
Suzette Kotzé-Myburgh
In ons nuwe reeks onderhoude gesels ons met Mense agter boeke – van uitgewers tot bemarkers, redakteurs, vertalers, argivarisse en meer – wat boeke moontlik maak en bewaar.
Hier onder gesels Jaco Botha met die vryskutredigeerder, -vertaler en -proefleser Suzette Kotzé-Myburgh.
Beskryf asseblief jouself in een sin?
Ek is deur en deur ’n boekemens. Dan Sleigh skryf in Eilande: "Die hele wêreld is in boeke." Boeke is my wêreld; dis my grootste liefde sowel as my daaglikse brood. (Ek kon een sin gepoog het, maar redakteurs hou nie van lang sinne nie.)
Waar kom jou liefde vir boeke vandaan?
Ek glo lees is in die gene, nes enige ander belangstelling. My ouers is/was groot lesers en my ouma aan vaderskant was ’n fanatiese leser (ek het ook haar naam en groen vingers geërf). Ek en my ouer broer is lesers, my suster en ander broer is nie, dus glo ek jy word ’n leser gebore.
Vertel ons so bietjie van jou kinderjare?
Ek het op ’n skaapplaas in Namakwaland grootgeword, so halfpad tussen Bitterfontein en Garies. Skoolgaan op Nuwerus het twaalf jaar in die koshuis beteken en relatief min tyd by die huis, maar die plaas, diere en boeke was die kern van my kinderlewe. Vandat ek in sub A leer lees het, het ek in ’n groot wêreld geleef wat my werklike wêreld ver oorskry het. Al was Nuwerus ’n klein skooltjie, het ons uitstekende, toegewyde onderwysers gehad wat moeite gedoen het om ons ’n behoorlike opvoeding te gee.
Wie was jou gunstelingskrywers en watter boeke het 'n invloed op jou gehad?
Ek het die dorpsbibliotekie sowel as die skoolbiblioteek van hoek tot kant deurgewerk. Ek onthou Helena Lochner en Pieter W Grobbelaar se verhalebundels, en mooi prenteboeke soos Ferdinand die bul. Jack London se diereverhale was wonderlik. In my latere laerskooljare was ek verslaaf aan liefdesverhale; Ena Murray was my gunsteling. Danksy Barbara Cartland en Mills & Boon het ek uiteindelik teen st 5 Engels begin lees. Op hoërskool het ek gelees wat voorkom, ook die ouer standerds se voorgeskrewe boeke. An Episode of Sparrows (Rumer Godden), Lord of the Flies (William Golding), Jamaica Inn (Daphne du Maurier) en The History of Mr Polly (HG Wells) staan uit. Omdat daar so min boeke was, het ek op skool al uitgekom by Afrikaanse literêre werke soos Mahala (Chris Barnard), Kroniek van Perdepoort (Anna M Louw) en Sewe Dae by die Silbersteins (Etienne Leroux).

Saam met Riana Scheepers en Gertie Smit by die bekendstelling van Rympies vir Pikkies en Peuters
Vertel ons meer oor jou studies en watter skrywers en boeke toe 'n invloed op jou lewe gehad het?
Ek het ’n BA op Stellenbosch gaan swot sonder om te weet wat ek daarna gaan doen. Ek het geweet wat ek nié wou doen nie: onderwys of biblioteekwese. Gelukkig het my vakke – Filosofie, Sielkunde en Engels Spes op eerstejaarsvlak, Afrikaans-Nederlands, Geskiedenis en Klassieke Kultuur tot derdejaarsvlak – goed by mekaar aangesluit en my ’n wye agtergrond vir teksredigering gegee. Nagraads het ek ’n MA in Klassieke Kultuur (Ou Nabye-Oosterse Studies) oorweeg, maar dit bied min werkgeleenthede. Daarom het ek aansoek gedoen vir honneurs in joernalistiek.
Enige spesifieke aanhalings uit boeke wat jou bybly?
Ek het ’n boek gehad waarin ek talle aanhalings neergeskryf het, maar nie een wat nou spesifiek uitstaan nie. My gunstelingvak was Klassieke Kultuur, maar van my voorgeskrewe werk onthou ek die Nederlandse naoorlogse digters die beste, mense soos Paul van Ostaijen, Gerrit Kouwenaar, Lucebert en Rutger Kopland. “Jonge sla” is my allergunsteling, as dit kan staan in die plek van ’n aanhaling.
Jonge sla
Alles kan ik verdragen
het verdorren van bonen,
stervende bloemen, het hoekje
aardappelen kan ik met droge ogen
zien rooien, daar ben ik
werkelijk hard in.
Maar jonge sla in september,
net geplant, slap nog,
in vochtige bedjes, nee.
Rutger Kopland (Alles op de fiets, 1969)
Vertel ons van jou loopbaan? Waar het dit begin?
Met my keuringsonderhoud, op die vraag waarom ek joernalistiek wil swot, was my antwoord: “Ek hou meer van lees as van skryf.” Ek het eers jare later besef dis ’n raak beskrywing van ’n uitgewer. Toe Nasionale Pers se personeelman by die departement kom werf het, het ek verby KOERANTE en TYDSKRIFTE gekyk en UITGEWERY op my vorm geskryf. Met dié het ek ’n aanstelling as leerlinguitgewer gekry. Ná ’n draai by Leserskring, Tafelberg, Van Schaik-boekwinkel en die bemarker THR, het ek by Delos begin werk. Daar het ek leer redigeer. Ook al die ander aspekte van uitgewery: proeflees, boekuitleg, illustrasies, omslae, skedulering, begroting, selfs fotostilering onder Nanette van Rooyen se kunstige hand. Drie jaar later is ek na Tafelberg se kinderboekafdeling, waar ek onder Louise Steyn geleer het om met fiksietekste te werk. Met die uitgewers se Groot Herstrukturering in 1998 het ek besluit om vryskut te gaan, wat een van die beste besluite van my lewe was.

Suzette Kotzé-Myburgh en Riana Scheepers by die bekendstelling van Nuwe Kinderverseboek
Wat was van die hoogtepunte in jou loopbaan?
Die verskyning in 2009 van Nuwe Kinderverseboek (saam met Riana Scheepers) was regtig ’n hoogtepunt. Ná soveel jare wat my naam selde eens in ’n boek se kleinskrif verskyn het, was dit baie lekker om my naam op ’n voorblad te sien!

Suzette Kotzé-Myburgh onderteken 'n boek by die bekendstellingsgeleentheid van Nuwe Kinderverseboek.
Wat is die grootste uitdagings en geleenthede wat deur die Afrikaanse uitgewersbedryf in die gesig gestaar word?
Dat Afrikaanse mense hul taal sal behou en hul kinders Afrikaans grootmaak, sal aanhou om die taal te lees, boeke te koop, toneel en film by te woon, aan te dring op moedertaalonderwys in skole. Daardeur sal Afrikaans en Afrikaanse boeke oorleef.
Is daar nuwe skrywers en strominge wat jou opgewonde maak?
Wat my opgewonde maak, is die manier waarop variante soos Kaaps hul regmatige en gelykwaardige plek begin inneem. Afrikaans is nie net Standaardafrikaans nie, dis maar één vorm van Afrikaans. Selfoontaal en sosialemediataal is ’n uiters interessante verskynsel, kyk maar wat gebeur met spelling, punktuasie en die weergee van uitspraak.
Watse raad of wenke sal jy vir 'n debuutskrywer gee?
Onthou Justice Brandeis se “There is no great writing, only great rewriting”. Anders gestel: ’n Eerste weergawe is nie ’n manuskrip nie, dis maar net die begin daarvan. Lees baie, leer by ander skrywers, ontleed waarom hul boeke trefkrag het en pas dit op jou eie skryfwerk toe. Eerlikheid en opregtheid in jou werk is iets wat lesers kan aanvoel, sowel as die teenoorgestelde.
Wat is jou top 10 boeke nog? En wat het hierdie boeke oor die algemeen na jou lewe gebring?
Vir meer as tien jaar al spits ek my toe op Afrikaanse fiksieredigering, daarom sal ek hou by Afrikaanse boeke. In geen spesifieke volgorde:
- Kroniek van Perdepoort – Anna M Louw. Ek het dit as veertienjarige gelees en was uitgeboul deur die boek, veral die omgekeerde tydstruktuur.
- Die reise van Isobelle – Elsa Joubert. Sy is vir my die grande dame van die Afrikaanse letterkunde. Ná swaarwigtige werke soos Bonga en Ons wag op die kaptein het hierdie boek ’n ligte, nuwerwetse stem.
- Toorberg – Etienne van Heerden. Dit bly een van die klassieke boeke in Afrikaans.
- Triomf – Marlene van Niekerk. Ek het eers later jare besef hoe briljant hierdie gruwelike parodie op apartheid werklik is.
- Afstande – Dan Sleigh. Dis selde dat ’n groot vakkundige net so ’n groot romanskrywer is.
- Die boek van toeval en toeverlaat – Ingrid Winterbach. Om haar wonderlik ironiese, satiriese stem.
- ’n Ander tongval – Antjie Krog. Haar prosa is net so uitstaande as haar digkuns.
- Halfkrone vir die Nagmaal – E Kotze. Ek het seker nog as laerskoolkind die titelverhaal in Die Huisgenoot gelees, en vir die eerste keer ervaar hoe literêre werk jou op ’n ander manier raak as net lees vir plesier of ontvlugting.
- Buys – Willem Anker. Magistraal, soos die literatore sê.
- Raka – Koos Kombuis. Ek het ’n voorliefde vir hierdie soort swart humor en absurde situasies, soos die Coen-broers se flieks.
Behalwe vir boeke, wat is die ander passies in jou lewe? Gee ons asseblief 'n bietjie meer persoonlike blik op jou lewe.
My ander groot liefde is fliek, omdat dit ook oor stories gaan. Daarby kom kuns en reis. Ek is oneindig nuuskierig oor “life, the universe and everything”, oor hoe die wêreld lyk en hoe dinge werk, veral mense se koppe. Ek is getroud met Jacques Myburgh, ’n bestuursafrigter en sakekonsultant. Ons werk albei van die huis af en het nie kinders nie, huisbou was erg genoeg. Sedert 2006 bly ons in genoemde huis in Joostenbergvlakte, op ’n erf van ongeveer ’n kwart hektaar waar ek watertenke, vrugtebome, groente en ’n paar hoenders het, alles onder die algemene bewind van ons twee katte. (Daar was ook eksperimente met bokke en poue, maar dit het klaaglik misluk.)

Stone Town, Zanzibar, 2001
Watse boodskap het jy vir skrywers en lesers oor die algemeen?
Vir skrywers: die redakteur is nie jou opponent of vyand nie, die redakteur werk sáám met jou ter wille van die leser. Vir lesers en almal anders: Ek gee nie om wát jy lees nie, solank jy net lees. Lees gee inligting, inligting skep kennis, kennis bring insig en wysheid.

Op ons plaas in Namakwaland
Enige iets anders wat jy met ons wil deel?
Ek is baie lief vir diere. Ons deel die planeet met hierdie heeltemal ánderse wesens en tog is dit moontlik om ’n band met hulle te smee – dis vir my wonderlik. ’n Wêreld sonder diere, net met mens-diere? Too ghastly to contemplate, soos die Engelse sê.
Foto's verskaf

