Die Stoetmeester
Etienne van Heerden
Tafelberg
2008, Sagtebanduitgawe
978 0 624 04710 0
Etienne van Heerden se Die Stoetmeester is na vyftien jaar weer uitgegee, in 'n moderne baadjie. Maak die baadjie die boek? Nee, maar dis 'n mooi baadjie. En die inhoud? Hoe pas dit by die baadjie? Wel, kom ons kyk.
Om in 2008 'n boek te publiseer wat sterk op die omgewing gerig is en ernstige vrae vra oor die vergrype rondom olie, klink dalk heel normaal. Vyftien jaar gelede was dit nie. Tóé was die ekologie nog iets wat soms deur linkse akademici bedryf is en deur die gepeupel afgelag is. Die Stoetmeester het egter tóé reeds vrae gevra oor kwessies wat nou eers in die mode is.
Maar sou jy bloot by omgewingsake stilstaan, gaan jy die pragtige liefdesverhale in Die Stoetmeester heeltemal miskyk.
Bridget McNulty beweer in haar debuut Strange nervous laughter: "There are only three states of love. In love, out of love, and on the precipice between the two." Oor vyftien jaar mag Bridget dalk anders dink. Dan sal sy weet liefde is 'n band wat mense aan mekaar bind lánk na die verliefdheid getaan het. Sy sal leer daar is paartjies wat 'n toestand bereik waartydens hulle mekaar oneindig nodig het, al is die hormonale samesyn glad nie meer belangrik nie.
Sy sou ook gewoon Die Stoetmeester kon lees om hierdie bittersoet liefde te kon beleef deur die oë van Etienne van Heerden se karakters.
Die dubbele heliks
Soos die twee kante van 'n DNS word die liefde tussen mense, en die pyn wat mense in verhoudings ervaar, deur Die Stoetmeester gebind aan die mens se verhouding met die natuur.
Homo sapiens kan teel en beheer uitoefen oor bloedlyne. Ons kan drade span en jagtogte reël. Die mens kan ook boor en soek na water.
Maar die natuur laat nie met haar mors nie.
In Die Stoetmeester práát die rivier. Wanneer dinge skeefloop, kan jy dit lees in die sewe deltamondings van die rivier wat by Port Cecil uitmond. Dit is wanneer die rivier soos olie word, en olie begin spuit uit die maag van die aarde, dat die pype behoorlik begin dans.
Olie maak mense mal van lus. Olie laat mense trap op die gevoelens van hulle kinders en die wense van die dooies. Olie maak mense honger om meer te wil hê.
Dan buig die DNS terug. Hierdie hebsug en dwarstrekkerigheid kom lê soos 'n vuil klad tussen mense in 'n gesin. Mense wat liefhet, neuk verkeerd en vryf mekaar op.
Die storie
Die Stoetmeester handel oor die paar dae net ná olie ontdek word op die katedraalplein in Port Cecil.
Die middelklas (wit) inwoners sien die geleentheid om ryk te word; die swart inwoners (in 1993 nog beperk tot die swart woongebied), sien die geleentheid om die olie vir hulleself aan te wend deur te probeer bewys dat die katedraalplein met geweld van hulle afgeneem is deur die Engelse setlaars.
Soos 'n stoet floubokke dreig die hele spul om op sigself in te plof.
Caper timidus
Een van Etienne van Heerden se groot literêre skeppings is Caper timidus, oftewel die floubok. Dié boksoort, 'n kruis tussen 'n boerbok en 'n sybok, het 'n unieke eienskap: dit val flou wanneer dit skrik.
Hierdie eienskap maak van die floubok 'n ideale meeloper van enige kudde stoetdiere. Hoekom? As 'n roofdier storm, val die floubok flou en word verorber. Die res van die kudde kom weg.
Seamus Butler, een van die hoofkarakters, is in beheer van die floubokstoet. Hy is die meester wat stinkryk word uit 'n spesie wat hy van sy pa geëerf het.
En hier is die heliksbinding weer: Seamus is 'n senuweewrak.
Seamus Butler haat dit om geld te maak uit offerbokke. Hy pes dit om te weet sy bokke word oral in die wêreld gekoop om hulle dood tegemoet te gaan. Soos sy terapeut aan hom sê: "Die komplekse wederopstanding van die self (...) word telkens gefnuik deur die flouval van jou stoet" (p 50).
Jip. Seamus oorweeg selfmoord.
Seamus se pa, van wie hy die plaas en die stoet geëerf het, het ook selfmoord gepleeg.
Die floubok pleeg nie selfmoord in die ware sin van die woord nie; dit is egter só geprogrammeer dat die skakelaartjie in die dier se kop maak dat daar nie 'n kans is om te kan oorleef nie. Die tradisionele vlugrespons is afgeskakel in hierdie bokke.
Seamus se seun, Cawood, is skynbaar immuun teen dié familiekwaal - tot die olie maak dat Seamus 'n deel van die plaas, Cawood se erfreg, wil verkoop. Skielik openbaar Cawood 'n ánder streep wat tipies van Suid-Afrika is: hy dreig om nie alleen te sterf nie, maar om alles met hom saam te neem ...
Cawood se ma, Sarah Butler, het egter nog hoop. Sy besef dat haar generasie dalk "offerbokke" sal moet wees in hierdie stryd (p 135). Sy dink, terwyl sy vir Cawood dophou: "Miskien vir jou kleinkinders, dalk is daar vir húlle vryheid" (ibid).
Dit blyk egter dat Cawood nie veel erg het aan die beeldskone meisies wat hy in diens neem nie. Cawood speel met ander seuns.
Uhuru
Teenoor dié klomp kantelende wit mense staan die skynbaar sterk, swart vroue van die township. Dís nou tannies wat 'n bul by sy horings sal pak.
En tog, MaIndlovu, die matriarg wat alles aanstook en die groot hofsake wil maak om "hulle" olie terug te kry, weier om haar dokterdogter se raad te volg: sy drink nie haar bloeddrukpille nie. Dié ou tannie is op die rand van die dood, maar haar eiewysheid maak dat sy nie raad volg nie. 'n Swart floubok, dus?
En Ayanda Thandani, die slim dokter wat haar ma so aanpor om pille te drink? Háár swakte is die liefde. Sy het op Zola Dunlop gaan staan en verlief raak, al het almal vir haar gesê sy moenie. Goed, hulle is intussen geskei, maar die liefde maak dat sy nie van hom wegbly nie.
Die prokureur
Etienne van Heerden is 'n opgeleide prokureur en verskeie van sy tekste raak dus die reg aan. In Die Stoetmeester staan die weegskale van die reg weer sentraal.
Die prokureur, Siener (Max) Wehmeyer, het bedank uit sy baie goeie pos by 'n uitstekende regsfirma en werk vir die armes, dié wat dikwels nie veel het om te betaal nie.
Dis vir Wehmeyer wat Ayanda Thandani en haar ma, MaIndlovu, so gereeld kom sien. Wehmeyer, en die reg, is dus 'n brug tussen ryk en arm, tussen maghebbers en magsugtiges.
Siener Wehmeyer is egter ook die broer van Sarah, die vrou van Seamus Butler. Hier is nog 'n brug wat hy span. Dis juis hoekom Seamus Butler na Siener Wehmeyer kom wanneer hy die erfgrond wil verkoop - iets wat baie eksplisiet verbied word deur Seamus se pa se testament.
Die grap is dus dat die swart mense wat Wehmeyer kom sien, hier is oor die lewendes. Die wit man wat hom kom sien, is hier oor die dooies. (Seamus weet hy kan nie na die ryk firma gaan waar Wehmeyer eers gewerk het nie, want dit was sy pa se firma. Hulle is daar om die testament gestand te doen.)
Die dooie verteller
Siener Wehmeyer is ook die verteller in Die Stoetmeester, want, soos in Toorberg, kom ons baie gou agter dat Wehmeyer reeds die paadjie na die dooies oorgesteek het. Hy is dus beide 'n karakter in die storie, en 'n alwetende, vlietvoetige verteller.
In Wehmeyer word die brug tussen die lewe en die dood dus ook gebou. En heel gou begin die leser ook vermoed dat Wehmeyer waarskynlik 'n offerbok sal word ...
Die eerste einde
Die Stoetmeester is 'n komplekse, ryk teks wat soebat om gelees en herlees te word.
Hierdie resensie kan nie al die vlakke, die woordspelings en die beelde in Die Stoetmeester vasvang nie. Daarvoor het 'n mens 'n tesis nodig. Lesers wat belangstel, kan gerus Maria Elizabeth Alberts se magister-studie aflaai. Daarin ondersoek sy die magiese realisme in Etienne van Heerden en André P Brink se werk. (Klik hier om dit te lees. )
Vyftien jaar later
As Siener heen en weer kan beweeg in die tyd, kan ons seker ook. Vyftien jaar is 'n lang tyd in 'n land se geskiedenis. Toe Die Stoetmeester in 1993 verskyn het, was dit nogal aktueel. Maar hoe lees die verhaal vyftien jaar later?
Toe ek gevra is om 'n resensie te doen van Die Stoetmeester, moes ek 'n oomblik lank huiwer. 'n Goeie boek is 'n bietjie soos 'n toenmalige lover. Jy en sy het eenmaal, eens, iets aan gehad. Dit was kortstondig, maar dit was nie te ontken nie. Die probleem met 'n boek, en 'n toenmalige lover, is dat 'n mens se konteks baie te doen het met die manier waarop jy die ander een ervaar. My vrees was dat ek, vyftien jaar later, dalk nie meer die verwondering sou kon ervaar wat ek by die eerste lees van hierdie teks ervaar het nie.
In 1993, toe Die Stoetmeester verskyn het, was ek in Grahamstad. Die Kei, waarin hierdie boek afspeel, was my wêreld. Ek kon die grond ruik, die museum besoek en op die Katedraal se plein gaan rondloop. Natuurlik is Port Cecil 'n fiktiewe stad, maar niemand kan ontken dat Grahamstad heelwat van die dekor verskaf het nie.
Verder het Die Stoetmeester verskyn in 'n tyd van ideologiese hoop, en wanhoop. Julle sal onthou dat die ANC reeds ontban was, maar die ou leiers in die Bantoestans het hardnekkig bly vasklou aan hulle mishope. Die KP en die AWB het vuur gespoeg en Peter Mokaba (wie onthou hom?) het "Kill the boer, kill the farmer" gesing. Chris Hani, 'n kommunis, het as een van die sterkste en mees versoenende leiers na vore getree. Dit was 'n wonderlike tyd om 'n lefty-student met lang hare en 'n baard te wees.
Wat meer is, en laat dit in die ope kom, ek was op 'n beurs in Grahamstad om onder Etienne te studeer. 'n Mens sou dus kon wonder of die young upstart wel die professor se boek na waarde kon skat? Ek het my dus voorgeneem dat ek, indien die boek om een of ander rede nie vir my sou werk by 'n herlees nie, 'n vriendelike versoek sou rig om my stilletjies te onttrek.
Dus? Wel, hier lees julle my resensie.
Ek moes telkens in my eerste uitgawe naslaan om te kyk of Etienne nie skelm-skelm 'n paar relevante goed ingeskryf het nie. Elke keer was die antwoord, nee, daar staan dit in die eerste uitgawe ook. Daar is ook geen poging aangewend om die Bantoestans (wat toe nog bestaan het) uit te skryf nie. En dit maak nie saak nie, want ry vandag in Bisho in en die ontvangs is nie veel anders nie. Die nuwe magshebbers se mishopies is sag, en hulle gebruik mag om dit so te hou. (Vir dié wat Bisho nie ken nie, dis 'n modernistiese parodie in die middel van die Oos-Kaapse vlaktes.)
Die nuwe baadjie
Vyftien jaar is ook 'n lang tyd in die boekbedryf en hierdie splinternuwe uitgawe toon die verskillende benaderings van toe en nou.
Dalk het die volgende stukkie niks met die boek te doen nie, en dalk tog wel.
Dit sal kranige boekliefhebbers die moeite loon om die twee uitgawes langs mekaar te sit en hulle te vergelyk.
Die nuwe 2008-uitgawe is, voorspelbaar, sagteband. Bitter min boeke kom deesdae in hardeband uit. Die 1993-uitgawe was hardeband met 'n stofjakkie.
Die 2008-uitgawe het foto's voor en agter, selfs op die rugkant. Die 1993-uitgawe is wit met 'n (baie mooi) landskapskildery op.
Die 2008-uitgawe het 'n sterk, leesbare serif-lettertipe op die omslag, wyl ouboet van 1993 'n swaar, bonkige sans-serif dra.
Ek het nog altyd gedink die 1993-uitgawe is 'n mooi boek, maar dit is opvallend hoeveel varser Tafelberg se ontwerpe in 2008 is.
Selfs die binnekant verskil. In 1993 was Tafelberg se huisstyl 11 op 13 Monotype Plantin. Die eerste getal sê hoe groot die letters is, die tweede hoe groot die spasies tussen die reëls is. Monotype Plantin was die bonkige serif-letters wat destyds Tafelberg se boeke gekenmerk het.
Vandag word elke boek ontwerp. Die letters word gekies, die spasie bespreek en die bladsye rondgestuur.
Die 2008-uitgawe is geset in 11 op 14 Berkeley Book. Berkeley Book is 'n nouer serif-letter as wat Monotype Plantin was. Dit skep 'n gevoel van hoogte by die leser. Dan het Etienne van Duyker, die ontwerper, een ekstra spasie ingegooi tussen elke reëltjie. Kyk net watter verskil maak dit aan die bladspieël.
Laastens het die 2008-uitgawe 'n hele aanhaling uit Mail & Guardian, in Engels, op die voorblad. Nogal iets.
Wat het dit met Die Stoetmeester te doen?
Aan die een kant niks. Aan die ander kant alles, want die boek het die sprong na die een-en-twintigste eeu gemaak. Die inhoud, onveranderd, het ook.
'n Tweede begin
Etienne se bokke is na al die jare al só in die volksmond opgeneem dat hulle dit selfs al op die rugbyveld gewaag het. Lees gerus die brief wat op 21 Julie 2006 in Die Burger verskyn het oor Kaper timidus wat rugby speel!
Die einde kan, volgens Die Stoetmeester, die begin wees. Dalk is dit dus tyd dat lesers wat, soos ek, die boek vyftien jaar gelede geniet het, dit weer moet opneem en lees.
As jy die floubokke nog nie ontmoet het nie, is dit nou jou kans. Jy sal waarskynlik sukkel om te glo die teks is al vyftien jaar oud.

