Onderhoud: Jaco Botha oor nuwe skryfwerk

  • 1

Jaco Botha

Wie is Jaco Botha wat LitNet se nuwe skryfwerk hanteer? Naomi Meyer het gaan uitvind.

Jaco: wie is jy?

Ek is 'n vryskutskrywer wat op Knysna woon.

Ek het my skryfloopbaan in die laat 1990's begin met kortverhaalbundels In Drie Riviere en Sweisbril, waarvan die titelverhaal verlede jaar in 'n kortfilm omskep is. In 2005 het my debuutroman, Miskruier, verskyn en van daar af het ek meestal in die televisie- en filmbedryf gewerk. Van my gunstelingprojekte was om medeskrywer op Casper Rasper Weer te wees en ook die draaiboek vir 'n Saak van geloof wat ek geskryf het. In 2012 het ek, my vrou en ons kat met vakansie Knysna toe gekom en nie weer teruggegaan Johannesburg toe nie. My eerste kinderboek, Die Avonture van Lulu Lerulu, het verlede jaar verskyn.

Hoekom stel jy belang in nuwe skryfwerk?

Ek dink ek was nog altyd in my hart 'n ontdekkingsreisiger. Nuwe skryfwerk bied die potensiaal om nuwe maniere van dink en voel na vore te bring. Ek glo in 'n literêre tradisie van evolusie.

Wat is jou konneksie met LitNet?

Ek is nou verantwoordelik vir die keuring en plasing van kortverhale en gedigte.

Wat tref jou oog as jy na 'n nuwe storie of gedig kyk?

'n Mens kan binne die eerste paar sinne sien of iemand kan skryf of nie – taalbeheer is 'n groot faktor. Dis 'n absolute plesier om te ervaar hoe 'n skrywer jou grense verskuif deur die emotiewe en bekwame inspan van woorde.

Wat sal dalk maak dat jy verbyhou as jy na 'n nuwe storie of gedig kyk?

Swak taalbeheer. Gebruik van clichés. Slordigheid is dalk nog vergeefbaar indien die stuk 'n energie van sy eie het.

Waarna soek jy, en na wie, as dit by nuwe skryfwerk kom?

Ons soek uit die aard van die saak na vars, nuwe stemme. Dit gesê, waardeer ons die ervaring en bekwaamheid van gevestigde skrywers wanneer hulle so gaaf is om vir ons te skryf. LitNet kan 'n ideale platvorm bied vir eksperimentering met nuwe materiaal. Ek dink LitNet kan al hoe meer die rol vervul wat publikasies soos Tydskrif vir Letterkunde in die verlede vervul het.

Wat skryf jy self op die oomblik?

Ek skaaf tans aan 'n roman wat nog nie heeltemal daar is nie en probeer werk aan idees vir nuwe materiaal.

Wat lees jy?

Ek is 'n groot fan van Haruki Murakami en Kurt Vonnegut se werk. Verder geniet ek kortverhaalskrywers soos Raymond Carver.

Jy was verlede jaar ook betrokke by die Silwerskermfees. Werk jy weer aan 'n film? Of, indien nie, watter film, musiek, kuns of teaterstuk inspireer jou?

Daar is so twee filmprojekte wat tans in 'n vroeë stadium van ontwikkeling is – ek is eintlik te bang om daaroor te praat. Intussen luister ek maar na die musiek van mense soos Tom Waits, JJ Cale, Leonard Cohen en Van Morrison om my rustig te hou.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top