...............
Die fair use-leerstuk het amper twee eeue gelede in die VSA ontstaan en word deur artikel 12A van CAB by ons reg geïnkorporeer. In wese beteken dit dat enige persoon of maatskappy byvoorbeeld groot dele van ’n boek kan herpubliseer of dit kan verwerk tot ’n film, sonder toestemming van die outeur, en bloot aanvoer dis “billike gebruik”. Dit berus dan op ’n hof om te beslis of dit wel billike gebruik is.
..............
Wat is die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg en regverdig dit al die bohaai? Gys Visser vertel meer na aanleiding van ’n onlangse openbare deelname-sessie op Stellenbosch.

Die Stellenbosse stadsaal (foto: Gys Visser)
Die statige en ouwêreldse Stellenbosch-stadsaal het Dinsdagaand gasheer gespeel vir ’n bekende toneel. Daar was ’n paneel gevul met lede van ’n parlementêre komitee wat sprekers so vriendelik moontlik aangejaag het, ’n paar bekommerde kunstenaars wat aandagtig geluister het, ’n staatsamptenaar wat min of meer geen waarde kon toevoeg nie en akademici wat liries geraak of gal gebraak het oor ’n term genaamd “fair use”.
Maar wat is fair use en wat behels hierdie wetsontwerp wat soveel verdeeldheid saai?
Suid-Afrika se Wet op Outeursreg het in werking getree in 1978. Dit was op sy tyd ’n geldige stuk wetgewing in lyn met internasionale konvensies en standaarde. Daar word gereeld deur ondersteuners van die nuwe wetsontwerp na die huidige wet verwys as ’n “apartheid-era-wet”, wat irrelevant is en bloot daarop gemik is om ANC-steun te werf (wit en swart persone se werke het nog altyd gelyke outeursregbeskerming geniet in terme van die wet self). Die wet het wel vinnig verouderd geraak met die koms van die digitale era en dit het ’n al groter las op ons howe geplaas wat ou wetgewing moes interpreteer in die konteks van tegnologiese vooruitgang.
............
Die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg, wat deesdae na bloot as CAB (Copyright Amendment Act) verwys word, het sowat agt jaar gelede op die toneel verskyn en was veronderstel om daardie gaping in te kort. Alhoewel dit bepalings het vir wat dit wel doen, is daar uiters-skadelike bepalings wat ’n verwoestende impak sal hê op Suid-Afrika se uitgewersbedryf, asook die meeste ander kreatiewe bedrywe.
...............
Die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg, wat deesdae na bloot as CAB (Copyright Amendment Act) verwys word, het sowat agt jaar gelede op die toneel verskyn en was veronderstel om daardie gaping in te kort. Alhoewel dit bepalings het vir wat dit wel doen, is daar uiters-skadelike bepalings wat ’n verwoestende impak sal hê op Suid-Afrika se uitgewersbedryf, asook die meeste ander kreatiewe bedrywe.
Die term wat tot dusver die meeste aandag geniet het, is een genaamd “fair use” of altans billike gebruik. Op grond van sy bewoording klink dit dalk na ’n welkome verwikkeling, maar dit sal ongetwyfeld verwoestende gevolge vir ons land se ekonomie hê.
..............
Die term wat tot dusver die meeste aandag geniet het, is een genaamd “fair use” of altans billike gebruik. Op grond van sy bewoording klink dit dalk na ’n welkome verwikkeling, maar dit sal ongetwyfeld verwoestende gevolge vir ons land se ekonomie hê.
.............
Die fair use-leerstuk het amper twee eeue gelede in die VSA ontstaan en word deur artikel 12A van CAB by ons reg geïnkorporeer. In wese beteken dit dat enige persoon of maatskappy byvoorbeeld groot dele van ’n boek kan herpubliseer of dit kan verwerk tot ’n film, sonder toestemming van die outeur, en bloot aanvoer dis “billike gebruik”. Dit berus dan op ’n hof om te beslis of dit wel billike gebruik is.

Deon Meyer en sy vrou Marianne in gesprek met Sadulla Karjiker en Annette van Tonder (foto: Gys Visser).
Soos professor Sadulla Karjiker, outeursregkenner verbonde aan die Universiteit Stellenbosch, by Dinsdagaand se sessie opgemerk het, “is daar min of meer 200 lande op aarde en slegs ses van hulle gebruik dié leerstuk”. Dit is met goeie rede – dit is ’n stelsel wat litigasie aanmoedig en geweldige onsekerheid skep.
Sy vrees, asook dié van talle ander kenners in Suid-Afrika, is dat hierdie enkele bepaling sal lei tot grootskaalse verarming en uitbuiting van ons kreatiewe bedryf, en nie net in die nabye toekoms nie, maar ook vir toekomstige generasies. Groot oorsese maatskappye sal die kreatiewe vrugte van ons kunstenaars kan opraap sonder betaling, wetende dat amper geen kunstenaar of skrywer sal kan bekostig om teen hulle te litigeer nie.
So: wat is die alternatief?
In Suid-Afrika gebruik ons tans “fair dealing” wat ook eintlik vertaal kan word as billike gebruik, maar dit funksioneer heeltemal anders. Fair dealing werk met ’n vaste lys uitsonderings wat buite outeursregbeskerming val en gedek word deur artikel 12-19B van die wet. Dit sluit in gevalle soos navorsing, persoonlike gebruik, resensering en beriggewing.

Deon Meyer en Joha van Dyk (foto: Gys Visser)
Dit is wel belangrik om te noem dat dit verwere en nie regte skep nie; ’n skrywer kan tegnies steeds iemand dagvaar wat gedeeltes uit hul boek gebruik in ’n gepubliseerde navorsingstuk, maar gegewe dat die gebruik in een van hierdie kategorieë val, sal albei partye weet dat die saak waarskynlik nooit sal slaag nie. Dit skep met ander woorde regsekerheid vir alle partye en voorkom terselfdertyd grootskaalse misbruik van materiaal wat beskerming behoort te geniet.
In ’n fair use-bestel moet albei partye eers in ’n hof beland voor daar enige duidelikheid is en gegewe dat elke hof elke keer tot ’n ander beslissing kan kom, sal daar in elke geval geappelleer word tot in die hoogste moontlike hof. Dit beteken groot maatskappye sal amper altyd wen en individuele kunstenaars sal altyd aan die kortste ent trek, want hulle sal óf geforseer word om iewers in die proses te skik óf eenvoudig van meet af nie die regskostes kan bekostig nie.
’n Verdere probleem van die wetsontwerp is dat dit wél fair dealing akkommodeer in artikel 12B – ja, ons wetgewer wil hê ons howe moet terselfdertyd twee heeltemal verskillende stelsels vir outeursreguitsonderings implementeer en dat ons kreatiewe bedrywe tegelyk onderhewig moet wees aan albei. Geen ander land in die wêreld volg so ’n stelsel nie.
...........
’n Verdere probleem van die wetsontwerp is dat dit wél fair dealing akkommodeer in artikel 12B – ja, ons wetgewer wil hê ons howe moet terselfdertyd twee heeltemal verskillende stelsels vir outeursreguitsonderings implementeer en dat ons kreatiewe bedrywe tegelyk onderhewig moet wees aan albei. Geen ander land in die wêreld volg so ’n stelsel nie.
...............
Die groot gif lê egter opgesluit in 12D, wat ’n nuwe uitsondering skep vir onderrig. Dit het verrykende implikasies vir baie mense, aangesien die plaaslike uitgewersbedryf 80% van sy inkomste vanuit die opvoedkundige sektor verdien. Maar skrywers wie se boeke voorgeskryf word vir skoolgebruik, sal waarskynlik die hardste getref word.
..............
Maar skrywers wie se boeke voorgeskryf word vir skoolgebruik, sal waarskynlik die hardste getref word.
.............
Volgens CAB sal ’n boek sonder enige vergoeding of toestemming versprei mag word as dit uit druk is of as die partye wat dit wil aanwend, nie voel die lisensie wat gegee word vir die verspreiding daarvan, is billik nie. Gewoonlik wanneer ’n ouer boek voorgeskryf word wat reeds uit druk is, is ’n uitgewer net te bly om dit weer in druk te bring sodat dit weer versprei kan word. Maar enigeen kan sien wat waarskynlik hier sal gebeur; die staat sal bloot voorgeskrewe boeke versprei sonder om uitgewers en skrywers enigsins te vergoed.
Is hierdie potensieel-vernietigende ekonomiese gevolge in ag geneem deur diegene wat CAB opgestel het? Ons sal nooit weet nie, want die Departement van Handel en Nywerheid het tot op hede nog geen sosio-ekonomiese impakstudie uitgereik nie, ten spyte van talle versoeke sedert CAB se begindae.
Die enigste bestaande impakstudie is een wat PASA (Publishers Association of South Africa) aangevra het en wat PWC in 2017 uitgevoer het. Hulle voorspel onder meer ’n 33%-afname in boekverkope en ’n 30%-toename in werkloosheid binne die boekbedryf, sou hierdie wetsontwerp wel ’n wet word.
.........
Toe ’n afgevaardigde Dinsdagaand hieroor gepols word, asook hoe die Departement tot die slotsom gekom het dat die fair use-leerstuk skeppende werk en ekonomiese groei gaan stimuleer, kon hy geen antwoorde verskaf nie.
..........
Toe ’n afgevaardigde Dinsdagaand hieroor gepols word, asook hoe die Departement tot die slotsom gekom het dat die fair use-leerstuk skeppende werk en ekonomiese groei gaan stimuleer, kon hy geen antwoorde verskaf nie. Hy hou ook vol die Departement het die potensiële uitwerking van fair use deeglik nagevors, maar daardie navorsing is “ongelukkig konfidensieel”.
Hierdie reaksie het duidelik van die skrywers wat die geleentheid bygewoon het, net verder frustreer.

Bernard Odendaal, Catrina Wessels, Joha van Dyk, Gys Visser, Etienne Bloemhof, Deon Meyer, Marianne Meyer, Marga Stoffer (foto: Menán van Heerden)
Deon Meyer het gesê dit verstom hom dat ons parlement en regering so ’n problematiese leerstuk wil implementeer in ’n reeds-disfunksionele land. Die jeugskrywer Joha van Dyk het gesê sy hoop nie sy word uiteindelik gedwing om te emigreer na ’n land wat wel sy skrywers en hul outeursreg beskerm nie.
Uiteindelik moet ons aanvaar dat ons nie lewe in ’n ontwikkelde land waar die privaatsektor ’n groot invloed op administratiewe besluite het en logiese, finansiële oorwegings minstens ernstig oorweeg word nie. Dié wetsontwerp is reeds twee keer deur die Nasionale Vergadering goedgekeur, ten spyte van die privaatsektor en president se klagtes, en beweeg nou deur die Nasionale Raad van Provinsies. As dit ná hierdie proses ook ingestem word, land dit weer voor die president vir ondertekening. Hy kan dit nie weer terugverwys nie, sy enige oorblywende opsie is om dit na die Konstitusionele Hof te verwys, en daar is geen waarborg dat hy sal nie.
So, wat kan gedoen word?
Raak betrokke. President Cyril Ramaphosa het die Wetsontwerp in Junie 2020 terugverwys na die Nasionale Vergadering vir verskeie redes, onder andere die moontlike ongrondwetlikheid van die bepalings wat in hierdie artikel bespreek word, asook ander. Maar ook as gevolg van ’n tekort aan geleenthede vir openbare deelname, waarvan daar tans heelwat is.
Daar is nog drie soortgelyke sessies oor in die Wes-Kaap:
Woensdag 1 Maart 2023 |
Darling-gemeenskapsaal, 17de Laan, Darling |
17:00 tot 19:00 |
Maandag 6 Maart 2023 |
Overstrand Munisipaliteit se banketsaal en ouditorium, Harmony Lane, Hermanus |
17:00 tot 19:00 |
Dinsdag 7 Maart 2023 |
Chamber/Kamers (6de vloer), Provinsiale wetgewingsgebou, Waalstraat 7, Kaapstad |
17:00 tot 19:00 |
En daar sal nog sessies aangekondig word in die ander provinsies in die komende weke.
Jou geld kan ook help. Die CCSA (Copyright Coalition of South Africa) beveg CAB al vir jare namens al Suid-Afrika se kreatiewe bedrywe op ’n verskeidenheid van maniere, maar word die afgelope twee jaar lamgelê deur ’n tekort aan befondsing.
Maar uiteindelik is dit tyd dat individue se stemme gehoor word. Groot besighede en organisasies het tot dusver alles gedoen wat hulle kan, maar kon nog nie daarin slaag om CAB te stuit nie. Daar moet nou op die politieke besluitnemers se emosies gespeel word, want so ’n wet sal individue die hardste tref; hoe armer jy is, hoe groter is die kans dat jy uitgebuit en ontneem gaan word van jou intellektuele eiendom.
Ek sou meen daar is net twee goed wat die staat se aandag trek, om hof toe gesleep te word of grootskaalse betogings. Indien hierdie wetsontwerp wel aanvaar word, sal dit definitief in ’n hof uitgedaag word, maar daar het ons net ’n 50%-kans op sukses. Intussen moet daar ’n stem opklink vanaf voetsoolvlak, daar was byvoorbeeld nog geen optog na die parlement teen hierdie voorgestelde wetgewing nie.
Uiteindelik moet almal wat iets kan verloor, saamstaan om te veg voor dit te laat is.
- Gys Visser is Hoof van Kontrakte en Regte by NB-Uitgewers
Lees ook:
Uit die argief: ’n Nuwe, kommerwekkende poging om Suid-Afrikaanse kopiereg te hervorm
Kommentaar
Dankie vir die toeganklike artikel oor hierdie dringende saak. Wes-Kapenaars: Doen moeite om die byeenkomste by te woon (Darling, Hermanus, Kaapstad). Gaan vra vrae en lug jou stem, of versoek die Wes-Kaapse Wetgewer om 'n spreekbeurt (zadams@wcpp.gov.za). Koppe en stemme tel by hierdie byeenkomste. Inwoners in ander provinsies kan by hulle provinsiale wetgewers navraag doen oor hulle byeenkomste. Vir uitstekende inligting oor dié verderflike stuk wetgewing, lees gerus die reeks kort artikels deur kopieregkenner dr. Owen Dean in "A gift of multiplication" (Juta) by https://juta.co.za/uploads/The_Gift_of_Multiplication_Essays_Amendment_Bill/.
Gys Visser se artikel waarsku tereg teen die gevare wat die sg. "CAB" vir die literêre gemeenskap inhou en maan met rede ‘n oproep tot aksie aan. Ten eerste, moet die Regering onmiddelik sy beweerde konfidensiële "navorsing" ter stawing van die CAB se invoer van ‘fair use’, openbaar maak. Hoekom dit vertroulik moet wees, weet g’n mens nie.
Dis vir my opvallend uit hierdie artikel hoe vertaling duidelikheid kan bring. Gys wys hoe ‘fair use’ as “billike gebruik” vertaal. Die Afrikaanse weergawe van die Wet op Outeursreg (toevallig die amptelike weergawe) gebruik reeds die term “billike gebruik” vir “fair dealing”, wat, soos Gys uitwys, ‘n korrekte vertaling kan wees vir beide "fair dealing" en ‘fair use’, al is die twee heeltemal verskillende regsbeginsels.
Die term ‘fair use’ is ‘n naam, nie ‘n beskrywing nie. As dit in ‘n beskrywende sin gebruik word, kan dit verkeerdelik interpreteer word as iets soos "billike behandeling", wat reeds gebeur in die openbare voorleggings oor die CAB. M.i. is dit daarom juis duideliker dat die gesprek in Afrikaans oor hierdie konsep, gebruik maak van die Engelse term ‘fair use’.
Die Wet op Outeursreg en sy voorgangers het die Engelsregtelike leerstuk van "copyright" in SA ingevoer. "Kopiereg" is dus nie ‘n anglisisme nie, maar ‘n meer korrekte term vir die onderwerp van die Wet. Kopiereg is nie die outeursreg van die sivielregtelike lande in Wes-Europa nie. Het SA maar die regte "outeursreg" gehad! Dan sou skrywers alle regte gehad het tot "openbaarmaking en verveelvoudigen" van hul werk (om die Nederlandse terminologie te gebruik), nie net die sewe van die Wet wat keer-op-keer opgedateer moet word nie.
Dit is werklik kommerwekkend.
Sodanige ingryp pas natuurlik in die ANC se kraal... Beide uitgewers en skrywers gaan verloor, maar eersgenoemdes waarskynlik meer as laasgenoemdes.