Commendatio by die toekenning van die UJ-Prys vir Skeppende Skryfwerk (2009) aan Etienne van Heerden vir 30 nagte in Amsterdam

  • 0

Etienne Roché van Heerden se tiende roman, 30 nagte in Amsterdam (2008), is ’n groots-opgesette, gewaagde – soms heerlik vergesogte – boek met ’n meesleurende vaart en talle verrassende verhaalwendings. Met hierdie roman bereik Van Heerden (in die woorde van een van die keurpaneellede) “’n nuwe vlak van beleë meesterskap”. Dít is geen geringe kompliment vir ’n skrywer van twee digbundels, twee kortverhaalbundels, ’n versameling kabarettekste, ’n bundel literêre essays en ’n tiental romans wat reeds in verskillende tale vertaal en op verskeie kontinente gepubliseer is nie. Om nie eens van sy rol as samesteller van literêre bydraes en sy baanbrekerswerk as stigter en redakteur van LitNet te praat nie. As Hofmeyr-professor en hoof van die Studiegroep Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Kaapstad speel Van Heerden lankmoedig en onbaatsugtig (maar nooit onwillig nie!) die rol van mentor wat reeds ’n hele generasie Afrikaanse skrywers tot gepubliseerde status gelei het. Hoewel daar soms beweer word dat ’n profeet nie in sy eie land geëer word nie, het Van Heerden al byna elke literêre prys hier ter plaatse met sy skryfwerk verower. 30 nagte in Amsterdam behaal vanaand inderdaad ’n literêre grand slam. (En skop boonop stof in die oë van ’n hele paar “gekeurde spelers”!)

In 30 nagte in Amsterdam konsolideer Van Heerden talle aspekte van sy skrywerskap. Binne die bestek van agt vollengte-romans het hy al ’n soort persoonlike en kwasimitologiese verwysingsraamwerk ontwikkel: die Karooplaas, die seun met ’n Engelse moeder en vroeggestorwe vader, ’n eksentrieke, andersdenkende tante en ruimtelike bakens soos Toorberg, Graaff-Reinet en Stellenbosch is maar enkele van die wederkerende verhaalelemente wat ’n intertekstuele gesprek met die ander romans in sy oeuvre voortsit. Susan (Zan/Xan) de Melker het voorlopers in Seun, die “effens naïewe aktivis” (ix) in Casspirs en Campari’s en Fabian se tante Geertruida, ’n eksentrieke ou dame wat in Die gas in rondawel Wilhelmina en Kikoejoe meestal in Londen of Amsterdam woon en ’n leefwyse volg wat in die sestigerjare in die Afrikaanse gemeenskap ondenkbaar was. Zan se minnaar, Carl Wehmeyer, herinner onwillekeurig aan Siener Wehmeyer, die deemoedige en “alsiende” verteller in Die stoetmeester, terwyl Henk de Melker, soos Ingi Friedländer in Die swye van Mario Salviati, museumassistent is. Anders as die bekende romansier Sebastiaan Graaff (Asbesmiddag) is Henk egter die vaal skrywer van dun monografieë oor onopvallende randfigure.

Maar 30 nagte verteenwoordig ook ’n verruiming van, en selfs ’n keerpunt binne, van Heerden se oeuvre enersyds en die letterkunde oor die versetstryd andersyds. In dié roman word die immerteenwoordige Karoo, wat in Etienne van Heerden se ander romans as nostalgiese en selfs gemitologiseerde ruimte funksioneer, juis die ruimte van ondermyning en verset. Voorts maak die magies-realistiese sfeer van romans soos Toorberg, Die stoetmeester en Die swye van Mario Salviati hier plek vir ’n meer sobere, dog tegelykertyd ook ironiese en humoristiese, aanslag. 30 nagte in Amsterdam is ’n roman deur ’n skrywer wat homself en sy stof genadiglik nie té ernstig bejeën nie.

Aan die hand van Henk de Melker se maand lange verblyf in Nederland word daar in 30 dae in Amsterdam onder meer besin oor die aard van kunstenaarskap, die rol van die verbeelding, die proses van herinnering, die vloeibaarheid van identiteit en die ingewikkelde meganika van bestaan en behoort. Van Heerden se vermoë om ’n pakkende verhaal te vertel word hier die raamwerk vir ’n gesofistikeerde en nodige bestekopname van die erfenis en bestaansaansprake van die wit bevolking in Suid-Afrika. Henk se begeerte om sy klere af te werp en in ’n graf te spring sodat hy hom kan “skoonwas van wie hy is en al die verskrikkinge wat hy beërwe het” (283), dui daarop dat gedagtes rondom skuld, en veral koloniale en erfskuld, in die roman sentraal staan. Van Heerden betrag Europa, en dan spesifiek Amsterdam, vanuit ’n postkoloniale blikhoek, met ander woorde uit die perspektief van die menige buskers, bedelaars, sakerollers [? sakkerollers?] en immigrante wat opportunisties daar probeer oorleef en ’n nuwe energie aan die stad gee. As Afrikaners in Europa is Henk en Tante Zan eweneens postkoloniale subjekte, en “met hierdie perspektief dra van Heerden iets nuuts by tot die uitbeelding van die verhouding tussen Afrikaanswees en Europa (…) en tot sy voortgesette besinning oor plek en identiteit” (Painter 2008:18).

Genadiglik verval 30 nagte in Amsterdam nooit in óf eensydige Afropessimisme óf voorspelbare politieke korrektheid nie. Aan die een kant is dit ’n roman oor verset – veral tante Zan se liggaamlike en ideologiese verset (eers hier ter lande en later as deel van die anti-apartheidsbeweging in Nederland) teen die stipsiende Afrikanernasionalisme en versmorende Calvinisme van haar tyd, onder meer beliggaam deur haar ma, broers en veral die dokter en die dominee. Aan die ander kant is dit ook ’n parodie van verset, ’n satiriese blik op die versetstryd tydens die apartheidsera. Hierdie tema van verset word in 30 nagte in Amsterdam gevorm en gevoed deur ’n deurlopende versugting na bevryding – ’n bevryding van die beperkings van ’n kleinburgerlike bestaan, versmorende bloedlyne en voorskriftelike volksbande. Om die rug te keer op die geykte manier van dink en doen, is egter gevaarlik en verg buitengewone moed. Uiteindelik is “(v)erset teen die cliché, die stereotipe, teen die kleinburgerlike beskouings met hul ingeburgerde onreg, vir tante San (sic) (…) slegs moontlik in haar private taal wat deur die geykte uitdrukkings breek” (Burger 2008:22).

Aan die hand van sy volgehoue taalspel – mens wil amper sê taalstryd – werk Van Heerden hier op besondere wyse mee aan die aftakeling van die genre-grense tussen “prosa” en “poësie”. Hy slaag boonop ook daarin om opwindende nuwe tematiese ruimtes in die Afrikaanse literatuur oop te skryf of te verken. Ek dink hier byvoorbeeld aan die “gesprek” wat 30 nagte in Amsterdam met die werk van die Franse skrywer George Bataille voer. Soos talle van Bataille se karakters, is tante Zan iemand wat op die grens van waansin leef. Sy is ’n nimfomaan wat haar liggaam as “wapen” gebruik. Hoewel nimfomane ’n verhoogde geslagsdrif het omdat seks hulle prikkel en plesier verskaf, gaan dit vir tante Zan, soos vir die karakters van Bataille, oor veel meer as blote seksuele plesier en vervulling. Daar is ’n perversiteit en kompleksiteit (vergelyk byvoorbeeld haar waansin, selfvernedering en selfskending) wat ’n diep psigologiese donkerte verbloem. Soos by Bataille is geslagtelike gemeenskap in 30 nagte in Amsterdam nóú verweef met die begeerte na onsterflikheid. Vir tante Zan, wat nooit werklike liefde geken het nie (387), word die liggaam ’n (perverse) instrument waarmee verganklikheid besweer en verset gelewer word. Zan tart dus die dood keer op keer deur (letterlik) met vuur te speel.

In sy resensie van die roman wys Burger (2008:22) daarop dat die leser se aandag in 30 nagte in Amsterdam “(d)eur ’n speelse omgaan met die taal, woordkeuse, sinstruktuur, ritme en die klank van woorde” op die uitdrukkingsmoontlikhede van taal self gevestig word. Dit gaan oor ’n op-die-voorgrond-stel van taal. Oor taalvindingrykheid en taalverruiming. ’n Volgehoue diggeweefde taligheid “wat geen gaping vir die leser bied om by die agterdeur uit te glip nie” (Winterbach 2008:75). Die leser kan byna nie anders nie as om Painter (2008:18) gelyk te gee wanneer hy skryf: “Tante Zan se uitbundige, honende, dikwels vuige relase, geskryf in die eerstepersoonsperspektief, is (…) die hoogtepunt van die roman en een van die hoogtepunte in Van Heerden se oeuvre.” ’n Mens kan net hoop dat dié roman ’n steeds groter wordende SMS-generasie opnuut onder die indruk van Afrikaans se idiomatiese kleurrykheid sal bring.

30 nagte in Amsterdam is enersyds ’n spannende roman wat jou aan die raai hou; andersyds, ’n ryk en veelduidige werk wat verskillende interpretasiemoontlikhede aktiveer en waarin daar op aangrypende wyse besin word oor die brose grens tussen liefde en wreedheid; tussen die salwende en die weersinswekkende. Dit is ’n roman wat die literêre besinning oor Van Heerden se werk voed. Dit is egter ook ’n meesleurende verhaal wat enige leser op soek na ’n pakkende storie baie moeilik sal kan neersit!

As Asbesmiddag ’n effens teruggestemde ensemble van soms doelbewus dissonante klanke was, dan is 30 nagte in Amsterdam ’n dawerende fuga waarin die orrelklank behoorlik oopgedraai word. Van Heerden beken self dat die roman sy ontstaan te danke het aan die karakter van tante Zan wat in sy oor gefluister het. In hierdie roman maak hy van dié influistering ’n stentorstem wat nog ver en wyd in die Afrikaanse letterkunde gaan weerklink!

Etienne, dit is vir my ’n besondere voorreg om die UJ-Prys vir Skeppende Skryfwerk vir 2009 namens die Departement Afrikaans aan jou te oorhandig.

Verwysings

Burger, Willie. 2008. Etienne van Heerden op ongekende noot van grasie. Rapport, 13 Desember, p 22.

Human, Thys. 2008. 30 nagte in Amsterdam: Vernuftig én verbeeldingryk. LitNet.

Painter, Desmond. 2008. 30 nagte in Amsterdam deur Etienne van Heerden. Die Burger, 16 November, p 18.

Winterbach, Ingrid. 2008. ’n Verbeelding van oorvloed en ontsetting. BRAVO, Lente: 74-6.  

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top