Skrywersonderhoud: Hannes Barnard oor Halley se komeet

  • 2

Hannes Barnard vertel vir Naomi Meyer van sy boek Halley se komeet, wat onlangs by Wenkbrou uitgegee is.

Foto: Lapa

Hannes, ek wil begin by die titel. Die ware Halley se komeet was groot nuus die slag toe dit naby die aarde verby is. Onthou jy iets hiervan? Waarom het jy juis 'n verwysing na hierdie komeet gekies as die titel van jou boek?

Halley se komeet het diep spore in my herinneringe getrap. My oupa het vertel van die 1910-komeet, van die komeet se stert wat soos ’n silwer swaard die naghemel in twee gesny het. Dit het my verwonderd gelaat. Die 1986-komeet was ongelukkig nie dáái komeet nie, maar dit was iets waarna ek as 10-jarige baie uitgesien het, selfs al was die eintlike komeet ’n teleurstelling. Die titel is 'n metafoor vir ’n een-keer-in-’n-leeftyd-geleentheid of -kans. Iets wat onverwags oor jou pad kom en waaroor jy moet besluit of jy die kans gaan waag of nie. Die realiteit is ook natuurlik dat nie alle geleenthede gelyk geskape is nie. Soms kan dit ’n teleurstelling wees, soos die 1986-komeet, maar as jy nie waag nie, gaan jy nie wen nie. En as jy nie die geleentheid neem nie, hetsy groot of klein, kom daar dalk nie weer een in jou leeftyd nie.

Jou boek speel af in die tagtigs. Jy verwys na verskillende kleurgroepe in die boek soos wat iemand in die tagtigerjare dit sou gedoen het. Voortdurend is daar woorde soos "swartes" of "blankes". Hoe het dit jou laat voel om nou oor daardie tydperk te skryf, en was jy bewus van die gewig wat elkeen van hierdie woorde nou vir Suid-Afrikaanse lesers dra?

Dit was ’n baie interessante proses om my eie gedagtes toe te laat om binne die konteks van daardie era te dink. Dit was nie altyd maklik nie. Soos jy tereg sê, sekere karakters gebruik woorde wat soos vuishoue teen jou niere voel. Elke keer. Tog was dit belangrik om eg te bly aan die karakters, tyd en storie. Kortpaaie of afdraaipaaie sou die storie geskaad het. Ek is en was baie bewus van die impak wat hierdie woorde kan hê. Maar die storie het die egtheid van tydperk-spesifieke woordgebruik gevra, en as ek dit nie gebruik het nie, was daar ’n beperking in die mate waarin ek sekere groei-elemente van my karakters sou kon uitbeeld. Ook sou die reis waarop die leser gaan, moontlik ‘n afgewaterde ervaring gewees het as ek dit nie gebruik het nie.

Jou karakters kon toegang tot sekere ervaringswêrelde kry deur middel hiervan, maar waarom het jy die boek in die tagtigerjare laat afspeel?

1986 was ’n baie interessante en wispelturige jaar. Daar was bomaanvalle, ’n noodtoestand en baie meer. Daar was kwaad en onsekerheid en hulpeloosheid en vrees in die lug. Dis juis waarom ek daardie jaar gekies het. Dit was ’n baie donker deel van die nag, voor lig die horison verhelder het. Daar is baie parallelle met die tyd en plek waar ons nou is. Daar is soortgelyke vrese en onsekerheid in die lug. Ek wou my karakters in ’n situasie plaas wat buite hulle gemaksone is ek kyk hoe hulle daarop reageer. Uiteindelik om te kyk of hoop sal seëvier. Ek glo in hoop en ek dink die parallelle met ons onlangse verlede wys dalk na ’n rede vir hoop in ons hede.

Kan jy die verhaal in 'n sin of twee opsom?

Die koers van die 16-jarige Pete de Lange se lewe verander een aand toe hy saam met twee totale vreemdelinge vir hul lewens vlug. Terselfdertyd het Venny Naidoo drome om ’n vryheidsvegter te word, en sy rou ambisie en Pete se nuwe koers stuur op mekaar af.

Vertel my van jou, die skrywer van die boek.

Ek het al stories in my kop van voor ek self kon skryf. Skryf is my passie. Ek het egter vir groot dele van my lewe skryfwerk afgeskeep, en skryf seker eers die afgelope 10 jaar ernstig. Ek het ’n roman geskryf voor Halley se komeet. Dit was baie lank en nie baie goed nie, maar het my onmeetbaar baie geleer van my eie stem en die skryfproses. Daarvoor sal ek altyd dankbaar wees. Ek en my vrou is nou so twee jaar terug in Suid-Afrika nadat ons 14 jaar in die buiteland gewoon het (12 jaar in Londen en twee jaar in die Seychelle). Ek het die grootste deel van my beroepslewe in die boubedryf spandeer as bourekenaar, projekbestuurder en besigheidsbestuurder. Ons woon in Johannesburg en is mal oor die stad se energie, verassings en mense.

Hoe het die skryfproses gewerk? Was daar 'n spesifieke sneller vir die verhaal, of 'n insident wat die skryf hiervan geïnspireer het?

Ek het ’n konsep gehad waaraan ek gewerk het, maar dit het heeltemal verander. Ek en my vrou het een aand gesels oor die konsep en die gesprek het my gedagtegang verander en skielik was die saadjie geplant waaruit hierdie verhaal uiteindelik gespruit het. Natuurlik was my eie grootwordjare ’n inspirasie, en veral die omgewing waar ek grootgeword het. Die Dannhauser-omgewing was in baie opsigte uniek, veral in die konteks van die era waaroor ek skryf, en dit is gelaai met interessante karakters. Ek wou ook graag sien hoe ‘n doodgewone Afrikanerseun met ’n betreklik naïewe wêreldbeskouing sal reageer as hy gekonfronteer word met die werklikheid van die wêreld waarin hy leef.

Wie is jou ideale leser? Of met wie in gedagte het jy die boek geskryf?

Die storie is ’n grootwordverhaal, of coming-of-age-storie. Daar is redelik baie debat oor of dit ’n jeugroman is en of dit ’n bildungsroman is. Juis daarom is ek gelukkig om Wenkbrou as uitgewer te hê, want hulle glo in stories wat nie altyd in boksies geprop kan word nie. 

Ek dink die risiko om dit as ’n suiwer jeugroman te klassifiseer gaan nie soseer oor die jeugroman nie maar oor die persepsie van die jeugroman. Iemand kan dalk ’n verwagting hê dat die storie ’n sekere styl moet volg waarin karakterontwikkeling beperk is. Daarom dink ek “bildungsroman” is moontlik die beter beskrywing. Veral omdat hierdie verhaal gaan oor die ontwikkeling van Pete de Lange, ‘n 16-jarige. Dis egter nie net hy wat ontwikkel nie – die ander karakters het hulle eie ontwikkeling, en natuurlik is die samelewing waarin hulle woon op die vooraand van fundamentele veranderinge. My ideale leser is enigiemand wat graag lees om te ontspan maar wat ook op soek is na ‘n storie met ’n bietjie meer om die lyf. Toe ek die boek begin skryf het, het ek jonger volwassenes (16+) in gedagte gehad, maar soos die verhaal ontwikkel het, het ek besef dis eintlik vir enigiemand wat wil nadink, iemand met ’n nuuskierigheid, wat wil glo in hoop, en dis net so toeganklik (dalk selfs meer) vir ouer volwassenes as vir jong volwassenes. 

Daar is ontstellende gebeure wat in die boek plaasvind. Was dit vir jou maklik om hieroor te skryf?

Die kort antwoord is nee. Ek het verskeie kere vars lug gaan soek en my rekenaar laat staan te midde van party van die ontstellende tonele. Dan het ek met vars lug in die longe en dalk ’n ekstrasterk koffie deurgedruk, want dis nodige tonele; die verhaal het die waarheid nodig, nie iets wat toegesmeer is nie. Ek moet darem net vir mense wat dit nog nie gelees het nie, sê dat dit nie ’n grafies grusame boek is nie. Daar is egter uit die aard van die temas gebeure wat iemand mag ontstel.

Wat was vir jou die lekkerste gedeelte van die skryf van die boek?

Dis moeilik. Die reis waarop hierdie boek my geneem het, was onverwags en ongelooflik. Moontlik die opwinding van jou jeug en die onbeperkte moontlikhede wat vir jou voorlê voor jy volwassenheid betree, asook die vreugde wat daar is in die ontdekkingstog deur die vreemde. Die verhoudings was vir my veral lekker om oor te skryf, spesifiek die een tussen Pete, Petrus en Sarita.

Wat lees jy self, of watter films geniet jy om te kyk?

Ek is mal oor flieks. Ek wil liefs myself nie bind aan een genre nie, want daar is soveel goeie flieks (en ‘n paar wat so sleg is dat dit goed is) dat ek nie altyd kan kies nie. Ek's nie altyd mal oor gruwelflieks waar demone almal afmaai nie, maar verder geniet ek die meeste. Wat boeke aanbetref, lees ek beide Engelse en Afrikaanse fiksie. Ek geniet ’n lekker misdaadfiksie, asook enigiets met sterk karakters en veral ‘n sterk storielyn. Ek hou van onder andere David Baldacci, Jo Nesbo, Paulo Coelho, André Krüger, Karel Schoeman en Dalene Matthee. Daar is so baie om te noem en ek leer gereeld van nuwe fantastiese skrywers soos Dibi Breytenbach en baie ander. Ek voel altyd asof ek agter is en nooit by al die goeie skrywers en boeke gaan uitkom nie. Maar dis ’n heerlike avontuur om te probeer!

  • 2

Kommentaar

  • Hendré Botes

    Wow en geluk! 'n 70 jarige se hart vertel in 'n tienerboek. Dit sou 'n uitstekende voorgeskrewe boek vir matrieks wees. Goeie werk met 'jonk wees' emosies en trauma. Goeie insigte in verstaan van die verskillende ras perspektiewe. Eers op die webblad verstaan wat wat die titel verteenwoordig. Daar kan soveel opvolgboeke op hierdie een wees.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top