Jaco Botha (1972–2016)

  • 2

Sêgoed van Jaco Botha

Wat inspireer hom? “Ek luister na stories, kyk na mense, dink aan goeie tonele en mooi sinne om te skryf. Dit help om ’n sterk storielyn te hê, soos met Miskruier. As iemand my kwaad maak, het hulle ’n kans om êrens in ’n storie te beland – gewoonlik nie in gawe omstandighede nie.”

Wat is vir hom die lekkerste van skryf? “Skryf is wat ek goed doen. Maar die lekkerste is as jy teruglees en jy sien die storie het ’n lewe van sy eie. Jy tree bloot as ‘tolk’ op – dis magic!”

“Ek is in wese outyds. Soos ’n oumens lees ek ook (vanweë my swak oë) naby, en het waardering vir die reuk en grein van die papier en die bindsel. Veral ouer boeke, met hul dik buiteblaaie, laat my tuis, gesofistikeerd en gesond voel – dis soos om aan goeie cognac te teug, ’n Kubaanse sigaar te rook, of onder die reuk van ’n rietdak aan die slaap te raak. Dis dan juis daarom dat ek nie National Geographic kan lees nie – omdat die bindgom vir my stink en my galsterig laat voel. Maar ek aanvaar dat ek hier in die minderheid is; dat ek in ’n moderne wêreld lewe waarin daar verskeie media beskikbaar is om stories te vertel; dat ’n gevoel vir die estetiese, langsame oomblik sy dag in die son gehad het.” (OuLitNet)

“Maar as voorstander van die boek moet ek noem dat om te kan oorleef en presteer in ’n moderne en erg vlugtige wêreld, het ’n mens verbeeldingskrag nodig. En hier is daar min kompetisie vir die boek, waar die leser die gedrukte woord tot ’n lewende verhaal kan verbeel. Jy sal ver soek om ’n leier van mense – of dit nou ’n uitvinder, ’n politikus, ’n sakeleier of bekwame skrywer of kunstenaar is – te vind wat nie ook ’n leser is nie.” (OuLitNet)

Na die verskyning van In drie riviere: “Om te skryf is vir my instink. Dis soos om asem te haal. Dis die enigste ding wat werklik sin maak en die enigste dryfveer in my lewe.” (Beeld, 6 November 1997)
Waarom kortverhale? “Miskien is ek ’n control freak en met ’n kortverhaal dwing ’n mens die leser om elke woord te lees. As dinge te voorspelbaar en vervelig begin raak in ’n roman, lees jy eenvoudig sommige bladsye glad nie. Met ’n kortverhaal kan die leser dit nie bekostig om iets te mis nie. Abraham de Vries het van die kortverhaal gesê meer is nie nodig nie.” (Beeld, 6 November 1997)

“Ek luister na mense en hul stories. Ek wil weet waarom hulle sekere emosies ervaar. Skryfwerk gaan vir my ook oor deernis. My boek is hopelik ’n medium waardeur die leser insig in ander kan kry.” (Beeld, 6 November 1997)

Die opdrag voor in Sweisbril: “My bemoeienis is met die mense wat nie verhale het om te leef nie; mense wat nie groot stellings het om te maak nie; my bemoeienis is met dié wat gebreek is, sonder dat hulle ooit heel was. Ek wil hul toevou in die liefde wat ek nie het nie. Oor hulle wil ek skrywe.” (Rapport, 19 Augustus 2000)

In 2000: “Dit is so dat die meeste van die Afrikaanse letterkunde my verveel en Afrikaans het nog min van wêreldstandaard gelewer. Maar vir ’n jong taal is daar al ’n paar oulike goed geskryf. Dis egter nie vir my ’n groot issue nie, ek wil nie daaroor in debat gaan nie. (...) Ek is klaar met literêre dinge, ek is ’n baie pragmatiese mens. ’n Mens se ervaringswêreld is baie beperk binne ’n literêre gemeenskap – ek dink dis beter vir my skryfwerk om met die regte wêreld te doen te hê.” (Die Burger, 6 Maart 2000)

Oor geweld in sy stories: “Om te skryf is sosiaal-aanvaarbare patologie. Dis ’n manier om die geweld in jouself deur karakters te laat lewe en so die geweld beter te verstaan.” (Onderhoud met Antonia Steyn op LitNet)

In 2005: “Die laaste drie jaar het my gehelp om soveel nader te kom aan wie ek is. Ek doen tans wat ek móét doen, en wat ek beter as enige iets anders doen: skryf. Dit gaan oor sin vind. As ek ’n tegniese ding skryf, is dit oor ’n paar maande niks werd nie – maar om in Afrikaans fiksie te skryf, laat my soos ’n reus voel.” (Beeld, 12 November 2005)

“Vir my gaan dit daaroor dat ek voltyds wil fiksie skryf. Dis hoekom dit vir my so belangrik is dat Miskruier vertaal word. Dit is moontlik vir ’n Afrikaanse skrywer om voltyds te skryf, maar dan moet jy ’n best seller skryf in Afrikaans en internasionaal goed doen.” (Beeld, 12 November 2005)

“Ek dink ek het ’n melancholiese persoonlikheid – dan het jy maar ’n sekere uitkyk op die lewe. Ek wissel tussen geweldig laf wees en geweldige donker buie. Later raak jy so laf dat jy omtrent teen die gordyne uitklim om van die weemoed te ontsnap. Vir my is die humor so belangrik om die donker onderste plas van my siel te counter. Soos ek ouer word, glo ek my manuskripte gaan net al hoe ligter word.” (Beeld, 12 November 2005)

Hoekom ’n roman na die twee kortverhaalbundels? “Ek wou vir ’n groter gehoor skryf en ek voel ek het gesê wat ek wou sê in kortverhale. Om ’n roman te skryf, is ’n groter uitdaging. Dit verg ’n ekstra vlak vaardigheid, uithouvermoë en ’n holistiese visie.” (Rapport, 25 September 2005)

Jaco aan Mike Nicol oor sy siening van vertaling: "I think when translating, your task is to channel the spirit of the writer, the essence of the text, and to accomplish that, you sometimes need to stray." (LitNet)

“Skryf is ’n vaardigheid wat deur jare en jare ontwikkel het. Ek dink nog nie ek is daar nie, maar ek is nader daaraan ná hierdie boek (Miskruier). Ek het goed litte losgemaak en ek glo dit gaan dalk ’n paar waves maak.” (Rapport, 25 September 2005)

“Ons skrywers is regtig ’n bietjie stereotiep – drink te veel, is jags, skryf om die depressie te bestry. Dit gaan al hoe meer oor die ontbloting van die self, om te sê: This is who I am ...” (Onderhoud met Antonia Steyn op LitNet)

Gebore en getoë

Christoffel Jacobus (Jaco) Botha is op 17 September 1972 in Vereeniging gebore. Hy is gebore met net 10% sig (vandaar sy bynaam Tien op universiteit). Sy eerste laerskool was Prinshof in Pretoria, ’n skool vir swaksiendes.

Hy vertel aan Willemien Brümmer (Beeld, 12 November 2005): “Ek was ’n groot huiler in daardie tyd. Ek het in bome geklim sodat ek nie in die kar gelaai kon word om skool toe te gaan nie. My ouers het besluit om Worcester toe te trek en in die helfte van sub B is ek na die Pionierskool vir blindes daar.”

Jaco het as veertienjarige gediggies en liefdesbriewe aan oulike meisies geskryf.

Tydens sy hoërskooljare werk Jaco in 1990–1991 by B&W-rekenaars op Worcester, waar hy rekenaartoerusting herstel en verkoop. Hy gee ook privaat klasse in rekenaargebruik en is aktief betrokke by aktiwiteite by die skool, soos bergklim, skaak, rugby en landloop.

In 1991 matrikuleer hy aan die Pionierskool met matrikulasievrystelling.

Verdere studie en werk

In 1992 is Jaco na die Universiteit Stellenbosch, waar hy begin met BSc voordat hy oorslaan na BA en in 1996 sy graad behaal met sielkunde en Afrikaans en Nederlands as hoofvakke. Daarna gaan hy na die Universiteit van Kaapstad. In 1997 verwerf hy sy BA Honneurs en in 1999 sy MA (cum laude) nadat die M-Net-beurs vir skeppende skryfwerk in 1997 aan hom toegeken is.

In ’n onderhoud met Stephanie Nieuwoudt (Beeld, 6 November 1997) sê Jaco dat die prys beteken het dat hy in die Kaap kon bly en sy honneursgraad onder Etienne van Heerden kon klaarmaak. “Ek het die afgelope jaar baie goed weggegooi. Sonder Van Heerden se leiding sou ek nie die insig gehad het om te weet wat is goed en wat is nie goed genoeg nie. Hy het my gehelp om te besef wat my sterk punte is ... wat my stem en my gut is.”

Op Stellenbosch, tydens sy studiejare, het hy ’n “roof”-radiostasie, WKPR, gehad en later het hy gehelp om Radio Matie op FM te kry en was hy ook stasiebestuurder daarvan. In 1996 was hy die beoordelaar van die SR-skrywerskompetisie op Stellenbosch.

Jaco was in die manskoshuis Wilgenhof, waar hy redakteur van die koshuiskoerant was. Hy het vir die koshuis se derde span rugby gespeel en was ook afrigter. Hy het tydens sy universiteitsjare ’n aktiewe rol in die snoeker-, veerpyltjie- en brugklubs gespeel.

Jaco verwerf verskeie beurse van die Universiteit Stellenbosch en in 1994–1995 kry hy ’n toekenning van Wilgenhof vir sy uitstaande bydrae tot kultuur. Hy is ook die wenner van die SR-skryfkompetisie in 1995. In 1998 word die Human & Rousseau-beurs aan hom toegeken.

Jaco was lid van die Suid-Afrikaanse Blindes-krieketspan wat in 1997–1998 die wêreldbeker in Delhi, Indië gewen het.

Na sy universiteitsjare werk Jaco as ’n rekenaarprogrammeerder by ’n IT-maatskappy op Stellenbosch.

Op 21-jarige ouderdom het hy ’n bundel kortverhale aan Tafelberg Uitgewers gestuur, maar dit is summier afgekeur en in 1997 debuteer hy met die bundel kortverhale In drie riviere. Die karakters in die verhale is middelklasmense wat nie daarin slaag om geluk te vind nie. Jaco vertel aan Stephanie Nieuwoudt (Beeld, 6 November 1997): “Die middelklas, waarvan ek ook ’n lid is, het nie die vryheid van die armes wat niks het om te verloor nie. Hulle het ook nie die flambojansie van die rykes nie. Wanneer hulle ’n doelwit bereik, vra hulle wat is daar nog. Hulle vind daar is op die lang termyn niks bevredigends nie. Elke doelwit wat jy bereik, is maar net ’n oomblik.”

Die titel van die boek verwys na Drie Riviere in Vereeniging, waar hy as seun gewoon het. “Ek het altyd gevoel die vierde rivier, die een na die paradys, word hier gemis. Die titel vat die voorstedelikheid en die gebrek aan die paradys vas.”

PC van der Westhuizen het as volg oor In drie riviere geskryf: "Hierdie debuutbundel beskik oor die soort intellektuele en tegniese diepgang wat ’n al skaarser verskynsel in ons letterkunde word. Ek beveel dit aan vir leesgieriges ten spyte van geringe leemtes, waaronder oordrewe soetsappige woorde en beeldgebruik."

JP Smuts (Die Burger, 8 Oktober 1997) se mening is dat Botha se verhale nogal fyn gestruktureer is en dat die heelwat goeie verhale in die bundel dit as ’n besonder hegte debuut kan laat klassifiseer.

Hennie van Coller (Volksblad, 2 Februarie 1998) beskou Botha se gebruik van Afrikaans in In drie riviere as van die keurigste wat hy nog in ’n debuutwerk aangetref het, "met ’n presiese inskatting van taalregisters, ritme en stilistiese presisie. Botha skryf daarbenewens ’n prosa van ’n seldsame sintuiglikheid waarin elke gevoelsnuanse belangrik is en veral kleure oorheers. Dit is skerp registrasie van alledaagse werklikheid."

Vasu Reddy (Insig, November 1997) skryf dat die verhale in die bundel besonderse verhale is wat ’n volwassenheid en fyn aanvoeling vir die woordkuns openbaar. "Jaco Botha het hom bewys as ’n sterk en belowende talent wat by die postmodernisme 'verby' is en in staat is om opnuut ’n sterk leesbare storie te skryf."

Abraham de Vries (Radio Sonder Grense, 31 Augustus 1997) beskou In drie riviere as ’n bundel wat stilisties van die fynste versorging getuig.

In 1999 word Jaco se volgende bundel kortverhale, Sweisbril, gepubliseer, en dit vorm deel van sy MA in skeppende skryfkuns waarvoor hy die M-Net-beurs gewen het. In hierdie bundel fokus Jaco op randfigure of doodgewone mense wat ’n paar dinge gemeen het: hulle is ongelukkig, gefrustreerd en sonder uitsig. Vir Herman Wasserman (Die Burger, 6 Maart 2000) "slaag die bundel daarin om ’n ontnugterde visie te gee van die gebrokenheid en eensaamheid in die strate en huis van suburbia".

In Volksblad van 1 Mei 2000 skryf Leana Lategan dat Jaco Botha in Sweisbril die leser aanraai "om sy beskermende bril af te haal en direk in die soms verblindende lewe te kyk. Die verhale gee ’n angswekkende kyk op die alledaagsheid: op die trivialiteit, maar ook op die pyn en ontgogeling daarvan.”

In sy resensie meen Marius Crous (Die Burger, 15 Maart 2000) dat die skrywer die leser ’n vars blik gee op die leefwêreld en lewenswyse van die blinde en dat die blinde ’n slagoffer kan raak van die wêreld waarin hy lewe.

Hoewel Jaco hom al vervies het vir mense wat hom as visueel gestremd bestempel, is sig, of meer spesifiek swak sig, ’n deurlopende tema in Sweisbril. Herman Wasserman (Die Burger, 6 Maart 2000) skryf dat dit vanaf die bundeltitel en die voorbladillustrasie tot die karakters in die verhale ’n sterk bemoeienis is. “Terselfdertyd is ’n uiterste sintuiglikheid in die skryfstyl onmiddellik opvallend. Asof die swaksiende karakters groter waarnemingsvermoë het juis as gevolg van hulle gebrek.”

Jaco antwoord dat die verhale ’n spesifieke kyk op die lewe weergee – “’n donkerder, meer beperkte, beskermende kyk op ’n baie klein hoekie van die lewe. Die motief van sig moet dus metafories gesien word. Maar die feit dat ek sleg sien ... die ding wat vir my sleg is daaromtrent, is dat dit altyd ’n invalshoek gaan wees vir mense wat oor my skryfwerk praat. Daarom het ek dit doelbewus uit my eerste boek gelaat. Ek wil nie geken word as ’n swaksiende skrywer nie. Dis maar net een van my eienskappe. Tog gee dit my toegang tot ’n ander wêreld, dié van mense wat swaksiende of blind is, en dit gee ’n ekstra dimensie aan my skryfwerk. Wat die sintuiglikheid betref – dit is miskien so dat, omdat ek op ’n klein kolletjie kan fokus terwyl ander mense ’n breë oorsig kan kry, my skryfwerk ook meer gedetailleerd is. Ek weet nie.”

Hy vertel aan Marguerite Black op LitNet dat die karakters in Sweisbril ’n blik werp op mense in Parow en Benoni wat dit geniet om die grootste deel van hulle lewe om ’n braaivleisvuur te staan en ’n geneigdheid tot "raspejoratiewe" toon. “Ons het hier te doen met ’n groep mense wat geweldig bedreig voel op die oomblik; as jy bedreig voel, then you lash out om kop bo water te hou en jou bestaan op ’n manier meer draaglik te maak. Die karakters wat hier uitgebeeld word, is wit, middeljarige Afrikaners wat uit die middelklas kom. Ek wou ’n groep mense uitbeeld wat down and out is en politieke, asook in baie gevalle, ekonomiese regte verloor het, maar vasklou aan ’n identiteit wat nie meer geldig is nie.”

Vir Dorothea van Zyl (Rapport, 20 Augustus 2000) het die grootte, of soos sy dit stel, die kleinte, van Sweisbril gewys dat daar ’n verskil is tussen hierdie een en Jaco se debuutbundel. "Hierdie tweede bundel is veel meer gestroop. Dié eienskap word deurgetrek tot op die vlak van die titels van albei die onderskeie bundels self en van die afsonderlike kortverhale. Geeneen van die vyftien kortverhaaltitels in Sweisbril is meer as een woord met twee lettergrepe lank nie. Daar is ook verskille in die aanbieding. Waar veral die eerste kortverhale in die vorige bundel in 'n dikwels liriese toon spreek met baie omskrywings en beeldspraak, is die tweede bundel veel meer ingestel op sober beskrywings met net die noodsaaklikste woorde. Hiermee bou Botha 'n tendens in enkele kort-kortverhale waarmee die vorige bundel eindig nog veel verder uit. Ook die soms nogal gepeperde dialoog, die klein kruheid en vuilbekkigheid van sy karakters in enkele van sy debuutverhale is in nog veel groter mate kenmerkend van Sweisbril. Gekombineer met die saaklike, onderbeklemtoonde vertelling draai die dialoog beslis geen doekies om nie."

Vir Van Zyl het Jaco beslis weer sy talent in Sweisbril ten toon gestel, maar is daar tog ’n "groter mate van eksperimentering met toonaard, styl en tematiek van sy debuutbundel (...), om vir die nodige verskeidenheid en afwisseling te sorg".

Jaco self vertel vir Herman Wasserman dat sy karakters in Sweisbril eerder ’n “gelatenheid as ’n negatiwiteit vertoon. Die moraal agter die boek is om die onvertelde verhale aan die lig te bring. As ek die boek moet opsom, sou ek sê dit gaan oor mense wat cope. Mense met, ek dink die term is, ’n uitsiglose bestaan.”

In 2003, na nege jaar in die Kaap, verhuis Jaco en sy verloofde, Ingrid Lehmensich, na Johannesburg, waar hulle ’n reklameagentskap, Big Bad Wolf Advertising, op die been bring. Jaco vertel aan Jo Prins (Beeld, 14 Augustus 2003) dat hy nog altyd ’n reklameagentskap wou begin het – “dis om my hart te volg. As jy kyk na my skryfwerk ... my wortels lê in ’n gestroopte wêreld. Hier is geen tierlantyntjies nie. Geen mooi berge en daardie tipe goed wat op ’n manier tussen mense staan nie. Hier is dit so half asof ’n mens kuns moet skep om hierdie wêreld ekstra dimensies te gee.” Hy is verantwoordelik vir skeppende elemente soos konsepontwikkeling, kopieskryf, en vernuwende strategiese beplanning. Hy werk ook as vryskut-skrywer. Dit gaan egter nie vir hom net om die agentskap nie, maar ook daarom om jong, kreatiewe mense die kans te gee om hul ding te doen.

“Ek wil ook graag werk skep. Dit gaan vir my daaroor om vir jong vryskutmense en klein maatskappye die geleentheid te gee om groter projekte te hanteer en om in die proses vir hulself werk en werksbevrediging te skep.”

Hy wil ’n netwerk van “talentvolle, bekwame, honger en energieke” mense opbou om saam aan projekte in die bedryf te werk. Hy en Ingrid is al twee in hulle harte Johannesburgers en Ingrid het “daardie kers in my weer aan die brand gesteek”.

Ingrid het grootgeword op Kleinwolwedans, ’n plaas naby Malmesbury, en het drama onder Babs Laker studeer. Nadat sy en Jaco in 2004 getroud is, speel sy toneel en studeer BPsych en word sy ook redakteur van LêNet op LitNet. Hulle het in 2007 hulle babadogtertjie verloor en Jaco erken teenoor Karin Eloff (Sondag, 21 Oktober 2007) dat sy hele lewenskonteks met hierdie gebeurtenis verander het. “Ek het nie meer lus vir letterkundige speletjies nie, ek kan nou net eerlik wees. Dit het ook die werk aan Nag Nella sleg onderbreek.”

Jaco se werk is, ten spyte van sy sigprobleem, baie visueel. Hy vertel dat hy voordat hy kan skryf, die storie soos ’n fliek in sy kop moet sien. “Ek moet self die karakter word en sy emosies ervaar. Ek kyk dalk langer na dinge as ander mense. My ander sintuie word ook goed gebruik. Veral jou reuksintuig roep baie helder beelde op.”

Die debat in die Afrikaanse boekewêreld oor die verhouding tussen skrywer en uitgewer het in 2002 uitgeloop op ’n hewige woordewisseling tussen verteenwoordigers van twee skrywersgenerasies. In ’n brief aan LitNet was Jaco se slotsom dat “baie skrywers soos babas is wat op ’n deurlopende basis van die uitgewershuis verwag om hulle te borsvoed”. Johann de Lange, wat in die tagtigerjare gedebuteer het, het gevoel dat hierdie kritiek afkomstig is van ’n generasie wat so kortsigtig en gemaksugtig is dat hulle tot dusver nog nie “hulle eie gat in rat” kon kry en hul eie tydskrifte en/of uitgewerye gestig het nie; “wat kennelik nie besef dat hulle tot dusver kon publiseer vanweë ’n klimaat wat deur vorige generasies geskep is nie, en deur die bietjie hype wat bestaande tydskrifte soos De Kat of Insig vir hulle gee nie. Kortom: wat tot dusver nog op die rug van óns generasie gery het.”

Jaco blameer daarna die neerdrukkende werklikhede van die Afrikaanse boekebedryf vir die feit dat sy generasie se beweerde kortsigtigheid en gemaksug “eerder ’n simptoom as ’n realiteit is. Vanweë die feit dat daar nie ’n Afrikaanse mark vir kuns is nie (daar is wel ’n redelike mark vir entertainers), is die ganse literêre gemeenskap ’n sinkende skip. En ja, ons as jong skrywers is miskien die rotte. Julle kan nie vir ons kwaad wees omdat ons die skemer kamers van ’n global village bo die hoe-ha-ha van ’n village press verkies nie.” Hy sluit af: “Ek is in wese ’n Jack-of-all-trades en moet sê ek verkies dit tans om met Britse bankiers en Amerikaanse Venture Capitalists, eerder as met Afrikaanse uitgewers, te onderhandel. Vir nou skryf ek maar konsep-dokumente of besigheidplanne (in Engels), eerder as ’n roman in Afrikaans.”

Jaco se eerste roman, Miskruier (’n spookstorie), word in 2005 gepubliseer. Die roman speel af in 2009. Mbeki is dood, Mandela het verdwyn, vigs vier hoogty en die land is oorgeneem deur ’n militaristiese tiran wat met ’n ysere hand regeer. Die verteller en joernalis Braam Fourie word verbind met ’n koerantberig waarin die bestel kwaai gekritiseer word, en hy moet vlug vir sy lewe.

Jaco het probeer om met sy roman die digtheid van die kortverhaal te behou. Die skryfwerk het hom sowat ’n jaar geneem en die skaafwerk om dit persklaar te maak, sowat drie maande. En die braille- en bandweergawes was saam met die gedrukte boek kant en klaar. Daarmee het Miskruier die eerste Afrikaanse boek geword waarvan die braille en oudio saam met die gedrukte uitgawe verskyn.

Jaco vertel dat Miskruier een aand langs hulle kaggel met ’n glas wyn gebore is. “Net ek, die skaduwees en die rookkringe van my sigarette. Toe dink ek aan Robert Mugabe en sy vergrype en ek dink aan die vorige Sondag toe hulle, terwyl ons in die huis was, by ons ingebreek het, en ek dag: Kom ons skryf ’n toekomsverhaal oor Suid-Afrika waarin niemand veilig is nie, kom ons skryf so ’n storie voordat dit gebeur.”

Hy vertel aan Sonja Loots (Rapport, 25 September 2005) dat namate die skryfwerk aan Miskruier gevorder het, hy dit stuk vir stuk aangegee het vir Ingrid, want “as sy sê dit raak nou boring en sy stel nie belang om verder te lees nie, moes ek gaan oorskryf. Op die ou end het ek besluit as ek Ingrid kan entertain, kan ek enigiemand entertain, want sy is wragtig ’n difficult customer.”

Vir Cecile Cilliers (Volksblad, 20 Januarie 2006) is Jaco se karakterisering so goed en skerp dat die karakters lank nadat die boek klaar gelees is, nog in jou kop lewe. "Weersin van die leser vir die storie word in perspektief geplaas deur ’n opeenhoping van spanningsmomente, ’n stygende vertelspoed en ’n verstommende insig in la condition humaine: ons seks- en geweld- en maggedrewe samelewing."

In Beeld (31 Oktober 2005) skryf Philip John dat die skrywer met Miskruier probeer het om die "eksistensiële kondisie van die wit middelklas in die 'nuwe' Suid-Afrika te verwoord, spesifiek die gewaarwording dat die nuwe stelsel pogings om so ’n bestaan te handhaaf, as 'afwykend' beskou. Die wisseling van toekomsvisie- na spanningsverhaal na tronkverhaal is effe steurend en dat gedeeltes van die voorstelling na die stereotipiese en selfs karikatuuragtige neig, maar dat dit tog ’n welkome toevoeging tot die Afrikaanse roman is. Dit is verfrissend – somber en ontgogelend."

Vir Joan Hambidge (Die Burger, 10 Oktober 2005) is daar ’n ooreenkoms tussen Jaco Botha en Michel Houellebecq: beide skrywers se verhale bied ’n beeld op die somber kant van die gemeenskap waar daar politieke korrektheid moet wees om die lewe te reguleer. Dit waarvan jy bewus is en waarvoor jy bang is, word op ’n dwingende wyse uitgebeeld. Die leser voel dat hy nie die boek wil toemaak nie, maar dit word soms so erg dat hy gedwonge voel om dit wel te doen. “Botha se vermoë om beeldend te skryf (daar is niks boekagtigs aan sy seks- of geweldtonele nie) is eweneens lofwaardig. Liggaamlikheid, ingewandsreaksie, vomering en wat nog gebeur voor jou. Jy kan alles ruik en voel. (...) Dit is (...) ’n roman wat werklik ’n waterskeiding in ons prosa aankondig, en dit is, soos Henning Snyman skryf, ’n uitdagende en baanbrekende roman. Onthutsend is die roman omdat dit ’n ervaring van ’n jong mens se sinisme weergee, maar terselfdertyd dwing sy braafheid om daarmee in gesprek te tree, bewondering en respek af.”

Teenoor Willemien Brümmer (Beeld, 12 November 2005) erken Jaco self dat dit ’n boek oor die toekoms is wat oor die verlede gaan. “Sonder om weer die hele ons-is-jammer-apartheidswêreld te herskep, het ek deur die terugflitse na Braam se weermagdae aan Afrikaanse lesers probeer vra: Wat as die skoen aan die ander voet was? Wat as dit met jou gebeur?”

Jaco noem ook teenoor Brümmer dat dit hom pla dat nie een resensent melding gemaak het van die humor in Miskruier nie. “Goed, dis meesal swart humor, maar humor is iets wat helaas uiters skaars geraak het in Afrikaanse boeke. Ons is só ernstig.”

Oor ’n boek wat sy lewe verander het, sê Jaco (Beeld, 24 April 2000) dat dit vir hom onmoontlik is om een uit te sonder, want verandering, hoop hy, is konstant, en hy hoop dat mens uit alle boeke iets kan leer. Vir hom is die Fransman Guy de Maupassant en die Amerikaner Raymond Carver die grootste kortverhaalskrywers van die afgelope twee eeue. “De Maupassant skryf oor die pretensieuse Franse establishment van sy tyd en Carver oor eenvoudige sukkelaars en dronkaards. Wat albei egter gemeen het, is die fyn raaksien en neerpen van die oomblik. (...) Vir my is dit dan ten slotte slegs menslikheid wat ’n boek die mag gee om te verander, om onthou te word.”

In 2005 wend Jaco hom na die skryf van kinderboeke met die publikasie van Lalala en ek by die see. Dit is ’n pasgemaakte boekie wat jy kan bestel waarin die storie vertel word van Lalala wat die kind (en hier kan jy enige kind se naam laat insit) op ’n vrolike reis via Zoeloeland na die see neem. Die storie is in rym, met illustrasies deur John Murray, en hoewel dit nie, volgens Gerrit Brand, grootse kinderliteratuur is nie, is dit ’n keurige en kunstige boek.

Tydens 2006 se KKNK haal Jaco hom die gramskap van ’n hele aantal kunstenaars en die publiek op die hals as gevolg van sy resensie in die feeskoerant Krit oor die 4Werke-vertoning van Sunette Bridges, Karla du Plessis, Jannie Moolman en Hugo. Jaco het in Krit die gehoor onder meer bestempel as “’n middeljarige, plattelandse gehoor met vormlose kleredrag en niksseggende haarstyle”. Oor die vertoning het hy geskryf dat “Sunette se lied my rillend laat dink aan ’n slegte acid trip ... Karla het min van haar briljante pa se liedjieskryftalent geërf. Eintlik sal net Jannie Moolman van die vier op ’n verhoog in ’n beskaafde land toegelaat word.” Die sangers was woedend en het by Krit se kantore protes aangeteken. Steve Hofmeyr se uitspraak (in Rapport, 22 April 2006) was: "Jaco Botha mis die ironie van eindelose koerantspasie om kunstenaars en gehore af te maai en dan ’n pleidooi na hulle te slinger om met meer kreatiewe reaksies as geweld vorendag te kom." Nadat die bespreking verskyn het, is twee lyfwagte aangestel om Jaco te beskerm en sy veiligheid te verseker nadat daar dreigemente was dat die “gemeenskap hom ’n pak slae wil gee”.

Willemien Brümmer (Beeld, 12 November 2005) beskryf Jaco as ’n “toegewyde bombardeerder van virtuele ruimtes. Die oningewydes hoef maar net die webwerf LitNet aan te durf, waar sy skryfsels so volop is soos kaas in ’n supermark.” Hy kan net so gereeld gelees word in Die Burger en in By op Saterdae.

Hy vertel aan Brümmer dat sy sig nie ’n prominente deel van hom as mens is nie. “Dis iets soos skurwe hakskene of my opvlieënde humeur. Wat interesting is, is daai industriële, amper agteraf wêreld waarin blindes operate omdat baie gedwing word tot ’n laer sosiaal-ekonomiese vlak – as skakelbordoperateurs en mandjievlegters en sulke goed. Terselfdertyd is hulle mense wat baie lees, met ’n ouer kultuur aan hulle.”

Jaco is besig om aan ’n nuwe roman, Nag Nella, te werk, vertel hy aan Brümmer. "Ek reken dat jy met elke boek moet skryf asof dit jou laaste een is. Jy moet glo hy gaan ’n merkie maak, êrens iets los. Soos nou, met Nag Nella, skryf ek asof ek gaan sterf die oomblik wanneer ek my laaste sin geskryf het.”

Brümmer wou in dieselfde onderhoud weet of hy saamstem dat daar nie juis talent onder jong Afrikaanse skrywers is nie. “Ek dink dis besig om te verander. Ons kom uit ’n generasie waar ons niks regtig nuuts gehad het om te sê nie. Ons moes eers stil raak en luister. Ons moes eers nuwe goed vind om oor te skryf. Ons het regtig weer van die nulpunt gekom. Ek glo ons letterkunde loop in 20 jaar fases – ’65, ’85, ’05 – elke 20 jaar is daar ’n stroomversnelling wat iets nuuts bring. In my eie oeuvre is Miskruier vir my ’n belangrike punt. Voor dit het ek nie iets gedoen wat werklik grondverskuiwend was nie. Ek hoop dit gaan ’n belangrike boek wees in ons letterkunde. Van dit wat ek van mense van my geslag gelees het, het niks my nog regtig weggeblaas nie. Daar was niks waarvan ek kon sê: ‘Ek wens ék het dit geskryf nie.’”

Karin Eloff (Sondag, 21 Oktober 2007) vra: “Maar hoekom ontstig jy mense dan so met die goed wat jy skryf?” En Jaco se antwoord: “Ag, ek weet waar mense se sagte plekkies is en ek hou daarvan om hulle te terg. Ek hou daarvan om met die heilige koei se spene te speel.”

Op sy grafsteen moet staan: “Moenie teen die akkerbome fluit nie.”

Aan Sonja Loots (Rapport, 25 September 2005) sê hy: “Ek glo Afrikaans het positiewe inisiatiewe nodig – nie mense wat heeltyd k*k en kla nie. My rol kan wees om lekker stories te skryf wat mense geniet"

Intussen het Jaco ook as ’n vertaler ontpop. In 2013 gee Umuzi Uitgewers Jaco se vertaling van Mike Nicol se Of cops and robbers uit onder die Afrikaanse vertaling Dieners en donners.

Jaco en Mike Nicol het met mekaar per e-pos gesels oor die vertaling en ook oor die oorspronklike boek. Jaco het aan Nicol gesê dat hy nie eers die boek klaar gelees het en toe begin vertaal het nie. Hy het bladsy vir bladsy gelees en dan vertaal en in sommige gevalle het hy dit vertaal en dit dan herskryf om dit ’n meer Afrikaanse "twang" te gee (LitNet).

Jaco het ook onder andere tegniese artikels vir boutydskrifte geskryf. Van sy artikels, prosastukke en gedigte is in Suid-Afrikaanse en Nederlandse tydskrifte gepubliseer, soos ’n rubriek wat gereeld in Manwees verskyn het. Hy lewer ook gereelde bydraes tot By, die Saterdag-bylae tot Beeld en Die Burger.

As draaiboekskrywer werk hy mee aan Casper Rasper Show (kykNET), Jozi Zoo (e.tv) en Skwizas (SABC), terwyl hy vir Spier Films die draaiboek vir BULLET! skryf en ook verantwoordelik is vir die draaiboek van ’n Saak van geloof. Hy is regisseur en vervaardiger van Talk SA (SABC2) en mederegisseur en uitvoerende vervaardiger van Whip the Chef (SABC2).

Hy lewer ook op musiekgebied ’n bydrae deurdat hy twee liedjies vir die sangeres Alta Joubert geskryf en getoonset het wat op haar debuut-CD Malta Bella gesing word.

Hy het ook self ’n versameling liedere onder die titel Hier kom die tier opgeneem en dit oor die Internet bemark.

Jaco en sy vrou en hulle troeteldiere verhuis in 2012 na ’n kleinhoewe naby Knysna, waar hy as vryskutskrywer gewerk het. Hy en Ingrid is later geskei.

In 2016 is Jaco aangestel om LitNet se nuwe skryfwerk te hanteer en sou verantwoordelik wees vir die keuring en plasing van kortverhale en gedigte. In ’n onderhoud met Naomi Meyer vertel Jaco hoekom hy in nuwe skryfwerk belangstel: "Ek dink ek was nog altyd in my hart 'n ontdekkingsreisiger. Nuwe skryfwerk bied die potensiaal om nuwe maniere van dink en voel na vore te bring. Ek glo in 'n literêre tradisie van evolusie."

Wanneer Jaco ’n nuwe gedig of kortverhaal onder oë neem, is die skrywer se beheer oor die taal vir hom baie belangrik. "Dis 'n absolute plesier om te ervaar hoe 'n skrywer jou grense verskuif deur die emotiewe en bekwame inspan van woorde. Swak taalbeheer sal maak dat ek nie verder na die storie of gedig sal kyk nie. Ook die gebruik van clichés. Slordigheid is dalk nog vergeefbaar indien die stuk 'n energie van sy eie het."

Dit is in Knysna waar Jaco op 18 Oktober 2016 sy eie lewe geneem het. Sy pa, Piet Botha, vertel aan Jackie Kruger (Die Burger, 21 Oktober 2016) dat Jaco die jaar voor sy dood aan erge depressie gely het en hy was ook vir ’n ruk in ’n kliniek.

"Hy het hom van die medisyne probeer speen," sê sy pa. "Hy het gesê dit ontneem hom van sy kreatiwiteit. Hy was ’n sagmoedige, uiters intelligente en bedagsame mens."

Jaco het in sy testament bepaal dat hy veras moet word en dat sy as in 'n rivier gestrooi moet word.

Hy word oorleef deur sy ouers, Piet en Annamari Botha, ’n broer Bertus en ’n suster Hesca Roux.

Huldeblyke

  • Neil Sandilands, Akteur: "Jy’t my verras met dié een. Die laaste vers het my laat stilstaan. Liefde broer, altyd.” (afrikaans.com)
  • Neil van Deventer: “Rus in vrede, Jaco Botha. Ek het jou nie so goed geken nie, maar ons sou nog goed saam doen. Ons het nog so week of twee gelede gemail oor die moontlikhede en dis waaroor ek hartseer is. Omdat jou talent nie in jou leeftyd erken is nie en omdat daar nie nog Miskruiers en stories soos dit sal wees nie. Ek gaan nog daai movie waaroor ons so baie gepraat het, maak. Al maak dit nie meer saak nie ...” (netwerk24)
  • Sonja Loots: "Ek het nie woorde omdat hy besluit het om ’n volpunt agter al sy sinne te sit nie. Die voorwoord uit sy bundel Sweisbril vang vir my iets vas van wie hy was: 'My bemoeienis is met die mense wat nie verhale het om te leef nie; mense wat nie groot stellings het om te maak nie; my bemoeienis is met die wat gebreek is, sonder dat hulle ooit heel was. Ek wil hul toevou in die liefde wat ek nie het nie. Oor hulle wil ek skrywe.'” (afrikaans.com)
  • Gérard Rudolf: "Ek het so pas gehoor dat my vriend Jaco Botha gisteraand dood is. Jaco was ’n sagte siel. Ek onthou die laaste keer dat ek hom gesien het laat verlede jaar hier in Joburg. Hy was nie lekker nie. Dit was asof iets in hom gebreek was, asof iets uit hom geruk was. Ons het die hele dag gesit en gesels oor die lewe en liefde en skryf – en oor sy kortverhaal Sweisbril wat ek in ’n kortfilm vir verlede jaar se Silwerskermfees verwerk en gemaak het. Ons het baie bier gedrink en gelag oor die film, en Jaco was so in sy noppies met die eindproduk gewees. ‘Right up my alley,’ het hy gesê.

"Ek wou aan die publiek wys watse goeie skrywer Jaco werklik was en die skaars talent wat hy gehad het om gewone mense se lewens en liefde en leed in sy werk te kon vasvat. Ek was so bly Jaco het soveel genot daaruit geput om sy karakters op die silwerskerm te sien.

“Cheers Jack. Dankie vir die stories en die songs. Dankie dat jy so vrygewig en met soveel liefde my vriend was. Ek sal jou nooit vergeet nie. Rus nou, bra.

“Kort daarna is hy weg uit Joburg uit om sy kop en sy lewe bymekaar te probeer kry. Ons het dan en wan mekaar gebel om oor projekte te gesels, oor die lewe – altyd oor die lewe. En hy het gewoonlik aan die einde van die gesprek gou een van sy nuwe songs vir my gespeel en gesing en my laat kraai van die lag. Ek het vanaand nie meer woorde oor nie. Jaco is weg. Stil. Hy sal nooit weer skryf nie. Hy sal nooit weer een van sy sad Afrikaanse country-liedjies oor ’n k*k selfoonkonneksie vir my sing nie. Ons sal mekaar nooit weer raakloop en oor gebroke harte kan lag nie. Niks meer skurwe grappe nie. Net niks. Jaco is op die lang pad." (netwerk24)

  • Etienne van Heerden: "Van sy generasie skrywers was Jaco Botha die voorste stilis. Hy't met sy beste werk meedoënlose prosa geskryf. Vir my begin skryftalent met 'n manier van kyk na die wêreld. (...) In Jaco se geval is dit nie soseer 'n eksentrieke blik nie. Dit sou veels te gesellig wees om sy blik op die lewe só te beskryf. Dit was eerder 'n seer kyk, en meer dikwels 'n desperate siening van die mens in sy gestrooptheid. Dis kyk sonder 'n skil op die oog. Kyk as straf. Die stipste blik van sy generasie.

"In die verhaal 'Sweisbril' uit sy gelyknamige bundel haal 'n man sy sweisbril af en kyk in die oog van die son in totdat hy blind is. Dis 'n lang, gedwonge en oplaas verwoestende kyk. Daardie manier van kyk was Jack, soos ek hom genoem het, se talent. (...)

"As kortverhaalskrywer, met die meer gefokuste doek om op te skep as wat dit die geval met die roman is, was hy op sy skerpste. Die roman het vir sy manier van kyk te breed geraak, te wyd. Te langasem, en miskien te bourgeois. Maar in sy kortverhale is hy op sy stipste beste. Dis verhale wat tydens die lees by jou inbrand.

"Ek sal die toneel nie vergeet nie. Jaco, gehurk op die badkamervloer, hier by my aan huis, een laatnag. Hy huil hartverskeurend en voor hom op die vloer is 'n poeletjie trane. 'Ek het nooit geweet traankliere kan soveel water produseer nie,' het ek hom agterna vertel. Hy hurk daar, gebuig oor die poeletjie op die badkamerteëls, asof hy diep inkyk in die Groot Verdriet.

“Jaco, wat tien persent visie gehad het, se bynaam by die Pionierskool op Worcester was Tien. Nie verniet dat 'Tien' rym met 'sien' nie. Jaco het skerper en meer gesien as die meeste siendes. Dit was 'n ongemaklike blik, en hy't baie mense ongemaklik gemaak. Ook in vriendskapsverband kon hy blind indonner waar hy eerder moes wegbly. Maar dit was Jack. Om te ontsetel was vir hom 'n opdrag. So intens was sy blik, kom dit by my op nadat ek van sy selfdood gehoor het, dat hy dwarsdeur die oog van die galg gekyk het.

"Dit was sy laaste dans, daar aan die selfdoodtou in Knysna. Gedryf deur depressie en sy stryd om sonder sy pille klaar te kom sodat hy kon bly skryf. Ek kan nie dink dat so 'n woelgees in vrede kan rus nie. Hy gaan die engele ontstig met daardie sardoniese blik van hom, daarvan is ek oortuig. Jack, die lewe is 'n fokker. Maar die dood is 'n bliksem. Bly kyk, Tien." (LitNet)

Publikasies:

Publikasie

In drie riviere

Publikasiedatum

1997

ISBN

079813691X (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Sweisbril

Publikasiedatum

1999

ISBN

0798139900 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Miskruier (’n spookstorie)

Publikasiedatum

2005

ISBN

0798145811 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Lalala en ek by die see

Publikasiedatum

2005

ISBN

1919985158 (sb)

Uitgewer

Stellenbosch: African Sun Media / Rapid Access Publishers

Literêre vorm

Kinderboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die avonture van Lulu Lerulu

Publikasiedatum

2015

ISBN

9780928316148 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Naledi

Literêre vorm

Kinderboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Jaco Botha as assistentredakteur

Jaco Botha as vertaler

Artikels oor Jaco Botha beskikbaar op die internet

Artikels deur Jaco Botha op die internet

Bronne

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum


• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

 

  • 2

Kommentaar

  • Hy was 'n vars bries in die Afrikaanse lektuur - mens wonder wie sy leë plek sal kan vul. Rus in vrede, Jaco!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top