Wysigings aan die kopieregwetgewing: Gys Visser werp lig op die probleme met die "fair use"-leerstuk

  • 5

Foto van Gys Visser: verskaf; agtergrondfoto: PayPal.me/FelixMittermeier op Pixabay

Die wysigingswetsontwerp van die kopieregwetgewing is in die nuus. Die kopieregwetgewing is stokoud, so dis hoog tyd om dit te hersien. Maar waarom word die wysigings dan nou wyd vanuit uitgewers- en skrywerskringe gekritiseer? Naomi Meyer vra vir Gys Visser, hoof van kontrakte en regte by NB-Uitgewers, om te verduidelik waaroor die bohaai gaan.

Gys, ek neem kennis daarvan dat ons hierdie wysigings aan die kopieregwetgewing moet teenstaan. Daar word aangevoer dat uitgewers en skrywers baie geld sal verloor as die wysigings goedgekeur word. Maar hoe dan so? Wat sal die wysigings prakties beteken?

...............
Die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg (WOO) maak voorsiening vir ’n uitsondering vir opvoedkundige gebruik. ’n Uitsondering op outeursregbeskerming beteken dat ’n party ’n verdediging/regverdiging het wanneer hulle andersins vir outeusregskending gedagvaar sou kon word. So ’n uitsondering sal verreikende gevolge hê. Dit sal behels dat ’n boek gratis beskikbaar gestel kan word indien dit uit druk is en/of indien byvoorbeeld die staat nie gelukkig is met die koste van verspreiding wat ’n uitgewery vereis nie (die WOO verwys na ’n lisensie wat "onbillik" is).
...................

Dit is korrek. Die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg (WOO) maak voorsiening vir ’n uitsondering vir opvoedkundige gebruik. ’n Uitsondering op outeursregbeskerming beteken dat ’n party ’n verdediging/regverdiging het wanneer hulle andersins vir outeusregskending gedagvaar sou kon word. So ’n uitsondering sal verreikende gevolge hê. Dit sal behels dat ’n boek gratis beskikbaar gestel kan word indien dit uit druk is en/of indien byvoorbeeld die staat nie gelukkig is met die koste van verspreiding wat ’n uitgewery vereis nie (die WOO verwys na ’n lisensie wat "onbillik" is). Ons weet dat die regering reeds hul voete sleep met die verskaffing van leermateriaal en kla dat boeke blykbaar te duur is (ondanks die hoë koste om leermateriaal te ontwikkel), so dis nie ’n vergesogte scenario nie. Dit beteken dus akademiese uitgewerye en akademici sal waarskynlik eerste geraak word, gegewe die koste van handboeke. Skrywers met voorgeskrewe boeke sal ook swaar getref word. En gegewe dat die Suid-Afrikaanse uitgewersbedryf 60–80% van sy inkomste uit die opvoedkundige sektor verdien, sal duisende werksgeleenthede in die slag bly.

.............
Ons het ook reeds ’n tragiese gevallestudie: In 2012 het die Kanadese regering hul nuwe Outeursregwet goedgekeur. Dit bevat ook so ’n uitsondering vir opvoedkundige gebruik wat gelei het tot gratis kopiëring van skrywers se boeke op ’n enorme skaal. Tot dusver het dit gelei tot ’n verlies van R200 miljard aan tantième vir hul skrywers en ’n 79%-verlies aan inkomste vir hul uitgewersbedryf.
..................

Ons het ook reeds ’n tragiese gevallestudie: In 2012 het die Kanadese regering hul nuwe Outeursregwet goedgekeur. Dit bevat ook so ’n uitsondering vir opvoedkundige gebruik wat gelei het tot gratis kopiëring van skrywers se boeke op ’n enorme skaal. Tot dusver het dit gelei tot ’n verlies van R200 miljard aan tantième vir hul skrywers en ’n 79%-verlies aan inkomste vir hul uitgewersbedryf. Dit het natuurlik groot werksverliese tot gevolg gehad en talle uitgewerye moes hulle aan die mark onttrek.

Praat ’n bietjie met my oor daardie frase "fair use". Wat beteken dit binne die konteks van hierdie wetgewing?

"Fair use" het sy ontstaan gekry in die Amerikaanse reg sowat twee eeue gelede in die tyd toe Amerika se ekonomie en regstelsel grootlik afgesonder was van die res van die wêreld. Die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg plant dit dus (heeltemal onnodiglik) oor in ons reg. Daar is tans net sowat ses ander lande wat dié leerstuk gebruik, vanweë sy omstredenheid. Dit behels dat enige persoon of maatskappy inhoud onderworpe aan outeursreg kan gebruik soos hulle goed dink, en wanneer die outeursreghouer hulle dagvaar vir die skending, kan hulle net die verdediging opper dat hulle glo die gebruik kan geklassifiseer word as “fair use”.

...............
Dit behels dat enige persoon of maatskappy inhoud onderworpe aan outeursreg kan gebruik soos hulle goed dink, en wanneer die outeursreghouer hulle dagvaar vir die skending, kan hulle net die verdediging opper dat hulle glo die gebruik kan geklassifiseer word as “fair use”.
...................

’n Hof moet dan besluit of dit wel “fair use” is. Individuele kunstenaars ens trek dus altyd aan die kortste ent. Baie regters in die VSA haat die leerstuk juis omdat dit so vaag is en soveel onsekerheid veroorsaak. Dit beteken vir ons twee dinge: Eerstens sal Suid-Afrikaanse outeursreghouers nie kan bekostig om te litigeer teen groot internasionale maatskappye wat ons outeursreg wil uitbuit nie (die groot tegnologiemaatskappye doen dit regoor die wêreld en is dus baie lief vir “fair use”), en tweedens sal die outeursreghouer vir jare lank skade ly voordat ’n hof uiteindelik finaal beslis of dit nou wel “fair use” is of nie.      

Suid-Afrika het reeds ’n alternatief in ons bestaande reg, naamlik "fair dealing" – dit sorg vir ’n lys gebruike van werke onderworpe aan outeursreg wat dan dien as uitsonderings op outeursregbeskerming. Met ander woorde, as jy byvoorbeeld dele uit ’n boek wil gebruik as deel van jou navorsing, word jy in die bestaande wet teen eise beskerm. Dit gee dus sekerheid aan beide gebruikers en skeppers, aangesien albei partye weet wat toelaatbaar is.

Die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg fraseer “fair use” in meer vae taal as die Amerikaanse Fair Use-leerstuk, wat in effek beteken dat Suid-Afrikaanse kunstenaars meer blootgestel is as diegene in enige ander land ter wêreld.

...............
Die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg fraseer “fair use” in meer vae taal as die Amerikaanse Fair Use-leerstuk, wat in effek beteken dat Suid-Afrikaanse kunstenaars meer blootgestel is as diegene in enige ander land ter wêreld.
.................

Beteken dit dat mense wat akademiese handboeke skryf én mense wat boeke skryf wat fiksie is en voorgeskryf word deur ’n skool, nou nie meer geld vir hulle werk gaan ontvang nie? Ek sien hier is nog baie ander skeppers wat geraak word, ook mense wat rekenaarprogramme skryf. Wat het die wet in gedagte, as jy dit op ’n afstand staan en beskou?

Of jy handboeke of rekenaarsagteware skryf, almal wat enige vorm van skeppende werk doen, is ewe kwesbaar onder hierdie wetsontwerp. Dit is omdat outeursreg so wyd is in sy praktiese omvang – dit beskerm enige skepping wat die maatstaf van oorspronklikheid haal, nie net boeke, musiek of films nie. En “fair use” impakteer ook outeursreg oor die hele spektrum – sekere bedrywe gaan dit wel vroeër as ander voel, maar dit gaan uiteindelik almal raak.    

Wat kan mense doen?

Teken asseblief hierdie petisie en stuur dit aan vir almal wat jy ken.

Lees ook:

Die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg (CAB): Die dreigende gevaar wat Suid-Afrika se kunste kan knak

Copyright Amendment Bill: Authors unite

Press release: Please sign this petition as South African authors urge the National Assembly to reject the Copyright Amendment Bill

Persverklaring: Teken die petisie #StopTheCopyrightAmendmentBill

Submission in opposition to the current Copyright Amendment Bill

Nuwe kopieregwetgewing: Wat skrywers moet weet

  • 5

Kommentaar

    • Izak de Vries

      Nota bene: Hierdie petisie het reeds gesluit, maar aangesien die regerende party die protes van opposisiepartye en kunstenaars geïgnoreer het, sal meer protesaksie volg. PEN Afrikaans sal met LitNet skakel wanneer verdere aksie beplan word.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top