Wysiging op wysiging van die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg?

  • 0

André Myburgh se foto is verskaf en verskyn met toestemming (die fotograaf was Daniel Myburgh).

André Myburgh praat met Naomi Meyer oor die onlangse uitspraak van die Konstitusionele Hof ten opsigte van die Wysigingswet van Suid-Afrika se Wet op Outeursreg 98 van 1978.

André, ek het al ’n paar keer met Catrina Wessels op LitNet oor die sogenaamde Copyright Amendment Bill (B13B-2017) (CAB) gesels – die Wysigingswet ten opsigte van Suid-Afrika se Wet op Outeursreg 98 van 1978. (https://www.litnet.co.za/wysigingswetsontwerp-op-outeursreg-na-konstitusionele-hof-verwys-n-onderhoud-met-catrina-wessels/; https://www.litnet.co.za/kopiereg-billike-gebruik-en-kunsmatige-intelligensie/) Hoekom is dit nou weer in die nuus?

Ja, die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg, wat amper tien jaar gelede, in 2017, aan die parlement voorgelê is, is weer in die nuus. Dit kom na die uitspraak van die Konstitusionele Hof op 26 Junie 2026 in antwoord op president Ramaphosa se verwysing, in 2024, van die Wysigingswetsontwerpe op Outeursreg en op Beskerming van Voordraers na die hof oor die President se besorgdhede oor die grondwetlikheid van sekere nuwe beperkinge op die eksklusiewe regte van kopiereg en van voordraersregte.

Beperkinge van die eksklusiewe regte (ook "uitsonderings" genoem) definieer gevalle waar werke wat deur kopiereg beskerm word, sonder toestemming en dus sonder vergoeding gerepliseer kan word. Die beperkinge in die wetsontwerpe sluit die omstrede "fair use"-klousule in, en ook uitgebreide beperkinge ten gunste van opvoedkundige inrigtings, en van biblioteke, argiewe, museums en galerye, asook ’n uitgebreide beperking vir vertalings.

Die hooftrekke van die uitspraak is:

  1. Die hof erken onomwonde en vir die eerste keer dat kopiereg, net soos ander intellektuelegoedereregte, ’n reg is wat die Grondwet teen arbitrêre onteiening beskerm, en dat die invoer van ’n beperking in wetgewing op ’n onteiening neerkom.
  2. Een stel van die nuwe beperkinge op die eksklusiewe regte ten gunste van opvoedkundige inrigtings is as ’n ongrondwetlike arbitrêre onteiening bevind.
  3. Die hof het sy bevinding van ongrondwetlikheid uitsluitlik op die teks van die President se verwysing geskoei. Die hof het geweier om klagtes oor die ongrondwetlikheid van ’n menigte van ander bepalings aan te hoor, omdat hulle nie in die President se verwysing bevat is nie.
  4. Die oorblywende beperkinge op die eksklusiewe regte, insluitend "fair use", is deur die hof geïnterpreteer en "binne die omvang van die President se verwysing" grondwetlik bevind.
  5. Die hof beklemtoon dat die bevinding nie neerkom op ’n "minisertifisering" van die beperkinge wat goed bevind is nie, en bevestig dat die grondwetlikheid van daardie beperkinge in die toekoms nog aangeveg kan word indien ’n feitelike situasie wat die ongrondwetlikheid daarvan bewys, sou ontstaan.

In sy bevinding van die ongrondwetlikheid van die beperking ten gunste van opvoedkundige inrigtings het die hof onder meer die volgende gesê, wat skrywers van opvoedkundige werk ten minste ’n bietjie gerus sal stel:

[E]ducation is a constitutional right; but it is the state that bears the duty to fund that right in public institutions, not private authors whose works are the product of legitimate commercial activity.

[The exception] cannot be justified as a mechanism for relieving the state of its obligations by conscripting private rights holders.

Aspekte van die CAB is verklaar as nieongrondwetlik en ander aspekte wel as gedeeltelik ongrondwetlik. Sekere van die vrae waaroor die President die Konstitusionele Hof se uitspraak gevra het, het hulle nie beantwoord nie! Breek asseblief die uitspraak op sodat ons lesers kan verstaan wat die hof gesê het?

Die oorblywende beperkinge (maw ander beperkinge as die een stel vir opvoedkundige inrigtings) is nie "nieongrondwetlik bevind" nie, maar "grondwetlik binne die omvang van die President se verwysing"! Dit is ’n baie ongewone woordkeuse.

Die hof se rede daarvoor is dat hulle daardie beperkinge ontleed het en in hul ontleding die beperkinge baie eng geïnterpreteer het. Dit beteken dus dat die beperkinge grondwetlik is mits hulle op dieselfde eng manier geïnterpreteer en gerespekteer word.

Omdat die hof sy bevindinge gemaak het op die teks van die President se verwysing, het dit baie van die getuienis van die amici curiae (vriende van die hof) verwerp of nie eens genoem nie. In die analise van die "fair use"-klousule het hulle byvoorbeeld die faktor "substitutional effect" geïnterpreteer as ’n vernouing van "fair use", terwyl daar getuienis voor die hof was van ’n deskundige van die VSA (waar "fair use" vandaan kom) dat "substitutional effect", tesame met die afwesigheid van die inlywing van "the value of the copyrighted work", op ’n verbreding van die beperking sal neerkom. Die faktor "purpose different from that of the work affected" is glad nie in die analise genoem nie.

Onder die toegelate doeleindes van "fair use" verskyn "proper performance of public administration". Weer eens is getuienis dat hierdie doeleinde nie in die oorspronklike VSA-"fair use"-klousule verskyn of deur regspraak daar toegelaat word nie, nie genoem nie en die omvang daarvan is nie ontleed nie.

Nog ’n eienaardigheid van die Suid-Afrikaanse "fair use"-klousule wat nie deur die hof ontleed is nie, is die vereiste dat die bron en die naam van die skrywer wie se werk "gebruik" word, genoem moet word indien dit op die "gebruikte werk" verskyn. Hierdie vereiste is nie deel van "fair use" in die VSA nie, en sal in Suid-Afrika ’n vernouende effek op "fair use" hê.

Die hof se ontleding is dus onoortuigend, maar hul bevindinge dat die nuwe beperkinge nou en in die openbare belang geïnterpreteer moet word, skep ’n riglyn wat bindend sal wees op "gebruike" van kopieregwerke sonder toestemming of vergoeding op grond van hierdie beperkinge.

Onder kommentators se onbeantwoorde vrae is ook hoe die parlement hierdie beperkinge sonder impakstudie in wetgewing kon aangeneem het. Die hof het aanvaar dat die afwesigheid van impakstudie net in die konteks van die President se besorgdhede oorweeg kon word, maar dan hanteer die hof hierdie gebrek nie eens in daardie konteks in sy uitspraak nie.

Wat gebeur nou?

Vanweë die bevinding van ongrondwetlikheid van een stel van die beperkinge kan die President nie die wetsontwerpe onderteken nie. Hy móét dus die wetsontwerpe terugstuur parlement toe sodat die parlement oor die ongrondwetlike bepalings kan beslis. Dit beteken dat die wetsontwerpe vir ’n vierde keer (na 2017, 2020 en 2024) aan die portefeuljekomitee vir handel, nywerheid en mededinging voorgelê sal word.

........
Vanweë die bevinding van ongrondwetlikheid van een stel van die beperkinge kan die President nie die wetsontwerpe onderteken nie. Hy móét dus die wetsontwerpe terugstuur parlement toe sodat die parlement oor die ongrondwetlike bepalings kan beslis. Dit beteken dat die wetsontwerpe vir ’n vierde keer (na 2017, 2020 en 2024) aan die portefeuljekomitee vir handel, nywerheid en mededinging voorgelê sal word.
.........

Die oogmerk van die hervoorlegging van die wetsontwerpe sou wees dat die parlement die ongrondwetlike bepalings sal vervang met grondwetlike bepalings of sal verwyder, maar dit is ook moontlik dat die wetsontwerpe verwerp of herroep kan word (wat in 1999–2000 gebeur het met die enigste ander nasionale wetsontwerp wat in ’n soortgelyke proses ongrondwetlik bevind is). Indien die parlement gewysigde wetsontwerpe aanneem en die President het nie besware oor die grondwetlikheid van die hersiene bepalings nie, sal hy die wetsontwerpe tot wet moet onderteken.

Die Wet op Outeursreg van 1978 klink oud en kort beslis aandag, maar dis nie meer dieselfde stuk wetgewing wat in 1978 tot stand gekom het nie. Daar is reeds ’n paar veranderinge aangebring wat te doen het met tegnologie, rekenaarprogramme en inheemse regte (lg na 12 jaar nog nie van krag nie). Ons het nog nie eens begin praat oor kopiereg ten opsigte van frases soos "computer-generated" en die implikasies hiervan nie. Of die feit dat hier geen voorsiening gemaak word ten opsigte van kunsmatige intelligensie nie. Maar kom ons praat oor hierdie saak wat nou in die Konstitusionele Hof ter sprake was. Dit gaan hoofsaaklik oor eiendom. Maar wat het dit nou met kopiereg te doen?

Die uitspraak was die eerste van die Konstitusionele Hof wat onomwonde kopiereg erken as ’n reg wat beskerm word teen arbitrêre onteiening.

Dit is so, ja, dat die Wet op Outeursreg verouderd is, en almal is dit eens dat dit jare gelede gemoderniseer moes gewees het. Die huidige uitgawe van hierdie storie draai al sedert 2009! Lees gerus hoofstukke 1 en 28 van Copyright reform or reframe? (Juta, 2023). (Die hoofstukke in ons boek is doelbewus meestal kort en staan ook los van mekaar.) Die uitspraak van die Konstitusionele Hof verander niks aan wat ons drie jaar gelede geskryf het nie. Ons het destyds geskryf:

It is important to note that the Bills do not meet what are stated objectives: principally of benefitting authors and performers, and bringing our law up to date for the digital age.

In recent years, jurisdictions around the world have considered [legal remedies to combat online infringement] and numerous other topics that arise from recent technological developments, such as the "value gap" between income attributed to the streaming of musical works and sound recordings for profit and the remuneration received by copyright owners and performers, a private copy levy on digital as well as paper reproductions, the distribution of news media content by digital platforms, decompilation of object code in computer software, text and data mining and machine learning for artificial intelligence. None of these topics have been addressed in the Bills. Instead of bringing South Africa’s copyright legislation into the digital era, it would remain retarded by the Bills.

Online content piracy is a global problem that has escalated dramatically in recent years due to a rise in illicit streaming platforms and torrent sites, web hosting services that ignore copyright infringements perpetuated on their servers, and the anonymity behind which offenders are often shielded. Operators of pirate sites and the servers on which infringing content is stored are often based in other countries to where the infringing content is made available to consumers. This situation poses great challenges to rights holders to enforce their rights of copyright. This situation was recognised by former President Zuma in a speech he made to performing artists and representatives from the cultural industry sector in 2009, when he said that “Piracy, like intellectual property theft, affects the income of many artists.” However, his awareness of the problems posed by piracy was not followed through by the introduction of remedies to combat piracy in the Bills.

[R]eform of the Copyright and Performers’ Protection Acts is long overdue. However, the current measures in promoting the Bills seem to ensure that such an end is not yet in sight.

Die gevolge van die hof se besluit is dat onsekerheid oor die grondwetlikheid van ’n menigte bepalings van die wetsontwerp sal voortduur na hul aanname en inwerkingtreding, en skeppers en eienaars van kopieregwerke sal hul keer op keer tot die howe moet wend om die regte in hul werk te beskerm.

  • André Myburgh is ’n afgetrede Suid-Afrikaans-gekwalifiseerde prokureur en erelid van die South African Institute of Intellectual Property Law, woonagtig in Switserland.  In sy praktyk het hy in intellektuele eiendomsreg, spesifiek in kopiereg, gespesialiseer, en hy is die hoofskrywer van Copyright Reform or Reframe? (Juta, 2023), ’n omvattende regsanalise van die Wysigingswetsontwerpe vir Outeursreg en vir die beskerming van Voordraers.

Lees ook:

Book discussion and interview on the Juta publication: Copyright reform or reframe?

Wysigingswetsontwerp op Outeursreg na Konstitusionele Hof verwys: ’n onderhoud met Catrina Wessels

Wêreldboek-en-kopieregdag 2025: Gys Visser vertel waarom kopiereg saakmaak

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top