Wolk se Hannes Barnard nou ook internasionaal

  • 0

Hannes Barnard se eerste roman, Halley se komeet, is pas deur ’n Amerikaanse uitgewer gekoop om dit wêreldwyd in Engels te versprei. Sy tweede roman, Wolk, maak tans opspraak. Izak de Vries het met hom gesels.

Hannes Barnard

Wolk gaan oor vriendskap, maar dan ook oor twee vriende wat besluit om saam daardie eerste keer van jongvolwassene-wees te beleef. Dit is ’n gewaagde tema, maar jy doen dit baie goed. Was jy nie bang onnies gaan die boek afskiet voor hulle dit lees nie?

Dit ís moontlik ’n gewaagde tema, maar ek het gevoel dis ’n nodige en baie belangrike tema om aan te raak. Wat dit vir my ook interessant gemaak het, is dat hierdie vraag nie eraspesifiek is of beperk is tot een kultuurgroep nie; dit is universeel. Dit was, is en sal moontlik altyd ’n baie belangrike en pertinente vraag wees onder jong- én oumense. Ek het die voorreg gehad om vir baie jare met tieners te werk en hierdie vraag is een wat altyd opduik. Moderne jeugfiksie spreek soveel komplekse temas aan, soos geweld, mishandeling, seksuele oriëntasie, en meer, dat ek gedink het die tyd is ryp om een van die wêreld se oudste vrae te ondersoek: dié rakende jou eerste keer. Moet jy? Moet jy nie? Moet jy wag? Beteken dit nog enigsins iets? Is dit net ’n ding om uit die pad te kry? Is dit kosbaar? Hoe weet jy wanneer jy reg is? Ens ens. Daar is so baie vrae hieroor voor mens hoegenaamd eers aspekte soos geloof, kultuur en families in ag neem. En die hantering hiervan in die meeste flieks of TV-reekse word glad nie uit die oogpunt van regte tieners vertel nie, maar eerder uit die oogpunt van studio execs wat soveel as moontlik kaartjies wil verkoop of geld probeer maak. Dis nie rêrig nie. Daarom wou ek juis die twee karakters toelaat om self te besluit, sonder druk van buite. Ek wou hierdie vrae aan hulle stel in ’n veilige omgewing, dié van beste vriende wat mekaar liefhet en respekteer. Ek hoop dus dat onnies (of enigiemand) die boek lees voor hulle oordeel. Ek is oortuig daarvan dat hulle nie die boek (of vir my!) op die brandstapel sal gooi as hulle dit gelees het nie. Sekere dinge moet oor gepraat word, en dalk moet ons meer vertroue in ons tieners / jong volwassenes plaas en glo dat hulle bevoeg is om self moeilike besluite te kan neem.

Net weer iets oor vriendskap. Dis ’n pragtige tema en ’n wonderlike verhouding wat jy daar geskets het. Hoe het dié twee karakters in jou kop geklim?

Toe ek begin dink het aan die boek en die idee “wat sal gebeur as jy die apokalips misloop?” het dit dadelik vir my soos ’n tienerverhaal gevoel. Daarna volg die vraag wie die hoofkarakters gaan wees. Ek is dankbaar dat Rufus en Xandr opgedaag het. Ek is mal oor hulle!

Vriendskap is die sentrale tema. Dit is interessant hoe karakters, soos jy dit stel, in jou kop inklim. Ek wou graag oor beste vriende praat, en dan ook oor ’n tipe dubbele apokalips, die een wat die wolk (dalk) bring, en die dreigende apokalips van hulle vriendskap wat deur afstand moontlik vernietig gaan word (Rufus se pa besluit hulle gaan emigreer). Uit hierdie idee het Rufus en Xandr ontwaak. Ek skryf redelik organies, veral as dit by karakters kom, en begin gewoonlik met ’n idee, en dan leer ek die karakters ken soos ek skryf. Beide Rufus en Xandr het baie vinnig en baie sterk hulle stemme dik gemaak en dit was daarna heerlik om hulle as karakters te ontdek deur hulle te skryf. Hulle is nie geskoei op spesifieke mense nie, maar is moontlik kombinasies van mense wat ek al ontmoet of teëgekom het. Die vraag oor platoniese vriendskap tussen ou en meisie het goed gepas in hulle dinamika, veral omdat hulle vriende is van kleins af. Hul vriendskap is konstant besig om te ontwikkel, maar die dreigende einde (die emigrasie) dwing hulle om ’n paar stappe vooruit te dink, veral aangesien al die eerstes wat hulle gewoond is om te deel nie meer sal gebeur as hulle eers deur kontinente geskei word nie.

Jy gee ook aan albei hulle eie spreekbeurte. Dit is slim, want so leer ons meer van elkeen deur die ander se oë.

Ek hou van die idee van die dubbele perspektief, en dit het vir my baie goed gewerk met Rufus en Xandr. Ek wou graag weet hoe beide van hulle hierdie avontuur, die vrese en die res ervaar; ek wou dit uit hulle oë sien en hoor wat in hulle harte aangaan. Dit was ’n baie lekker manier vir my om hulle te leer ken, om beide kans te gee om te ontwikkel en hulle stemme te vind.

Dan, veral oor die temas wat ondersoek word, wil mens tog weet wat in beide se koppe aangaan. Dit het net nie vir my reg gevoel dat mens daardie tipe goed net uit een se perspektief hoor of sien nie.

’n Baie lekker byproduk van hierdie aanslag, en die kort hoofstukke, is dat dit heerlik spanning bou. Ek moet bysê, die Lapa-span se uitleg van die boek is so goed gedoen dat dit definitief ook bydra tot ’n pretleeservaring. Ek het nou al by ’n paar mense (wat beweer dat hulle nie lesers is nie) gehoor dat hulle hierdie styl baie geniet het.

’n Wolk van vuur

Dan, die wolk. Hierdie wolk is oranje en verskriklik. Nou die ander dag was daar foto’s van die veldbrande in Kalifornië. Dit het gelyk of iemand besig is om jou boek te verfilm. Ons weet dus daardie oranje wolk van jou het ’n plekkie in ’n werklikheid, maar jy kies om die apokalips nogal anders te hanteer as wat iemand soos Deon Meyer byvoorbeeld met Koors gedoen het. Hoekom het jy hierdie vorm van apokalips uitgedink?

Daar is verskeie opinies oor wat die apokalips sal teweegbring. Alles van rekenaars wat die wêreld oorneem tot ’n supervirus. Natuurlik is ons as mense ons grootste vyande – die gevaar kom nie altyd uit die buitenste ruimte nie! Ek wou regtig kyk na iets wat moontlik is, maar ook werklik absoluut verwoestend. Iets wat alles wegvee wat ons ken, beide letterlik en figuurlik. Ek wil nie te veel verklap nie, maar kom ek sê net dat ek ’n baie spesifieke idee gehad het van wat hierdie wolk bring, en dit was belangrik dat lesers hulle dit kan indink, dat hulle daardie wolk kan sien. Soos jy tereg sê, nes die rookwolke tans in Kalifornië, is dit nie moeilik om dit in te dink nie, maar dit is moeilik om te weet hoe jy daarvan gaan ontsnap, veral as die bedreiging die hele horison volmaak en naderkom.

Daar is baie boeke wat die ná-apokaliptiese wêreld beskryf, waar die apokalips reeds plaasgevind het. Daarom was dit belangrik vir my om te fokus op die vóórapokaliptiese wêreld, en dan die onsekerheid oor wat die wolk bring, en wat die wolk vir hulle mag beteken. Die idee van alles wat om jou gebeur en jy weet nie wat aangaan nie, was een van die hoofidees waaruit die boek ontstaan het.

Ek is besonder lief vir die Oos-Vrystaat. Clarens, die berge aldaar en die een vakansie-oord word byna ’n karakter in hierdie storie. Tog, ’n mens sou dit ook elders kon laat afspeel. Waarom het jy so ’n bekende omgewing gekies om te verwoes?

Ek is ook baie lief vir die Oos-Vrystaat en is mal oor ons land se berge. Ek neem aan die feit dat ek naby die Drakensberge grootgeword het, speel ’n rol hierin. Jy is egter reg –  tot ’n mate sou hierdie verhaal in enige afgeleë plek kon afspeel. Daar was verskeie redes waarom die Oos-Vrystaat, en spesifiek die Clarens- en Golden Gate-area die ideale agtergrond geskep het om hierdie storie te vertel. Jy vat raak as jy praat oor “so ’n bekende omgewing”. Die meeste mense was al by, ken, of is ten minste bewus van die Clarens-omgewing. Hierdie bekendheid is baie belangrik vir my, omdat ek graag wou hê dat lesers heeltemal moet kan inkoop op die idee dat iets so bekend eenvoudig verwoes kan word. Dit maak dit ’n werklikheid.

Hierdie winkel in Clarens word belangrik aan die einde van die roman.

Dit help ook uit die aard van die saak dat die Clarens- en Golden Gate-area so ongelooflik mooi is – dit is ’n wonderlike plek vir enige storie om af te speel, maar ook om die kontras met die dreigende verwoesting duidelik te maak.

Is dit die vakansie-oord waar die karakters heen vlug? Dit lê stapafstand van Golden Gate af.

Toe jy Wolk geskryf het, was Covid nog nie ’n werklikheid nie. Maar op ’n vreemde manier was ons inperking in ’n tyd van krisis nogal baie soos wat die karakters in die grot beleef het, en jou boek het mooi tydens die erge inperking geland! Hoe laat dit jou voel?

Dit is interessant hoe dinge gebeur. Toe ek Wolk geskryf het, was ’n wêreldpandemie bloot ’n storielyn in boeke of iets uit die geskiedenis, nou is dit ’n werklikheid – ’n baie harde een daarby.

Ek dink Rufus en Xandr worstel met baie van die vrae waaroor ons gewonder het (en steeds wonder) tydens en ná inperking. Om afgesny te wees van die wêreld, om nie te weet wat aangaan nie, is dinge wat ons almal nou baie goed ken. Ek dink dus lesers sal selfs meer as voor die inperking, voor Covid, regtig kan voel wat Rufus en Xandr voel. Ek dink ook dat dit moontlik vir lesers goeie ontvlugting sal wees van die werklikheid deur hierdie proses saam met die twee mee te maak – om te sien wat hulle dink, hoe hulle dinge hanteer en dan ook spesifiek die hoop wat voorlê.

Is dit die grot waar Rufus en Xandr skuil? Die foto is ’n paar uur te voet van Golden Gate af geneem.

Daar is een vreeslik ongure karakter wat erg seksisties is met die vroulike hoofkarakter. Hy bly ’n groot rolspeler, tot aan die einde. Is dit metafories? Ons president praat van geweld teen vroue as ’n pandemie in Suid-Afrika.

Net omdat Rufus en Xandr wegglip van die huis af en op hierdie groot avontuur gaan, beteken dit nie dat hulle heeltemal verwyder is van die wêreld nie. Jeremy verteenwoordig die sleg van die wêreld, en dit daag ook die karakters uit, veral Rufus. Daarom, om jou vraag te beantwoord: Jeremy is definitief metafories vir baie van die probleme wat ons in die samelewing ervaar (onder andere die gruwel van geweld teen vroue en kinders). Betreffende die tema van bedreigings en apokalipse wat ek in Wolk gebruik: Hy word nog so ’n bedreiging, een wat moontlik net soveel skade kan aanrig as die wolk self.

Dalk moet ek hier net noem dat Rufus ’n baie sterk karakter is. Maar Jeremy toets haar, en vir my sou die storie dalk te ver verwyder gewees het van die werklikheid as ek nie hierdie element van die slegte deel van die bestaande wêreld (wat die wolk natuurlik bedreig) ingebring het nie.

Wolk is jou tweede boek. Dit is ’n jeugroman wat besonder goeie resensies kry, ook van jonger lesers. Jou eerste werk was Halley se komeet. Dit was dikker en het ook op jongmense gefokus, maar tog was die aanslag anders. Hoe het dit gebeur dat twee redelik verskillende boeke uit jou pen verskyn, albei gefokus op jongmense?

Ek is heeltemal oorbluf deur die goeie terugvoer oor Wolk, veral dié van tieners. Baie het gesê hulle kon hulself heeltemal in die karakters inleef. Dit is wonderlik om te hoor.

Ek geniet dit om oor tienerkarakters te skryf. Tieners is in so ’n interessante fase van hulle lewens. Nie meer kind nie en op die vooraand van die volwasse lewe, onafhanklikheid en alles wat daarmee gepaard gaan. Dis ’n tyd van veranderinge, vrae, soeke, ontdekking, onsekerheid, groot hoogtepunte en laagtepunte. Dit is dus ’n fase wat propvol geleenthede is vir ’n skrywer om karakters uit te daag met vrae wat volwassenes ook mee sukkel. In Halley se komeet het ek onder andere vir Pete uitgedaag om te kyk hoe hy sal reageer as hy gekonfronteer word met die realiteite van sy tyd as die borrel waarin hy geleef het, bars. In Wolk daag ek Rufus en Xandr om die dinamika van hulle vriendskap te ondersoek, vrae oor eerstes, en natuurlik die bedreiging op die horison, om ’n paar te noem.

Ek dink die beste manier om jou vraag te beantwoord is deur te sê dat ek van verskeidenheid hou. Ek lees nie net een genre nie, en professioneel werk ek nie net in een sektor nie, en daarom is die aanslag van hierdie twee boeke verskillend. Ek hou van verskeidenheid, ek wonder oor ’n magdom verskillende dinge, is geïnteresseerd in baie verskillende goed, en daarom is die stories wat in my kop inklim, verskillend. Halley se komeet het ontstaan omdat ek op daardie stadium nog in die buiteland gewoon het en sin wou maak van wie ek is en wat my plek as Suid-Afrikaner en wêreldburger is. Ek het gewonder oor die land wat ons nou het en waar dit vandaan kom, veral die onlangse verlede. Wolk het ’n “ligter” aanslag met meer humor, veral omdat die karakters mekaar so goed ken. Dit is ’n storie wat net gekom het, en toe ek eers begin skryf kon ek dit nie keer nie. Dit was ’n heerlike boek om te skryf. Ek vermoed ek sal in die toekoms aanhou om ’n verskeidenheid stories te skryf; dit daag my uit, hou die idees vars, en ek geniet dit baie om wyer te dink en te skryf.

Laastens: Halley se komeet is deur ’n Amerikaanse firma gekoop. Baie geluk. Vertel meer?

Baie dankie. Ek is ontsettend opgewonde en dankbaar! Ek het verlede jaar Halley se komeet in Engels vertaal en onlangs gehoor dat Catalyst Press die wêreldwye regte vir my Engelse weergawe gekoop het. Dit is ’n lang proses om die boek uit te kry, maar ek is tans besig met ’n klompie veranderinge en verbeteringe en hoop dat die boek teen 2022 op die rakke sal wees. Dit is ’n heerlike en anderse ervaring om met die Amerikaners te werk, en ek glo dit gaan my baie baat in my skryfloopbaan. Wat wonderlik is van Catalyst Press, is dat hulle werklik ’n passie het vir Afrika en Afrika-stories, daarom dink ek die Engelse Halley se komeet het sy regte tuiste gevind.

Die vertaling van Halley se komeet was ook op sigself ’n wonderlike skryfervaring. Veral om die nuanses van die verskillende kultuurgroepe en die gevoel van die tyd en plek vas te vang was ’n besonder lekker uitdaging. Ek sien uit na die terugvoer van Engelse lesers.

Lees ook:

Lesersindruk: Wolk deur Hannes Barnard

Skrywersonderhoud: Hannes Barnard oor Halley se komeet

Wolk: ’n onderhoud met Hannes Barnard

Fotografie: Izak de Vries

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top