kykNET-Rapport Boekpryse: Onderhoud met Etienne van Heerden

  • 0

  

Die kortlys van die eerste kykNET-Rapport Boekpryse is pas bekendgemaak en die wenners word op Vrydagmiddag, 21 November aangekondig by ’n geselligheid in Kaapstad.

Klimtol deur Etienne van Heerden is genomineer in die kategorie: Fiksie.

Etienne van Heerden

Koop Klimtol by Kalahari.com.

Koop Stoner by Kalahari.com.

Wat beteken dit vir jou om vir die eerste kykNET-Rapport Boekprys genomineer te word?

Die instel van so 'n boekprys val nie uit die lug nie. Baie werk gaan dit vooraf. Dis die moeite werd om dit bietjie te bedink. Eerstens die inisiatief wat iemand aan die dag lê. Die prys moet bedink word. Hou die toegeneentheid teenoor skrywers wat daarmee gepaard gaan, in gedagte. Dan moet prysgeld afgebedel word by die prinse van die handel. 'n Gesoute boekmens moet as organiseerder aangestel word, iemand in wie mense vertroue het. Kundige mense moet ondanks hul druk programme vir beoordelaarspanele gewerf word, waar hulle dikwels ondankbare en soms omstrede werk sal moet verrig. Dan moet die toekennings en die media hanteer word. Ons skrywers is die mense wat hard hieraan gewerk het, baie dank verskuldig. Dis mense wat besorg is oor Afrikaanse skryfwerk en die boekbedryf.

Persoonlik en as genomineerde skrywer: Om saam met die gesoute Eben Venter en die kwiksilwer Dominique Botha genomineer te word, is 'n groot voorreg. Al het ek al heelwat romans geskryf, is mens met elke nuwe roman 'n beginner. Jy bollemakiesie soos 'n lummel of tango soos 'n rofstoeier. Daar is geen resep vir romanskryf nie. Jy is elke keer 'n beginner en leerjonge. Jy moet met elke boek daardie spesifieke boek se resep vind. Jy moet eintlik die romangenre vanuit die oogpunt van die storie wat jy wil vertel, herskep. Al lyk dit nie of jy dit uiteindelik reggekry nie, is dit hoe jy voel; ek ten minste! Daarom is so 'n nominasie nie iets wat volg op ander nominasies wat jy vir vorige boeke ontvang het nie. Jy het opnuut die dankbaarheid van die debutant wanneer jou boek die kortlys haal.

Kry Afrikaanse skryfwerk die nodige erkenning?

Eerstens, binne die Afrikaanse wêreld: hierdie prys is 'n voorbeeld van die stewige institusionalisering van Afrikaanse skryfwerk. Ons bedien 'n nismark, en die lesers binne hierdie Afrikaanse mark is lojaal en geesdriftig. Die netwerk leeskringe, akademici wat hulle oor ons tekste buig en slim goed daaroor aan hul studente vertel, die navorsingsuitsette rondom Afrikaanse tekste, die pryse, die aktiwiteit rondom boeke op werwe soos Goodreads en in die sosiale media, die rol van RSG en kykNET, die bydrae van die Afrikaanse media, van streekskoerante tot Rapport tot Huisgenoot tot LitNet, die kunstefeeste, in besonder die Woordfees, die besorgde instansies wat sorg vir borgskappe vir dinge wat rondom boeke gebeur … dit alles beteken dat Afrikaanse skrywers hul sterre kan dank. En ons lesers! Ek sien by die UK se Skeppende Skryfwerk-kursus hoedat Engelstalige Suid-Afrikaanse skrywers voel hulle skryf in téén Exclusive Books se indrukwekkende fiksierakke, met as konkurrente internasionale figure soos Ian McEwan, Philip Roth, Margaret Atwood en andere. Ons Afrikaanse skrywers is dus in baie opsigte bevoorreg.

Tweedens, binne die Suid-Afrikaanse en dus die breër konteks: sommige mense voel dat jy as Afrikaanse skrywer binne die huidige bestel relevant is net as jy jouself via Engels kan inskryf by die nasionale diskoers, bloot omdat net Afrikaanssprekendes kennis neem van wat jy skrywe en ons landgenote merendeels salig onbewus is van wat in die Afrikaanse kultuurwêreld aangaan. So 'n standpunt gaan soms te ver en praat van 'n soort kulturele ghetto waarbinne Afrikaanse aktiwiteit toenemend ingeperk word, wat beteken dat die ideaal van 'n veeltalige smeltkroes waarbinne Afrikaanse skrywers meeskryf aan die groter interkulturele debat, nie bestaan nie en Afrikaanse skrywers dus 'n soort ingeteelde bestaan voer. Daarby, wanneer 'n boek wel in Engels vertaal word, is dit so dat vertaalde fiksie maar wêreldwyd 'n opdraande stryd voer. Hier kan jy maar die aksent lê nes jy wil; mens moet egter bewus wees van die verskillende fasette wat "erkenning" behels. Aan huis is daar warmte; buite die werf is die klimaat dikwels moeiliker.

Wat het jou geïnspireer om hierdie spesifieke boek te skryf?

As werkverslaafde het ek my begin afvra hoedat speel werk. En toe kom die klimtol by my op, spesifiek so 'n rooi Coca-Cola-yo-yo – dit spring as prentjie in my kop in eendag toe ek deur Paternoster se strate ry.

As jy kyk na die boek in sy geheel, van die eerste gedagte tot die finale produk, wat is vir jou die lekkerste aspek van die skryfproses en wat frustreer jou die meeste?

Ek hou daarvan wanneer my karakters my verras. Die interessantste deel van romanskryf is om nie van meet af aan te weet hoe jou roman se slot gaan lyk nie. Dis opwindend om jou karakters te volg en te kyk waarheen hulle jou neem. Hul onvoorspelbaarheid en jou nuuskierigheid oor wie hulle is, en veral wat hulle gaan aanvang wanneer hulle mekaar teëkom – dis die opwinding van romanskryf en dis 'n vorm van reis.

Wat my die meeste frustreer, is die balans tussen my ander verpligtinge aan die een kant (hoofsaaklik universiteitswerk en LitNet) en my skryfwerk aan die ander kant – om te pendel tussen die twee ruimtes. Skryf is vuur en algebra. Dis veral tydens die fase van vuur (wanneer jy nog uit die guts uit skrywe) dat dit moeilik is; tydens die algebrafase (wanneer jy meer berekend meet en pas en skaaf en sny) is dit makliker om take met skep te balanseer. Maar ek probeer strategieë uitgewerk om die situasie ten beste te hanteer. Ek hou van als waarmee ek besig is, aan die UK leer ek steeds baie, en LitNet is 'n uitdaging en passie; my skryfwerk is asemhaal en lewe.

Waar en watter tyd van die dag skryf jy op jou beste?

Ek kom uit die Karoo en ons kraai die hane wakker. Soggens in die winter steek ek baie, baie vroeg 'n kaggelvuur aan en teen agtuur is die dag se skryfwerk afgehandel. In die somer is die uur van die duif, wanneer dit so wonderlik vroeg lig en stil is. Dis my tyd van alleenwees en skryf. Dan probeer ek ook om elke Januariemaand vir so twee of drie weke oorsee te gaan – gewoonlik Amsterdam. Tydens so 'n Januarie-besoek probeer ek LitNet-sake vir laatmiddae en saans bêre en die res van die tyd te werk aan 'n nuwe teks. Dis 'n goeie dissipline, om op Oujaarsaand in die vertreksaal deur die kuriowinkels en springbokpetjies en Tafelberg-almanakke te dwaal en oplaas uit te vlieg, tesame met die bedremmelde spulletjie wat elk om sy of haar eie rede besluit het om die Nuwejaarsvieringe te ontwyk ten gunste van 'n nagvlug oor Afrika. By aankoms, op 1 Januarie op Schiphol, is ek so gou moontlik deur doeane.

Wie is die skrywers, Suid-Afrikaans of internasionaal, wie se werk jy die graagste lees?

Ek lees my studente se werk; en elke jaar verskuif die aksente. Dis baie interessant om te sien hoedat hulle wegbeweeg van wat hulle voorafgegaan het en hoedat dinge wat voorheen dominant was, voortdurend, soos die jare verbygaan, wegskuiwe. Tans kry ek by hulle al meer speurfiksie, futuristiese aksieverhale en feeagtige verbeeldingsvlugte te lees; selfs barokagtige tekste wat eintlik in enige era geproduseer kon gewees het. Dis interessant. Wat gepubliseerde skrywers betref, lees ek die bekende name, maar hou ook van verrassings, soos John Williams se Stoner, 'n roman wat in 1965 in die VSA redelik onder die radar verskyn het en in 2003 heruitgegee is en toe ineens begin vlieg het, sodat mens dit nou oral sien opduik – dekades later en na die skrywer se dood. Ek het die roman juis as dwarsligger (Google die term gerus, dis te fraai) gelees op so 'n KLM-Oujaarsvlug.

Is daar een of meer boeke, fiksie of niefiksie, wat jy gereeld herlees?

Nooit die hele boek nie; maar gedeeltes. Tans kou ek aan "klassieke" tekste (sommiges het taamlik onlangs verskyn, byvoorbeeld in die jare veertig van die vorige eeu en daarna), hoofsaaklik weens stilistiese redes.

As jy nou aan jouself dink as ’n nog ongepubliseerde skrywer, watter raad sou jy aan jouself gee?

Bedink, versigtig, James Joyce se klassieke advies aan die skrywer: “Silence, exile, cunning.” Bedink dit veral met die sosiale media in gedagte. Het die skrywer nog swygreg? Onthou, terselfdertyd, dat Joyce destyds die eerste filmteater geopen het. En dat die literêre roman volgens baie mense tans "in retreat" is. Baie om te bedink. Miskien is die beste raad die ou woestyngesegde: "The dogs may bark, but the caravan moves on …"

Werk jy aan ’n nuwe boek?

Ek dink hy werk aan my.

 

Lees meer oor die kortlys van die kykNET-Rapport Boekpryse

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top