Nou, met Klimtol, met die verkenning van ‘werkspeel’ as ruimte vir die ‘gooi’ of ‘die triek’ van die klimtolspeler, is die ThirdSpace die plek waarin Ludo Loeloeraai hom ingooi wanneer hy triek. En, natuurlik (sonder om die storie ‘weg te gee’) – dis die ruimte wat Snaartjie Windvogel teen wil en dank bewoon.”

In Klimtol is daar ook elemente van die misdaadroman aanwesig. Die speurverhaal met sy klassieke bou om die misterie te ontrafel het later geëvolueer tot die meer ingewikkelde misdaadverhaal waarin ’n fassinasie met die psige van die speurder of misdadiger na vore kom. Van Heerden brei uit: “Ek wou, nes met Toorberg, Kikoejoe en In stede van die liefde, werk met ’n misdaad en skuld. En met karakters wat stoei met hierdie dinge.”

Etienne het in 1964 sy eerste klimtol gekry. “Die Coca-Cola-rooibaadjiemanne het die dorp ingery en in die Vic ingeboek. Toe stap hulle na die kroeg waar Bobby Greenblatt van die Papegaaiplaas gereeld met sy perd ingery het en sê: ‘Ons karre se boots is vol yo-yo’s. Elke skoolkind gaan ene kry.’ Ek aanvaar nou dit was elke wit seuntjie. Ek dink die skooldogters en al die swart kinders is verbygegaan. Die volgende oggend was hulle op die verhoog in die skoolsaal en daardie pouse staan ons op die klipperige speelgrond van ‘Boizaai’, Cradock, en probeer met die spinballetjies triek” (Netwerk24, 17 Oktober 2013).

Vir Bibi Slippers (Rapport, 11 Oktober 2013) is Van Heerden in Klimtol erg aan die speel – met taal, met die geskiedenis en die verlede, met die verlede, en met vooroordele oor die Weskus. Hy tree ook in spel met sy vorige werke. En dan is daar natuurlik die belangrikste spel, dié een met die klimtol.

Aan Slippers vertel Etienne: “Ek onthou as kind dat speel ’n baie kreatiewe ding was. Op die plaas het ek vrye teuels gehad met spel. Ek kon geweldig interessante goed doen. Die ruimte en die onbeperktheid van grootword op ’n plaas was belangrik vir die vorming van ’n mens se geneigdheid om dinge kreatief te ondersoek. Ek het baie alleen gedwaal en myself besig gehou. Die klimtol is vir my aantrekliker as albasters, want met albasters het jy iemand anders nodig. Ek was ’n alleen-speler. Ek verkies dit nog steeds om alleen te wees, dis maar my geaardheid.”

Dit is egter nie net klimtolle wat in Klimtol is nie; daar is ook vlieënde pierings wat grond raak. Hieroor vertel Etienne: “Toe ek ’n kind was, was vlieënde pierings groot. Want hulle hét gearriveer, dit is ’n feit. Hulle hét kom sit op die vlakte en die mannetjies met die groot, ronde koppe het uitgeklim, en die CIA het dit verswyg. En groot kolle in die veld het doodgegaan weens die pierings wat kom sit het. Vlieënde pierings was ’n groot deel van jou uitkyk in die nag na die hemele in die Karoo. 

“Ek het ’n boek hier op die rak, ek dink dis hier tussen al die ander ego-tekste – jy weet, outobiografiese werke – ’n feitelike verslag van ’n man se ervarings wat deur ’n vlieënde piering opgeneem is in die Nevada-woestyn.” 

Op Slippers se vraag of hy nog speel, is sy antwoord: “Wat my interesseer is die tussengebied, tussen werk en speel. Dis ’n spel, maar dis baie ernstig. Dit verg harde werk, dit verg oefening, dit verg verskriklike toewyding en konsentrasie. Dit verg ook die gewilligheid om iets anders te doen, buite die konvensionele. Dis die ontdekking van daai ding wat speel is, maar dis harde werk. Dit het struktuur. Ek dink skryf is die vernaamste vorm van klimtolgooi vir my in hierdie stadium. Elke boek is asof jy opnuut ’n triek uitdink. Dit help nie jy steek vas by die ou trieks nie. Jy moet in elke boek opnuut die vermoë van die klimtol ontdek. En dan natuurlik die groot risiko wat gepaardgaan met spel. Baie van die dinge wat ek doen, is vir my in die buurt van ernstig speel, in die sin van eksperimenteel wees.”

In sy resensie skryf Willie Burger (Beeld, 14 Oktober 2013) dat Ludo sê dat om die toeskouers aan sy kant te kry, om hulle saam met hom te voer, moet hy hulle argwaan oorwin. En Van Heerden doen presies dieselfde deur die ongelooflike en verruklike karakters wat hy vir ons in Klimtol skets, asook deur die gebeure wat vinnig op mekaar deur die verhaal vloei, met ook nog die elemente van ’n speurverhaal tussenin. “Klimtol trek die leser speel-speel in ’n ander wêreld in wat jou dwing tot nadenke oor ons bestaan, oor die belang van spel, oor skuld, oor plig, oor eerlikheid, oor oorlewing in hierdie land.”

Vir Annemarié van Niekerk (Volksblad, 13 Oktober 2013) is Klimtol ’n “pragtige, oortuigende en onthutsende roman met elemente van die speurverhaal, ’n verhaal oor die hardepad wat die lewe soms met mens loop, maar ook oor spel en ekstase, en die plek waar mens jouself vind as jy jouself verloor … daardie plek waar jy jou rede laat skietgee en blindelings vertrou. Dit is ’n konfronterende roman oor oorlewing, skuld en boete (individueel en gemeenskaplik), oor medepligtigheid en medemenslikheid. Klimtol, een van die hoogtepunte in Van Heerden se oeuvre, is boonop ’n mooi ode aan die eenvoud van die vissersdorplewe en die Weskus.”

Dié jojo-boek van Etienne het sy begin gehad op Paternoster aan die Weskus, waar die storie grotendeels afspeel. Hy vertel aan Bibi Slippers: “Ek en my vrou, Kaia, het eendag in Paternoster gery, verby Oep ve Koep, verby die hotel, deur Kliprug en verby Blikkie, so ’n pizzeriatjie aan die linkerkant, so ’n groen geboutjie. Net oorkant hom sit so ’n huisie wat uitkyk oor die voorstrand. En net toe ons by dié huisie verbyry, het ek vir Kaia gesê ‘Ek wil ’n boek skryf oor ’n yoyo-speler’ en dit was net dáár.” (In die boek word dié huisie die huis waarin Ludo woon.)

“Ek het die boek begin skryf toe ek in Europa was, so hy het in Amsterdam ontstaan. Die eerste toneel wat ek geskryf het, is die toneel waar Ludo besig is om die triek te gooi. Toe ek dit kry, toe dink ek, hier is water, hier kan jy maar boor, hier lyk dit vir my is iets. 

“Ek het verder geskryf in Switserland en toe hier in Suid-Afrika kom klaarskryf. Wanneer ek eers aan die gang is met ’n roman, begin daar ’n wêreld ontstaan wat vir my net so geldig is soos die wêreld waarbinne ek leef. En ek moet eenvoudig gereeld daarheen gaan en nog daaraan werk.”

Oor die feit dat die roman vir hom boei, verduidelik Etienne aan Jason Lloyd (Rapport, 31 Augustus 2012) dat hy te veel van ’n “en-toe-en-toe”-mens is om ’n digter te wees: “... met ander woorde, die storie se ‘en toe’ trek my aanhoudend vorentoe. Waar die digter vreemd maak met sy vergrootglaskyk, dink ek dit gaan by die romanskrywer eerder oor die vuur van ’n storie wat nes ’n veldbrand oor brandpaaie kan spring na droë bome daar ver.

“Die roman het sy eie algebra, en dis ’n wiskunde wat my bly oorbluf. Dus probeer ek elke keer daardie wiskunde bemeester, al weet ek dat die werklik uitstekende roman, die volmaakte beheer oor die genre, my nie beskore is nie. Dis ’n regtig interessante genre; dis wat my boei.”

Etienne word gereeld genooi om die Week van die Afrikaanse roman in Nederland by te woon. In 2014 was hy saam met Irma Joubert, Sonja Loots, Kirby van der Merwe en Marita van die Vyver op die verhoog en in 2016 saam met Lien Botha, Simon Bruinders, Marlene van Niekerk en Francois Smith.

In 2015 is by die toekenning van die ATKV-Woordveertjies ’n spesiale Woordveertjie aan LitNet toegeken vir Uitnemende bydrae tot die Woordkuns.

Etienne is sedert 2016 emeritus professor aan die Universiteit van Kaapstad, want hy kon net nie meer by die universiteit werk en ook nog LitNet bedryf én skrywer wees nie. Hy wil veral sy aandag aan LitNet gee, want dit "moet voorbly as ’n leier van denke in die Afrikaanse wêreld". LitNet en LitNet Akademies het in Mei 2017 153 000 gebruikers gehad en hierop is hy baie trots.

En toe, in 2017, kom Van Heerden met Charlie Oeng op sy koekepan die Afrikaanse letterkunde binnegery met Die wêreld van Charlie Oeng. Reeds in 2015 het Etienne die tweede plek in die Groot Afrikaanse Romanwedstryd met die manuskrip van Sjinees, soos dit toe bekend was, ingeneem.

In hulle commendatio (op LitNet) het die beoordelaars van bogenoemde prys gepraat van ’n "ambisieuse, verbluffende roman, [wat] in die tradisie van breedopgesette vertellings met verskillende verhaallyne en uitgebreide agtergrondbeskrywing, [...] vernuwing in die skrywer se oeuvre [bring], veral wat die soberder vertelstyl betref. Die tekstuur van die vertelling is baie ryk; die hele gegewe word baie konkreet ingeklee met fyn besonderhede, en die taal is ’n besonderse kontrei-Afrikaans gemeng met die verteller se gesofistikeerde idiolek.

"Die verbeeldingrykheid en kreatiwiteit voer die leser mee en open nuwe wêrelde, met milieus wat wissel van Amsterdam en Hongkong tot die Oos-Kaap. Hiermee word die verwysingsveld van die Afrikaanse letterkunde verruim en die roman bied ’n unieke invalshoek op Suid-Afrikaanse omstandighede. Die kreatiewe wyse waarop feit en verdigsel in die sjarmante Sjinees vermeng is, is merkwaardig."

Etienne vertel aan Murray la Vita (Die Burger, 23 Junie 2017) dat die eerste vonk vir die roman gekom het toe hy jare gelede in ’n skrywershuis in Markstraat in Cradock gesit het en ’n Chinese man ’n kruiwa vol sout verbygestoot het. Hy het toe in sy geestesoog vir Charlie Oeng gesien, "met sy punthoed, sandale en katoenbroek", vertel hy aan Elize Parker in De Kat, Julie/Augustus 2017). "Ek het geweet hier is ’n storie, maar het geen idee gehad dat die verhaal oor liefde en moord, verwerping en migrasie sou gaan nie."

Etienne het meer oor die ontstaan en die probleme wat hy ondervind het terwyl hy aan die manuskrip gewerk het, aan Murray la Vita vertel: "In ’n groot mate was dit ’n soort tref-en-trap-skryfsituasie tussenin wanneer ek tyd het en dan beweeg ek weer wég van die manuskrip. So op ’n stadium was dit nodig om ’n greep te kry en dít kon ek doen nadat ek by die universiteit weg is. Toe gaan ek Cradock toe op my eie en gaan sit in daardie huis. En ek het absoluut ingeklim in dié ou se kop en dit het my byna gek gemaak ... Daar was rukke wat ek seker twee uur aanmekaar geslaap het en niks meer nie.

“So dis ’n roman wat my eintlik ... eintlik het die karakter my gewéldig gesteur want dit gaan oor die ondersoek na brutaliteit; dis ’n ondersoek na wreedheid; dis ’n ondersoek na hoe jy uiteindelik reageer op dít wat jou aangedoen is. Kyk, dis ’n moordverhaal, maar dit wil baie meer wees as ’n whodunnit; dit is eerder ’n whydunnit. Wié is die man? En dit op die plek waar die boek jare gelede by my ingeval het. Die boek het daar ontstaan in Cradock, in daai huisie daar in Markstraat.

“Dit was vir my ’n steurende tyd om op die ou end die motivering waarom hy gedoen het wat hy gedoen het, ten slotte in kanne en kruike te kry – totdat ek psigies tevrede was ek is nou agter die kap van die byl met Charlie Oeng. Ek wil eintlik wys hoedat, ironies, wreedheid – want kyk hy is ’n wrede man – hoedat wreedheid, en dit klink paradoksaal, uit ’n soort menslikheid kan kom; sodat jy die misdadiger kan verstaan en verstaan waar kom daardie soort radikale optrede vandaan.

“En jy weet ons leef in ’n tyd – die boek wil in daai sin ’n spieël van die tyd wees – waar ons heeltyd hoor van en gekonfronteer word deur mense wat baie radikaal optree weens ’n gevoel van ontkenning, vervreemding, ontheemding, skaamte ... al daardie dinge. Ook in ons eie land natuurlik.”

Hy verduidelik ook aan La Vita dat oor die studente-onrus ’n mens verder terug moet gaan kyk - oor dit wat jou grootouers en jou ouers ervaar het: “’n Mens moet ook onthou; as jy kyk na Charlie Oeng en sy voorgeslagte se ervarings, dis oor generasies heen ’n gevoel van vervreemding en vernedering ... Maar wat vir my belangrik was, is hierdie idee van pyn en ontkenning wat uitgeleef word deur generasies daarna. Ek het nou in my lewe baie kontak gehad met mense wat swaargekry het in die Tweede Wêreldoorlog en jy sien hoe daai ding oor geslagte heen uitspeel en jy sien hoedat jong Duitse skrywers werk daarmee. So jy werk met hierdie siklusse van slegvoel oor die dinge wat jou voorgeslagte aangedoen is, wat dan in jóú tot uiting kom.

“Ek dink dít is wat die studente-opstande was, in baie opsigte. ’n Mens moet baie verder daarna kyk as net ’n ontevredenheid met die reënboognasie wat nie lewer nie. Jy moet dink in terme van dit wat jou ouma en oupa aangedoen is; die vernederinge van jou vader en jou moeder ... en dis hoe siklusse van geweld werk. En dís waarom ons literatuur en ons kuns, dink ek, nog baie generasies lank besig gaan wees met apartheid en alles wat in dié land gebeur het. Dis hoekom die Afrikaanssprekendes nog so skryf oor die Boereoorlog; dit is onverwerkte dinge wat uitspeel generasies later en in ’n sin is Charlie Oeng vir my die verteenwoordiger van daai verskynsel.”

Die wêreld van Charlie Oeng vertel die storie van ’n Chinese man wat in sy liefde verlaat is en wat via Amsterdam en die Ooste uiteindelik by die soutpanne in die Oos-Kaap in Suid-Afrika beland waar sy lewe nou betrokke raak by dié van die Kilians, Tian en sy ouers. Hulle boer op Tian se ma se plaas, waar sy pa ’n "stoepboer" is en sy ma ’n boekwinkel op die dorp bedryf.

In die uitgewer se inligtingstuk word meer oor die storie vertel: "Tian Kilian se ouers is voor sy oë vermoor, die aand van die vuurwerke op Slootplaas. Nou reis hy, Amsterdam toe en na Kowloon, oral op die spoor van Charlies Oeng, oftewel Koekepan, oftewel Gelatenheid, oftewel Soutchinees. Eens op ’n tyd ’n onbeduidende film-ekstra in Hongkong, maar ’n hoofrolspeler in Tian se wêreld.

"Hoe harder Tian probeer om die pyn wat hom sedert sy jeug vergesel te verstaan, hoe tergender word die vraag: Waar eindig Charlie Oeng se skuld en waar begin sy eie aanspreeklikheid?

"’n Ryke verskeidenheid karakters bevolk die verhaal, van die KLM-lugwaardin Jenny May tot die Chinese matriarg ouma Voetjies in Amsterdam en die blinde siener ouma Ogies in die Oos-Kaapse Karoo. Van Cor van Gogh, hy met die kleinood in die koker, tot die naamlose, enigmatiese Sy ..."

Etienne vertel aan Elize Parker dat hy voel dat ’n skrywer voordat hy ’n tema in sy kop het, liewer met ’n prentjie moet begin werk. "En die prentjie was Charlie Oeng wat oor die brug loop met ’n sak sout op sy kruiwa. Nou soek jy nog prentjies. Jy voel ander dinge in hom aan. Vuurwerke. Skoenlappers. Bloed."

Vir Parker is daar in Charlie Oeng baie raakpunte met Etienne se vorige romans soos 30 nagte in Amsterdam met die Nederlandse hoofstad as agtergrond, asook Die swye van Mario Salviati, met Salviati wat ook "blindweg die siende raak kyk".

Etienne bieg teenoor Parker dat hy nadat hy Charlie Oeng geskryf het, tot die besef gekom het van die rol wat "siende blindwees of die blinde siendes" in sy boeke speel. "Dit is wonderlik om te dink ons kan verby die blindheid van ons hierwees sien. Die storieverteller moet kan loop waar ander, en jyself, nog nooit gekyk het nie. Ek is blind in die een oog gebore en daarom, reken ek, is dit ’n kwessie wat by my spook."

Vir sy navorsing vir die boek is Etienne saam met sy Nederlandse vriend Maurice Jorissen met sy bootjie op die gragte in Amsterdam, en daarna, wat die kopskuif oor die karakter en die storielyn gebring het, was sy besoek aan Kowloon en Hongkong-eiland. Dan is daar vanselfsprekend, soos in al sy boeke, die terugkeer na sy heimat, die Oos-Kaap, saam met Charlie Oeng.

Die titels van die 36 hoofstukke van Die wêreld van Charlie Oeng (die verafrikaansing van die Chinese van Ng) kom uit ’n dokument getiteld De zesendertig oude Chinese krijgstactieken van Stefan Verstappen wat Etienne in ’n klein boekwinkeltjie in Amsterdam ontdek het en daarna ook op die web gevind het, skryf hy onder "Erkennings" in sy roman. Hy sê ook dat Krygstaktiek 36 nie die waarheid is nie, maar die teks daarna het hy op die internet gekry.

In ’n nota voor in die roman vertel Tian ’n bietjie meer van hierdie krygstaktieke – gebruiklik prys die Chinese teks die dapper dinge soos "leierskap, militêre intelligensie en die talent vir gevegsmaneuvers". Maar die 36 krygstaktieke is "taktieke van misleiding" wat toegepas kan word op byna al die karakters in die roman. Louise Viljoen skryf in haar resensie op LitNet dat die taktieke ook gesien kan word as "metafoor van die skrywer se strategieë in die omgang met sy materiaal en met sy leser".

Op LitNet sluit Marietjie Lambrechts haar bespreking as volg af: "Ten spyte van die donker prentjie wat die roman skets wanneer duidelike tekens van verontregting misgekyk word, wil die skrywer ook impliseer dat aflegging moontlik is – ’n mens hoef nie vir die res van jou lewe ’n gevangene in ’n selfgeskepte tronk te wees nie. Ma in haar niksplek in die agterplasie van haar boekwinkel bedink die feit dat jy kán wegloop van alles, dat jy ’n nuwe lewe kán begin. Jenny May, die meisie wat Tian in ’n Chinese restaurant in Amsterdam ontmoet, is in Nederlandse terme ’n halfbloed, van Oosterse en Westerse afkoms, maar uiteindelik Tian se redding. Sy word die brug tussen twee wêrelde, so ver uitmekaar soos die spreekwoordelike Ooste en Weste. Vir Tian Kilian, maar ook vir almal anders, is daar ’n nuwe verwagting, ’n nuwe lewe sonder die swaar las van ’n gemeenskap se kollektiewe skuld. Die wêreld van Charlie Oeng bevestig opnuut die rol wat letterkunde in die alledaagse lewe van gewone mense speel. Dit is ’n boek wat nie geïgnoreer durf word nie."

Op Netwerk24 (20 Julie 2017) haal Frederick J Botha vir Tolstoi aan: "Alle groot letterkunde is een van twee verhale: ’n man vertrek op ’n reis of ’n vreemdeling kom in ’n dorp aan", en vir hom is hierdie stelling ’n perfekte samevatting van Die wêreld van Charlie Oeng, maar dit is nie hoekom Botha meen dat Van Heerden se roman "grootse" letterkunde is nie – "wat veel meer meriete dra, is dat Van Heerden daarin slaag om met die bedrewenheid van ’n meester ’n ambisieuse roman te skep wat tegelykertyd vermaak, ontroer en intellektueel prikkel."

Botha sluit af: "Die wêreld van Charlie Oeng is ’n grootopgesette en meesleurende roman waarmee Van Heerden voortbou op bekende temas uit sy oeuvre en bewys waarom hy een van die bedrewenste prosaïste in Afrikaans is. Aanhangers van sy werk sal groot genoeglikheid vind in die verbande wat ­getrek kan word tussen hierdie roman en sy Hertzogprysbekroonde 30 nagte in ­Amsterdam."

In Vrouekeur beskryf Willie Burger die boek as ’n "kragtoer van vertelling, maar dan moet jy die krag hê om die 'barokagtige oordrywing' wat soms net langer en verder aanhou as wat ’n mens bereid is om te lees, kan verduur, of jy moet jou maar daaraan oorgee. Ek het uiteindelik laasgenoemde gedoen en is deur die toorkrag van die vertelling meegesleur. Dit is een van die heerlikste boeke wat jy hierdie jaar gaan lees."

Op LitNet is HP van Coller ook positief oor Charlie Oeng: "Van Heerden skryf altyd skynbaar moeiteloos en sy prosa is dikwels meesleurend. Soms is daar egter ’n oordadigheid en raak die taal net te welig. In hierdie roman word die taal veel meer ingetoom, maar die groter soberheid verhinder gelukkig nie dat hier steeds stukke prosa is wat ’n mens in hul liriese geslaagdheid sal bybly nie. Verhaaldrade word goed geïntegreer, karakters boei en oortuig. Oplaas word Charlie se storie en Tian se roman moeiteloos een, net soos mnr Y en die knolskrywer s’n in Leroux se 18-44. Van Heerden se roman bevestig trouens weer eens die seminale aard van die Leroux-roman. Leroux se knolskrywer is besig met sy roman in sy kliniese huisie gebou deur sy homoseksuele vriend, die argitek; Tian skik dag en nag 'aan die lewe van Charlie Oeng en die vuil koffiekoppies soos ’n trop drakies op die tafelblad om my staan' (bl 255). Beide romans is metanarratiewe én die leser lees uiteindelik die roman wat beide karakters geskryf het. En albei is geslaagde romans."

Dan laat ons Louise Viljoen (LitNet) die laaste woord oor Etienne van Heerden se "onneersitbare" roman spreek: "Wat nuut is in Van Heerden se oeuvre is Die wêreld van Charlie Oeng se fokus op die Oosterling en die impak wat probleme rondom die voorstelling, stereotipering en appropriasie van die kulturele ander het op die skryf van ’n roman. Besonder vindingryk is ook die strukturering van die roman rondom die 36 krygstaktieke wat beeld word van die mens se strategieë in sy omgang met ander mense én van die skrywer se taktieke in die verhouding met sy leser. Nuut is ook die Zen-inslag waarmee die lewe en die skryfproses ten slotte bejeën word (so vlugtig en irreël as die efemere droom van ’n skoenlapper). Dit alles werk mee om aan die roman ’n digte tekstuur te gee, amper soos die borduurwerk op ’n ryklik-versierde Chinese jas of mantel (soos die een wat Mavis Latsky vir Charlie gemaak het om by sy vuurwerkvertoning op die plaas te dra). ’n Groot aantal uiteenlopende gebeure, ruimtes, tye en karakters word ten slotte tot eenheid gebring in die borduurwerk van hierdie roman waarin rykheid van tekstuur en vermenigvuldiging van besonderhede, eerder as gestrooptheid, die rigtinggewende beginsel is.

"Wanneer Tian in sy latere lewe nadink oor hoe hy as seun sy ma en pa se gesprekke afgeluister het, skryf hy: 'Vir my is lees tot vandag toe nog so ’n afluisterproses. Wanneer ’n goeie manuskrip in my hande beland en ek my daarin begin verdiep – bygesê, wanneer dit ’n skrywer is wat haar storie ken – kry ek daardie ou opwinding van stadig nadersluip terwyl my ouers dink ek slaap, van afluister en stadig begin verstaan, asof iets nuuts vir my oopgaan' (92–3). Aan die einde van die roman het die leser in ’n groot mate dieselfde ervaring: Van Heerden bou in hierdie roman met ’n uitnemende verbeeldingskrag, kennis en vernuf ’n wêreld wat vir jou nuwe perspektiewe op ou vraagstukke open. Die wêreld van Charlie Oeng is ’n waardige toevoeging tot ’n gedugte oeuvre."

Publikasies

Publikasie

Matoli

Publikasiedatum

  • 1978
  • 2de druk 1985

ISBN

  • 0628014481 (hb)
  • 0628029470 (sb)

Uitgewer

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Jeugverhaal

Pryse toegeken

Perskorprys vir Jeuglektuur 1980

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Obiter dictum

Publikasiedatum

1981

ISBN

062820465 (hb)

Uitgewer

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

My Kubaan

Publikasiedatum

  • 1983
  • 2de druk 1987

ISBN

0624022773 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Eugène Marais-prys 1984

Vertalings

  • Engels deur Catherine Knox in Mad dogs and other stories, 1992 en 1995
  • Nederlands deur Riet de Jong-Goossens, 1992 en 1995
  • Hebreeus deur Aharon Amir, 1994

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Om te awol

Publikasiedatum

1984

ISBN

0624020894 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Toorberg

Publikasiedatum

  • 1986
  • 1987
  • 1991
  • 2003 (klassieke uitgawe)

ISBN

  • 0624024237 (hb)
  • 0624025640 (sb)
  • 0624034372 (sb)
  • 0624041670 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

  • CNA-prys 1986
  • ATKV-Prosaprys 1987
  • WA Hofmeyr-prys 1987
  • Hertzogprys 1989

Vertalings

  • Engels deur Malcolm Hacksley, 1989, 1992, 1993
  • Frans deur Anne Rabinovitch, 1990
  • Deens deur Kurt Strandberg, 1991
  • Nederlands deur Rob van der Veer, 1991
  • Fins deur Arja Gothoni, 1992
  • Duits deur Peter Sulzer, 1993
  • Sweeds deur Marianne Ojerskog, 1993
  • Noorweegs deur Kjell Risvik, 1993

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die laaste kreef

Publikasiedatum

1987

ISBN

0624025578 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Liegfabriek

Publikasiedatum

  • 1988
  • 2de druk 1989

ISBN

0624026787 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

  • CNA-prys 1988
  • ATKV-Prosaprys 1989

Vertalings

  • Engels deur Catherine Knox in Mad dogs and other stories, 1992 en 1995
  • Nederlands deur Riet de Jong-Goossens, 1992 en 1995
  • Hebreeus vertaal deur Aharon Amir, 1994

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Casspirs en campari’s: ’n historiese entertainment

Publikasiedatum

1991

ISBN

0624030288 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Rapportprys 1992

Vertalings

  • Engels deur Catherine Knox, 1993
  • Nederlands deur Riet de Jong-Goossens, 1994

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die stoetmeester

Publikasiedatum

  • 1993
  • 2008

ISBN

  • 0624032280 (hb)
  • 9780624047100 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

  • ATKV-prosaprys 1994
  • Engelse vertaling genomineer vir die International Dublin Literature Prize

Vertalings

  • Nederlands deur Riet de Jong-Goossens, 1995
  • Engels deur Malcolm Hacksley, 1997

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die gas in rondawel Wilhelmina

Publikasiedatum

1995

ISBN

(sb)

Uitgewer

Utrecht: Kairos

Literêre vorm

Kortverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Nederlands deur Robert Dorsman

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Kikoejoe

Publikasiedatum

  • 1996
  • 1999

ISBN

  • 0624035077 (hb)
  • 062403686X (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

ATKV-prosaprys 1997

Vertalings

  • Engels deur Catherine Knox, 1998
  • Nederlands, 1998

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Postmodernisme en prosa: vertelstrategieë in vyf verhale van Abraham H de Vries

Publikasiedatum

1997

ISBN

0798136871 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kritiese werk

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Lied van die Boeings: ’n kabaret

Publikasiedatum

1998

ISBN

0624036626 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kabaret

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die swye van Mario Salviati

Publikasiedatum

  • 2000
  • 2006

ISBN

  • 0624037835 (sb)
  • 0624044572 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

  • WA Hofmeyr-prys 2001
  • M-Net-prys 2001

Vertalings

  • Engels deur Catherine Knox, 2002
  • Nederlands deur Robert Dorsman, 2002
  • Duits, 2004
  • Russies
  • Grieks
  • Franse en Amerikaanse regte is verkoop

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die stilte na die boek: kitsessays

Publikasiedatum

2004

ISBN

0624042154 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Essays

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

In stede van die liefde

Publikasiedatum

2005

ISBN

062404324X (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

  • ATKV-Prosaprys 2006
  • WA Hofmeyr-prys 2006

Vertalings

  • Nederlands, 2006
  • Engels Leon de Kock, 2011

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Asbesmiddag: ’n roman

Publikasiedatum

2007

ISBN

97780624045755 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

M-Net-toekenning vir beste oorspronklike roman in Afrikaans 2008

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

30 nagte in Amsterdam: ’n roman

Publikasiedatum

2008

ISBN

9780624047070 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

  • M-Net-toekenning vir beste oorspronklike roman in Afrikaans 2009
  • WA Hofmeyr-prys 2009
  • UJ-prys vir beste skeppende skryfwerk in Afrikaans 2009
  • Hertzogprys vir Prosa 2010

Vertalings

  • Engels deur Michiel Heyns 2011
  • Nederlands
  • Letties         

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Haai Karoo

Publikasiedatum

2012

 ISBN

9780624056157 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Klimtol

Publikasiedatum

2013

ISBN

9780624057796 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

WA Hofmeyr-prys

Vertalings

Nederlands by Podium

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die wêreld van Charlie Oeng

Publikasiedatum

2017

ISBN

9780624080527 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Etienne van Heerden as samesteller en redakteur

 ’n Keur van publikasies oor Etienne van Heerden beskikbaar op die internet

’n Keur van publikasies deur Etienne van Heerden beskikbaar op die internet

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top