‘n Country song vir Jack

  • 6

Hierdie foto is deur Jaco Botha verskaf en verskyn by een van sy kortverhale op LitNet. Klik op die foto om die kortverhaal te lees.

Dis so agtuur se kant op ‘n Woensdagaand in Joburg. Oktober. Die mooiste, mooiste maand. Ek sit op die stoep en luister na reën wat wil-wil uitsak. ‘n Paar vet druppels klak neer op die sinkdak. Dan weer stilte. Ek wil nie eintlik praat of dink nie. Ek wil net hier sit. Maar tog moet ek iets probeer sê.

Sien, ek het letterlik so pas gehoor dat my vriend Jaco (Jack) Botha gisteraand dood is. Jack het selfmoord gepleeg. Wat kan mens sê? Waarom is daar so min woorde wanneer ‘n skrywer sterf? Want dis stil in my. Jack is weg. Hy was hier en nou is hy weg. Dis al wat oor en oor deur my maal. Sestien woorde …

Ek maak my oë toe. Daar staan Jack, kaalvoet in daardie vroegsomermiddag in ‘n straat in Melville. Hy dra ‘n T-hemp, jeans. Sy baard is wild en dit lyk asof hy self sy hare met ‘n skaapskêr bygekom het. Hy rook ‘n sigaret en praat. Jack kon praat. Ek skiet ‘n portret van hom met my selfoon terwyl hy hard aan sy sigaret trek – die laaste foto wat ek van hom geneem het. Hy was nie lekker nie, asof iets uit hom geruk was. Hy het ‘n sagte siel gehad, ‘n groot hart, ‘n gebroke hart.

En hy was manies opgewonde, want ek het uiteindelik ‘n kortfilm van sy kortverhaal, Sweisbril, vir die Silwerskermfees gemaak, ‘n projek waaraan ek aan en af oor 15 jaar geskaaf het omdat ek wou seker maak dit is soos Jack dit sou wou hê, presies soos hy sy karakters in sy kortverhaal uitgebeeld het. Want Jack was nie sommer net ‘n skrywer wat oor dit en dat geskryf het nie. In sy kortverhale het hy soos Carver diep gedelf in die siele van randfigure, gewone werkersklasmense – ouens wat op die railways gewerk het, welders, huisvrouens wat stadig maar seker hulle koppe verloor in die sagte suburbs van Pretoria, ouens wat vir die Council werk en naweke gesuip raak om braaivleisvure met rugby games op TV. Jack het daardie mense met groot liefde geskep, vir hulle harte en gevoelens en siele gegee wat jou siel uitmekaar kan ruk sonder dat dit ooit sentimenteel geword het. Want hy het daardie mense geken, hulle gaan soek, na hulle geluister.

Ons het saam daardie middag die film op sy laptop gesit en kyk en baie bier gedrink en gelag. “Right up my alley!” het hy gesê toe die titels rol oor Bernoldus Niemand se “My broken heart”. Ek was so bly dat hy soveel genot daaruit geput het om sy karakters op ‘n skerm te kon sien. Maar dis hoe Jack was: vrygewig en ruimhartig en altyd gewillig om sy pragtige verbeelding met mense te deel.

Later het ons nog bier gaan drink en steak rolls geëet en Jack het aanhou praat oor die lewe en hoe oneindig mooi en sad dit alles is.

Laat daai nag gaan laai ek hom af by sy blyplek. Die laaste sien van hom was in my truspieël: Jack in die middel van die pad, nog steeds kaalvoet, besig om vir my te waai en te serenade soos ek wegry.

‘n Dag later is hy gebroke weg uit Joburg uit na vriende toe in die Kaap, waar hy vir so paar weke oor Kersfees en Nuwejaar uiteindelik rus gekry het.

Vir ‘n rukkie.

Ons het oor die afgelope maande so ‘n paar keer mekaar gebel en e-posse gestuur. Ek wou basies net seker maak hy’s OK, hom gelukwens met sy verjaarsdag. Maar hy was nie OK nie. Hy het goeie dae gehad, maar ek kon voel die nag het hom begin inhaal. Aan die einde van sommige foongesprekke het hy vir my een van sy jongste songs gespeel en gesing, Afrikaanse songs wat ‘n vreemde mash-up was van die Briels, die NG Kerk se sangbundel en ou country songs uit die veertigerjare – gebroke harte, oop grafte, vergifnis en God. Hartverskeurende liedjies wat my laat skaterlag het. Ja, Jack het ironie sy troeteldier gemaak.

En nou reën dit hard hier in Joburg, oor ou suburbs, oor die woonstel in Kingsway Mansions waar Jack gewoon het voor hy so ‘n paar jaar gelede Knysna toe getrek het. Dit reën oor die strate van Melville waar ons oor die jare af en toe gaan drink en gesels het. Dit reën katte en honde oor die Radium Beer Hall in Louis Botha waar Jack se karakters by die lang bar sit en lang brannas suip. Dit reën oor Fietas en Sandton en Greymont. Dis die eerste ordentlike donderstorm van die seisoen. Weerlig en als. Dis asof Joburg hom uitreën en uitdonder oor Jack wat te gou kaalvoet die lang pad gevat het. Jack sou van die storm gehou het. “Jaaa. So kom die storm vir ons almal,” kan ek hom hoor sê in sy gemaak-Springbokradio-stem terwyl hy nog ‘n sigaret light en sy bene oor die koffietafel uitstrek.

En Jack is weg. Hy sal nooit weer skryf nie. Hy sal nooit weer een van sy Afrikaanse country songs oor ‘n kak selfoonkonneksie vir my of enigiemand anders sing nie. Ons sal mekaar nooit weer raakloop en oor gebroke harte en lewens kan lag nie. Niks meer skurwe grappe oor ‘n brannewyn en ‘n braai nie. Niks. Net niks. Jack is op die langpad. Sy lewe was te kort, sy gevoelens te intens. En vir ‘n man wat skaars kon sien, het hy meer gesien as die meeste van ons met 20/20-visie.

En dalk was ‘n vriend, ‘n medeskrywer, reg toe hy in ‘n teksboodskap vanaand aan my opmerk ná hy van Jack se dood gehoor het: “Too fragile. Miskien vat dit maar die dikvellige, siniese hardegatte om deur die moeras te kom. The good die young.”

Ek weet nie of Jack, Jaco, “goed” of “sleg” was nie. Hy was ‘n mens, ‘n vriend, iemand se man, ‘n vrygees, ‘n warrelwind, liedjieboer, gevind, verlore. Ja, hy was ook ‘n kakstirrer gewees. Natuurlik was hy. Jack was ‘n skrywer in hart en siel.

Dalk een van ons bestes. Maar dit sal net tyd ons kan leer.

My hart gaan uit na sy naastes en geliefdes toe. Baie mense was lief vir Jack. Hy het net daai ding omtrent hom gehad. Ons wat hom geken het, gaan hom mis. Dié wat hom ontmoet het, sal hom nooit vergeet nie.

Cheers Jaco. Dankie vir alles. Dankie dat jy so vrygewig en sonder oordeel en met soveel liefde my vriend was. Ek sal jou nooit vergeet nie. Rus nou, my bra. Dis OK.

Gerard Rudolf

19 Oktober 2016

Johannesburg

  • 6

Kommentaar

  • Philip de Vos

    Wonderlik, en met soveel deernis geskryf oor iemand wat ek net een keer ontmoet het. Dankie, Gerard.

  • Ek is omgeslaan! Ek verlaat Knysna vir paar dae en die grootste tragedie nog slaan die dorp. Gevolg deur 'n aardbewing. Ons het nog gepraat oor die toekoms van skrywers in Suid-Afrika, en kyk, weg is hy.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top